Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 14

Оглавление

Donderdag 8 Januarie 2015 • Lees eers Levitikus 7:11-21

Vars dankbaarheid

Die vleis van die maaltydoffer waarmee iemand sy dank wil uitspreek, word geëet op die dag van die offer (7:15).

GESELSVRAAG:

Waarvoor kan ons vandag dankbaar wees?

“Chris wil nie hê dat ons ooit oorskietkos eet nie. Alles moet elke dag vars berei word,” vertel ’n vriendin van haar man. Hy is ’n mediese tegnoloog in ’n staatshospitaal en is dus baie bewus van hoe maklik voedselvergiftiging kan intree as kos oorstaan. (By ons lyk die maaltyd soms soos ’n oorsig van die week!)

Die Israeliete het natuurlik nie yskaste gehad nie. Vleis het nie lank gehou nie, tensy jy daarvan biltong kon maak. Maar met die volk wat op trek was en die skaarste aan sout, was dit ook nie juis ’n opsie nie. Elke dag se slagding is dus vars aan die Here gewy en dieselfde dag opgeëet. Baie van die wette in Levitikus was dus bedoel om die volk gesond te hou. Elke offer het gepaardgegaan met dank. En daar was baie om voor dankbaar te wees, al het die Israeliete ook maar maklik gekla, net soos ons.

Ons dank aan die Here kan alte maklik in ’n onnadenkende rympie ontaard. Ons probeer dus om by elke ete iets vars in ons dankgebed in te bring om ons te help onthou met wie ons te doen het. Ons tafelgebed kan maklik iets word wat ons aframmel sonder om te dink wat ons sê, of terwyl ons met die een oor luister na die weervoorspelling. Wat is die nut van so ’n gebed?

GEBED: Here, hou my ontmoeting met U elke dag vars.

Lees vanaand in Levitikus 7:22-38 hoe die Here bepaal het dat die Leviete uit die volk se offers onderhou moes word.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх