Читать книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé - Страница 10
3
Die groot aand
ОглавлениеSaartjie en die lede van haar Sonskynklub oefen amper elke middag vir die konsert. Alles verloop glad en uiteindelik breek die groot aand aan.
Dokter Jan Baumann en sy vrou het al hul vriende genooi en dit lyk of daar ’n groot gehoor gaan wees. Omdat dit vir so ’n goeie doel is, het Saartjie se ma besluit om die kaartjies nie té goedkoop te maak nie.
Al wat stoel en bank is, word voor die konsert by die groot sitkamer ingedra. Daar is sitplek vir veertig mense en baie ander kan langs die muur staan of op die vloer sit.
Aan die een kant is ’n soort verhoog gebou waarop die verskillende items gelewer gaan word. Net daaragter op die stoep is ’n kamertjie waar die seuns aantrek en hulle regmaak. Die meisies het ’n afskortinkie aan die ander kant van die stoep.
Saartjie se pa se ontvangsdame het by die spreekkamer vir hulle die program getik en afgerol. Elke toeskouer kry dus ’n program van die verrigtinge wat die Sonskynklub se lede gaan aanbied.
Die sitkamer bars uit sy nate. Daar is nie plek vir ’n muis nie. Die kinders wat gekom het, sit op die vloer teen die verhoog.
Mevrou Baumann is hoog in haar skik.
“Julle moet alles uithaal,” sê sy vir die meisies in die afskortinkie op die stoep. “Baie van die mense het sommer dubbel die toegang betaal omdat die geld vir so ’n goeie saak gaan.”
Nie een van die grootmense was by die repetisies nie en Saartjie se ma is effens bekommerd. Sy hoop maar vir die beste.
Dit is agtuur en tyd vir die konsert om te begin. Saartjie dra ’n blou lint in haar donker hare en het ’n pragtige wit rok met ’n blou lyfband, blinkleerskoene en wit sokkies aan. Sy lyk beeldskoon. Almal klap hande toe sy haar verskyning op die verhoog maak.
“Dames en here,” sê sy wanneer die gehoor stil raak, “namens die Sonskynklub wil ek u almal bedank vir u teenwoordigheid hier vanaand . . .” Saartjie het hierdie toespraak uit haar kop geleer en sy struikel nie een keer oor ’n woord nie. Sy vertel vir almal dat hulle die geld aan die Strandfonds gaan skenk en soos almal weet, is dit vir ’n besonder goeie saak.
“En nou, dames en here, verklaar ek die konsert geopen. As u na die program kyk, sal u sien die eerste item is ’n vioolsolo deur Matilda Nielsen. Die begeleiding op die klavier word waargeneem deur Saartjie Baumann.”
Almal klap toe Matilda Nielsen met haar viool binnekom. Sy speel “Die Blou Donou” en sy speel dit pragtig. Meer as een van die ouer mans en dames sit en kop knik op die maat van die bekoorlike musiek en dink aan die dae toe hulle nog jonk was en hierdie gewilde wals gedans het.
Dit is asof Matilda vandat sy en Saartjie gereeld saam geoefen het nie meer so bot en terughoudend is nie. Sy speel die stuk foutloos en kry ’n oorverdowende toejuiging wanneer sy klaar is.
Matilda se gesig straal en sy maak ’n buiging vir die gehoor en dan vir Saartjie. Glimlaggend wys Saartjie na Matilda.
Die meisie se viool het die mense bekoor. Hulle hou aan hande klap totdat sy vir hulle nóg ’n stukkie speel.
Muggie se items is net so gewild. Saartjie speel sag klavier terwyl Muggie dans en “Jan Pierewiet” sing.
Die gehoor is dol oor Muggie se vriendelike glimlaggie en elegante beweginkies. Almal klap hard toe sy aan die einde van haar item vir hulle staan en soentjies gooi.
Muggie se resitasie I am the Witch of Witchland is net so gewild. Die mense hou veral van die ernstige uitdrukking op haar gesiggie terwyl sy die Engelse woorde so verkeerd uitspreek.
Die items volg vinnig op mekaar en die gehoor geniet elke enkele een. Hulle dink die lede van Saartjie se Sonskynklub is beslis ’n talentvolle groepie.
Tot en met die pouse, toe koek en tee bedien word, is alles van hoogstaande gehalte.
Die seuns het nog nie opgetree nie, maar Saartjie het die effense “swaar” items juis vir vroeër beplan sodat die pret en jolyt ná pouse kan begin.
Anna het ’n balletstuk, die “Dans van die Goue Swaan”, uitgevoer en dit was só geslaag dat sy dit moes herhaal.
Lina wat al baie medaljes vir voordrag by die kunswedstryd gewen het, het ’n gedig voorgedra en dit was besonder indrukwekkend.
Saartjie het al die klassieke stukke waarmee sy eerste pryse by die kunswedstryde verower het op die klavier gespeel. Dit was te “swaar” vir die kinders, maar die grootmense het haar vertolking van Bach en Chopin se minder gevorderde stukke terdeë geniet.
“En nou,” sê Saartjie ná pouse vir die ander lede van die Sonskynklub, “was dit genoeg van kuns. Nou gaan die pret begin.”
Dit begin toe ook behoorlik! Die eerste item is Galpil en sy twee maats met hul mondfluitjies. Saartjie het hulle op die program ingeskryf as: Die Mondfluitjietroebadoers wat mense se hartsnare roer.
Die drie sit reg op ’n bankie op die verhoog. Hulle dra almal langbroeke wat tot bo hulle enkels opgerol is en kakiehemde. Oor die hemde is daar groot, wit stukke lap soos kruisbande gespan. Galpil verduidelik vir ’n verbaasde Saartjie dat dit van hulle matrose maak, maar sy het nog nooit matrose gesien wat só lyk nie.
Galpil loer vir Gert en Piet en sê: “Reg, pêre,” en toe begin hulle speel . . . Almal in die sitkamer se voete begin op die maat van die vrolike deuntjies tyd hou. Lank moet die drie bekende Afrikaanse liedjies speel en die toejuiging is nóg harder wanneer Saartjie op die klavier begin saamspeel. Die drie mondfluitjies en die klavier klink saam amper soos ’n goeie orkes.
Soos afgespreek en geoefen, staan die drie “troebadoers” op en al spelende stap hulle uit sodat Saartjie alleen by die klavier agterbly.
Die gehoor kyk gou op hul programme terwyl Saartjie saggies speel. Hulle lees: Saartjie Baumann boots wêreldberoemde sangers na.
Die mense sit genoeglik agteroor. Hulle weet sommer hulle gaan dit baie geniet. Baie van hulle voel ook verlig. Die program sou gesê het as Saartjie inwoners van Lynnekom gaan naboots!
“Eerste,” sê Saartjie, “gee ek graag ’n voorstelling van die bekende Skotse komediant, sir Harry Lauder!”
Sy speel op die klavier en sing. Haar Skotse uitspraak is perfek. Sy sing eers vol heimwee:
“Ye take the high road and
I’ll take the low road
And I’ll be in Scotland afore ye . . .”
Dan slaan sy oor na ’n vrolike liedjie oor ’n bonny, bonny lassie.
“En nou,” sê Saartjie toe die toejuiging bedaar, “een van ons bekendste ou komediante. Ek glo nie ek hoef sy naam te noem nie.”
Sy speel ’n deuntjie, maar sit effens skuins en kyk na die gehoor. Haar oë is groot en sy rol hulle van kant tot kant. Dan sing sy van “Tamatiesous en Kerriekos” en vra ook vir Hasie hoekom sy stert so kort is terwyl sy allerhande gesigte trek.
Die gehoor skater soos hulle lag. Haar nabootsing van Al Debbo is uitstekend. Sy slaan oor na die lawwe liedjie:
“Nee, nee, nee, my Dolla, nee –
Ek vry nie met ’n loskop dolla nie . . .”
Die dawerende toejuiging kan tot aan die ander kant van Lynnekom gehoor word.
“En nou,” sê Saartjie, “die Amerikaanse sanger, Bing Cosby.”
Stadig en met ’n lae stem neurie sy van ’n White Christmas en toe van die Bells of Saint Mary. Ná elke reël sit sy so ’n “boep-boep” in.
“Dankie,” sê Saartjie laggend en speel ’n vinnige deuntjie. “Dit is dan die einde.”
Almal skree hulle wil nog hê. Maar Saartjie buig laag en maak keel skoon: “Die volgende item op ons program is ’n voordrag deur Galpil.” Baie van die gehoor, veral skoolkinders wat die bynaam ken, begin lag.
Galpil, Gert en Piet staan op die verhoog.
“Die wit bande oor hul hemde,” sê Saartjie en wys na die drie, “is veronderstel om hulle soos matrose te laat lyk.”
Saartjie verlaat die verhoog.
Gert gaan lê voor Galpil se voete met sy arms wyd uitgestrek. Piet staan langs Galpil en hy bring ’n groot, rooi sakdoek te voorskyn.
Die gehoor is die ene belangstelling. Hulle weet nie wat om te verwag nie.
Toe bulder Galpil in sy sterk basstem: “Oh, Captain! My Captain!”
’n Paar mense wip soos hulle skrik.
Galpil dra dramaties voor. Hy vertel hoe lief hy vir die kaptein van die skip was en nou is die kaptein dood en daar lê hy – Galpil wys af na Gert. Piet begin hard snik en snuit sy neus met soveel mening dat die groot rooi sakdoek amper te klein is. Hy moet mos vir die mense wys hoe gebroke hy is oor sy kaptein wat so dood soos ’n mossie daar lê.
“Where on the deck my Captain lies – Fallen, cold and dead!” weeklaag Galpil in ’n lae, hol stem.
Dit is ’n roerende gedig en word goed voorgedra, maar die gehoor kan nie help om te giggel omdat Piet so in sy rooi sakdoek staan en snuit nie.
Skielik verander die gegiggel in ’n geskater. Galpil wys net weer na die kaptein wat so cold en dead daar voor hom lê, toe die “oorlede” kaptein skielik penregop sit en nies!
Gert kon die nies nie langer inhou nie. Hy blaas sy neus eers gou hard in die sakdoek uit en mompel dan: “Nou voel ek beter.” Dan gaan lê hy weer met sy arms uitgestrek. Nou is hy weer die “koue en dooie” kaptein.
Al gaan Galpil moedig voort, luister niemand meer nie. Die gehoor skater dat die trane oor hul wange rol. Dominee erken aan die skoolhoof wat langs hom sit: “Ek het nog nooit in my lewe so lekker gelag nie.”
Galpil en sy twee maats is al van die verhoog af, toe lag die mense nog steeds.
Wanneer die gehoor uiteindelik tot bedaring kom, tree Saartjie vorentoe om die volgende item aan te kondig. Dit is ’n tweespraak tussen die agtjarige seuns, Apie en Bennie.
Die twee kom vinnig opgehardloop en die gehoor begin sommer al klaar lag. Die knapies dra ou flenterklere en hul gesigte is met swart skoenpolitoer besmeer. Op hul koppe is daar stukkende ou laphoede.
Die koddige figuurtjies staan langs mekaar en kyk na die gehoor. Dan lig Bennie beleef sy hoed, spring hoog in die lug en skop met sy hakskene teen mekaar. Toe hy afkom, sê hy sedig: “Ek is Jogga.”
Apie gee presies dieselfde sprong, lig sy hoed dan ook beleef en sê: “Ek is Gogga.”
Noudat Jogga en Gogga hulle aan die gehoor bekendgestel het, gaan die tweespraak begin.
“Haai,” sê Gogga en slaan Jogga hard op die rug.
“Haai,” sê Jogga en slaan Gogga hard op die rug.
Die twee staan doodstil en beloer mekaar agterdogtig.
“Wil jy baklei?” vra Gogga.
“Nee!” Jogga skud heftig kop. Hy wil nie baklei nie.
“Wat wil jy dan doen?” vra Gogga.
“Ek wil grappe vertel,” sê Jogga.
“Goed.”
“Goed wat?”
“Goed dan.”
“O.”
“Aha.”
Die toneeltjie wat die twee self geskryf het, is lekker laf en die gehoor proes van die lag.
“Laat staan maar,” sê Jogga.
“Laat staan maar wat?” vra Gogga.
“Laat staan maar die goed. Begin jy.”
“Waarmee?”
“Met ’n grap.”
“In die haak.”
Apie staar met ’n gefronsde voorkop na die gehoor. Hy krap met sy vingers in sy hare.
Sy maatjie kyk hom belangstellend aan. Dan vra hy: “Wat doen jy, Gogga?”
“Ek dink, Jogga.”
“Waaroor?”
“’n Grap. En nou het ek een. Luister mooi!”
Bennie buig na Apie toe en hou sy hand bak agter sy oor sodat hy goed kan hoor en mooi kan luister.
“Ek’s reg, Gogga,” sê hy.
Die gehoor sit ook effens vooroor om die grap te hoor.
“Jy ken mos die liefde, Jogga?”
Bennie knik heftig kop.
“Nou, jy sien, Jogga, daar was ’n ou wat baie verlief was op ’n meisie, maar hy was ’n bang ou en hy het nie die moed gehad om haar te vra om met hom te trou nie. Toe op ’n mooi dag besluit die ou hy sal haar maar bel en vir haar die groot vraag oor die telefoon vra.”
“En toe bel hy?”
“Ja, toe sluk hy net een keer swaar en vra haar om met hom te trou.”
Apie kyk na Bennie asof hy vir iets wag en Bennie vra die verwagte vraag: “En toe . . . wat sê sy toe?”
“Toe sê sy sekerlik, sy sal met hom trou. En toe vra sy: ‘Ekskuus, maar wie praat nou?’”
Die tweetjies skater soos hulle lag.
“Wag! Wag!” sê Bennie. “Ek wil jou iets vra, Gogga.”
“Vra maar, Jogga.”
“Is jy slim?”
“Ja, Jogga, ek’s ’n slim ou.” Apie knik ernstig kop en probeer baie slim lyk.
“Dan wil ek jou ’n vraag vra . . .”
“Vra maar – ek sal antwoord.”
“Hoekom,” vra Bennie en leun na Apie toe oor, “hoekom, ou Gogga, begrawe die mense nie die Dooie See nie?”
“Ha, ha!” lag Apie. “Jy’t my gevang, ou Jogga. Jy’t my uitgevang!”
Hulle albei lag só lekker dat hulle hul magies vashou. Die gelag is aansteeklik! Die gehoor skater saam met die twee.
“Nou wil ek jou ’n grap vertel, Gogga,” sê Bennie en hy lig sy hand om almal stil te maak.
“Vertel maar, ou Jogga, ek luister.”
“’n Sekere ou, ene meneer Jakob, sit een oggend en koerant lees terwyl hy ontbyt eet en raai wat lees hy? Hy lees hy is dood! Die koerantmense het natuurlik ’n fout gemaak, maar daar staan dit swart op wit: hy is dood.”
“En wat doen die ou toe?”
“Hy bel sy vriend, Janse. ‘Hallo, Janse,’ sê hy, ‘het jy in die koerant gesien ek is dood?’”
“Ja, ek het gesien jy’s dood,” sê Janse en sy stem bewe. “Waar-. . . waarvandaan bel jy nou?”
Bennie lag heerlik, maar Apie trek ’n suur gesig.
“Ek vang glad nie die grap nie,” sê hy, “maar ons moet weg wees, ou Jogga.”
“Ja,” sê albei gelyk, lig hul hoedjies, sê: “Fluit-fluit, ons storie is uit!” en hardloop van die verhoog af.
Die laaste item is die toneelstuk wat Saartjie geskryf het. Dit heet “Die Berugte Rower Word Gevang.”
Ongelukkig kon die gehoor nie sien hoe die berugte rower gevang word nie, want die toneelstuk het op verrassende wyse sommer reg aan die begin geëindig.
Die stuk open met die kafeetoneel. Matilda speel viool en Saartjie klavier. Galpil, Piet en Gert sit by ’n tafel en drink koffie. Lina het die koffie nou net voor hulle neergesit, want sy is die kelnerin. Anna staan reg om te begin dans.
By ’n ander tafel sit Apie en Muggie. Muggie praat hard oor die mooi kafee en die mooi musiek.
Skielik storm Bennie in met ’n rewolwer in sy hand. Die musiek raak stil. Almal gaap hom met oop monde aan.
Bennie bulder: “Bly doodstil sit. Moenie roer nie!”
Hulle verroer nie ’n spier nie. Die gehoor hou die realistiese toneeltjie ook gespanne dop.
Met ’n wrede uitdrukking op sy gesig kyk Bennie rond.
“Ha!” sê hy toe hy Apie en Muggie sien. Apie het opgespring toe Bennie ingekom het en hy staan nou asof hy versteen is.
“Jy is die een wat my dogtertjie gesteel het!” roep Bennie kwaai uit. “Jou naam is Dood!”
Bennie stap ’n tree nader. Hy rig die rewolwer op Apie en trek die sneller. “Boef!” sê hy toe hy die skoot afvuur en skiet dan nóg ’n skoot: “Boef!”
En toe begin die moleste. Apie moet neerslaan, want hy’s mos nou dood . . . of ernstig gewond. Maar Apie slaan nie neer nie. Hy staan en kyk na Bennie en maak net ’n sisgeluid deur die opening tussen sy tande.
“Val!” fluister Bennie. “Jy’s dood!” Almal in die sitkamer kan hom duidelik hoor.
“Ek is nie!” sis Apie.
“Jy is!”
“Ek is nie!”
Met groot oë kyk die ander kinders na die twee.
“Wat makeer jou, Apie?” fluister Saartjie. “Val neer. Jy’s dood.”
“Ek is nie!” sê Apie en gee vir Saartjie ’n vuil kyk.
“Jy is!” sê Saartjie skril. (Almal het teen hierdie tyd al vergeet om te fluister.) “Hy het jou mos doodgeskiet!”
“Hy het nie!”
Toe bulder Galpil van die tafeltjie af waar hy sit: “Hy het! Jy’s dood, Apie!” en hy vervolg: “Ek foeter vir jou as jy nie nou platval nie!”
“Ek sal nie!” sê Apie koppig en kyk met gebalde vuisies na Galpil.
Almal gluur hom woes aan en almal praat nou tegelyk. Maar Apie weier om plat te val. Die kinders argumenteer met hom, dreig en soebat . . . maar hy bly staan. Hy staan vas en verseg om te val. Die kinders vergeet skoon van die laggende gehoor en die toneelstuk.
“Wag!” skree Saartjie en haar oë vlam. “Laat ek weer met hom praat. Wat makeer jou, Apie? Is jy simpel?”
Apie skud verwoed kop. Hy is nie simpel nie.
“Hoekom wil jy nie neerval as Bennie jou geskiet het nie?”
“Hy het my nie geskiet nie!” En toe gee Apie die rede vir sy koppigheid: “Hy’t gesê ‘boef’ en hy moes ‘boem’ gesê het!”
Verslae kyk die kinders na mekaar. Die gehoor huil soos hulle lag.
“Sê tog net ‘boem’,” pleit Saartjie by Bennie, “sodat ons met die toneelstuk kan aangaan.”
“Help nie hy sê nou ‘boem’ nie,” brom Apie. “Dis nou te laat. Ek gaan nie nou platval nie!”
Galpil kom dreigend nader.
“Wag,” keer Saartjie en kyk na haar koppige boetie. “As ons almal stem dat jy moet neerval, sal jy dit dan doen?”
Apie kyk van die een na die ander en dan sê hy: “Nou toe! Maar álmal moet sê ek is dood.”
“Dié wat sê dat Apie moet neerslaan en dood wees – steek op julle hande,” sê Saartjie.
Anna, Lina, Matilda, Bennie, Galpil, Gert, Piet en ook Saartjie se hande skiet omhoog. Net een, behalwe natuurlik Apie, se hand is nie in die lug nie. En dit is Muggie s’n.
“Steek op jou hand, Muggie!” sê Anna kwaai.
“Ek sal nie!” snou haar sussie haar toe. “Ek sê ok dat Apie nie moet platval nie! Apie is reg. Ek het ook gehoor Bennie sê ‘boef’ en nie ‘boem’ nie!”
Almal kyk woedend na Muggie en Apie. Almal praat tegelyk. Die gehoor lag en juig. Daar is chaos.
Saartjie besluit dit sal beter wees om maar van die toneelstuk te vergeet. Sy stap tot voor op die verhoog en lig haar hand.
“Daar was so ’n klein misverstandjie,” sê sy en kyk kwaai na Apie wat eenkant staan en sis deur die gaping in sy tande. “Die toneelstuk is gekanselleer. Ons gaan nou almal ’n bietjie musiek maak en saam sing.”
Saartjie speel klavier, Matilda viool, Galpil en sy maats mondfluitjie en die gehoor sing hartlik saam.
En so eindig ’n heerlike aand. Baie mense het die program só geniet, veral die toneelstuk wat nie plaasgevind het nie, dat hulle vir mevrou Baumann nog ekstra geld vir die Strandfonds gee.
Die Sonskynklub het ’n stewige bedrag met hierdie konsert ingesamel en Saartjie se ma het dit gepos vir die koerant wat die Strandfonds bestuur.
Saartjie praat vir dae nie met Apie nie. Hy het, soos sy dit stel, “haar tot in die grond verneder” deur nie te wou neerval toe Bennie hom “op regverdige wyse” geskiet het nie. Hy het haar wonderlike toneelstuk totaal en al verongeluk.
Apie steur hom nie veel aan Saartjie nie. Al wat hy oor die konsert te sê gehad het – nadat hy gehoor het hoeveel geld hulle gemaak het – is dat elke deelnemer darem ’n ietsie moes gekry het om mee lekkers te koop. Maar toe hy sien hoe kwaai sy ma hom aankyk, het hy maar liewer daarna sy mond gehou.