Читать книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé - Страница 12
4
Die Drie Muskiete soek fietse
ОглавлениеSaartjie se konsert is iets van die verlede. Die koerant vir wie mevrou Baumann die geld namens die Sonskynklub gestuur het, het hulle sommer dadelik hartlik vir die groot bydrae bedank.
Almal wat aan die konsert deelgeneem het, kry ’n beurt om die brief te lees en almal stem saam: Die harde oefen was die moeite werd. Dit was groot pret.
Hierdie laaste paar dae van die kwartaal word daar nie veel in die skool gewerk nie. Saartjie is feitlik elke middag op die tennisbaan of sy gaan swembad toe. Dinge soos huiswerk doen of leer vir die eksamen bestaan nie meer nie.
Een middag ná skool sit Saartjie in haar kamer. Sy is nie lus om te gaan tennis speel of swem nie, maar sy wil ook nie net so hier by die huis sit en niksdoen nie.
Sy kyk deur die venster en sien Anna in die tuin langsaan. Saartjie gee ’n lang, uitgerekte fluit en toe Anna opkyk, beduie Saartjie vir haar dat sy daar moet wag.
Vinnig hardloop Saartjie die trap af en by die huis uit. Toe sy by die voorste hekkie kom, gaan staan sy. Sy kyk na die betonblokke waarmee die sypaadjie geplavei is en dan begin sy spring. Rats beweeg sy van die een blok na die ander sonder dat haar voete op een van die gleuwe te lande kom. Hiermee klaar, hardloop sy na die Strydoms se huis toe.
Anna sit en wag vir haar op ’n bankie onder ’n groot boom.
“Haai, Anna,” groet Saartjie.
“Hallo, Saartjie.”
Die twee meisies begin gesels en nie lank nie, toe daag Lina ook op.
Nadat hulle gegroet het, sit die drie vriendinne stil op die bankie. Dit is warm. Die sonbesies sing dat dit so klap.
“Ek is nie lus vir tennis of swem nie,” sê Saartjie. “Wat anders kan mens vandag doen?”
Hulle dink diep en ernstig oor hierdie vraag na, maar niemand kan met iets vorendag kom nie.
Van waar hulle op die groot stoep sit, kan hulle hoor hoe Muggie met haar pop, Trienkie, speel. Die drie kan nie help om te glimlag nie.
“As jy nie nou slaap nie,” hoor hulle haar piepstemmetjie, “stuur ek jou sowaar weg koshuis toe! . . . Wat? Jy’s nie vaak nie! Wel, ek sê jy is en ek behoort te weet. Jy lê nou al ure lank jou longe en uithoes.” Haar stem word vriendeliker: “Slaap nou, my dogtertjie, en wys vir Mamma hoe soet jy kan wees.”
Glimlaggend sê Anna vir haar twee maats: “Dis feitlik presies wat my ma laas nag vir Muggie gesê het toe sy nie wou slaap nie.”
Dit lyk of Trienkie nou slaap. Dit is weer stil op die stoep en in die tuin.
“Weet julle waarvoor is ek lus?” vra Lina.
Nee, Saartjie en Anna weet nie, maar hulle sal nogal glad nie omgee om uit te vind nie. Hulle kyk haar belangstellend aan.
“Ek voel lus om weer vir ’n verandering bietjie fiets te ry. Kom ons leen vir ons elkeen een, dan gaan ry ons ’n lang ent.”
“Maar eers maak ons vir ons iets lekkers om te eet,” sê Saartjie, “en ’n fles tee. Dan ry ons ’n ent met die grootpad uit en gaan hou partytjie onder ’n boom.”
Lina is entoesiasties oor die plan. Net Anna het bedenkinge en wil graag iets vra.
“Wat is dit?” vra Saartjie ongeduldig.
“Ek wil maar net weet: waar gaan ons fietse vandaan kry?”
“Ons leen dit by die seuns. Apie en Bennie het elkeen ’n fiets en ek weet van ’n ander ou wat ook een het. Ek is seker hy sal nie omgee om dit vir my te leen nie,” sê Saartjie.
“Wie’s dié ou?” vra Anna.
“Galpil,” sê Saartjie. “Hy het een keer gesê hy sal enigiets op aarde vir my doen.”
“Hmmm,” sê Lina, “is dit hoe sake staan?”
“Moenie simpel wees nie,” snou Saartjie haar toe. “Ek sê mos maar net wat hy gesê het. Ek weet hy sal sy fiets vir my leen.”
“Reg, dan het ons een fiets,” sê Anna. “Maar dink jy Apie en Bennie sal hulle s’n vir ons leen?”
Saartjie dink hieroor na. Sy twyfel of die twee knapies die fietse sommer so verniet vir hulle sal gee. Gelukkig skuld hulle Apie darem niks nie. Hulle het hom verlede Saterdag klaar betaal om seker te maak hy bly stil oor die slang-episode.
“Miskien sal ons hulle so ’n ietsie moet betaal,” meen Saartjie nou. “Hoeveel geld het ons?”
Die drie vriendinne werk dit uit, maar dit is glad nie ’n lang en ingewikkelde proses nie, want hul geld is min.
“Ons bied vir hul elkeen iets aan om hul fietse te leen,” sê Saartjie, “maar ons hou vir ons nog geld oor vir lekkers ook.”
Haar voorstel dra die ander twee se goedkeuring weg.
“Daar is niemand by ons huis nie,” sê Saartjie. “Kom ons gaan soontoe en maak vir ons tee en iets lekkers om te eet.”
“Weg is ons,” sê Lina en die meisies staan op.
“Haai, julle!” hoor hulle skielik ’n skril stemmetjie. Die drie kyk na mekaar en sug tegelyk.
Hulle draai om en kyk na Muggie wat op die stoep sit en agterdogtig na hulle loer. Haar ogies is dun skrefies.
“Waarheen gaan julle?” vra sy.
“Net gou na Saartjie se huis toe,” sê Anna. “Speel jy maar met jou pop . . .”
“Ek en Trienkie gaan saam,” sê Muggie. Sy raap die pop op en vra opgewonde: “Wat gaan ons by Saartjie se huis doen?”
Verslae kyk die Drie Muskiete na mekaar. Hoe op aarde gaan hulle vanmiddag van Muggie ontslae raak?
Hulle kan ook nie te veel praat nie, want dan sal sy alles hoor.
“Let her come now,” sê Saartjie in Engels sodat Muggie nie moet verstaan nie. “We’ll get rid of her later, before we leave.”
Anna en Lina knik instemmend. Muggie loer agterdogtig na Saartjie en toe kom die piepstemmetjie: “Jy moenie dink ek verstaan nie wat jy sê nie. Ek verstaan alles!”
Vies kyk die drie na haar. Maar Saartjie weet die kleintjie bluf net.
“Wat het ek gesê?” vra sy vir Muggie.
“Toemaar, ek weet. Jy moenie dink ek is dom nie. En praat nog net een keer daai ander taal, dan vertel ek vir my ma ’n klomp goete van julle.”
Effens ongemaklik kyk die drie na mekaar. Hulle wonder van hoeveel “goete” wat hulle aangevang het, weet Muggie.
“Ons mors tyd,” sê Lina. “Kom ons waai.”
Die drie meisies stap vinnig weg. ’n Paar treë agter hulle volg Muggie op ’n drafstap met Trienkie in haar arms.
In die kombuis is Saartjie sommer baie besig.
“Ons maak scones,” sê sy, “dan sny ons hulle middeldeur en sit botter op. Dit gaan lekker saam met tee wees.”
“Weet jy hoe om botterbroodjies te maak, Saartjie?” vra Anna.
“Jy bedoel scones?”
“Botterbroodjies is mos die Afrikaans vir scones,” sê Anna.
“Natuurlik weet ek hoe om sco-. . . ag, ek bedoel botterbroodjies te maak,” verseker Saartjie hulle. “Ek het my ma al baie daarmee gehelp.”
Saartjie het nou ’n voorskoot aan. Sy vryf haar hande voor haar en sê saaklik: “Julle voer net bevele uit en bring vir my wat ek wil hê.”
Almal staan reg. Saartjie het ’n skottel voor haar.
“Drie koppies meel,” sê sy en wys vir Anna waar die meel gehou word.
“Skakel jy solank die oond aan, Lina,” vervolg sy, “en hou die pan reg. Sit baie botter in.”
“Nou drie teelepels bakpoeier, Anna.”
Die bakpoeier word by die meel gegooi. Dan gooi Saartjie ’n knippie sout daarby en ’n bietjie water. Sy meng die bestanddele met ’n teelepel.
“Ek wil ook iets doen,” kla Muggie.
“Bly jy net uit die pad. Klits gou die eier, Anna.”
Anna klits ’n eier en Lina bring op Saartjie se versoek twee lepels suiker. Die suiker word by die geklitste eier gegooi.
Saartjie staan ’n oomblik en dink. O ja, daar moet nog botter inkom!
“Drie eetlepels botter, Anna.”
Die botter word ook bygevoeg. Dan meng Saartjie die geklitste eier, suiker en botter goed en gooi dit in die skottel by die ander mengsel.
“Nou kan jy hand bysit,” sê Saartjie vir Muggie wat haar so belangstellend staan en dophou. “Vat ’n lepel en help my. Alles moet gemeng word.”
Muggie staan op ’n stoel en met ’n lepel in haar hand help sy Saartjie om al die bestanddele te meng.
Skielik hoor die meisies ’n klop aan die voordeur.
“Ek wonder wie dit kan wees?” sê Saartjie en sy stap deur die sitkamer voordeur toe. Anna en Lina wonder ook. Hulle stap saam.
Muggie is alleen in die kombuis. Sy staan en roer.
Toe Saartjie netnou ’n knippie sout bygegooi het, het Muggie gesê dis te min. Maar die ouer meisie het gesê sy weet nie waarvan sy praat nie.
“Saartjie dink altyd sy weet alles,” brom Muggie nou waar sy staan en roer. Sy besluit om meer sout by te sit.
Die dogtertjie neem die sout en gooi ’n hele handvol in die mengsel. Dan dink sy daaraan dat sout en peper mos gewoonlik by mekaar hoort. Sy is seker Saartjie het van die peper vergeet. Muggie neem ’n potjie en gooi amper al die peper wat daarin is in die bak uit.
“Atiesjoe!” nies sy en snuif en vee met die agterkant van haar hand oor haar neus.
Miskien het sy nou te veel peper ingesit, dink sy, maar sy sal maar liewers niks vir Saartjie-hulle sê nie.
Muggie staan weer op die stoel en roer die mengsel met mening.
Toe Saartjie, Anna en Lina by die voordeur kom, kry hulle vir Galpil daar.
Sy hare is netjies gekam.
“Hallo, julle pêre,” sê hy met ’n vriendelike glimlag. “Ek het verveeld daar by die huis rondgehang, toe dag ek ek kom sommer bietjie by jou kuier, Saartjie, jy weet . . .”
“So?”
“Ja . . . uh . . . uh . . . nie vir té lank nie.”
Saartjie hoor hoe Lina en Anna begin giggel. Sy merk Galpil se fiets teen die voorhek op. “Dis vreeslik gaaf van jou,” sê sy vriendelik, “maar ongelukkig het ons besluit om vanmiddag uit te gaan. Ek wou juis nou-nou vir jou ’n guns kom vra.”
“Vra maar, ou perd, vra sommer nou.” Galpil was sy hande in die lug.
Saartjie wil vir hom sê as hy haar nog een keer “ou perd” noem, kry sy die aapstuipe, maar sy hou haar in. Sy wil mos sy fiets leen.
“Ek wil jou vra of ek jou fiets kan leen, Galpil,” sê sy. “Ek en Anna en Lina wil graag vanmiddag ’n entjie gaan ry.”
Saartjie glimlag soet vir hom en haar stem is teer wanneer sy byvoeg: “Leen jou fiets vir my, toe, Galpilletjie. Groot asseblief . . . net vir my . . .”
“Hu . . . uh.” Galpil skop-skop teen die deurkosyn. “Natuurlik, Saartjie . . . uh . . . jy weet mos ek sal . . . enigiets vir jou doen. Ek gaan my fiets net eers gou mooi skoonmaak. Dan los ek hom vir jou hier op die stoep.”
Galpil draai vinnig om en hardloop met die tuinpaadjie af. Hy maak sulke bokspringetjies in die lug. By die hek pluk hy sy sakdoek uit sy sak en dam sy fiets daarmee by.
Die drie meisies kyk vir mekaar. Anna se wenkbroue is vraagtekens. Lina sê net: “Hmm.”
“Maak weer daai simpel geluid,” snou Saartjie haar toe, “of sê een van julle net een woord, dan sal julle iets sien wat julle nie wil sien nie.”
“Wie’t gesê ons wil ’n woord sê?” vra Anna en probeer verbaas lyk. Haar oë vonkel lewendig.
Toe Saartjie terug kombuis toe gaan, hoor sy hoe Anna en Lina agter haar loop en giggel. Sy hoor weer duidelik hoe nie een van hulle nie, maar altwee “Hmm” grom. Sy besluit dit sal die beste wees om dit liewer te ignoreer.
In die kombuis is Muggie nog hard besig om die mengsel te roer.
“Mooi, Muggie,” sê Saartjie. “Jy het hard gewerk. Jy moet minstens vier botterbroodjies kry.”
Muggie glimlag van oor tot oor. Sy sê egter niks van die sout en peper wat sy ingegooi het nie. As die koekies baie lekker is, sal sy hulle natuurlik sê hoe sy die saak gered het, maar as dit miskien ’n misoes is, sal sy net stilbly oor haar bydrae.
Saartjie gebruik ’n deegroller om die mengsel uit te rol. Die meisies gebruik glase om ronde stukke deeg mee uit te druk. Die stukke word in die pan gesit en dan gaan die pan oond toe.
“Nou net so tien minute wag,” sê Saartjie, “en dan gaan julle die lekkerste botterbroodjies eet wat julle nog ooit geproe het!”
Terwyl die koekies in die oond is, maak die meisies gou tee. Saartjie het haar pa se fles gaan haal en die tee word daarin gegooi.
Saartjie kyk kort-kort in die oond, maar sy haal die botterbroodjies nog nie uit nie, want hulle is nog nie bruin genoeg nie.
“Snaaks,” sê sy een keer, “dat die goed nie rys nie. Hulle bly so plat.
Uiteindelik word die koekies uitgehaal. Dit is duidelik dat niks hulle nou meer sal laat rys nie.
Mismoedig kyk die meisies daarna.
“Dis die snaaksste botterbroodjies wat ek nog ooit gesien het,” sê Lina.
“Die kere toe ek my ma gehelp het,” sê Saartjie fronsend, “het die goed nooit so gelyk nie.”
“Miskien smaak hulle darem nie te sleg nie,” sê Anna. “Kom ons sny hulle oop en sit botter op.”
Hulle probeer die koekies oopsny, maar tevergeefs. Die goed is so hard soos klip.
“Dalk kan ons hulle in die tee doop en eet soos ’n mens beskuit eet,” sê Saartjie.
Die harde botterbroodjies (as ’n mens hulle so kan noem) word in ’n papiersak gegooi.
“Nou moet ons gou na Bennie toe gaan,” sê Saartjie, “om die fietse te leen. Apie speel vanmiddag by hom.”
“Wat wil julle met die fietse maak?” vra Muggie.
Die drie groot meisies kyk vir mekaar. Moet hulle sowaar vanmiddag weer vir Muggie – en Trienkie natuurlik ook – saamkarwei?
“Gaan jy nou huis toe, Muggie,” sê Anna. “Saartjie sal vir jou vier koekies gee, dan gaan drink jy saam met Mamma tee . . .”
“Ek sal vir jou sés koekies gee,” bied Saartjie vriendelik aan.
“Hulle lyk vir my niks lekker nie,” sê Muggie. “Julle het seker goete ingegooi wat julle nie moes ingegooi het nie. Ek wil nie koekies hê nie. Ek wil saam met julle gaan!”
Die drie maats kyk na mekaar.
“Laat sy maar saam met ons die fietse gaan haal,” sê Anna. “We’ll get rid of her afterwards.”
“Dis wat jy dink,” brom Muggie, al verstaan sy nie regtig nie.
Die meisies stap voordeur toe. Op die stoep staan Galpil se fiets, netjies skoongemaak. Anna en Lina kyk na mekaar en hulle begin weer giggel. Saartjie besluit om hulle te ignoreer.
Saartjie ry langs hulle op Galpil se fiets. Anna dra die pakkie botterbroodjies en Lina die fles tee. Muggie draf saam met Trienkie onder haar blad.
Bennie en Anna-hulle is bure.
Hy en Apie is nie daar nie, maar net langs die huis is ’n oop stuk grond en die meisies hoor ’n klomp seunstemme. Hulle gaan daarheen en wanneer hulle om die hoek kom, sak hul harte tot in hul skoene toe hulle sien wat die seuns besig is om te doen.
Daar is twee ander seuns by Bennie en Apie. Die vier het ’n vierkant met groot witgeverfde blikke op elke hoek uitgelê en hulle jaag met hul fietse resies daarom.
“Dit gaan moeilik wees,” sê Saartjie. Anna en Lina stem volkome met haar saam, en meer nog – hulle meen dit gaan onmoontlik wees om Apie en Bennie sover te kry om vanmiddag van hul fietse afstand te doen.
Toe die wedren verby is, roep Saartjie vir Apie en Bennie nader. Die twee kom aangery. Hulle is vuil en vol stof. Dit lyk of hulle al meer as een keer vanmiddag hard met Moeder Aarde kennis gemaak het.
“Wat wil julle hê?” vra Apie. “Maak gou, ons is haastig!”
“Wat doen julle?” vra Saartjie vriendelik.
“Kan jy nie sien ons jaag resies nie?”
Saartjie ignoreer sy astrantheid. Sy moet kalm bly.
“Kry julle ouens punte of goed as julle wen? Of hoe werk dit?” vra sy kastig belangstellend.
“Ons jaag verskillende resies,” verduidelik Apie, “en die span wat die meeste wen, wen die beker. Daar staan hy.” Hy beduie met ’n vuil handjie na ’n blink konfytblik wat mooi hoog op ’n kassie staan.
“Wie is die ander span?” vra Saartjie verder uit.
“Hulle is die Rooi Duiwels en ons is die Vlieënde Vlermuise.”
Die meisies kyk na die Rooi Duiwels en sien albei die seuns het rooi sakdoeke om hul nekke. Verder is al wat hulle van die Vlieënde Vlermuise onderskei die feit dat Apie-hulle se pette agterstevoor op hul koppe sit.
“Die Rooi Duiwels is net een punt voor,” sê Apie. “Sê julle sê dat ons kan gaan jaag.”
“Wag eers, Apie,” keer Saartjie, “hoe sal julle twee daarvan hou om bietjie ekstra geld te kry?”
Apie en Bennie kom dadelik nader om beter te kan hoor.
“Wat moet ons daarvoor doen?” vra Apie, en omdat hy dink Saartjie sal reken hulle is desperaat vir geld, voeg hy by: “Ons stel nie eintlik belang nie. Ons het nog van daai stilblygeld oor.”
Bennie knik sedig kop om te wys hy beaam alles wat sy maat sê. Apie praat namens die Vlieënde Vlermuise.
“Ons sal vir julle nóg geld gee om mee lekkers te koop as ons julle fietse vir die middag kan leen!” sê Saartjie.
Apie kyk na Bennie en Bennie kyk na Apie. Dan maak Apie sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande was.
“Vergeet dit,” sê hy beslis. “Wat gaan die Rooi Duiwels sê as ons nie met die resies aangaan nie?”
“Hulle sal sê ons is bang,” mompel Bennie.
“Presies,” sis Apie. “So wat julle ons vra om te doen, is onmoontlik.” Apie waai met ’n vuil handjie in die lug om te beklemtoon hoe onmoontlik dit is.
Saartjie, Anna en Lina kyk na mekaar. Dieselfde gedagte flits deur al drie se koppe. Hulle sal meer moet aanbied.
“Ek sal jou sê wat, Apie,” kom Saartjie met ’n tweede aanbod. “Ons gee vir julle elkeen ook nog ’n handvol lekkers saam met die geld! Wat sê julle nou?”
Die twee koddige figuurtjies met die pette wat so agterstevoor op die koppe sit, kyk na mekaar. Dit is duidelik dat hulle hierdie aanbod ernstig oorweeg.
“Maar laat ek sommer nou al vir julle sê, ons kan nie ’n fortuin betaal nie,” waarsku Saartjie. “Ons is self ook maar arm.”
“Wat gaan die Rooi Duiwels sê as ons nou ophou?” vra Apie.
“Hulle sal sê ons is bang en dink net aan die beker! Hulle gaan die beker wen, want hulle loop met een punt voor.”
Die twee knapies kyk gepynig na die blink konfytblik op die kassie.
Apie en Bennie fluister onder mekaar sodat die meisies nie kan hoor wat hulle sê nie. Hulle bespreek Saartjie se aanbod: geld én lekkers is glad nie sleg nie – maar aan die ander kant is dit ’n saak van eer dat die Vlieënde Vlermuise die beker moet wen.
Uiteindelik kry hulle ’n oplossing. Apie draai na die meisies en sê: “As julle vir ons die geld en die lekkers gee, kan julle die fietse môre ná skool vir die hele middag kry. Hoe’s daai?”
Nee, dit klink nie goed nie. Die meisies stel nie daarin belang om die fietse môre te kry nie. Hulle wil dit nou hê.
“Wel, ons is jammer,” sê Apie en hy lyk regtig spyt, want hy en Bennie sou graag nóg ekstra geld en lekkers wou gehad het, “maar ons kan dit nie vandag doen nie.”
Die twee Rooi Duiwels word ongeduldig om so lank vir die Vlieënde Vlermuise te wag. Hulle skree en vra of die Vlermuise bang is. Hoekom wil hulle nie kom jaag nie?
“Bang, nè?” sê Apie: “Ons sal julle wys. Kom, Bennie.”
Die twee Vlieënde Vlermuise jaag nader om vir die Rooi Duiwels ’n les te gaan leer.
“Ai,” sê Saartjie teleurgesteld, “wat doen ons nou?”
Anna en Lina is net so teleurgesteld en raadop.
“Nou ja, dan moet ek seker maar hierdie fiets gaan teruggee,” sê Saartjie.
Die meisies gaan na Galpil se huis toe. Hulle maak beurte om entjies met die fiets te ry. Muggie en Trienkie kry ook ’n beurt. Sy word op die saal gelig met die pop voor haar en dan stoot die meisies haar.
Saartjie-hulle sien nie vir Galpil by die huis nie en sy sit die fiets op hul stoep neer. Die meisies loop na Anna se huis toe. Anna dra nog steeds die pakkie harde botterbroodjies en Lina die fles tee.
Hulle gaan sit in die tuin by Anna se huis. Hulle kan maar daarvan vergeet om vanmiddag iewers langs die hoofpad onder ’n boom ’n piekniek te gaan hou.
Op die stoep speel Muggie weer met haar pop. Die drie hoor hoe sy sê: “Slaap nou, Trienkie, jy’s mos moeg. Wees nou vir ’n verandering ’n soet babatjie.”
Die drie meisies glimlag. Dit was toe nie eers nodig om van Muggie te probeer ontslae te raak nie. Hier sit hulle, die Drie Muskiete, nou en niksdoen.
“Ons sal die teepartytjie maar hier moet hou,” sê Lina.
“Nee,” sê Saartjie. “Ek is lus vir iets anders.”
Anna en Lina verseker haar hulle is net so lus.
“Wag ’n bietjie,” sê Saartjie en vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af. Haar twee vriendinne kyk afwagtend na haar. Hulle wonder waarmee sy nou weer vorendag gaan kom.
Saartjie kyk op haar horlosie. Dis kwart oor drie.
“Dis nog vroeg, sê sy, “en die son sit nog hoog.”
“Wat beplan jy, Saartjie?” vra Anna.
“Kom ons loop na ’n plek toe, deur die veld. Dan hou ons sommer op pad soontoe ’n teepartytjie onder ’n boom. Ons kan omtrent ’n uur daar bly en dan weer terugkom. Dan is ons voor sononder weer by die huis.”
“Dit klink nie sleg nie,” sê Lina droogweg, “maar dink jy nie jy moet ons eers vertel wat die plek is waarheen jy wil gaan nie?”
Saartjie lag en daar verskyn twee kuiltjies in haar wange.
“O ja,” sê sy, “ek het skoon vergeet om vir julle te sê. Wil julle baie graag weet?”
“Natuurlik,” sê Anna vies. “Moenie probeer snaaks wees nie.”
“Is julle nie bang nie?” vra Saartjie skielik ernstig.
Anna en Lina kyk vir mekaar en dan verseker hulle Saartjie hulle is nie.
“Wel, ek het gedink,” sê Saartjie, “as julle nie te bang is nie kan ons na daardie geheimsinnige ou huis aan die voet van die berg gaan en die plek deursoek.”
Anna en Lina se oë word groot.
“Jy bedoel,” sê Anna, “daai bouvallige plek waar die ou kluisenaar jare gelede verdwyn het? Bergzicht is die huis se naam.”
“Dis wat ek bedoel, ja. Kom ons drie gaan snuffel Bergzicht se geheim uit.”
Anna en Lina is tjoepstil. Hul harte klop vinnig. Saartjie se hart klop ook hard.
“Bergzicht,” sê Anna peinsend. “Niemand gaan ooit naby die plek nie. Die mense sê dit spook daar.”
“Ek weet,” sê Saartjie. “Maar spoke loop mos nie in die daglig rond nie.”
“Ja, maar dis so verlate dat daar baie spinnekoppe, rotte en ander kriewelrige goed sal wees,” sê Lina en sy ril: “Brrr.”
“Toemaar, ons vat ’n flits saam. Dit sal in elk geval seker donker in die ou huis wees,” sê Saartjie. “Wat sê julle, sal ons gaan?”
Anna en Lina kyk na mekaar. Dan kyk hulle na Saartjie. Toe kyk al drie op. Ja-nee, die son sit darem nog hoog in die lug.
“Ek sê top!” sê Lina. “Ons gaan.”
“Ek sê ook top,” sê Anna.
“Nou kom,” sê Saartjie en staan op. “Kom ons gaan kyk wat is Bergzicht se kamtige vreeslike geheim.”