Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 11

Оглавление

Maandag 5 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 5:1-10

Die hoorder is ook skuldig

Hy was ’n getuie daarvan, en daarom rus daar skuld op hom (5:1).

GESELSVRAAG:

Hoe kan ’n ander mens se vloekwoorde ons raak?

“As iemand anders die Naam van die Here as ’n vloekwoord gebruik, het dit tog niks met my te doen nie. Dit is sý sonde, nie myne nie,” meen ’n katkisant. Ons was besig om te gesels oor die Heidelbergse Kategismus se vraag en antwoord 100. Daar word duidelik gesê as ons stilbly wanneer iemand anders sy Naam misbruik, is ons ook skuldig. En dan verwys hulle onder meer na hierdie vers.

As ons na die nuwer vertalings van hierdie gedeelte kyk, kan ons dit ook anders verstaan. Die meeste vertalers dink aan iemand wat voor die hof gedaag word om onder eed die volle waarheid te vertel. As jy dan iets doelbewus verswyg, is jy self skuldig. Jy het nie die volle waarheid vertel nie.

Ons word deesdae oordonder deur baie menings. Ons hoor ook baie vloekwoorde. Onwaarhede en skinderstories word met lus oorvertel. Soms weet ons wat die waarheid is, maar ons bly om die een of ander rede stil. Die Here wil ons leer dat die volle waarheid vir Hom belangrik is. Ons moet dus mooi dink hoe ons moet reageer as so iets gebeur. Wat doen ons as ander mense vloek of leuens vertel? Bly ons eenvoudig stil? Of sal ons dit waag om op te staan vir wat reg is? Ons almal is skuldig. Daarom moes Jesus ook die straf vir hierdie sondes op Hom te neem.

GEBED: Ek staan skuldig, Here. Vergewe my om Jesus wil.

Lees vanaand in Levitikus 5:11-19 hoe jy skuldig kan wees, al het jy iets uit onkunde gedoen of nagelaat. God het daarvoor voorsiening gemaak.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх