Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 25

Оглавление

Maandag 19 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 13:47-59

Muwwe klere

As daar ’n kol skimmel is op ’n kledingstuk … (13:47).

GESELSVRAAG:

Wanneer moet ’n mens klere weggooi?

“Hoe lyk ’n mens se klere nadat jy dit 40 jaar lank in die woestyn gedra het?” Dit is nogal iets om oor te wonder, want daar is nie winkels om nuwe klere aan te skaf nie. Water is maar skaars in die woestyn, dus kan jy jou klere ook nie gereeld was nie. In die hitte is jou klere gou met sweet deurdrenk. En as jou klere begin stukkend raak, moet jy dit maar self lap. Die materiaal moet jy self weef en kleur en die leer self brei voordat dit geskik is om skoene of iets anders van te maak.

In die lang lys gesondheidsvoorskrifte wat vir die Israeliete in hierdie hoofstuk opgeteken is, kom ons nou by klere wat nie meer so vars lyk nie. Dit lyk regtig of daar iets op groei. Dis muf en gevlek. Hoe keer ’n mens dit? Is dit dalk iets wat jou vel kan aanval? Is dit veilig om te dra? Die priesters word maar weer ingeroep om raad te gee.

Vir ons is hierdie reëls nie meer van belang nie. As ons klere nie meer goed is nie, gooi ons dit eenvoudig weg en koop nuwes. Min van ons het nog die kundigheid om self materiaal te weef en klere te maak. Maar daar is wel ander dinge wat vir ons skade kan berokken. Dwelms en alkoholiese drank kan ons lewe verwoes. ’n Sedelose lewenstyl kan ons doodmaak. Tabak en ander stowwe kan kanker veroorsaak. Ook ons moet versigtig wees.

GEBED: Here, hou my rein sodat ek vir U kan lewe.

Lees vanaand in Levitikus 14:1-9 hoe iemand wat ’n velsiekte gehad het, weer na sy huis kon terugkeer.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх