Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 73

Оглавление

Woensdag 4 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 5:8-12

Paniek

Hulle het die ark van die God van Israel na ons toe gebring om ons en ons mense dood te maak (5:10).

GESELSVRAAG:

Wanneer raak mense paniekerig?

“In tye van krisis sal die onkundiges nie paniekbevange raak nie, want hulle weet nie wat aangaan nie. Later raak hulle paniekbevange omdat hulle nie weet wat aangaan nie,” het Jarod Kintz geskryf.

Dit klink nogal baie na wat die Filistyne hiér ervaar het. Eers was hulle bly dat hulle die ark buitgemaak het, maar toe hulle sien wat gebeur, het hulle paniekbevange geraak. Oral waar die ark gekom het, het dit die dood gebring. Baie gou wou niemand die ark in hul dorp hê nie (vgl v 7). Eers wou hulle die ark bloot wegkry van hul afgod Dagon, want dit het skade aan die beeld veroorsaak. Maar toe ontdek hulle dat die ramp versprei na elke plek waar die ark kom. Blykbaar het muise ook iets te doen gehad met die verspreiding van die pes, want ’n mens lees later dat hulle goue muise saam met die ark teruggestuur het.

Dit is jammer dat die Filistyne nie tot bekering en oorgawe gekom het toe hulle die krag van Israel se God begin ervaar het nie. Elke keer as mense hulle rug vir God draai, is dit tot hul eie nadeel. In feitlik elke land sien ons dat misdaad en ekonomiese rampe oorneem, en dit is opmerklik dat dit saamgaan met die verwerping van die God van die Bybel. Sonder God beteken sonder hoop. Sonder God is daar rede om paniekerig te raak.

GEBED: Here, ek vlug na U toe. Dit is net U wat ons kan red.

Lees vanaand in 1 Samuel 6:1-12 hoe die Filistyne finaal oortuig is dat God agter die rampe was wat hulle getref het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх