Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 60

Оглавление

Saterdag 21 Februarie 2015 • Lees eers Galasiërs 4:28-5:1

Lewe as vry mense

Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie (5:1).

GESELSVRAAG:

Waarvan moet ons alles vrygemaak word?

“Ons gemeente moes drie kinders stuur om vir dwelmverslawing behandel te word, teen R40 000 elk,” vertel ’n leraar. Min van hulle word werklik permanent vry. Daarom is dit so gevaarlik om selfs net een keer met ’n dwelm soos tik te eksperimenteer. Jy raak dadelik verslaaf en dit bly ’n lewenslange stryd, selfs met die nodige hulp. Net die Here kan ons vrymaak (vgl Joh 8:36).

Paulus praat hier nie bloot van die verslawing aan middels nie. Hy bedoel veral verslawing aan ’n wettiese godsdiens. Baie mense word vasgevang in die een of ander kultus en verloor hul vryheid. Hulle word gebreinspoel. Hulle behoort ten volle aan die kultusleier. Christus is anders. As jy aan Hom behoort, is jy waarlik vry. Jy draai jou rug vir die ou lewe en begin om voluit in die nuwe vryheid te lewe.

Ons kan maklik op ander neersien en dink dat ons anders is. Die groot toets is egter of jy op Christus alleen vertrou vir die ewigheid. Of vertrou jy op Christus plus nog iets? Christus plus ’n sekere kerk? Christus plus die doop? Christus plus die gawes van die Gees? Christus plus gereelde sondebelydenis? Christus plus goeie werke? Christus plus onderhouding van die wet?

GEBED: Here Jesus, dankie dat U ons vrymaak van verdienste. Ons wil nou uit dankbaarheid vir U lewe.

Lees vanaand in Galasiërs 5:2-12 waarom uiterlike vormgodsdiens nutteloos is. Ons moet eerder op Christus vertrou.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх