Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 63

Оглавление

Dinsdag 24 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 6:1-10

Wat sal jy oes?

Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes (6:7).

GESELSVRAAG:

Watter soort vrugte wil jy op die ou end dra?

“Die boer het vir my ’n papiersak vol pampoenpitte gegee en gewys hoe ek vier pitte in elke grondhopie moet plant. ‘En as jy klaar is, kan jy opgaan huis toe. Daar wag iets lekkers vir jou,’ het hy bygevoeg.” So vertel ou Loskop van die dae toe gevangenes nog toegelaat was om bedags op plase te gaan werk. “Ek het gemaak soos hy gesê het, maar die sak wou net nie leeg raak nie. Later het ek al hoe meer pitte in elke hopie geplant. Op die ou end het ek sommer ’n gat gemaak en die sak daarin leeggemaak. ’n Paar weke later sê die boer ons moet gaan kyk hoe my pampoenplante opkom. Elke hopie aan die begin van die land het vier plantjies gehad. Maar hoe verder ons geloop het, hoe meer plantjies was daar. Uiteindelik het hulle gestaan soos hare op ’n hond. Ek het skoon vergeet dat die pitte sou opkom!”

Ons vergeet ook dat alles wat ons doen of sê pitte is wat ons plant. Ons sal daarvan rekenskap moet gee (vgl v 5). As ons lewe soos die Gees ons lei, sal ons pragtige vrugte dra. Maar as ons die sondige natuur kans gee om oor te neem, sal ons met skande na die slegte gevolge daarvan kyk. Ons moet dus aan almal goed doen (vgl v 10). Dit is die teken dat die Heilige Gees in beheer is.

GEBED: Here, ek gee my aan U oor sodat U my kan verander om te wees wat U vir my beplan het.

Lees vanaand in Galasiërs 6:11-18 wat die belangrikste dinge in die gelowige se lewe moet wees. Is vers 14 van jou ook waar?

Uit die Beek 2015

Подняться наверх