Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 7

Оглавление

Donderdag 1 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 1:1-17

Nuwejaarsdag

Begin reg!

Wanneer een van julle vir die Here ’n offer wil aanbied … (1:2).

GESELSVRAAG:

Wat is die beste manier om ’n nuwe jaar te begin?

“Voorspoedige Nuwejaar!” wens ons mekaar vandag toe. Ons bedoel seker dat dit liggaamlik, geestelik en finansieel met ons goed sal gaan. Maar as ons ’n bietjie daaroor nadink, besef ons gou dat ons wense nie enige verskil sal maak nie. Dit is net die Here wat ’n verskil kan maak. Daarom moet Hy ook deel wees van ons Nuwejaarsvierings. Hy moet die middelpunt daarvan wees. Levitikus begin sommer met die veronderstelling dat ons elkeen die Here wil eer in al ons doen en late. Ons wil die Here bly maak en dank.

Levitikus is seker nie een van die geliefkoosde Bybelboeke nie. Min van ons sou vandag seker uit eie keuse hier begin het. Maar as die hele Skrif deur God geïnspireer is (vgl 2 Tim 3:16), het Hy ook hierdie boek met ’n doel aan sy kinders gegee. Levitikus praat met ons oor twee hoofsake: Hoe dien ons die Here reg? En: Waarom was dit nodig vir die Here Jesus om sy lewe aan ’n kruis vir ons te gee? Die brief aan die Hebreërs verwys gedurig terug na Levitikus. Dit help ons verstaan dat hierdie boek die gelowiges wil voorberei om te verstaan waarom ons Jesus nodig het.

Waar baie van ons vandag ’n vleisie gaan braai, word ons daaraan herinner dat dit ook deel van ons aanbidding kan wees. (Al spot ons soms met die “brandoffers” as die kole – of die kok – te warm was!) Ons wil mos graag vanjaar vir die Here dankie sê. Hoe?

GEBED: Here, ons loof en dank U aan die begin van 2015.

Lees vanaand in Levitikus 2:1-16 hoe ons braaibroodjies ook deel van ons aanbidding kan wees.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх