Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 78

Оглавление

Maandag 9 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 9:9-17

Luister goed

Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer (9:17).

GESELSVRAAG:

Hoe weet ons wat die Here vir ons wil sê?

“Die ene bene,” het Saul se ma seker van hom gesê toe sy sien hy groei heelwat langer as sy portuurgroep. Saul was baie bewus van sy lengte en het probeer krom loop sodat hy nie so opmerklik was nie. Hy het nie ’n goeie selfbeeld gehad nie, soos ons sal sien. Maar God het ’n plan met elke mens. Ook met Saul. Saul het goed begin. Hy was nederig. Hy was nie hoogmoedig nie. Hy het hom deur sy slaaf laat lei en help.

Samuel het die gawe ontwikkel om God se leiding duidelik te hoor. Die Here het met hom gepraat sedert Hy hom daardie nag in die heiligdom ontmoet het. Hy het bekend gestaan as die siener – vandag sou ons sê die profeet – wat die regte boodskap by die Here ontvang het en kon oordra. Hy het dus gehoor toe die Here hom vertel dat hierdie skaam vreemdeling op soek was na sy pa se donkies, dat die donkies reeds gekry is, maar dat die eintlike rede waarom hy daar beland het, was om as koning van Israel aangewys te word.

Vir Saul was dit die begin van ’n besondere lewenslange verhouding met Samuel. Toe Saul verkeerd gekies het, het Samuel hom aan Saul onttrek, maar Saul het selfs ná Samuel se dood steeds raad by hom gaan soek.

GEBED: Here, ek verlang na ’n innige verhouding met U.

Lees vanaand in 1 Samuel 9:18-27 hoe Samuel voorbereidings getref het vir dié ontmoeting met Saul. Hy het geweet.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх