Читать книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé - Страница 6

1
Die kinders van Lynnekom

Оглавление

Daar heers ’n ongewone atmosfeer in Laerskool Lynnekom se graadsewe-klaskamer. Dit is só stil dat ’n mens ’n speld sal kan hoor val en dit is iets ongewoons in ’n klas waar die Drie Muskiete hulle bevind.

Voor die klas by die lessenaar sit juffrou Minnaar en werk. Sy kry baie meer as gewoonlik uitgerig.

Die onderwyseres kyk op en maak glimlaggend ’n grappie: “Dis vanoggend so stil hier in die klas dat ek skoon ongemaklik voel!”

Die seuns en meisies kyk na haar. ’n Paar glimlag flou – ander kyk net. Dis maar ’n simpel grappie.

“Ek wens julle is altyd so soet,” sê juffrou Minnaar en gaan voort met haar werk.

Dit is twee weke voor die einde van die laaste kwartaal. Die eksamen is al agter die rug. Die kinders geniet die skoollewe nou terdeë. Dit is net ’n gebaljaar en gekskeerdery – feitlik die hele oggend.

Maar vanmôre het juffrou Minnaar dit reggekry om die klas doodstil te laat bly.

Sy het aangekondig dat die hoof haar verlof gegee het om vandag al vir die graadsewe-leerders te sê wat hul punte is, veral aangesien hulle volgende jaar hoërskool toe te gaan.

“Verder,” het sy slim bygevoeg, “sal ek vir julle sê watter klasposisies julle behaal het.”

Meer as een leerder se hart het opgewonde geklop. Almal het afwagtend na juffrou Minnaar – of Ou Bolla soos hulle haar as gevolg van haar haarstyl noem – gesit en kyk.

Tjoepstil het die klas gewag dat sy moes begin – maar toe speel sy haar troefkaart.

“Vandat die eksamens verby is, is julle onhebbelik. Ek het vandag baie werk en ek wil hê julle moet stil wees. Ek gaan eers in vandag se laaste periode vir julle sê hoe julle gedoen het! En slegs as julle die hele dag stil besig bly en nie so rumoer nie! Anders hoor julle nie vandag die eksamenuitslae nie!”

Die leerders het haar verslae aangekyk. Een ding is duidelik – hulle sal soet en stil moet wees en nie allerhande kattekwaad kan aanvang nie.

En omdat juffrou Minnaar weet sekere leerders – veral ’n klomp seuns agter in die hoek van die klaskamer – sal nogal nie omgee as hulle nie vandag (of enige ander dag) die uitslae hoor nie, het sy bygevoeg: “As daar net een is wat lawaai, gaan die hele klas daaronder ly, want dan maak ek nie vandag die uitslae bekend nie.”

Juffrou Minnaar ken kinders. Sy besef niemand sal dit nou waag om te praat nie, want die een wat dit doen, sal die hele klas kwaad maak.

Dit is waarom Laerskool Lynnekom se graadsewe-leerders vandag so besadig en gedwee in die klas sit.

Heel voor in die ry teen die muur sit ’n meisie en teken. Sy is nou al twee keer deur die stuk wat hulle moet lees. Daarna het sy onderlangs gebrom dat sy die ding nou al amper uit haar kop ken en toe op ’n vel papier begin teken.

Al haar aandag is nou op haar tekening toegespits. Met die agterkant van haar hand vee sy ’n paar weerbarstige krulle van haar voorkop af weg. ’n Glimlag speel om haar mondhoeke.

Wanneer sy klaar is, kyk die meisie lank na haar tekening. Dan skryf sy haar naam swierig onder in die hoek: Saartjie Baumann. Sy maak ’n paar sierlike krulle en boë om haar naam. Dan stamp sy met haar elmboog aan die kort, stewige meisie met die vrolike, ronde gesig langs haar en fluister: “Kyk, Anna.”

Anna kyk. Sy leun effens na Saartjie toe oor om beter te kan sien. Sy glimlag en mompel: “Oppas, Saartjie.”

“Net ons drie sal dit sien,” sê Saartjie. Sy vat die tekening en sit dit vinnig op die bank agter hulle neer.

Agter Saartjie Baumann en Anna Strydom sit Lina Rens, ’n meisie met twee lang, blonde vlegsels. Sy sit haar elmboë oor die tekening en kyk met ’n onskuldige gesig na die onderwyseres. Toe sy seker is Ou Bolla is heeltemal verdiep in haar werk, kyk Lina na die tekening.

Sy sukkel om haar lag te bedwing. Saartjie het ’n karikatuur van Ou Bolla geteken en dit is skitterend! Die bolla is hoog bo-op die kop en die ogies loer, nes juffrou Minnaar altyd doen, oor ’n knypbrilletjie. Die karikatuur wys met ’n benerige wysvinger na ’n stapel papiere op ’n tafel.

Saartjie het netjies in drukletters naby die onderwyseres se mond geskryf: Wê! Ek weet tog iets wat julle nie weet nie – wê! Ek weet wat julle klasposisies is en ek gaan julle nie sê nie – wê!

Die hele tekening skep die indruk dat juffrou Minnaar eintlik lekkerkry omdat sy hulle op hete kole kan hou deur eers in die laaste periode vir hulle die klasposisies te sê.

Saartjie en Anna kyk vlugtig oor hul skouers na Lina. Sy knipoog vir hulle en hulle knipoog terug.

Hierdie drie maats is Lynnekom se Drie Muskiete.

Saartjie Baumann is altyd die voorbok wanneer dit by hierdie meisies se kaskenades kom. Op die oomblik is haar gesig een groot glimlag. Haar wipneusie, versier met ’n paar sproete, wikkel soos sy sukkel om nie hardop te begin lag nie. Sy wonder wat die onderwyseres sal sê as sy weet waarmee Saartjie haar die afgelope halfuur gesit en besig hou het.

Sy en haar maats gaan volgende jaar na die hoërskool in die stad, maar dis die laaste ding waaraan Saartjie nou dink. Daar is nog te baie pret wat in hierdie laaste twee weke van laerskool vir hulle wag.

Saartjie se groot blou oë straal van lewenslus en vreugde. Dit is nogal ’n ongewone kombinasie – donker krulhare en helderblou oë. Sy is dokter Jan Baumann se enigste dogter. Sy is haar ma se vreugde en beproewing, haar pa se oogappel. Saartjie is die kinders van Lynnekom se leier. Hulle sal haar blindelings volg.

Langs Saartjie sit Anna Strydom. Anna woon net langs Saartjie en hulle is al maats vandat hulle in hul kinderwaentjies gelê en agterdogtig na mekaar geloer het.

Agter hulle sit Lina Rens. Sy het in graad vier na dié skool toe gekom en Saartjie en Anna het dadelik van haar gehou.

Saartjie Baumann, Anna Strydom en Lina Rens – die drie was en is gedurig bymekaar. In graad vyf het ’n onderwyseres hulle eendag The Three Musketeers genoem. Die kinders het nie eintlik verstaan wat dit beteken nie, maar hulle het darem geweet three beteken drie en die musketeers het vir hulle baie soos muskiete of so iets geklink. Van toe af het hulle as Lynnekom se Drie Muskiete bekend gestaan. Hulle is baie tevrede met hierdie benaming. Hulle beskou dit as ’n eretitel.

Lina fluister: “Ou Bolla trek jou vel van jou lyf af as sy die tekening sien.”

Saartjie draai om sodat sy die vel papier kan vat en onder haar bank wegbêre. Sy wil tog nie haar vel van haar lyf afgetrek hê nie.

Maar net toe sy omdraai en die tekening vat, kyk juffrou Minnaar op.

“Saartjie!” sê sy hard.

Saartjie se hart bons in haar keel. Sy is lam geskrik.

“Staan op, Saartjie!”

“Ja, Juffrou.” Saartjie kom sukkelend regop.

Sy het die vel papier met die karikatuur op in haar hand, maar hou dit onder die bank. Sy wens sy kan die papier los, maar dan sal Ou Bolla dit op die grond sien neerfladder.

Die onderwyseres loer oor haar knypbril, beduie dan met haar benerige wysvinger na Saartjie en bulder: “Wat het jy in jou hand?”

“Sommer . . . sommer ’n stuk papier, Juffrou,” stamel Saartjie. Sy is bleek. Onwillekeurig vee sy met die agterkant van haar ander hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg.

En toe kom die bevel wat Saartjie gevrees het: “Bring dit hier!”

“Ja, Juffrou,” sug Saartjie. Maar skielik voel sy hoe ruk iemand die papier met die tekening op onder die bank uit haar hand en stop ’n ander papier daarin.

Onskuldig kyk Anna na Saartjie toe sy uitskuif sodat haar maat kan deurkom. Met haar een oog knip Anna net effens. Saartjie glimlag vinnig. Sy voel nou sommer baie beter.

“Watse papier is dit, Saartjie?” vra juffrou Minnaar kwaai.

“Dis sommer ’n ou stuk ding, Juffrou,” sê Saartjie en oorhandig die papier gedwee.

Die onderwyseres loer oor haar bril – eers na die een kant van die papier en dan na die ander kant.

“Maar hier is dan niks op nie,” sê sy.

“Ek weet, Juffrou,” sê Saartjie vroom. “Ek het mos gesê dis maar net ’n ou stuk papier.”

In die bank sit Anna met ’n onskuldige gesig. Onder die bank beweeg net haar vingers soos sy die tekening van die juffrou aan repies skeur.

“Hmm,” sê die onderwyseres en kyk agterdogtig na Saartjie wat ewe onskuldig voor haar staan. Net Saartjie se lewendige blou oë vonkel ondeund.

“Het jy die stuk al klaar gelees?”

“Ja, Juffrou, twee maal al. Ek ken dit,” sê Saartjie selfversekerd.

“Mmm,” mompel juffrou Minnaar. Sy besef dit is heel moontlik waar. Saartjie is een van die slimste leerders wat sy nog ooit teëgekom het, maar ai, tog só woelig!

“Sit dan . . . en lees die volgende les.”

“Goed, Juffrou.”

Saartjie gaan sit. Toe sy die boek voor haar optel, fluister sy uit die kant van haar mond: “Dankie Anna, dit was so ampertjies of ek was sonder ’n vel.”

Met speeltyd baljaar die kinders op die skoolterrein. Die drie maats, Saartjie, Anna en Lina, sit eenkant op ’n bankie in die skaduwee van ’n boom en toebroodjies eet.

“Ja-nee,” sug Saartjie, “die ou lewe is maar moeilik.”

“Hoekom?” vra die lang, skraal Lina belangstellend.

“Wel, soos julle weet, staan ek my hele skoolloopbaan lank nog altyd eerste en my pa het gesê hy gee vir my ’n horlosie as ek vanjaar weer eerste staan. Maar soos julle weet, is my kanse dié keer nie so goed om weer eerste in die klas te wees nie.”

Saartjie sug. “Dis hoekom ek sê die ou lewe is maar moeilik. En dan is daar nog Apie ook. Hy maak die lewe net nóg moeiliker . . .”

“Wat het hy nou weer aangevang?” vra Anna.

“Jy vra nog!” sê Saartjie verontwaardig. “Hy eis die helfte van die sakgeld wat ek Saterdag gaan kry. Hy het uitgevind dis ons drie wat oom Petrus en tannie Ralie so laat skrik het met daai kousslang toe hulle eergisteraand van die kerksaal af gekom het. Oom Petrus het gister die wêreld vol geloop en soek na die kwajongens, maar ons was veilig, want hy het na seuns gesoek.”

“En nou is ons nie meer veilig nie,” sê Lina bekommerd.

“Nee, want Apie het in my kamer gekom en die kous met die sand in onder my bed gekry. Nou dreig hy om nie net vir oom Petrus te gaan vertel nie, maar ook vir my pa en ma, én julle s’n.”

Die ander twee meisies sug nou diep. Saartjie is reg: die lewe is regtig moeilik. Dieselfde gedagte flits deur albei se koppe. Hulle het al drie saam slangetjie gespeel, so hulle sal nou moet saamstaan om Apie se stilswye te koop.

“Hoeveel wil hy hê?” vra Anna.

“Die helfte van my sakgeld.”

“Dis baie,” sê Lina. “Ons sal seker maar moet help betaal.”

“Ons is almal saam in die ding,” sê Anna.

“Dankie, julle,” sê Saartjie dankbaar. “Maar eendag sal ons nog met daai luis afreken.”

Die drie sit nou en dink aan die dag wanneer hulle met Saartjie se agtjarige boetie gaan afreken. Hierdie wraakgedagtes is soet gedagtes.

“Jy is darem gelukkig, Lina,” sê Saartjie, “dat jy nie ’n jonger boetie of sussie het wat die lewe vir jou moeilik maak nie. Jy weet hoe ’n klein klits Apie is en kyk nou maar net na Anna se Muggie.”

Anna se sesjarige sussie, Johanna Catherina Strydom, is algemeen bekend as Muggie. Sy maak die lewe ook gereeld moeilik vir die drie. Hulle kan nooit van Muggie ontslae raak nie. Oral waar hulle gaan, moet sy altyd saamkarwei word.

“Ja-nee, ek is bly,” sê Lina, “daar is nie ’n Muggie of ’n Apie in my huis nie, maar ek sien nog nie hoekom julle so kla dat die lewe so moeilik is nie. Ons moet nou wel elkeen vir Apie geld gee, maar dis darem nie só erg nie. En wat jou ander bekommernis betref, Saartjie – dis nog glad nie seker dat Matilda Nielsen jou vanjaar gaan klop en eerste gaan staan nie . . .”

“Maar kyk hoe hard het Matilda gewerk!” sê Saartjie mismoedig. “Sy het dag en nag agter haar boeke gesit.”

“Ja, maar sy het nie soveel verstand soos jy nie . . .”

Saartjie glimlag tevrede. Dis vir haar mooi en waar woorde wat Lina nou sê. Maar sy sê met ’n skouerophaling: “Ag, moenie laf wees nie.” In werklikheid stem sy natuurlik volkome saam met Lina. Sy wat Saartjie is, is slimmer as daardie boekwurm van ’n Matilda Nielsen.

“Ons moenie net aan ons eie lewens dink as ons kla oor die lewe wat so moeilik is nie,” sê Saartjie ’n paar oomblikke later en sy vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg.

“Waaraan moet ons dan nóg dink?” vra Anna.

“Ons moet dink aan die res van die mensdom – aan al die ellende en rampe in die res van die wêreld.

“Dink maar net aan die arme Indiërkindertjies,” sê Saartjie sugtend en loer vlugtig om te sien of haar twee vriendinne dit doen.

Anna is die een wat die verwagte vraag vra: “Wat se Indiërkindertjies?”

“Die outjies wat daar in Indië langs die Ganges woon. Julle weet mos van die Ganges-rivier?”

Albei knik. Hulle was nog nooit daar nie, maar hulle het al van die Ganges gehoor. Hulle ken mos hulle aardrykskunde.

“Wel,” sê Saartjie, “ek het in ’n tydskrif gelees duisende der duisende kinders daar vergaan van honger, want die rivier het afgekom, julle weet, en al hul kos is weggespoel en nou word daar oor die hele wêreld gekollekteer om die arme bloedjies te help . . . Ek het gedink miskien moet ons ook probeer om so ’n handjie by te sit.”

Moedeloos staar Saartjie voor haar uit. Sy dink aan hoe moeilik die ou lewe is. Sy en haar maats moet elkeen vir Apie van hul geld gee. Matilda Nielsen gaan haar waarskynlik uitstof en eerste in die klas staan – en die Ganges-rivier het sy oewers oorstroom en die mense se kos weggespoel.

Die drie maats se toebroodjies is klaar geëet.

“Kom ons gaan speel,” stel Anna voor.

“Top,” sê Saartjie.

“Top!” sê Lina.

Hulle hardloop na ’n hoek van die speelterrein waar ’n paar skoolmaats met ’n tennisbal speel. Saartjie, ’n uitstekende atleet, se bruingebrande bene vlieg oor die aarde. Haar krulhare waai in die wind. Sy kom ’n goeie paar treë voor haar maats daar aan.

Die moeilike ou lewe is vergete. Laggend en opgeruimd klink die sorgelose, helder meisiestemme aan die een kant van die skoolgrond.

Ná pouse sit die kinders weer stil in die klas en werk. Saartjie kyk ingedagte na ’n leerder wat ’n entjie verder in die ry langs hare sit. Die meisie is lank en skraal gebou. Sy dra ’n groot bril. Haar naam is Matilda Nielsen.

Die Drie Muskiete hou nie van Matilda nie. Sy is, soos Saartjie sê, “sommer ’n klikbek en ’n witvoetjiesoeker”. Sy sal enigiets doen om in die onderwysers se goeie boekies te kom. Die personeel hou nogal van Matilda, maar nie die kinders nie.

Saartjie is bekommerd oor die eksamenuitslae. Sy weet natuurlik voor haar siel sy sal nie te vrot doen nie. Maar wat haar onrustig maak, is die moontlikheid dat sy nie vanjaar soos al die vorige jare eerste sal staan nie.

Sy wens sy het ook so hard soos Matilda gewerk en haar feitlik dag en nag in haar skoolboeke verdiep. Dan sou sy nie nou so bekommerd gewees het nie. Maar sy het glad nie hard gewerk nie. Sy het te veel middae by die swembad deurgebring.

Saartjie sug en met ’n tipiese gebaar gebruik sy die agterkant van haar hand om ’n krul van haar voorkop af weg te stoot. Sy hoop maar vir die beste.

Uiteintlik breek die laaste periode aan.

Juffrou Minnaar tel die lys met die uitslae op en maak effens keel skoon. Sy loer oor haar knypbrilletjie na die leerders wat tjoepstil is.

“En nou,” kom haar krakerige stem, “het die dag van afrekening uiteindelik aangebreek. Baie van julle het mos gedink julle sit hier op die skoolbanke vir julle gesondheid.”

Ongemaklik kyk die kinders na mekaar. Net agter Lina Rens sit ’n groot, frisgeboude seun met ’n sproetgesig. In ’n growwe stem brom hy: “Ek’s in my kanon. Ek is heel laaste in die klas.”

Hy mompel egter só hard dat die hele klas hom duidelik hoor. Selfs die onderwyseres glimlag effens.

“Nee, Lodewyk,” sê sy vir die seun, “jy het my nogal aangenaam verras. Jy het baie beter gevaar as wat ek verwag het.”

Die seun met die ongekamde boskasie gee ’n harde sug van verligting en sê laggend vir sy maats langs en agter hom: “Pêre, ek is nie onnosel nie! Volgende jaar is ek ’n hoërskooltjommie.”

Almal lag en wens hom geluk.

“Ja-nee,” sê Lodewyk le Fras de Waal vir wie die kinders Galpil noem, “ek sê altyd ’n perd moet weet wanneer die werk druk en dan moet hy wegval en werk.”

“Stil nou,” maan die onderwyseres en die klas kom tot bedaring. Galpil is die enigste een wat nou lekker agteroor sit met ’n breë glimlag op sy sproetgesig.

“Laat ek julle almal van julle lyding verlos,” sê die onderwyseres nou. “Ek het maar ’n grappie gemaak toe ek netnou gepraat het van die dag van afrekening wat aangebreek het. Julle het oor die algemeen mooi gewerk. Daar is egter ’n paar van wie ek meer verwag het, want ek weet hulle kon beter gevaar het as hulle harder gewerk het.”

Dit voel vir Saartjie asof die onderwyseres reguit na haar toe kyk.

“Ek glo nie dis nodig om meer as die eerste tien klasposisies vir julle te gee nie,” gaan die juffrou aan, “want dié wat laer as tiende gekom het, stel seker nie veel in hul klasposisies belang nie.”

Galpil brom dat hy en sy maats glad nie oor sulke goeters bekommerd is nie, solank hulle net nie heel laaste staan nie.

’n Klomp meisies maak hom stil. Hulle stel wél belang.

Juffrou Minnaar loer oor haar bril na die papier in haar hand.

“Hier kom dit,” sug Saartjie sag.

“Ek hou vir jou duim vas,” sê Anna langs haar.

“Nie ek nie,” fluister Lina, “want ek weet mos dis onnodig. ’n Armsalige skepsel soos Matilda sal jou nooit kan uitstof nie.”

Anna hou duim vas. Saartjie ook. Sy wil so graag daardie horlosie hê wat haar pa haar belowe het as sy weer eerste staan.

“Die leerder wat bo uitgekom het,” sê juffrou Minnaar, “het ’n gemiddeld van 83 persent behaal. Dit is goed, maar ek het nogtans beter van haar verwag. Die een wat tweede gekom het, is kort op haar hakke met 81 persent. Hierdie twee is ’n hele paar persentasiepunte voor die ander.”

Die spanning in die klas kan duidelik aangevoel word.

“Hoekom sê sy nou nie net wie eerste is nie?” fluister Lina. Saartjie haal amper nie asem nie. Onder die bank is haar duime styf in haar vuiste vasgeklem.

“Die leerder wat eerste staan,” kondig juffrou Minnaar aan en kyk glimlaggend na die klas wat so gretig luister, “is Saartjie Baumann.”

“Dankie toggies,” prewel Saartjie.

Sy word van alle kante af gelukgewens. Anna en Lina slaan haar op die rug dat sy so hik. Die ander die kinders skree: “Mooi so, Saartjie! Geluk!”

Saartjie is hoog in haar skik, maar sy probeer dit nie wys nie. Soos ’n koningin wat haar onderdane groet, knik sy met haar kop uit erkenning vir al die gelukwensinge.

“Ou Saartjie . . . jy’s darem ’n doring,” bulder Lodewyk le Fras de Waal alias Galpil net agter Saartjie.

Saartjie kyk na die lelike, laggende sproetgesig en sê kil: “Dankie, Galpil.”

Dit is duidelik dat Saartjie baie gewild onder haar skoolmaats is. Sy is ’n goeie atleet en ook kaptein van die netbalspan. Almal hou verder van haar omdat sy mense (veral personeellede) so skitterend kan naboots en sy hulle hul al baie kere, soos Galpil sê, “feitlik dood laat lag het.”

Toe Saartjie se rug al seer is van al die houe wat sy gekry het, kom die klas weer tot bedaring.

“Ons moenie vergeet om die dogter wat tweede gekom het ook geluk te wens nie. Dit was so ampertjies of sy het vir Saartjie geklop. Hartlik geluk aan Matilda Nielsen,” sê juffrou Minnaar.

Beleef klap die klas hande. Dit is glad nie dieselfde uitbundige toejuiging en gelukwensing waarmee Saartjie se prestasie begroet is nie. Matilda byt effens op haar onderlip en staar deur haar groot bril voor haar uit.

Saartjie sien hoe bleek Matilda is en kry haar skielik jammer. Sy buig oor na haar toe en sê: “Mooi so, Matilda. As ek nie so gelukkig was om ’n paar vrae in die aardrykskunde-vraestel te kry wat ek net die oggend geleer het nie, sou jy my ver geklop het. Dis maar net geluk dat ek eerste staan – jy verdien dit eintlik.”

Sy glimlag vriendelik vir Matilda. Die meisie sê net bot: “Dankie” en draai haar kop weg. Sy wil nie met Saartjie praat nie.

Snaakse entjie mens, dink Saartjie by haarself, afgehaal omdat Matilda haar so stief behandel.

“Ag, vergeet van haar,” sê Anna.

Die onderwyseres lees die volgende klasposisies. Anna Strydom is sewende en Lina Rens negende. Die twee lewenslustige meisies is baie tevrede met hulself.

“Toe verstand uitgedeel is, was ons twee nie reg voor in die ry soos jy nie, Saartjie, maar darem ook nie heel agter nie,” sê Lina.

Dié middag loop Saartjie vinnig huis toe om die groot nuus vir haar ouers te gaan gee. Sy drafstap eintlik.

Die sypaadjie voor die Baumanns se groot dubbelverdiepinghuis is met betonblokke geplavei. Wanneer Saartjie daar kom, spring sy altyd van die een blok na die ander. Dit is by haar ’n saak van eer om nie op die gleuwe te trap nie.

Sy spring nou vinnig van die een blok na die ander. Wanneer sy amper by die hekkie is, vries sy in haar spore. Met ’n teleurgestelde uitdrukking op haar gesig kyk sy na haar een voet. Die skoen se punt raak aan een van die groewe tussen twee blokke.

“As ek nie my maniere geken het en so goed opgevoed was nie, het ek nou sweerlik ’n woord gesê wat ek nie moet sê nie,” mompel sy en hardloop terug met die sypaadjie tot waar die betonblokke begin.

Sy staan reg en dan begin sy weer spring. Sy sal dit nou stadiger en versigtiger doen. Sy wil tog nie weer van voor af begin nie!

Dié keer vaar sy beter en bereik die hekkie sonder om aan een van die gleuwe tussen die blokke te raak.

Soos ’n warrelwind vlieg Saartjie by die hekkie in en hardloop met die tuinpaadjie op. Sy pluk die voordeur oop en nael na die sitkamer. Haar tas en skoolbaadjie word op ’n bankie in die voorportaal neergegooi.

Saartjie bars by die sitkamer in en skree: “Hoera! Ek het dit weer reggekry!”

Dokter Baumann sit in sy leunstoel met die koerant. Sy vrou is besig om Lizzie wat al jare lank die Baumanns se huishulp is, te help tafel dek. Saartjie se broer in matriek, Kris, sit-lê op die rusbank met ’n geskiedenisboek in sy hand. Hy leer vir die eindeksamen wat volgende week begin.

Haar jonger boetie, die agtjarige Apie, wou net mooi na die kat se stert gryp toe Saartjie met so ’n lawaai daar instorm. Vies kyk hy na haar. Haar lawaai het die kat só laat skrik dat hy soos ’n weerligstraal daar uit is.

Saartjie se familie kyk haar verbaas aan.

“Hoor julle nie wat ek sê nie?” vra sy laggend.

Dokter Baumann kyk na sy enigste dogter – die blakend gesonde Saartjie met die natuurlike rooi blos op die wange, volmaakte wit tande en helderblou oë. Hy sug gelate. Sy gaan eendag nog baie harte breek.

Haar pa se stem is sag: “Hoe sê jy, Saartjie?”

“Wat is die groot nuus, my kind?” vra haar ma en haar oë rus teer op die lewenslustige meisiekind wat soms tog so ondeund kan wees.

“Sy’s sommer simpel,” brom Apie en maak ’n sisgeluid deur die opening tussen sy tande. Hy het sy twee voortande verloor toe hy uit ’n boom geval het.

“Ek het gedink ek kan hier rustig sit en leer,” sê Kris, “maar noudat Saartjie terug is, kan ek maar vergeet.”

“Wil julle nie weet wat gebeur het nie?” vra Saartjie oorstelp.

Almal verseker haar hulle wil baie graag weet. Maar Apie mompel dat hy glad nie gretig is om te weet wat gebeur het nie. Om sy standpunt te beklemtoon, maak hy nog so ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.

“Nou laat ek julle dan sê,” sê Saartjie.

Sy maak ’n elegante buiginkie en met ’n teatrale gebaar sê sy: “Voor julle sien julle die slimste leerder in die ganse Laerskool Lynnekom. Die einste en enigste Saartjie Baumann is weer eens – ten spyte van strawwe kompetisie – eerste in die klas!”

Sy hardloop na haar ma wat haar soen en sê: “Veels geluk, my kind. Ek het geweet jy sal dit weer regkry.”

Dokter Baumann glimlag van oor tot oor en wens sy dogter hartlik geluk.

“Nou toe, Pappa,” sê Saartjie en knipoog vir hom, “wat skuld Pappa my nou?”

“’n Horlosie, Saartjie. Ek gaan môre in stad toe, dan sal ek vir jou een koop. Jy het dit verdien.”

Saartjie besluit dit sal miskien wys wees om nie te sê Juffrou het gesê sy kon nog beter gedoen het as sy harder gewerk het nie.

Kris en Apie wens Saartjie ook geluk met haar prestasie. Maar Apie doen dit eers nadat sy ma hom vorentoe gestamp het.

“Ek sien nie wat is so wonderlik daaraan om eerste te staan nie,” sê hy toe hy sy suster vlugtig op die wang soen. Hy vee sy mond dadelik met die agterkant van sy hand af. Hy is nie ’n ou vir soenery, gevoelens en sulke goeters nie.

“Gaan jou rapport sê jy staan ook eerste, Apie?” vra sy pa laggend.

“Nie eerste nie, Pa,” keer die koddige buksie, “maar darem ook nie laaste nie.”

Kris waarsku dat Saartjie dit nie volgende jaar in die hoërskool so maklik gaan regkry om eerste in die klas te kom nie; die mededinging daar is kwaai.

Ná ete gesels Saartjie ’n rukkie met haar ma en gaan dan na haar kamer op die boonste verdieping. Sy sit op die bed en kyk by die venster uit.

Sy voel gelukkig en tevrede. Die lewe is nie meer so moeilik nie. Sy staan sowaar weer eerste in haar klas en sy gaan ’n pragtige horlosie kry.

Haar ma het boonop gesê sy sal Saterdag vir haar ekstra sakgeld gee. Nou maak dit nie saak dat sy ’n deel moet afknyp om Apie se mond toe te hou nie. Sy sal nog meer oor hê as wat sy gewoonlik kry.

Saartjie het ook met haar ma gepraat oor die artikel wat sy gelees het van die duisende Indiërkindertjies wat langs die Ganges-rivier in Indië woon en nou nie kos het om te eet nie.

“Mamma, ek is so ’n gelukkige mens dat ek voel ek wil ander ook help. Ek wil ’n konsert of iets reël en dan moet die gehoor toegang betaal en dan stuur ek al die geld vir die komitee wat vir die outjies in Indië moet kos koop.”

Haar ma het glimlaggend geluister. Sy het gemeen dit is ’n uitstekende idee, maar voorgestel dat die geld gebruik word om kindertjies hier in Suid-Afrika te help.

“Dit is tog nader aan ons en hulle is ons eie mense,” het sy verduidelik en Saartjie het volkome saamgestem.

Mevrou Baumann het belowe om te help. Sy behoort aan baie sosiale klubs en verenigings en sal sorg dat daar baie mense vir die konsert opdaag. Hulle het besluit om die geld te stuur vir ’n koerant wat ’n Strandfonds bestuur. Hierdie geld word gebruik om kinders wat dit nie kan bekostig nie vir ’n vakansie see toe te stuur.

Saartjie kry vir haar ’n skryfblok en potlood. Sy moet begin om die konsert te reël. Dit gaan nogal baie werk kos, maar sy sien uit daarna. Met haar aan die hoof, gaan die kinders sommer baie pret hê.

Laerskool Lynnekom se slimste kind sit nou by die tafeltjie voor haar venster. Ingedagte byt sy aan die agterkant van die potlood. Sy besluit om eers al die name neer te skryf van Lynnekom se kinders wat aan die konsert gaan deelneem. Daar gaan verskillende items wees – en ook ’n toneelstuk. Saartjie besluit sy gaan die toneelstuk self skryf!

Die meisie sit nog ’n rukkie en dink en dan skryf sy: Kinders van Lynnekom. Hieronder word ’n netjiese streep getrek.

Nou skryf sy die name neer van die kinders wat aan die konsert gaan deelneem. Die eerste naam wat sy neerskryf, is Saartjie Baumann. Dan volg haar twee boesemvriendinne se name: Anna Strydom en Lina Rens. Hulle drie, dink sy, sal natuurlik die meeste werk doen en die hoofrolle speel. Sy maak ’n hakie langs die drie name en skryf langsaan: Die Drie Muskiete.

Haar boetie, Apie, sal ook iets moet doen, anders sal hy hulle nooit met rus laat wanneer hulle oefen nie. En as Apie deelneem, sal hy daarop aandring dat sy maatjie, Bennie, ook moet.

Sy dink daaraan dat Bennie in die bed is, maar hy sal seker beter wees teen die tyd dat hulle vir die konsert begin oefen.

Saartjie gaan nie haar sewentienjarige broer, Kris, vra om deel te neem nie. Hy leer vir die eindeksamen en buitendien glo hy mos hy is ’n grootmeneer. Hy dink miskien sy weet dit nie, maar sy wat Saartjie is, sien hy dra elke dag Isabel Theron se tas van die bushalte af wanneer hulle twee van die hoërskool af kom. Hy lyk deesdae al meer en meer soos ’n verliefde hoender, dink Saartjie glimlaggend.

Nee, sy het nie plek vir sulke soort mense in haar konsert nie. Kris se naam kom beslis nie op haar lys nie.

Saartjie kyk op en by die venster uit. In die tuin langsaan sien sy ’n dogtertjie hardloop. Dit is Anna se sesjarige sussie, Muggie. Met ’n sug skryf Saartjie Muggie se naam neer. Hulle drie – Saartjie, Anna en Lina – kan niks op Lynnekom aanvang sonder dat die nuuskierige agie van ’n Muggie wil by wees nie.

Saartjie dink aan haar klasmaats by die skool. Sy voel jammer vir Matilda Nielsen. Sy het vandag so alleen en verlate in die klas gelyk toe niemand haar hartlik geluk gewens het nie en ’n paar net beleef hande geklap het. Sy moet met Matilda probeer vriende maak. Saartjie sit haar naam ook op die lys.

Dan dink sy aan die seun wat almal as “ou perd” of “pêre” aanspreek. Sy hou nie juis van hom nie, maar sy growwe stem kan miskien nuttig wees in die toneelstuk wat sy nog moet skryf. Sy skryf Galpil neer.

Maar as Galpil deelneem, sal Saartjie sy twee maats ook moet vra. Nou goed dan. Sy skryf hul name ook neer.}

Saartjie is seker sy het nou genoeg deelnemers. Sy lees wat sy geskryf het:

Kinders van Lynnekom:

Saartjie Baumann Anna Strydom Lina Rens Die Drie Muskiete

Apie en Bennie

Muggie

Matilda Nielsen

Galpil en sy twee maats, Gert Bakker en Piet Heyns.

Saartjie voel tevrede. Dit is nogal ’n talentvolle klomp. Hulle gaan ’n konsert hou wat Lynnekom nooit sal vergeet nie!

Saartjie Omnibus 1

Подняться наверх