Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 30

Оглавление

Saterdag 24 Januarie 2105 • Lees eers Levitikus 16:20-22

Die sondebok

Terwyl hy dan sy twee hande op die kop van die bok lê, moet hy ál die oortredinge en opstandigheid, al die sondes van die Israeliete daar bo-oor die bok bely (16:21).

GESELSVRAAG:

Hoekom soek ons ’n sondebok as iets verkeerd loop?

“Dis nie ek nie, dis Sussie,” is enige kind gou om te sê as iets verkeerd loop. Ons ontken so graag ons eie skuld en pak dit op iemand anders, wat dikwels van geen sout of water weet nie. By die werk gebeur dit ook maklik. Ons soek ’n sondebok, nie ’n oplossing vir die probleem nie. Dit is altyd iemand anders se skuld.

Nadat Aäron vir sy eie sondes en dié van die ander priesters versoening gedoen het, moes hy die twee bokke voorberei as simbool dat die sondes van die volk weggeneem word. Daarom word die een bok geoffer en die ander een weggestuur die wildernis in, as simbool dat die sondes van die volk wat oor hom bely is, almal weggeneem is.

Die bloed van diere kan natuurlik nie vir ons sondes betaal nie (vgl Heb 10:4). Maar sonder bloedvergieting is vergifnis van sonde nie moontlik nie (vgl Heb 9:22). Daarom moes Jesus met sý bloed eens en vir altyd vir al ons sondes betaal (vgl Heb 10:14). Nou kan ons met vrymoedigheid na God toe gaan (vgl Heb 10:22). Dit is wonderlik om te weet dat Jesus vir al ons sondes voorsiening gemaak het. Kom ons loof Hom daarvoor.

GEBED: Here Jesus, dankie dat U ook my sondes weggeneem het.

Lees vanaand in Levitikus 16:23-34 hoe die Groot Versoendag elke jaar gevier is om die volk gereeld aan hul sondes te herinner.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх