Читать книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé - Страница 10
3
Die sirkus is hier!
ОглавлениеDie volgende paar dae wil almal Saartjie se medalje sien. Sy probeer die indruk skep dat sy nie veel van haar eie prestasie dink nie, maar is nogtans gretig om dit vir hulle te wys.
Sy wys dit selfs vir Ou Grompot toe hy die volgende dag na haar strafwerk kyk. Hy wens haar geluk en spreek die hoop uit dat die medalje haar sal aanspoor om ook in haar skoolwerk te presteer en nie so in die klas te sit en droom nie.
Saartjie is deesdae – met haar medalje altyd by haar – stil en gedwee en effens op ’n afstand soos wat sy dink dit ’n kunstenaar betaam wat nog wêreldberoemd gaan word.
Apie wil weet hoeveel die medalje kos – hoeveel geld ’n mens vir die ding kan kry. Toe hy hoor dit is nie baie waardevol nie en het maar net sentimentele waarde, verloor hy alle belangstelling in sy suster se prestasie. Hy is seker enigiemand wat daardie “dinges van die woud” so dag en nag geoefen het, sou gewen het.
Maar op ’n dag gebeur daar iets in Lynnekom wat Saartjie se prestasie op die agtergrond skuif en sy is maar te bly. Sy is nou moeg om die medalje so oral met haar saam te karwei.
Sy sit in haar kamer toe sy ’n blaasorkes hoor. Dit is die sirkus!
Saartjie nael by die huis uit om Anna te gaan haal.
By die tuinhekkie aarsel sy net ’n oomblik toe sy die betonblokke sien en dan doen sy maar wat sy altyd doen. Sy spring vinnig en sekuur sonder om aan een van die gleuwe tussen die blokke te raak.
Die meisie is opgewonde. Sy is weer ’n rabbedoe. Hoe kan ’n mens jou gedra soos ’n waardige persoon wat nog wêreldroem gaan verwerf as daar ’n sirkus op die dorp is? Die medalje lê nou vergete in haar kamer. Saartjie is weer Saartjie.
“Kom, Anna!” skree sy uitgelate toe sy soos ’n warrelwind by die huis ingewaai kom. “Die sirkus is hier!”
“Ek het hulle gehoor!” antwoord Anna opgewonde. “Ek wou jou nou net kom haal.”
“Wag vir my!” kom Muggie se skril stemmetjie uit haar kamer. “Ek gaan saam!”
Saartjie en Anna kyk na mekaar. Hulle het seker nie ’n keuse nie.
“Maak gou!” skree Anna ongeduldig.
Muggie kom by haar kamer uitgehardloop met haar pop, Trienkie, in haar arms. Sy het geslaap toe die blaasorkes haar wakker gemaak het.
Sy sing in ’n skril stemmetjie: “Die sirkus is hier! Die sirkus is hier!” Saartjie en Anna sing ook saam. Die drie hardloop by die tuinpaadjie af.
O, die betowerende woorde – “Die sirkus is hier!” Uit alle dele van Lynnekom kom kinders – grotes, kleintjies, maeres, vettes, mooies, lelikes – aangehardloop. Soos ’n juigkreet weergalm dit: “Die sirkus is hier!”
Die sirkusmense en hul diere loop in die hoofstraat af. Die blaasorkes marsjeer heel voor.
Die kinders hardloop langs die mans in rooi uniforms. Hulle speel marsmusiek wat die bloed warm deur jou are laat bruis.
Met groot oë kyk die kinders na die res van die sirkus. Agter die orkes is twee hokke op wiele en in die hokke is ’n hele paar brullende leeus.
Bennie en Apie vergaap hulle aan die leeus. Hulle het vlugtig gekyk na al die goed wat daar te sien is en toe besluit hulle hou die meeste van die leeus. Die twee draf nou al langs die leeuhokke.
Agter die leeus is ’n klomp ponies met wit en bruin vlekke en dan volg daar ’n enorme olifant.
Muggie kan haar oë nie van die olifant af hou nie.
“Het jy al ooit so ’n groot ding gesien, Trienkie?” Sy hou haar pop op om die olifant beter te kan sien.
Daar is hansworse wat grappe maak en bollemakiesie slaan en vir die mense waai.
Daar is ’n sterk man met geweldige spiere wat loop en spykers kou asof dit niks snaaks is nie.
Daar is ’n man met ’n wit rybroek aan en ’n hoë swart keil op sy kop. Hy het ’n welige snor en dra ’n swart pak. Hy praat oor die mikrofoon, hard bo die blêrorkes uit. Hy sê Lynnekom se inwoners moenie Karzo se wêreldberoemde sirkus misloop nie. Hulle gaan die voorstad vereer deur vir drie aande vertonings hier te gee. En daar is boonop Saterdag ’n middagvertoning ook.
Die Drie Muskiete verkyk hulle aan ’n pragtige vrou op ’n groot wit hings. Voor die perd is ’n koddige skepseltjie wat op lang stelte loop. Almal kyk benoud op na hom. Hy dra ’n grillerige mombakkies en ’n plakkaat waarop Saartjie-hulle lees wie die dame op die hings is:
Die beroemde Marzyna –
gehore regoor die wêreld se liefling!
Sy gaan allerhande asemrowende toertjies op die Arabiese hings se rug uithaal. Sy het al voor konings en prinse opgetree! As die mense haar nie sien nie, mis hulle een van die wonders van die wêreld.
Saartjie, Anna en Lina besluit al gebeur wat ook al, hulle gaan dít nie misloop nie.
Die optog beweeg na die oop terrein net agter die hoofstraat.
“Gaan vertel vir julle ouers van Karzo se beroemde sirkus,” sê die man met die keil en die pak, wat soos die sirkusbaas lyk. “Julle kinders moenie nou in ons pad wees nie.”
Dit swerm skielik van sirkuswerkers wat gate vir die groot tent se pale begin grawe.
Saartjie sien die wêreld se liefling, Marzyna, by ’n karavaan inglip. Sy gaan seker rus sodat sy vars kan wees vir vanaand se vertoning.
Die sirkusbaas het nou ’n kakiebroek en hemp aan. Hy skree bevele uit: “Opskud! Gou maak! Slaap julle?” en sommer ’n string vloekwoorde ook.
Hy lyk briesend omdat die manne nie vinnig genoeg na sy sin werk nie.
Saartjie kyk na Anna en Lina. Hulle kyk na haar. Dieselfde gedagte flits deur al drie se koppe – dis nie ’n plek vir hulle hierdie nie. Ook nie vir Muggie, wat met groot oë na die man se wonderlike woordeskat staan en luister nie.
“Kom,” sê Anna en gryp haar protesterende sussie se hand.
Die meisies gee vinnig daar pad. Hulle ore brand behoorlik.
“Sjoe,” sê Muggie, “ek het nog nooit daardie woorde gehoor nie …”
Al Lynnekom se kinders vertel vir hul ouers van Karzo se wonderlike sirkus. Hulle wil almal Saterdagmiddag in die groot tent wees.
Saartjie wil die graagste die pragtige Marzyna se toertjies op haar wit perd sien. Apie wil weer die leeus sien. Hy wil sien wat daardie ou wat glo in die hok met die leeus gaan speel, doen as die leeus omgekrap raak!
“Julle kan Saterdagmiddag gaan,” sê hul ma, “as julle jul tot dan gedra en nie met mekaar stry nie. Verstaan?”
Saartjie en Apie knik ernstig kop. Hulle is mos altyd soet en hulle stry nooit eintlik nie … miskien net so af en toe oor iets kleins.
Die twee kyk ewe vroom na mekaar en glimlag vriendelik. Hulle gaan die volgende paar dae hul bes doen om hul ouers nie kwaad te maak nie. Hulle wil tog nie Karzo se beroemde sirkus misloop nie.
Vir Lynnekom se jongklomp gaan die dae te stadig verby. Die meeste van die grootmense gaan in die aande na die sirkus en almal meen dit is ’n puik vertoning, nie sommer ’n derderangse affêre nie. Die kinders praat en droom deesdae net van die sirkus.
Dit gaan goed met Saartjie en Apie. Hulle het nog nie een keer oor die tou getrap nie. Tot die Vrydagmiddag … die dag voor hulle sirkus toe wil gaan! Toe is daar groot moles.
Saartjie sit in haar kamer en lees. Dit is nie juis ’n interessante boek nie. Sy sit dit neer en staar dan by die venster uit.
Die Baumanns woon in ’n dubbelverdiepinghuis. Saartjie se kamer is bo. Bokant Lynnekom se huisdakke kan sy die hoogste punt van die groot sirkustent sien.
Sy wens dit is al die volgende middag sodat hulle sirkus toe kan gaan. Dit moet darem heerlik wees om soos daardie Marzyna te wees wat allerhande toertjies op ’n perd se rug kan doen en dan boonop regoor die wêreld rondreis.
Saartjie tuur vir ’n hele ruk by die venster uit. Daar is ’n glimlag om haar mondhoeke. Sy dink aan al die opwindende dinge wat sy by die sirkus gaan sien. Marzyna op die wit hings, die leeutemmer by die brullende leeus, die akrobate en die hansworse vir wie ’n mens jou glo doodlag. En dan is daar nog die blaasorkes en die sirkusreuk van die saagsels in die arena. Sy kan nie meer wag vir môremiddag nie!
En toe besluit Saartjie sy wil nie meer verder lees nie. Sy wil iets te ete in die spens gaan soek.
Lizzie, hul huishulp, is winkel toe, so dit behoort veilig te wees. Haar ma is in die stad en haar pa is by sy spreekkamer. Kris is seker by sy meisie en Apie by Bennie. Sy is alleen in die huis en sy is honger.
Saartjie hardloop vinnig by die trap af kombuis toe. Sy soek nou dringend kos.
Daar staan ’n fles ingemaakte perskes op die kombuistafel. Saartjie se mond water toe sy dit sien. Sy weet mos hoe heerlik haar ma vrugte inmaak.
Maar hoekom staan dié een enkele fles hier op die tafel? Saartjie wonder fronsend. Haar ma het ’n paar maande gelede vrugte ingelê en die flesse is op die hoogste rak in die spens weggepak. Wie het hierdie een daar afgehaal, en hoekom?
Saartjie tel die fles op en kyk na die pragtige perskes. Sê nou sy maak die fles oop en haal net die twee boonste perskes uit … Sal iemand dit agterkom? Sy weet haar ma is baie heilig op haar ingemaakte vrugte. ’n Mens mag nie eens sonder haar toestemming daarna kyk nie. Sy het selfs al pryse by die skou daarvoor gewen.
Saartjie is seker niemand sal agterkom as sy net die twee boonste perskes uithaal nie.
Sy staan ’n oomblik doodstil en luister of sy nie iemand hoor aankom nie. Dit sal vreeslik wees as Lizzie – wat so gesteld daarop is dat die kinders nooit in háár kombuis mag kom nie – hier moet inloop net wanneer sy die fles oopmaak. Of sê nou haar ma betrap haar! Nee, daaraan wil sy liewer nie eens dink nie.
Sy hoor niemand nie. Sy sit ’n bordjie en ’n vurk reg. Die vurk is om die twee boonste perskes mee uit te haal en die ander perskes dan so ’n bietjie op te druk sodat die fles nie te leeg lyk nie.
Alles is gereed. Saartjie neem ’n vadoek en begin die fles se groot prop losdraai.
Sy kreun en steun, maar die prop roer nie. Sy bekyk die fles en vee onwillekeurig met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. Dan verskyn twee kuiltjies in haar wange soos sy glimlag. Sy het ’n plan!
Sy neem die fles kraan toe en laat warm water oor die prop loop. Na ’n rukkie takel sy dit weer.
Haar gesig straal en haar oë vonkel. Sy voel hoe die prop begin draai.
Die fles is oop! Saartjie lek haar lippe af. Hmmmm … dit lyk heerlik!
Sy steek die vurk in die boonste perske en haal dit versigtig uit. Sy wil dit net op die bordjie neersit toe sy verstar. Die kombuisdeur het oopgegaan.
“Haai!” kom Apie se stem. “Wat doen jy?”
Saartjie swaai vinnig om. Haar boetie se oë is op skrefies en hy loer agterdogtig na haar. Sy tong speel deur die opening waar sy twee voortande eers was. Sy hele houding sê: Ek hét jou! Jy’s op heter daad betrap!
Saartjie grinnik kastig ongeërg. “Ek vat sommer vir my ’n persketjie …”
“Weet Ma daarvan?” Apie gluur haar aan.
Saartjie sluk. Dit help nie om doekies om te draai nie. Sy moet Apie aandadig aan hierdie misdaad maak. Dan kan hy haar mos nie verklik nie!
“Wil jy nie ook ’n perske hê nie?” vra sy vriendelik.
Apie staan nader.
“Jy’t my nog nie geantwoord nie,” sis hy. “Weet Ma hiervan?”
“Nee,” sê Saartjie en kyk reguit na Apie. “En sy sal ook nooit hiervan weet nie. Ek gaan net twee perskes vat. Niemand sal hulle mis nie!” Dan vra sy vriendelik: “Wil jy een hê?”
Apie sal nogal glad nie omgee nie, maar wat gaan gebeur as Ma uitvind? Dis wat hy eers wil weet.
“Jy weet mos hoe erg is Ma oor haar ingelegde vrugte. Hoe het jy die fles van daai hoë rak af gekry?” vra Apie.
Saartjie verduidelik dat die fles op die kombuistafel gestaan het.
“Hoekom?” wil haar boetie weet, maar Saartjie het nie vir hom ’n antwoord nie.
Apie dink ’n oomblik hieroor na, maar besluit dan dit is nie nou die tyd om hom oor iets so onbelangriks te verknies nie. Die perskes lyk te lekker. Hy kan nie nee sê nie.
Saartjie en Apie eet heerlik. Hulle lek selfs die lekker stroop van hulle vingers af.
Wanneer hulle klaar geëet het, kyk hulle aandagtig na die fles.
Saartjie het al probeer om die ander perskes met die vurk hoër op te lig, maar die goed val weer terug. Die fles is duidelik nie meer vol nie.
“Ek het jou gesê.” Apie skud sy kop. “Ma gaan dadelik sien daar’s van hulle weg.”
Saartjie wil hom invlieg, maar sy bedink haar. Hulle twee moenie nou baklei nie. Hulle moet saamstaan.
“Weet jy wat dink ek?” vra Apie peinsend.
Nee, sy weet nie wat hy dink nie, maar sy sal nogal graag wil weet.
“Ons is tog nou klaar in die moeilikheid. Ons kan maar net sowel elkeen nóg ’n perske vat.”
Saartjie is baie lus vir nog ’n perske. Sy kan ook nie sien hoe hulle die fles weer vol kan kry nie. As dit nog ’n bietjie leër is, sal dit tog nie eintlik ’n verskil maak nie. Sy besluit om te maak soos haar boetie voorgestel het.
“Onthou net,” waarsku sy terwyl sy uitskep, “as Mamma hiervan uitvind, is ons in die moeilikheid.”
Apie antwoord nie. Hy kyk net stip na die perskes wat sy uithaal om seker te maak sy vat nie die grootste een nie. Maar albei lyk ewe groot en hy is tevrede.
Elkeen se tweede perske word ook smaaklik verorber.
Die vier groot perskes wat uitgehaal is, veroorsaak dat die fles nou net halfvol is.
En toe, terwyl Saartjie nog ’n bietjie stroop tussen hulle twee deel, dink sy skielik aan die sirkus!
“Weet jy wat?” vra sy beangs vir haar boetie.
Nee, hy weet nie. Apie slurp die laaste druppel stroop van sy bordjie af op.
“Mamma het gesê as ons iets verkeerd doen, gaan ons nie sirkus toe nie.”
Apie se oë is nou ook groot.
“Jy bedoel,” sê hy, “ek sal nie die dingese – die leeus – sien nie?”
Ja-nee, dis wat Saartjie bedoel. Maar sy glo darem nie hul ma sal só kwaad oor haar ingelegte perskes wees dat sy hulle gaan belet om sirkus toe te gaan nie. Nogtans, dit sal beter wees as hulle alle tekens van hul oortreding kan verwyder.
Apie protesteer vir die vale. Hy sou nooit eens een happie perske gevat het as hy gedink het dit kan veroorsaak dat hy nie gaan sien hoe die briesende leeus die leeutemmer se gal vir hom werk nie.
“Wag,” sê Saartjie en hou haar hand op vir stilte. “Ek probeer aan ’n plan dink!”
Apie wag. Hy loer na die perskes wat nog in die fles oorbly.
Saartjie byt op haar onderlip en dan verhelder haar hele gesig soos wat sy glimlag. Sy hét ’n plan.
“Luister mooi,” fluister sy en Apie is die ene ore.
“Ons moet hierdie perskes in die fles óók opeet.”
Apie glimlag en vryf sy hande ingenome. Tot sover stem hy honderd persent met Saartjie se voorstel saam.
“Dan steek ons die leë fles iewers weg,” sê sy, “en jy help my opklim na daai rak in die spens en dan haal ek ’n ander fles perskes af en ons sit dit hier neer. As Mamma dan ooit uitvind daar is ’n fles weg, was ons al lankal by die sirkus gewees.”
“Jissie, Saartjie!” sê Apie opgewonde. “Jy’t het ’n kop duisend op jou skouers. Kom ons begin eet!”
Die ingelegde perskes en die stroop word uitgehaal en dan verdeel Saartjie dit presies tussen hulle twee. Hulle eet smaaklik. Die laaste helfte van die laaste perske gaan moeilik af – maar dit moet! Hulle kan nie nou daarmee mors nie.
Wanneer hulle klaar geëet het, tik Apie met sy vingers op sy maag en sê behaaglik: “Ek voel of ek kan bars.”
Saartjie kyk vies na hom. Sy wil vra of hy nie maniere het nie, maar besluit dan om dit liewer nie te doen nie. Hulle twee moenie nou stry kry nie. Hulle moet saamstaan.
“Gaan steek jy die fles gou iewers in die tuin weg,” sê Saartjie.
Apie beweeg daarmee by die agterdeur uit. Saartjie gaan spens toe en kyk na die boonste rak. Daar is ’n hele klomp flesse met ingemaakte perskes.
Sy gaan haal ’n stoel in die kombuis en klim daarop. Sy staan op haar tone en rek tot haar volle lengte uit. Haar vingerppunte raak net-net aan die rak, so sy kan nie die flesse agterop bykom nie.
Apie kom terug en sê hy het die fles só diep begrawe dat niemand dit ooit weer sal kry nie.
“Hou gou vir my die stoel vas,” sê Saartjie.
Hy maak so en sy klouter op die stoel se rugkant. Sy staan op die smal dwarsplankie en haal ’n fles af.
“Hou vas, Apie.”
Saartjie klim versigtig af met die fles in haar hand.
Sy onthou die fles wat op die kombuistafel gestaan het, het nie stof op gehad het nie. Sy vee hierdie een se stof vinnig af en sit dit op presies dieselfde plek waar die ander een gestaan het.
Apie bring die stoel terug kombuis toe en Saartjie was gou die taai stroop van die bordjies en lepels af. Alles word netjies weggepak.
“So ja,” sê sy. “Nou sal hulle niks agterkom nie. Onthou, Apie, jy sê vir niemand ’n woord hiervan nie!”
“Dink jy ek’s mal?” sê hy. “Ek wil die leeus gaan sien!”
Die twee hoor Lizzie die huishulp langs die huis en glip vinnig by die kombuis uit. Hulle het heerlik geëet, maar gans te veel. Saartjie voel glad nie lekker nie.
Dié aand aan tafel eet sy en Apie feitlik niks nie.
“Wat is dit met julle twee?” vra hul pa.
“Ek weet nie, Pappa,” sê Saartjie. “Ek is net nie eintlik honger nie.”
Apie sê hy weet ook nie wat dit is nie, maar hy is ook nie eintlik honger nie.
Ná ete sit Saartjie en Apie by die tafel en huiswerk doen. Hul ma het gesê hulle kan net sirkus toe gaan as hulle dit vanaand al klaarmaak.
Apie het geprotesteer dat hy nie huiswerk het nie, toe sê sy ma hy moet dan leer. Nou probeer hy dit met ’n suur gesig doen.
Hul ma sit en brei. Hul pa rook sy pyp en lees koerant.
“Môre gaan ek hulle wys,” sê mevrou Baumann skielik met ’n glimlag.
“Wie gaan jy wát wys, Martha?” vra haar man. Saartjie en Apie luister ook.
“Ons hou môreoggend ’n huisvlytkompetisie in die kerksaal. Ek wen altyd die eerste prys met my ingemaakte vrugte, maar nou sê hulle daar is ’n tannie van die Vrystaat wat hier in Lynnekom kuier wat ook ingeskryf het – en sy het kwansuis al meer eerste pryse as ek ingepalm!”
“Kompetisie hou ’n mens op jou tone,” sê haar man glimlaggend.
Die twee kinders luister nou aandagtig.
“Presies,” sê hul ma. “So ek het my flesse ingemaakte perskes vanoggend deeglik ondersoek. Daar is met elkeen so ’n ietsie verkeerd. Behalwe een! Dié een is perfek! En met dié fles perskes gaan ek daardie tannie uitstof.”
Saartjie en Apie kyk na mekaar. Hul oë is groot. Die ingemaakte perskes waarmee hul ma môre die eerste prys wil gaan losslaan, is in hul mae!
Verslae kyk Apie na Saartjie. Sy moet die leiding gee. Maar wat op aarde moet sy doen? Sê nou haar ma kom op pad kerksaal toe agter dit is nie meer die “perfekte” fles perskes nie, maar een waarmee daar “so ’n ietsie” verkeerd is? En sê nou sy kom dit nié agter nie? Dan het sy mos nie ’n kans om daardie Vrystaatse tannie te wen nie!
Kophou, sê Saartjie vir haarself en vee onwillekeurig ’n krul van haar voorkop af weg. Sy moet dink – baie mooi en baie diep dink!