Читать книгу Saartjie Omnibus 1 - Bettie Naudé - Страница 8
2
Die konsert kom op dreef
ОглавлениеSaartjie gaan by haar kamer uit en met die trap af. Anna-hulle bly net langsaan en sy wil haar gaan vertel hoe sy beplan om geld in te samel vir kinders wat nog nooit die see gesien het nie.
Lina is toevallig ook by Anna. Die twee wou nou net na Saartjie toe kom. Opgewonde vertel sy hulle van haar plan om ’n konsert te reël.
Anna en Lina is vuur en vlam vir die idee en hulle bespreek dit in Anna se kamer.
Maar skielik gaan die deur oop en ’n koddige figuurtjie staan in die deur. Dit is Muggie, Anna se sussie. Sy het twee lang vlegsels wat met groot pienk strikke vasgebind is. Haar wipneusie en twee effense bakore laat haar astrant lyk. Op die oomblik is sy pragtig skoon, want sy kom so pas uit die bad. In haar arms hou sy ’n groot lappop vas.
“Haai,” groet sy die drie groot meisies vriendelik. Niemand antwoord nie, maar Muggie steur haar nie daaraan nie.
“Waaroor praat julle?” wil sy weet.
“Dit het niks met jou te doen nie,” snou Anna haar toe.
“Nou goed,” sê Muggie, “maar moenie te hard praat nie, want Trienkie slaap.” Sy gaan sit op die bed, lê die pop versigtig neer, tik-tik met haar handjie op die pop se kop en sê sag: “Lekker slaap, Trienkie, my kindjie.”
Met suur gesigte kyk Saartjie, Anna en Lina na haar. Nadat sy die pop in Anna se kombers toegedraai het, draai sy na die ander, glimlag weer vriendelik en sê: “Nou kan ons gesels.”
Die drie besluit om Muggie te ignoreer, maar dit is nogal moeilik. Sy wil alles weet van die konsert: watter rol sy gaan speel en wat sy alles sal moet doen. Sy spring ook sommer op en dra ’n rympie voor wat sy op skool geleer het. Sy wil weet wanneer die konsert is en toe Saartjie haar vertel dis eers so oor ’n week, wil sy weer weet hoekom nie nou nie – sommer vanmiddag nog.
“Anna,” sê Saartjie met ’n sug, “kan jy nie iets doen om haar stil te kry nie?”
Gelukkig moet Muggie saam met Anna se ma winkel toe gaan en mevrou Strydom roep haar. Muggie gryp haar pop en hardloop deur toe.
“Julle moet hier vir my wag,” sê sy. “Wanneer ek terugkom, gesels ons weer oor die lekker konsert.”
Die groot meisies kyk na mekaar, grinnik en begin dan hardop lag.
“Ek wonder,” sê Lina, “of ons ook so onmoontlik was toe ons ses jaar oud was.”
“Jy’s gelukkig,” sê Anna, “want jy het nie ’n jonger boetie of sussie wat jou pla nie.” Ná ’n oomblik voeg Anna by: “En jy is ook beter daaraan toe as ek, Saartjie.”
“Hoe so?” wil Saartjie weet.
“Wel, Apie is nou wel lastig en vol dinge, maar jy kan hom darem so af en toe ’n oorveeg gee en dan is hy stil. Maar Muggie! Sy is nooit ’n minuut stil nie. As ek iewers heen gaan, wil sy altyd saampiekel en as ek nee sê, sit sy só ’n keel op dat ek maar moet toegee net om die vrede te bewaar.”
“Dis reg, ja,” sê Saartjie, “maar onthou net, dis nie meer so maklik om Apie se ore warm te klap nie. Hy slaan deesdae terug. Hy het g’n respek vir die feit dat ek vier jaar ouer as hy én boonop ’n meisie is nie. Nee, hy slaan terug en hy slaan deksels hard.”
Die drie meisies begin weer oor die konsert gesels.
“Ons moet ’n naam kry,” stel Anna voor, “want alle toneelgeselskappe het mos name.”
Saartjie en Lina stem volkome saam.
“Kom ons dink aan iets,” sê Saartjie.
Een voorstel na die ander word gemaak en dan weer verwerp.
Uiteindelik sê Saartjie: “Ons wil geluk en sonskyn bring in die lewens van outjies wat nog nie die see gesien het nie. Hoe lyk dit met die Sonskynklub?”
Hulle proe-proe aan die naam en hoe meer hulle daaraan proe, hoe meer hou hulle daarvan.
Saartjie se konsert gaan gereël word deur die lede van die Sonskynklub. Dit klink sommer baie meer professioneel.
Nadat hulle besluit het die eerste stap sal wees om die spelers op Saartjie se lys te nader en hulle te vra of hulle lede van die Sonskynklub wil wees en aan die konsert wil deelneem, is die drie meisies uitmekaar.
Die aand ná ete besluit Saartjie om vir Apie te vra of hy en sy maat Bennie sal wil optree.
Dokter Baumann, sy vrou, Saartjie en Apie is in die sitkamer. Kris het ’n entjie gaan stap om vars lug te skep. Saartjie is seker hy het gou ’n bietjie by Isabel Theron gaan kuier.
Sy vertel vir haar ma hulle het besluit om hulself die Sonskynklub te noem.
“Dis nogal ’n oulike naam,” sê mevrou Baumann. “En waar gaan julle die konsert hou?”
“Ek het gedink sommer hier in ons sitkamer. Hier kan mos baie mense sit. Die klavier is ook sommer hier vir die musiekitems.”
“Als in die haak,” sê haar ma met ’n glimlag.
“Sal julle klomp nie te woes te kere gaan nie?” vra haar pa.
“Nooit, Pa!” sê Saartjie verontwaardig. “Goeie genugtig! Die Sonskynklub se lede is nie sommer net ’n klomp nie!”
“Goed dan,” sê dokter Baumann grinnikend. “Sal julle geagte lede van die Sonskynklub nie te woes hier te kere gaan nie?”
Saartjie verduidelik mooi dat alles baie stigtelik sal verloop.
Sy kan nog nie veel van die program vertel nie, want sy moet eers al die besonderhede uitwerk.
“Wil jy ook deelneem?” vra sy vir haar boetie wat by die tafel sit en huiswerk doen.
“Hoekom?” vra Apie.
“Hoekom wat?”
“Hoekom vra jy my of ek wil deelneem?”
“Omdat ek jou vra,” sug Saartjie.
“O.”
Apie dink nou ernstig oor die voorstel na. Dan sê hy (en die s-geluide sis deur die opening waar sy twee voortande was): “Sê my eers, Sus, wat gaan julle met die geld doen wat die mense vir die konsert betaal?”
Saartjie beduie dit gaan vir ’n goeie doel – vir die Strandfonds.
“So die ouens wat aan die konsert deelneem, kry niks?” maak Apie net doodseker van hierdie belangrike puntjie.
“Natuurlik nie!” antwoord Saartjie verontwaardig en voeg hooghartig by: “Alles gaan vir liefdadigheid.”
“Ek dag dan jy’t gesê die geld gaan vir die Strandfonds.”
“Dis dieselfde ding,” sê Saartjie vies. “Jy hou jou vanaand aspris dommer as wat jy gewoonlik is. Ek weier om verder te verduidelik.”
“O.”
’n Paar oomblikke lank is dit stil. Mevrou Baumann sit en brei. Dokter Jan lees koerant. Maar hulle albei het die kinders se gesprek gehoor. Hulle kyk na mekaar en glimlag.
“Hoekom?” vra Apie skielik.
“Hoekom wat?” vra Saartjie.
“Hoekom weier jy om verder te verduidelik?”
“Ag, Apie, bly liewer stil,” snou Saartjie hom toe. “Sê net vir my of jy aan die konsert wil deelneem of nie.”
Apie dink baie ernstig oor die vraag na. Hy druk die punt van sy tong deur die opening waar sy voortande was.
Hul ma merk dit op.
“Abraham!” sê sy kwaai.
“Skuus, Ma,” en die tong verdwyn. Sy ma moet dikwels met hom oor hierdie gewoonte praat.
“Wat van Bennie?” vra Apie uit die bloute.
“Wat van hom?” Saartjie kyk vies na haar boetie se sproetgesig en deurmekaar hare.
“As ek jou help deur in jou konsert te wees, dan moet Bennie ook daarin wees.”
“Nou goed, ek sal vir hom iets kry om te doen, maar ek dag dan hy is in die bed.”
“Hy is, maar hy sal môre weer op wees.”
Hul ma kyk na haar man en vra: “Niks ernstigs met Bennie verkeerd nie, Jan?”
“Nee, ek was vanmiddag weer by hom. Hy het net aan skok gely. Môre is hy weer perdfris.” Apie se pa draai na hom en vra: “Wat presies het gister gebeur, seun?”
“Ag, Pa, ek en Bennie het maar net op die solder by daai venstertjie gespeel. Dis maar al, Pa. Ons het gespeel en gekyk wie kan die verste by die venster uitleun.”
“En toe?”
“En toe het Bennie gewen, Pa.”
Dokter Jan lag vir die seun se manier van dinge verduidelik.
“Dit kon ernstige gevolge gehad het. Daardie soldervenster is hoog. Ek is verbaas dat Bennie nie ernstig beseer is nie. Hy moes baie hard geval het.”
“Ou Bennie is so taai soos ’n ratel, Pa.”
Saartjie sê vir Apie hy en Bennie moet môremiddag ná ete by die somerhuisie in die tuin aanmeld. Sy gaan almal wat deelneem, toespreek en alles aan hulle verduidelik.
“Orraait,” sê Apie en dan wil hy weet wie die geld gaan hou.
“Wat se geld?” vra Saartjie.
“Die geld wat die mense die aand gaan betaal om ons ouens in die konsert te sien.”
“Ek het nog nie oor daardie aspek van die saak gedink nie,” snou Saartjie hom uit die hoogte toe.
Die volgende oggend by die skool nader Saartjie die ander kinders van Lynnekom wie se name op die lys is.
Tydens pouse stap sy na Matilda toe om haar te vra. Matilda is nogal aangenaam verras en sê sy sal daarvan hou om aan die konsert deel te neem.
Nadat Saartjie met Matilda gepraat het, stap sy na Lodewyk le Fras de Waal toe waar hy en ’n paar maats op die speelterrein staan.
“Galpil!” roep sy hom toe sy ’n entjie van hulle af is.
“Ja?” Die seun kom vinnig nader.
Saartjie merk op hoe slordig hy is. Sy kouse hang oor sy skoene en sy hare is ongekam.
Hy vryf sy hande en glimlag vriendelik.
“Ja, ou perd, wat kan ek vir jou doen?”
“Jy noem my nie ‘ou perd’ nie, hoor jy my?” sê Saartjie kil.
“Ag, dis mos maar net ’n manier van praat,” brom Galpil met sy growwe stem.
Saartjie vertel hom van die konsert en dat sy wil hê hy en sy twee maats, Gert en Piet, moet ook deelneem.
“Dis reg, Saartjie, dis als reg,” sê hy. “Hulle sal dit vir my doen en ek sal dit vir jou doen.”
“Wat presies bedoel jy, Galpil?” Saartjie se wenkbroue is vraagtekens.
“Ag, Saartjie,” grinnik hy en skop met sy skoen na ’n graspol. “Ag, jy weet mos . . . Ek . . . Ag, ek sal enigiets vir jou doen . . .”
Saartjie kyk hom verbaas aan. Hy lyk nou mos net soos haar broer Kris wanneer hy met Isabel Theron gesels . . . soos ’n verliefde hoender!
“Wees vanmiddag net ná ete by die somerhuisie in ons tuin,” sê sy kil.
“Vir seker, ek en my tjommies sal daar wees . . . Sien jou, Saartjie . . .”
“Tot siens, Galpil.”
Hy skop weer ’n slag na ’n graspol en dan draai hy om en skree vir sy maats wat wegstap: “Wag vir my, julle pêre!”
Die “pêre” wag vir hom en Galpil stap saam met hulle weg.
Saartjie staar hulle ingedagte agterna. Galpil kyk ’n keer om en waai vir haar. Sy waai nie terug nie. Sy wonder of dit ’n wyse ding was om Galpil en sy twee vriende te vra om aan die konsert deel te neem.
Dié middag kom al die lede van die Sonskynklub in die Baumanns se somerhuisie bymekaar.
Saartjie sit by ’n tafeltjie waarop daar skryfpapier lê. Sy gaan baie dinge moet neerskryf. Lina en Anna sit weerskante van haar.
Reg agter sit Apie en Bennie op twee stoele. Bennie het ’n verband om sy kop, maar dit verhoed nie dat hy Apie laggend met die vuis in die ribbes pomp nie. Apie pomp hom harder terug . . . “met rente,” soos die outjie sê. Dit is duidelik dat die speelse slanery enige oomblik in iets ernstiger gaan ontaard, want albei slaan al harder en harder.
Matilda Nielsen sit eenkant en alleen. Sy staar voor haar uit en af en toe haal sy haar bril af, blaas asem daarop en maak dit dan met haar sakdoek skoon.
Galpil, Gert en Piet sit op die tuinrusbank. Gert en Piet het norse uitdrukkings op hul gesigte asof hulle niks hou van die gedagte om hier te wees nie. Galpil se hare is netjies gekam en hy glimlag eenstryk deur. Saartjie maak of sy hom nie eers raaksien nie.
Die enigste een wat praat, is Muggie wat op ’n matjie op die vloer sit. Sy babbel aanhoudend oor die wonderlike konsert en watter wonderlike goeters hulle almal gaan doen en hoe wonderlik al die mense gaan sê dit was en hoe sy dink hulle moet sommer nou dadelik al begin oefen . . .
Dan staan Saartjie op. Sy maak eers keel skoon. Anna maak vir Muggie stil.
“Ek is bly julle het gekom,” sê Saartjie. “Dit is ’n goeie begin. Ons moet vuur en vlam wees . . .”
“Aan die brand, ja!” kom Galpil se stem hard.
“Dis reg, ja, maar los asseblief nou die aanmerkings. Ek sal alles eers verduidelik en dan kan ons dinge bespreek.”
Saartjie vertel hulle dat sy en Anna en Lina besluit het om hul toneelgroep die Sonskynklub te noem. Sy verduidelik vir watter goeie doel hulle die geld insamel en dat die plan is om die konsert vanaand oor presies ’n week hier in haar ouers se huis te hou.
“My ma het gesê sy sal sorg dat hier baie grootmense is en ek en sy sal nog besluit hoeveel toegang hulle moet betaal. Al wat ons nou moet doen, is om uit te vind wat elkeen van ons in die konsert kan doen.”
Saartjie sit nou weer by die tafel. Sy het die potlood in haar hand.
“Ek het my naam neergeskryf vir een of twee klavierstukke en ’n sangsolo. Anna gaan dans terwyl ek speel en Lina gaan voordra. Nou wil ons weet wat júlle kan doen. Ek wil hê ons moet almal een of meer keer alleen optree en dan sluit ons die konsert af met ’n toneelstuk waarin ons almal speel. Ek moet die stuk net nog skryf.”
“Gaan jy nie ook ’n paar pêre na-aap nie, Saartjie?” bulder Galpil van die hoek af waar hy en sy maats op die rusbank sit.
“Nee, ek dink nie dit sal so ’n goeie idee wees nie. Die mense wat ek na-aap, gaan almal in die gehoor wees en hulle sal nie daarvan hou nie.”
“Ek gaan sing en dans en ’n resitasie opsê,” sê Muggie en spring ook sommer op om vir hulle te wys hoe talentvol sy is.
Sy dans “Jan Pierewiet” terwyl sy die liedjie se woorde sing en pragtige, elegante bewegings maak.
Toe almal hande klap, hou sy ’n vuil handjie in die lug en sê: “Wag, ek is nog nie klaar nie. Nou vir my resitasie.”
Sy kom tot op haar tone, hou haar arms bo haar kop en laat haar vingers soos kloue lyk. Sy blaas haar wange op en sê dan met haar piepstemmetjie: “I am de witch of Witchland.”
Muggie dra die gedig skitterend voor, al is sommige Engelse woorde se uitspraak maar krom.
Sy word entoesiasties toegejuig en maak ’n paar buiginkies na alle kante toe voordat sy gaan sit.
Muggie se naam word vir sang en dans en ’n resitasie neergeskryf.
“Wat van jou, Matilda?” vra Saartjie vir die meisie wat so treurig en teruggetrokke eenkant sit. “Wat gaan jy doen?”
“Ek neem al jare vioollesse,” sê Matilda, “maar ek het nog nooit voor mense gespeel nie . . .”
Saartjie merk hoe skaam Matilda praat. Sy hou van die meisie se beskeie manier. Sy wonder of hulle haar nie almal verkeerd verstaan nie.
Matilda het maar eers ses maande gelede by Laerskool Lynnekom aangekom toe haar ouers hierheen verplaas is. Sy is seker van die skaam soort wat altyd bang is sy sal iets verkeerd doen. Dis miskien hoekom sy die indruk geskep het dat sy ’n klikkie is en witvoetjie by die onderwysers soek. Saartjie besluit sy wil Matilda later beter leer ken.
“Dis wonderlik, Matilda,” sê sy. “Ek skryf jou naam neer vir ’n vioolsolo. Ek is seker jy gaan ons almal verras.”
“Miskien . . . miskien kan ek en jy ’n bietjie saam oefen. Dan kan jy my op die klavier begelei.”
“Ek sal graag wil, Matilda.”
Saartjie kyk na haar boetie Apie en sy maat Bennie. Die twee praat nie vandag so baie soos gewoonlik nie. Hulle is te besig om mekaar geniepsig in die ribbes te pomp.
“Sal julle twee nou stil sit!” beveel Saartjie.
Die seuns kom tot bedaring.
“Wat gaan julle doen?” wil sy weet.
Die knapies kyk na mekaar.
“Wat kan jy doen, Ben ou pen?” vra Apie en steek die punt van sy tong deur die opening tussen sy tande.
“Niks, Jaap ou aap,” antwoord Bennie. “En wat kan jy doen?”
“Ok niks.”
Hulle kyk met ondeunde gesiggies na Saartjie.
“Wil julle aan die konsert deelneem, of nie?” vra sy.
Albei knik. Ja-nee, hulle sal nogal graag wil deelneem. Die ongeluk is net, hulle weet nie wat om te doen nie.
“Is dit nodig dat hulle juis iets moet doen, Saartjie?” vra Anna laggend. “Hulle kan mos maar net daar staan en na mekaar kyk – dan sal die mense in elk geval vir hulle lag.”
“Hoekom?” vra Apie en gluur woes na Anna. “Hoekom sal die mense sommer so vir niks vir ons lag?”
“Lyk my Anna probeer snaaks wees. Sy probeer ons afkraak,” sê Bennie en klap sy boesemvriend op die skouer.
“Lyk my ok so,” sê Apie.
“Wag nou,” keer Saartjie. “Die Sonskynklub se lede moenie onder mekaar begin stry nie. Ek sal aan iets dink wat julle twee kan doen.”
Anna is nou stil. Saartjie sit met ’n gefronsde voorkop sodat almal kan sien sy dink diep. Ná ’n ruk kyk sy op na haar boetie en sien die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Ek sê jou wat, Apie,” sê sy opgewonde, “jy sing vir ons ’n liedjie. Ek sal vir jou die woorde en wysie leer.”
“Wat se liedjie?” vra Apie en loer agterdogtig na sy suster.
“Dit is ’n Engelse liedjie . . .”
“Toemaar,” sê Apie selfvoldaan, “my Engels is goed. Wat is die woorde?”
“All I want for Christmas is my two front teeth . . .” sê Saartjie. “Dis hoe dit begin, en dis ’n maklike liedjie.”
“Vergeet dit. Ek gaan dit nie sing nie,” sê Apie verontwaardig.
“Hoekom nie?”
“Sommer,” sê hy nors.
Almal sit nou weer en dink wat Apie en Bennie in die konsert kan doen.
Die twee knapies sit en fluister onder mekaar. Dan sê Apie: “Ons het besluit om grappe te vertel. Die ouens gaan hulle so slap lag.”
Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Miskien kan dit werk. Hulle kan ’n soort tweespraak doen. Die een vertel ’n grap en dan weer die ander een.
“Goed dan,” sê Saartjie, “maar ek wil die grappe eers hoor!” Sy ken hulle. ’n Mens weet nooit waarmee die twee karnallies vorendag kan kom nie.
Saartjie skryf neer: Apie en Bennie – grappe.
Dan kyk sy na Galpil en sy twee maats op die rusbank.
“En julle drie?” vra sy. “Wat gaan julle doen?”
“Ek wil My Captain, My Captain voordra,” sê Galpil en hy spring sommer op en begin in ’n bulderende stem resiteer.
Dit is ’n gedig oor ’n matroos wat saam met sy geliefde kaptein op al die oseane van die wêreld geseil het en toe is sy kaptein dood en nou bring hy hom terug hawe toe.
Galpil dra dit met passende gebare voor, en die kinders sit doodstil en luister. Hulle kry sulke rillings langs die ruggraat af wanneer Galpil aan die einde van elke strofe in ’n swaar, lae stem sê: “Where on the deck my Captain lies – Fallen, cold and dead!”
Hy wys met sy voorvinger na ’n plek op die grond voor hom waar die dooie kaptein se lyk veronderstel is om te lê. Die dead is lank uitgerek en in ’n lae bas, amper soos ’n spookstem.
Almal klap hande toe Galpil klaar is.
“Dis wat ek wil doen,” sê Galpil, “maar die aand van die konsert gaan hierdie twee pêre saam met my deelneem. Ons sal aantrek dat ons soos matrose lyk. Gert gaan die hele tyd net doodstil voor my voete lê, want hy is die dooie kaptein en Piet sal langs my staan. Elke slag as ek na die dooie ou voor my voete wys, sal ou Piet so ’n paar keer snik-snik-snik en sy neus uitblaas . . .”
“Hoekom moet hy dit doen?” vra Saartjie.
“Die perd is mos diep bedroef, sien, want hy is een van die bemanning en hy het sy kaptein ook bitterlik liefgehad.”
Almal is seker dit gaan ’n groot sukses wees. Galpil se diep, hol stem, die manier waarop hy sekere woorde uitrek, die lyk van die kaptein, en Piet se snikke en neusuitblasery behoort baie effektief te wees.
“En dan wil ons pêre ook nog ’n ander ding doen, Saartjie,” sê Galpil. “Ons wil bietjie musiek maak.”
Soos een man haal die drie seuns hul mondfluitjies uit. Hulle sit gereed, kyk na mekaar en dan sê Galpil: “Reg, pêre?”
Hulle knik met hul koppe. Die drie begin speel.
Die kinders kyk glimlaggend na mekaar en begin dadelik met hul voete tik. Dit is die een vrolike deuntjie na die ander. So af en toe hou Galpil op speel en dan sing hy terwyl die ander twee vir die vale speel. Die drie laat, soos Apie sê, “’n mondfluitjie praat”!
Saartjie skryf hierdie item op haar lys neer. Dit is nog iets wat baie gewild behoort te wees. Uiteindelik het almal iets om te doen.
“Ek gaan vanaand gou ’n toneelstukkie skryf,” sê Saartjie. “Daar sal ’n rol vir elkeen van ons wees sodat ons aan die einde almal saam aan die laaste item kan deelneem. Môremiddag ná skool kan ons ernstig begin oefen.”
Dié aand skryf Saartjie die toneelstuk. Noudat sy weet wie almal gaan deelneem, is dit eintlik nogal heel maklik.
Die hele stuk speel in ’n kafee af. Saartjie speel klavier in die plek en Matilda viool. Anna is die danseres. Galpil, Gert en Piet sit by ’n tafeltjie en hulle lyk soos drie boewe uit die onderwêreld. Lina is ’n kelnerin. Muggie en Apie sit by ’n ander tafel.
Die musiek speel. Anna dans grasieus, dan kom Bennie skielik in . . . met ’n pistool in sy hand! Hy bulder: “Bly net waar julle is! Moenie roer nie!”
Almal skrik hulle natuurlik boeglam. Hulle vries net waar hulle is en waag dit nie om ’n spier te verroer nie.
Bennie kyk met ’n wrede uitdrukking op sy gesig rond asof hy na iets soek.
“Ha!” gee hy dan skielik ’n triomfantlike kreet wanneer hy vir Apie en Muggie sien.
“Jy is die een wat my dogtertjie gesteel het!”
Apie probeer dit ontken, maar dit help nie.
“Jou naam is Dood!” skree Bennie en dan skiet hy. Hy moet “Boem! Boem!” uitroep soos wat hy skiet. Dit stel die rewolwerskote voor. Apie val op die vloer neer en lê met sy arms uitgestrek . . . morsdood.
Dan heers daar chaos. Daar is nou ’n deurmekaar bakleiery. Saartjie meen hierdie deel gaan vir almal groot pret wees.
Bennie word uiteindelik gevang omdat hy Apie doodgeskiet het.
’n Verrassing aan die einde is dat die drie – Galpil, Gert en Piet – nie boewe is nie, maar speurders! Hulle was soos boewe vermom omdat hulle op die uitkyk was vir Bennie – ’n berugte Amerikaanse rower.
Nou het hulle hom uiteindelik gevang en alles het goed afgeloop. Net jammer Apie moes met sy lewe boet.
Maar miskien, dink Saartjie, hoef Apie nie regtig dood te wees nie. Wanneer Bennie gevang en vasgemaak is, lig die speurders die “lyk” op en dan skree een: “Hy lewe sowaar nog! Hy haal nog asem!”
Dan dra hulle hom vinnig uit en Saartjie sê hard vir Anna (sodat die gehoor dit kan hoor): “Hulle neem hom seker nou hospitaal toe.”
Dan kom die speurders weer terug en sê Apie se lewe is gered. Hy sal die skote oorleef! Almal is baie bly en die musiek begin weer in die kafee speel. Bennie is die enigste een wat nie so gelukkig voel nie, maar dit is mos sy verdiende loon! Hy word tronk toe gevat waar hy baie lank as ’n gas van die regering sal moet bly.
Saartjie dink dit is glad nie ’n slegte toneelstuk nie.