Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 77

Оглавление

Sondag 8 Maart 2015 • Lees eers Psalm 31:20-25

God se goedheid

Hoe groot is u goedheid: dit is altyd daar vir dié wat U dien, U bewys dit voor die oë van die mense aan dié wat by U skuil (31:20).

GESELSVRAAG:

Vir watter goeie dinge kan ons God vandag dank?

“Ons is geneig om al die slegte dinge wat met ons gebeur, raak te sien en ons daaroor te ontstel. Maar ons vergeet dat baie meer goeie dinge met ons gebeur. Ons sien dit nie raak voordat ons dit verloor nie.” Is dit nie waar nie? Jy dink nie eens aan die gawe om te kan loop nie, totdat jou bene seer word of ingee. Jy dink nooit aan jou hart nie, totdat hy begin probleme gee. Jou spysvertering word vanselfsprekend aanvaar, totdat jy maagpyn of iets erger kry.

Dawid het ook al die slegte dinge wat met hom gebeur, raakgesien. Maar daarmee saam het hy die goedheid van God raakgesien. Hy het altyd iets gekry waarvoor hy die Here kon loof en dank. Hierdie psalm is in ’n tyd van stryd en teëspoed geskryf, maar dit eindig met ’n loflied.

Vandag kry ons weer ’n kans om stil te word saam met die Here en sy gemeente. Kom ons berei ons daarvoor voor deur te dink aan al die seëninge wat die Here ons hierdie week gegee het. Kom ons deel dit dan met blydskap met mekaar. Ons almal wil ’n slag goeie nuus hoor. Maar ons wil dit nie net vir mekaar vertel nie, ons wil dit ook vir die Here vertel. Ons wil Hom vandag daarvoor loof en dank.

GEBED: Here, dankie vir al u goedheid en voorsiening. Help ons om hierdie week die goeie dinge raak te sien en U daarvoor te dank.

Lees vanaand in Psalm 32:1-5 hoe Dawid ons daaraan herinner dat die grootste gawe van God vergifnis om Jesus ontwil is.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх