Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 13

Оглавление

Woensdag 7 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 6:24-30

Aan die Here gewy

Dit is ’n besondere gewyde gawe (6:25).

GESELSVRAAG:

Watter plekke word vandag as heilig beskou?

“Hy hou hom nou so hoogheilig, maar ek weet hoe oneerlik hy in die sakewêreld is,” skinder iemand. Die woord heilig het in ons tyd ’n negatiewe betekenis gekry. Oorspronklik het dit beteken: ten volle aan die Here gewy. Die Bybel leer ons op 73 plekke dat die Here heilig is en dat ons daarom ook heilig moet wees. Dit beteken dat ons alle sonde moet vermy. Daar is nie so iets dat elke mens darem sy eie sondetjie kan hê nie.

Hierdie sondeoffer was bedoel om die Israeliete elke dag te herinner dat sonde nie iets is om mee te speel nie. Die sondeofferdier is aan die noordekant van die altaar geslag (vgl 1:11) en sinspeel reeds op Christus wat aan die noordekant van Jerusalem as finale offer sou sterf. Alles wat met die sondeoffer te doen het, is spesiaal behandel om die volk te herinner dat dit volkome aan die Here gewy moes wees.

Ons hoef nie meer hierdie soort offers te bring nie, want Jesus was die finale en volkome offer. Maar omdat Hy vir ons geoffer is, maak dit ons ook heilig, aan Hom toegewy. Ons moet dus altyd onthou, daar waar ons vandag in die skool of by die werk is: Ek behoort aan die Here. Ek is aan Hom toegewy. Ek moet vir Hom lewe. Ek is vir Hom baie spesiaal.

GEBED: Here Jesus, dankie dat U U vir my gegee het, sodat ek toegewy aan God kan lewe. Help my vandag om dit te doen.

Lees vanaand in Levitikus 7:1-10 hoe die offers bedoel was as die priesters se onderhoud.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх