Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 52

Оглавление

Vrydag 13 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 1:1-5

God roep jou

Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader wat Hom uit die dood opgewek het (1:1).

GESELSVRAAG:

Hoe roep die Here mense om in sy diens te staan?

“Hoe het die Here jou geroep om ’n sendeling te wees?” vra ’n vrou in ’n brief waarin sy my nooi om ’n sendingweek in hul gemeente te lei. Dit het my sommer baie jare laat terugdink aan hoe die Here in my lewe gewerk het om my te oortuig dat ek moes gaan werk waar mense die evangelie nodig het. Paulus het ook hierdie ervaring gehad. Hy wou gaan waar niemand voor hom die evangelie gepreek het nie.

Die dwaalleraars wat ná Paulus in Galasië aangekom het, het op hom neergesien. Wie is hy nogal? Wie het hom die volmag gegee om hier te kom werk? Watter kerk of organisasie het hom gestuur? Hulle het dus sy lering verwerp en ’n heel ander boodskap verkondig, soos ons nog sal sien.

Paulus begin deur te bevestig dat hy nie uit sy eie na Galasië gekom het nie. Hy is as apostel geroep, nie deur mense nie, maar deur God self. Jesus Christus het Hom aan Paulus geopenbaar en sy lewe totaal omgekeer terwyl hy op pad was om Christene te vervolg (vgl Hand 9:5). Hy kan dus met gesag praat, want dit is God wat hom gestuur het. Hy is nie soos die dwaalleraars wat hulleself aangestel het om hom te kritiseer nie.

GEBED: Here Jesus, dankie dat U ons roep om op die een of ander manier in u diens te staan.

Lees vanaand in Galasiërs 1:6-10 hoe moedeloos Paulus klink omdat die gemeente so vatbaar is vir ’n dwaalleer.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх