Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 47

Оглавление

Maandag 9 Februarie 2015 • Lees eers Levitikus 25:47-55

Nuwe Eienaar?

Hulle is my dienaars omdat Ek hulle uit Egipte laat trek het. Ek is die Here julle God (25:55).

GESELSVRAAG:

Waaraan raak mense verslaaf?

“Ons mense werk soos slawe,” word soms gesê tydens ’n protesoptog. Maar dit is nie waar nie. Ons weet nie wat slawerny is nie. Slawe het geen regte gehad nie. Hulle kon nie protesteer nie – dit kon hulle hul lewe kos. Hulle het geen salaris verdien nie. Hul eienaar kon vir hulle kos gee as hy wou. Of nie. Hy het volle beheer oor sy eiendom gehad.

Die Israeliete was slawe in Egipte. Hulle moes hard werk en het geen regte gehad nie. Toe het die Here hul hulpgeroep gehoor en hulle deur Moses na vryheid gelei. Hulle sou nie meer die slawe van mense wees nie. Hulle het nou aan die Here behoort. Dit kon gebeur dat ’n Israeliet in ’n geldelike verknorsing beland en hom aan iemand anders as slaaf moes verkoop. Maar dit was net tydelik. Hy self of ’n familielid moes hom vrykoop (vgl v 48-49). En selfs al gebeur dit nie, is hy en sy afhanklikes in die hersteljaar vrygelaat, al was hy die slaaf van ’n nie-Jood (vgl v 54).

Die Here skenk ware vryheid (vgl Joh 8:36). Hy wil nie hê dat een van sy kinders weer ’n slaaf van iemand of iets moet wees nie. Daarom moet ons waak teen gewoontes of middels wat ons van ons vryheid kan beroof.

GEBED: Dankie, Here Jesus, dat U ons waarlik vrymaak. Help ons om elke dag daarvolgens te lewe.

Lees vanaand in Levitikus 26:1-13 watter beloftes die Here gee aan mense wat aan sy gebooie gehoorsaam bly.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх