Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 31

Оглавление

Sondag 25 Januarie 2015 • Lees eers Psalm 26:1-7

Ek wil reg lewe

Toets my, Here, keur my, ondersoek my deur en deur (26:2).

GESELSVRAAG:

Hoekom moet ons ons aan die Woord toets?

“Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë,” lees ons in Rigters 17:6. Geen wonder nie dat ons weer en weer in Rigters lees dat die mense gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. Gewone mense het nie Bybels besit nie, want dit moes met die hand oorgeskrywe word. Slegs die priesters het toegang tot die boekrolle gehad.

Vandag is dit anders. Elke huis het verskeie Bybels. “Die Bybel bly steeds die beste verkoper van alle boeke, maar word die minste gelees,” lees ek iewers. Dít verklaar ook waarom korrupsie, geweld, misdaad, verkragting, egskeiding, moord en ander lelike dinge so algemeen geword het. Ons ken nie meer die Bybel nie. Ons hou nie meer huisgodsdiens saam met ons kinders nie. Dit is fataal vir enige volk, want ons doen steeds slegs wat goed is in ons eie oë. Ons wil self besluit wat reg of verkeerd is.

Ons moet daarteen waak om slegs Sondag-Christene te wees, wat nie elke dag met die Here van die Woord en die Woord van die Here omgaan nie. Dawid se gebed hierbo is ’n goeie een om elke dag te bid. Dit is slegs deur selfondersoek dat ons kan ontdek dat ons op ’n verkeerde pad beland het.

GEBED: Dankie dat U vandag met ons wil praat, Here.

Help ons om te luister en gehoorsaam te wees. Lees vanaand in Psalm 26:8-12 hoe die samekoms van die gemeente met elke dag se uitdagings verband hou.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх