Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 17

Оглавление

Sondag 11 Januarie 2015 • Lees eers Psalm 24:1-6

Myne?

Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here … (24:1).

GESELSVRAAG:

Wat is werklik jou eiendom?

“Al wat ons eintlik ons eie kan noem, is ons sondes,” merk ’n slimmerd by ’n Bybelstudiegroep op. En hy was heeltemal reg. Ons praat graag van ons huis, ons plaas, ons motor, ons kinders, ons geld, ensovoorts, maar ons kan dit alles maklik verloor. Selfs Steve Jobs is afgedank uit die maatskappy wat hy self gestig het. Ons moet altyd onthou dat alles wat ons het eintlik net aan ons geleen word. Ons moet dit vir die ware eienaar, die Here, bestuur.

Die duiwel dink soms dat die aarde aan hom behoort (vgl Luk 4:6). Maar hy is verkeerd. Hy bly maar ’n leuenaar. Alles behoort aan die Een wat dit uit niks gemaak het (vgl Ps 24:2). Jy dink dalk dit is jóú vernuf en harde werk wat iets tot stand gebring het, maar selfs jou gesondheid, breinkrag en opleiding is maar net deel van God se genade aan jou. Jy het dit nie verdien nie.

Die kerk behoort ook nie aan ons nie. Dit is die Here se liggaam. Ons saam vorm maar net die instrument wat die Here hierdie week wil gebruik om sy koninkryk te laat kom. Hy wil ons vandag toerus vir die uitdagings van hierdie week. En saam is ons beter. As ons die uitdagings saam aanpak, is ons soveel sterker. Ons het mekaar nodig. Daarom is dit so hartseer dat sommige mense probeer om die stryd alleen te stry. Hou jou oë oop vir hulle.

GEBED: Here, ek wy my en alles wat myne is aan U.

Lees vanaand in Psalm 24:7-10 hoe die Here die eintlike Koning oor alles is – ook oor hierdie week wat voorlê.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх