Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 27

Оглавление

Woensdag 21 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 14:33-47

Maak jou huis veilig

Julle gaan intrek in die land Kanaän wat Ek vir julle as besitting gee (14:34).

GESELSVRAAG:

Watter gevare kan julle huis bedreig?

“Baie van die geskiedkundige ou huise op die dorp is sonder behoorlike fondamente en van rou stene gebou. As daar dus water inkom, kan dit die mure onveilig maak. Die munisipaliteit kan jou verplig om jou huis plat te slaan en presies met dieselfde voorkoms oor te bou van beter materiaal as dit ouer as 60 jaar is,” verduidelik ’n bou-inspekteur. En dit het in baie gevalle gebeur. Dit is sleg as klammigheid in die mure optrek en alles muf begin ruik. So ook as die waterpype in die mure begin lek, of as die bedrading onveilig is.

Die Israeliete was nog op trek na die beloofde land, en almal het in tente gewoon. Hulle het egter verwag om die huise wat hulle in daardie land sou verower as hul eie te betrek. Hulle het nie geweet wat hulle sou kry nie. Hierdie laaste deel van die wetboek moes hulle dus help om ’n veilige huis vir hulle en hul gesin te verseker.

Ons almal verlang na ’n veilige huis om ’n gelukkige gesin in groot te maak. Maar nie net die konstruksie van die mure hou gevaar in nie. Sommige gevare kom ons huise deur die radio en TV binne. Dit kan deur die internet of selfone ons kinders se karakter en sedes aanval. Dit kan ons deur ons leesstof of rolprente breinspoel en ons van ons geloof beroof. Pas op!

GEBED: Here, help ons om ons huis vir ons kinders te beveilig.

Lees vanaand in Levitikus 14:48-57 hoe die Israeliete verseker is dat hul huis veilig is om in te woon.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх