Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 85

Оглавление

Maandag 16 Maart 2105 • Lees eers 1 Samuel 14:13-23

God maak die onmoontlike moontlik

Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg (14:20).

GESELSVRAAG:

Vertel van ’n onverwagte oorwinning.

“Met die huidige stand van die ekonomie in Europa raak dit al moeiliker om afset vir ons vrugte daar te kry. Ons begin dus soek na nuwe markte wat nog besteebare geld het,” vertel ’n sakeman. En toe ontdek hy dat Sjina ’n groot en volhoubare mark is.

Wie sou kon raai dat so ’n hopelose stryd onverwags kon omkeer? Net Saul en Jonatan het swaarde gehad (vgl 13:22). Die ander was waarskynlik met tuingereedskap en stokke gewapen (vgl 13:20). En toe klim Jonatan teen die steil rots uit en oorwin ’n goed gewapende peloton. Toe die ander Filistyne sien wat daar oorkant gebeur, begin hulle paniekbevange teen mekaar veg, veral toe daar nog boonop ’n aardbewing kom. Toe Saul en die ander manskappe by die geveg opdaag, sien hulle die Filistyne veg teen mekaar (vgl 14:20). Die oorlopers sluit toe by Saul-hulle aan, en selfs die bang Israeliete het kans gesien om die vlugtende Filistyne agterna te sit (vgl v 21-22). Ongetwyfeld kon net God so iets bewerk.

Jy het ook hierdie week groot uitdagings wat jou in die gesig staar. Miskien voel jy vanoggend moedeloos. Jy weet nie wat jy nog kan doen om die saak te red nie. Het jy al daaroor gebid? Dalk het die Here hierdie week ook vir jou ’n groot verrassing.

GEBED: Here, sonder U kan ons niks doen nie.

Lees vanaand in 1 Samuel 14:24-32 hoe ’n pa se verkeerde besluit sy seun se lewe in gevaar gestel het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх