Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 89

Оглавление

Vrydag 20 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 16:14-23

Geskikte musikant

Hy is ’n dapper man en ’n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het ’n goeie voorkoms. Die Here is by hom (16:18).

GESELSVRAAG:

Beskryf die ideale man.

“Sê nou ’n manswinkel het mans verkoop. Waarna sou jy kyk as jy vir jou ’n man sou gaan uitsoek?” het ek die meisies in die finalejaarkategese gevra. Hul antwoorde was nogal insiggewend, veral vir die seuns in die klas. Dit blyk dat wat meisies in ’n man soek, iets anders is as wat die seuns gedink het.

Toe Saul sy rug vir God draai, het die duiwel ’n houvas gekry. Dit het Saul in so ’n mate benadeel dat hy nie sy werk kon doen nie. Sy raadgewers se oplossing was om ’n musikant te huur, soos ons deesdae klassieke musiek van die internet kan aflaai wat ons help om te konsentreer as ons studeer. Van alle mense beveel hulle toe vir Dawid aan. So kon Dawid jare lank leer wat koningwees behels voordat hy self die troon sou bestyg.

Dit is interessant hoe Dawid by Saul aanbeveel word. Dit gaan nie net oor sy vaardigheid met die lier nie, maar ook dat hy dapper is en ’n goeie vegter. Hy was nie op sy mond geval nie en daarby aantreklik. Maar die belangrikste was dat die Here by hom was. Jong meisies kyk dikwels na die uiterlike voorkoms as hulle in ’n jongman belangstel. Maar die groot vraag is: Is die Here by hom? Sy musikale vermoë, fisieke krag en voorkoms is bysaak. Ook dat hy sy saak vlot kan stel. Mag die Here ons manne so maak.

GEBED: Here, maak ons manne manne van God.

Lees vanaand in 1 Samuel 17:1-11 hoe Israel teen ’n oorlogstenk op twee bene te staan kom.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх