Читать книгу Uit die Beek 2015 - Attie van Wijk - Страница 90

Оглавление

Saterdag 21 Maart 2015 • Lees eers 1 Samuel 17:12-19

Menseregtedag

Toeskouers of deelnemers?

Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne (17:19).

GESELSVRAAG:

Hoe word oorlog deesdae gevoer?

“Sielkundige oorlogvoering” het in ons tyd belangrik geword. As jy jou vyand moedeloos kan maak voordat die eerste skoot geskiet word, het jy die stryd gewen. Amerika het in Irak strokiesprente gestrooi wat wys hoe die Arabiere die stryd gaan verloor. Ongelukkig het die tekenaar vergeet dat Arabiere van regs na links lees, sodat die prentjies totaal onverstaanbaar was.

In Saul se tyd het oorlogmaak die plek van vandag se sport ingeneem. Die linies het dae lank teenoor mekaar beledigings gestaan en skreeu. Daar was weinig aksie. Isai kon dus vir Dawid presies beduie by watter boom hy die oorlog sou kry. Vir Dawid was dit ’n groot avontuur. Hy het graag padkos vir sy broers gaan wegbring, want dan kon hy sien wat aangaan. Hy het waarskynlik glad nie gedink dat hy by die stryd betrokke sou raak nie.

Vandag word talle byeenkomste oor menseregte gehou. Min van ons besef dat ons almal in hierdie stryd betrokke is. Dis vir ons ’n toeskouer-aangeleentheid, en vir die meeste is dit net nog ’n vakansiedag. Baie weet nie eens waaroor dit gaan nie. Miskien het die Here ’n werk vir jou om mense se regte in ons land te herstel. Is jy gewillig daarvoor?

GEBED: Wys my wat ek vandag vir U kan doen, Here.

Lees vanaand in 1 Samuel 17:20-30 hoe die onervare Dawid die gebeurtenisse aan die front belewe het.

Uit die Beek 2015

Подняться наверх