Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 91

Оглавление

Sondag 22 Maart 2015 •Lees eers Psalm 33:12-22

Aan wie behoort ons?

Dit gaan goed met die nasie wie se God die Here is, met die volk wat Hy vir Hom as sy eie gekies het (33:12).

GESELSVRAAG:

Watter verskil maak dit as ’n nasie kies om die Here te dien?

“Net minder as 80 persent van Suid-Afrika se mense beskou hulleself as Christene,” lees ek oor die uitslag van die laaste sensus wat nog vrae oor godsdiens gehad het. Is dit nie wonderlik nie? Ons is waarskynlik een van die Christelikste lande op aarde. Dit moet mos hemel op aarde wees om in so ’n land te woon. Tog het ons land van die hoogste moordsyfer ter wêreld, meer mense wat met die MI-virus moet saamleef as in enige ander land, meer korrupsie en misdaad as amper alle ander lande; ons vaar onder die swakstes wat onderwys en mediese dienste betref en daar is swak diensverskaffing in al hoe meer dorpe. Hoe kan dit wees?

Kan ons sê die sensus is verkeerd? Tog nie. Maar vandag sal seker minstens drie uit elke vier lidmate nie in die kerk wees nie. Ons sê graag die Here is aan ons kant. Maar is ons aan die Here se kant? Kan ons soos Dawid sê God is ons Here, ons is deel van God se uitverkore volk?

Miskien moet ons onsself ondersoek om vas te stel aan wie se kant ons is. Hoe gaan ons vandag deurbring: soos God se mense of soos ongelowiges? Wat behoort ons vandag te doen?

GEBED: Here Jesus, ons is skaam dat ons u Naam so vertrap omdat ons belydenis en lewe nie ooreenstem nie. Vergewe en verander ons.

Lees vanaand in Psalm 34:1-11 Dawid se reaksie op God se hulp in tye van lewensgevaar.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх