Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 76

Оглавление

Saterdag 7 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 8:10-22

Sleg gekies

Daardie dag sal julle om hulp roep vanweë julle koning vir wie julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie (8:18).

GESELSVRAAG:

Watter soort regering wil ons graag hê?

“Suid-Afrika is een van 12 lande in die wêreld waar ’n mens met vrymoedigheid water uit die kraan kan drink.” Dit is ongelukkig nie oral meer waar nie. Op talle dorpe is daar groot probleme met die watertoevoer en waterveiligheid. Die rioolstelsels werk byvoorbeeld nie meer nie en rou riool word in die riviere en damme gestort. Die mense wat aangestel is om dit te behartig, het eenvoudig nie die bekwaamheid en kennis om dit in stand te hou nie. Dit is een van die nadele van ’n demokrasie wat stem volgens stam en velkleur en nie volgens bekwaamheid nie.

Samuel waarsku in vandag se gedeelte die volk teen die nadele van ’n koning. Hy sal sy volk uitbuit tot sy eie en sy binnekring se voordeel. Hy sal die meerderheid van die bevolking sy slawe maak. Hý sal besluit wat hulle mag en nie mag doen nie. As jy ’n koning het, het jy nie meer vryheid nie. En tog kies die volk halsstarrig dat hulle ’n koning soos die ander volke wil hê.

Ons het die vryheid om elke dag keuses te maak. Maar ons moet onthou dat elke keuse ook ’n gevolg het. As ons verkeerd kies, sal ons dit berou. As ons reg kies, sal ons daaroor bly en dankbaar wees. Wees dus op jou hoede vandag.

GEBED: Here, help my om vandag reg te kies.

Lees vanaand in 1 Samuel 9:1-8 hoe dit gekom het dat Saul die eerste koning van Israel geword het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх