Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 29

Оглавление

Vrydag 23 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 16:1-10

Onheilige bidders

Hy offer dan eers die bul wat vir homself bedoel is as sondeoffer, sodat hy versoening kan doen vir homself en al die priesters (16:6).

GESELSVRAAG:

Hoe raak ons van ons sonde ontslae?

“Wie mag die berg van die Here opgaan en wie mag in sy heiligdom gaan staan? Dié een wie se hande rein en wie se hart suiwer is …” sing Dawid in Psalm 24:3-4. Hy was baie bewus daarvan dat God heilig is en dat ons ons vir ons ontmoeting met die Here moet voorberei. Dit het hy geleer uit die bepalings van die Groot Versoendag waarvan ons hier in Levitikus lees.

Aäron se twee seuns het gedink hulle is goed genoeg om sommer sonder eerbied die Allerheiligste binne te gaan. Dit het hul lewe gekos. Nou word Aäron geleer hoe om die heiligheid van God te respekteer. Voordat hy en die priesters vir die volk kon bid, moes hulle eers versoening doen vir hul eie sondes. Anders sou hul sondes ’n skeidsmuur vorm tussen hulle en God, sodat hul gebede nie verhoor sou word nie (vgl Jes 59:1-2).

Hierdie gedeelte moet saam met Hebreërs 9 en 10 gelees word. Dáár verduidelik die Bybel dat die offers van die Groot Versoendag maar net die voorbeeld was van die eintlike finale offer wat die pad na die Here vir elke bidder oopgemaak het. Jesus is die finale hoëpriester en die finale offer (vgl Heb 7:24-25; 10:14). Nou kan ons elkeen met vrymoedigheid self na God gaan en self bid (vgl 1 Joh 5:14). Ons het nie meer ander offers en priesters nodig nie.

GEBED: Dankie dat U vir ons die pad na God oopmaak, Here.

Lees vanaand in Levitikus 16:11-19 hoe Aäron vir die volk se sondes versoening moes doen.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх