Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 35

Оглавление

Donderdag 29 Januarie 2105 • Lees eers Levitikus 19:23-37

Eerbied

Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here (19:32).

GESELSVRAAG:

Hoe sorg ons vir die oudste mense in ons familie?

“Dit lyk my ons kan eenvoudig nie wen nie. Toe ek jonk was, is die gryses onder ons met hoë agting bejeën. Mense het na hul wysheid geluister. Noudat ek self grys geword het, ontdek ek dat die jong sportsterre, modelle en filmsterre se opinies geag word,” kla ds Schalk een Sondagoggend. ’n Ma skryf: “Ek wonder of ons tieners besef dat hulle eendag net so dom sal wees as wat hul ouers vandag in hul oë is.”

In die Bybelse tye was daar geen pensioenskemas en aftree-oorde nie. Wanneer ’n mens nie meer kon werk nie, moes jou nageslag vir jou sorg. Sonder kinders sou jy van honger doodgaan. Daarom was dit belangrik om soveel kinders moontlik te hê, soos baie mense in Afrika vandag nog glo. Maar met die staatspensioene wat deesdae betaal word, word oumense uitgebuit. Hulle ly terwyl hul nageslag op die pensioen teer. Dit is net mooi die teenoorgestelde van wat die Here in vandag se gedeelte beveel.

Omdat die Here Here is, moet ons omsien na hulle wat nie meer vir hulle­-self kan sorg nie. Baie bejaardes word in ’n tehuis geplaas en nooit meer besoek nie. Al is iemand al kort van gedagte, het elkeen liefde nodig. Is jy gewillig om God se liefde na die bejaardes in jou omgewing uit te dra?

GEBED: Here, gebruik my om iemand vandag te seën.

Lees vanaand in Levitikus 20:1-9 wat gebeur met mense wat hul kinders misbruik of by mediums of waarsêers hulp gaan soek.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх