Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 67

Оглавление

Vrydag 27 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 2:12-17

Selfsug se vrug

Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor (2:17).

GESELSVRAAG:

Watter kerkleier se optrede het groot skade gedoen?

“Ons elkeen het ’n doel – al is dit bloot om as ’n waarskuwing vir ander te dien,” lees ek op die internet. En as ’n mens kyk na die soort stories wat deur die TV in ons huise ingedra word, lyk dit asof die skrywers verplig voel om soveel afbrekende en slegte gedrag moontlik uit te beeld en enigiets opbouend te vermy. Die probleem is dat ons later so gebreinspoel word dat ons begin dink almal is net so sleg soos die karakters in die sepies.

Eli se kinders was heel anders as hul pa. Hulle was opstandig, ongehoorsaam en selfsugtig. En dit het groot skade veroorsaak. Hulle het geen respek vir die Here of die toegewyde aanbidders gehad nie. Dít het op ’n verskriklike einde afgestuur.

“Die predikant se kinders is die stoutste,” word graag gesê. (Dis omdat hulle net gemeentekinders het om mee te speel, voeg sommige by.) In ons Kweekskoolklas was ons ’n hele paar predikantskinders. Toe ons saam gesels, het ons ontdek dat almal die druk van pastoriekinders ervaar het. Sommige het daarteen in verset gekom en opsetlik stout opgetree, en ander het huigelaars geword. Tog het ons almal ons uiteindelik aan die Here oorgegee en sy roepstem tot die bediening gehoor. Waarvoor roep die Here jou?

GEBED: Here, bewaar ons kinders van verkeerde keuses.

Lees vanaand in 1 Samuel 2:18-26 hoe Samuel se optrede anders was as dié van Eli se seuns.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх