Читать книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé - Страница 12

4
Die straf

Оглавление

Apie speel met sy tong deur die opening waar sy voortande eens op ’n tyd was. Sy kop is op ’n plooi. Hy is ook besig om ernstig te dink.

“Abraham!” sê sy ma kwaai toe sy van haar breiwerk af opkyk.

“Skuus, Ma,” sug Apie. Sy ma hou niks van hierdie gewoonte nie en berispe hom gereeld as hy dit doen.

Hul ouers besluit om ’n bietjie in die tuin te gaan stap. Saartjie en Apie is nou alleen in die sitkamer.

“Sien jy,” sis die seun, “ek het jou gesê Ma gaan uitvind!”

“Jy’t nooit niks gesê nie!” snou Saartjie hom toe. “Jy’t net weggelê aan die perskes.”

“Ek was nie rêrig lus vir die goed nie,” sê Apie nou. “Jy’t my gevra om saam te eet en toe doen ek dit maar …”

“Dit help nie ons stry nou nie,” sê Saartjie ferm. “Ons is saam in die moeilikheid, so ons moet saamstaan.”

Apie besef sy is reg. Dit sal vreeslik wees as hy gestraf moet word en nie die leeutemmer en sy leeus in aksie kan sien nie. As dit moet gebeur, sal hy sommer wegloop, of iets!

“Die groot vraag is,” sê Saartjie peinsend, “moet ons vir Mamma sê die fles wat nou daar op die kombuistafel staan, is nie meer die perfekte een nie, of moet ons stilbly?”

“Ons bly stil!” sê Apie vinnig. “Ek is nie ’n ou wat sommer loop en moeilikheid soek nie. Miskien kom Ma niks agter nie, dan is ons koppe deur en ons kan sirkus toe gaan!”

“Ja, maar as Mamma die fles waarmee ‘so ’n ietsie’ verkeerd is vat, gaan daai tannie van die Vrystaat haar wen, en dit sal vreeslik wees!” sê Saartjie lojaal.

Apie voel ook nie te lekker as hy hieraan dink nie, maar hy is seker hul ma maak só goed perskes in dat al ís daar ook “so ’n ietsie” fout daarmee sal sy nog steeds die eerste prys wen!

Saartjie hoop maar dit gaan die geval wees. Die twee besluit om liewer nie ’n woord te rep nie, want soos Apie sê: “Dis net moeilikheid soek.”

Dié aand voel Saartjie glad nie lekker oor die hele affêre nie. Sy weet mos hoe bitter teleurgesteld haar ma sal wees as sy nie soos gewoonlik wen nie.

Sy begin selfs hoop haar ma moet maar eerder uitvind dit is nie meer dieselfde fles ingemaakte perskes nie. Dan sal hulle met die waarheid uitkom. Dit sal miskien die beste wees.

Saartjie slaap onrustig. Apie het ook nie ’n wonderlike nag nie. Hy het aanhoudend pyn op sy maag.

Uiteindelik breek die dag waarna Lynnekom se kinders so uitgesien het aan. Hulle gaan vanmiddag na Karzo se wêreldberoemde sirkus toe!

Toe Saartjie in die kombuis kom, sien sy haar ma het die bottel perskes in ’n sak gesit. Sy weet nie of sy moet bly of jammer voel dat haar ma nie agtergekom het dit is nie meer die bottel wat sy spesiaal uitgesoek het nie.

Aan die ontbyttafel praat Apie onophoudelik van die sirkus wat hulle die middag gaan sien. Sy maag voel beter en hy is nou honger.

“Wat het jy dan gister geëet dat jy verlede nag so sleg gevoel het, seun?” vra sy ma.

Apie kyk vlugtig na Saartjie en dan mompel hy: “Ag, Ma, ek kan nie onthou nie … Seker sommer goete wat nie lekker met my akkordeer nie, Ma weet …”

Toe haar ma kerksaal toe stap vir die kompetisie sê Saartjie: “Ek hoop Mamma wen die eerste prys.”

Sy hoop regtig so. As haar ma die eerste prys wen, sal haar gewete haar nie meer so pla nie. Sy voel baie sleg oor die hele affêre!

“Dankie, ek is seker ek sal,” sê haar ma vol selfvertroue.

Saartjie voel aaklig. As haar ma nie wen nie sal dit haar en Apie se skuld wees.

Sy voel amper lus om agter haar ma aan te hardloop en haar alles te vertel, maar sy sien hoe Apie haar aangluur. Hy meen hul ma sal die tannie van die Vrystaat in elk geval nog wen. Saartjie hoop maar net Apie is reg.

Sy dwaal ’n ruk lank doelloos in die huis rond en besluit dan om ’n bietjie na Anna toe te gaan.

Anna praat opgewonde oor die sirkus.

“Dit gaan groot pret wees!” sê sy.

“Ja,” stem Saartjie saam, maar sy sug swaar.

Hulle spreek af dat Anna en Lina haar sal kom haal sodat die Drie Muskiete saam sirkus toe kan stap. Saartjie sê niks vir Anna nie, maar sy hoop alles werk reg uit en dat sy wel sirkus toe kan gaan.

Saartjie dink haar ma behoort binnekort terug te wees en gaan weer huis toe.

Daar kry sy haar pa wat vroeg die oggend al weg is om operasies te doen en nou vroeër terug is. Hy sit en lees koerant.

Kris is ook in die sitkamer. Hy wag natuurlik vir tee. Apie is seker in sy kamer besig om strokiesprente te lees.

“Hoe lyk dit met ’n bietjie tee, Saartjie?” vra haar pa. “Mamma is nog nie terug nie en Lizzie is ook nie hier nie.”

“Seker, Pappa,” sê Saartjie en stap kombuis toe.

Net toe sy by die kombuis inloop, hoor sy die voordeur oopgaan. Dit is haar ma. Sy gaan vinnig terug sitkamer toe.

Saartjie se hart sak in haar skoene toe sy haar ma sien.

“Wat makeer, Martha?” vra dokter Jan. Hy kan sien daar skort iets.

“Ek het nie gewen nie.” Sy vrou val moedeloos op ’n stoel neer. “My ingemaakte perskes het nie eens ’n derde plek gekry nie!”

Apie is nou ook in die sitkamer. Hy kyk met groot oë na Saartjie.

“Die tannie van die Vrystaat het maklik gewen,” sê hul ma en voeg peinsend by: “Ek kan dit nie verstaan nie. Maar ek sal vanmiddag sien wat verkeerd is, sodra hulle ons inskrywings teruggee.”

Saartjie en Apie besef albei as hul ma dán uitvind die beoordelaars het die verkeerde fles beetgehad dit te laat sal wees om hulle te belet om sirkus toe te gaan. Hulle sal dan al klaar daar wees.

“Gaan maak vir ons tee, Saartjie,” sê haar ma. “Ek voel heeltemal verslae.”

Die meisie maak haar vinnig uit die voete. Dokter Baumann probeer sy vrou troos deur te sê dat die beoordelaars miskien ’n fout gemaak het.

“Moet wees,” sê sy en sug.

Apie voel ongemaklik. Hy voel klein op die groot rusbank. Hy kyk by die venster uit en probeer ongeërg lyk. Dit voel heeltyd of sy ma hom dophou.

“Hulle het beslis ’n fout gemaak,” sê Martha Baumann sag net toe Saartjie met die teegoed inkom. Haar hart begin dadelik vinnig klop.

“Ek is ’n kenner op die gebied van ingelegde perskes,” sê haar ma. “Ek het al hoeveel pryse gewen en self ook al as beoordelaar opgetree. Ek weet daardie fles perskes was perfek. Daar was niks mee verkeerd nie. Hulle het ’n fout begaan!”

“Hoe ’n soort fout, Ma?” vra Kris.

“Hulle moes die verkeerde fles beoordeel het. Ek is seker die naamkaartjies het deurmekaar geraak en iemand anders het ’n prys losgeslaan – met mý ingemaakte perskes!”

Almal dink hieroor na. Saartjie skink vir die gesin tee, maar haar hande bewe effens.

“As dit enige van die ander flesse in die spens was,” sê haar ma skielik asof sy met haarself praat, “kon ek verstaan dat ek nie ’n prys gekry het nie, want daar was met elkeen so ’n ietsie verkeerd …”

“Het Ma nie miskien ’n fout gemaak en die verkeerde fles kerksaal toe gevat nie?” vra Kris.

“Nee, ek het die perfekte een gekies en dit op die kombuistafel neergesit. Die ander het almal op die rak in die spens gebly. Die fles het vanoggend nog net so daar op die tafel gestaan waar ek dit neergesit het.”

“Het jy gekyk of dit nog dieselfde fles was?” vra haar man.

“Nee, ek was te haastig. Ek was laat, toe sit ek dit in ’n kardoessak en maak dat ek by die kerksaal kom.”

“So dit kón ’n ander fles gewees het,” sê Kris en kyk ondersoekend na Apie. “Iemand kon die fles perfekte perskes gevat en ’n ander fles uit die spens daar neergesit het.”

“Seker, ja,” sê mevrou Baumann, “maar wie sou so iets doen – en hoekom?”

Klein en ineengekrimp sit Saartjie en Apie op die groot rusbank. Hulle probeer hul bes om ongeërg en onskuldig te lyk.

Hoe langer Kris na Apie kyk, hoe breër glimlag hy.

“Wat’s dit met jou?” brom sy boetie uiteindelik. “Lyk ek vir jou soos ’n hanswors, of wat?”

“Lekker astrant, nè?” sê Kris geamuseerd.

Die ouers kyk ook na Apie. Hulle dink duidelik nou ook dat indien die perfekte fles perskes omgeruil is vir een wat nie so goed was nie, Apie dit gedoen het. Maar hoekom sou hy so iets aangevang het? Hy kon tog nie ’n volle fles ingemaakte perskes alléén opgeëet het nie.

Kris en die ouers beskou Saartjie nou aandagtig.

Sy beantwoord hul kyk met ’n onskuldige gesiggie. ’n Engelkransie is al wat sy nou nog kortkom.

Apie trek aan haar arm en fluister: “Moet niks erken nie. Hulle het nie bewyse nie!”

“Wat fluister jy, Apie?” vra dokter Baumann kwaai, want hy het ’n idee wat gebeur het.

“Sommer net vir Saartjie iets gesê, Pa,” mompel die seun.

Die stilte in die sitkamer is onheilspellend. Die ouers en Kris se oë bly stip op Saartjie en Apie gerig. Die twee probeer die koue blikke tevergeefs ontwyk.

Hul pa loods die aanval op hulle.

“Saartjie en Apie,” sê hy, “weet julle iets van die fles perskes wat op die kombuistafel gestaan het?”

Die twee knik. Ja-nee, hulle kan dit nie ontken nie. Hulle het die fles daar gesien.

“Julle’t dit gesien – en toe gevat,” sê Kris vinnig. “En later ’n ander fles daar gaan neersit!”

“Wie praat met jou?” Apie gluur sy ouer broer aan.

“Abraham,” sê sy ma en sy lyk bleek, “het jy daardie fles met ingelegde perskes gevat en toe ’n ander een daar neergesit?”

Dit is ’n reguit vraag en dit is duidelik dat sy ’n reguit antwoord wil hê.

Apie kyk na Saartjie. Sy moet help. Sy is mos die een wat die fles eerste oopgemaak het.

Saartjie byt op haar onderlip. Sy sal maar net alles moet erken. Dit help nie sy probeer haar hieruit wikkel nie.

“Dit was eintlik nie Apie nie, Mamma,” sê sy eerlik. “Ons het die perskes saam geëet, maar ek het die fles eerste oopgemaak.”

“Ek kan dit nie glo nie!” kreun hul ma verslae. “Julle het sowaar my beste perskes waarmee ek die eerste prys wou wen, opgeëet!”

“Ons het nie geweet dis waarvoor die perskes bedoel was nie, Mamma,” sê Saartjie sag. “As ons dit geweet het, sou ons hulle nooit geëet het nie.”

“Kon julle nie dink daar was ’n rede hoekom die fles op die tafel staan nie?” Mevrou Baumann klink nou kwaad.

Die meisie sê hulle het nogal daaroor gewonder, maar toe het hulle besluit dis seker maar net ’n gelukskootjie …

“En toe eet julle dit?” vra haar ma met ’n stem wat nou so koud soos die koudste windjie van die Suidpool af is.

“Ja, Mamma,” sê Saartjie skor. “Toe eet ons dit maar.”

Apie knik om te wys hy stem saam met sy suster. Hy probeer ook wys dat hy baie spyt daaroor is. Hy maak klikgeluidjies met sy tong en staar droewig voor hom uit.

Saartjie vertel nou presies wat gebeur het: hoe sy honger was en toe die fles ingemaakte perskes daar op die kombuistafel gesien en gedink het sy sal net so enetjie, of miskien tweetjies, vir haar vat. Maar net toe sy die fles oopmaak, het Apie daar aangekom en toe het sy vir hom ook ’n perske gegee …

“Ek was nie eintlik lus daarvoor nie, Ma weet,” sê Apie met ’n onskuldige gesig. “Ek het maar net enetjie gevat omdat ek nie ondankbaar wou wees nie, Ma weet …”

Saartjie vertel nou vinnig hoe hulle daarna besef het enigeen sal kan sien daar is van die perskes uitgehaal en toe besluit het hulle moet dit maar alles moet opeet en ’n ander fles daar neersit. Hulle het mos nie geweet waarvoor die fles bedoel was nie.

Hul ma lyk diep teleurgesteld. Sy kyk na haar man. Hy sê niks nie, maar kyk kwaai na Saartjie en Apie. Hy laat die strafwerk aan sy vrou oor.

“Sover ek onthou,” sê die ma, “het ek gesê julle kan vanmiddag sirkus toe gaan, maar net as julle nie enige kattekwaad aangevang het nie.”

Met kloppende harte sit Saartjie en Apie en luister. Hulle het so vreeslik na die sirkus uitgesien en nou lyk dit sowaar of hul ma hulle wil belet om te gaan!

“Julle bly vanmiddag by die huis,” sê mevrou Baumann streng. “Julle gaan nié sirkus toe nie.” Sy gooi haar kop effens agteroor en begin verder brei.

Saartjie staar mismoedig voor haar uit. As haar ma haar kop so teruggooi wanneer sy iets sê, dan bedoel sy dit. Haar hart sal nie maklik versag nie.

Apie is verslae. Hy het só lank gewag, gedink en gedroom oor die leeus en die leeutemmer, en nou gaan hy nie die sirkus sien nie! Hoekom het hy vir Saartjie daar in die kombuis raakgeloop? As sy nie daar was nie, sou hy nooit daaraan gedink het om die fles perskes oop te maak nie. Dis alles haar skuld!

Hy gluur sy suster aan en maak sisgeluide deur die opening waar sy voortande was.

Mevrou Baumann sit en brei. Kris kyk na die twee op die rusbank. Hy kry hulle nogal jammer. Hy weet mos hoe graag hulle sirkus toe wil gaan.

Dokter Jan lees sy koerant, maar hy kan glad nie daarop konsentreer nie. Hy kry Saartjie en Apie ook jammer. Miskien was sy vrou ’n bietjie te kwaai met die straf wat sy uitgedeel het, maar hy kan niks daaraan doen nie. Hy en sy vrou weerspreek mekaar nooit voor die kinders nie.

Saartjie is hewig ontsteld. Sy gaan nie daardie liefling van die wêreld – die pragtige Marzyna – op haar wit perd sien nie. Dit is verskriklik. Sy kan dit nie glo nie.

Sy probeer so pateties moontlik lyk. Sy wil hê haar ma moet hulle jammer kry en tog maar sirkus toe laat gaan. Sy gee elke nou en dan ’n swaar sug en loer dan vinnig om te sien of dit enige indruk op haar ma maak.

Dit lyk nie so nie.

Saartjie besluit dit sal nie help om die hele tyd net so te sit en sug nie. Sy moet iets doen. Sy moet baie mooi om verskoning vra. Miskien sal haar ma hulle dan genadig wees.

“Mamma,” sê Saartjie en glimlag weemoedig soos iemand wat die hele wêreld se probleme op haar skouers dra. Langs haar probeer Apie ook sy bes om soos ’n martelaar te lyk.

“Ja?” Hul ma kyk nie eens op nie. Sy hou net aan met brei.

“Mamma, ons is vreeslik jammer. Ons sal nooit weer so iets doen nie,” sê Saartjie sedig.

“Nooit, ooit weer nie, Ma,” beaam Apie. Hy kyk hoopvol na sy ma.

Maar sy antwoord hom nie.

“Sê Ma dan niks nie?” wil Apie ná ’n rukkie weet.

“Daar is nie veel om te sê nie,” kom sy ma se stem sag. “Ek aanvaar julle verskoning. Kom ons vergeet nou van die hele affêre.”

“En die sirkus, Mamma?” vra Saartjie versigtig. “Kan ons nou maar gaan?”

“Natuurlik nie,” sê haar ma beslis. “Julle straf is dat julle nie sirkus toe mag gaan nie!”

Dokter Baumann kyk oor die koerant na sy vrou. Kris sê: “Dink Ma nie die twee kan maar gaan en …”

“Ek wil niks verder hoor nie,” sê sy ma en Kris is ook tjoepstil.

Saartjie gee egter nie moed op nie. Sy glo daar is nog ’n moontlikheid dat hul ma op die nippertjie sal besluit hulle kan maar sirkus toe gaan en draai die res van die oggend gedurig om haar rond om te sien of haar bui nog nie beter is nie.

Apie sit in sy kamer en lees strokiesprente, maar hy kan nie vandag op Superman se avonture konsentreer nie.

Hy gaan sowaar nie die sirkus sien nie! En hy het eintlik niks verkeerd gedoen nie. Saartjie het alles begin en hom toe daarby ingesleep. Dis onregverdig. Hy moet iets doen. Hy stap by die trap af. Hy gaan sy ma nog een kans gee!

Apie tref die gesin in die eetlamer aan. Sy ma is besig om tafel te dek en Saartjie help haar ewe fluks. Sy pa lees ’n boek en Kris staar sommer by die venster uit.

“Ma,” sê die seun.

“Ja, Apie?” Sy ma gaan sit in ’n leunstoel en tel weer haar breiwerk op.

“Ek sal Ma nog een kans gee,” sê hy vinnig voor sy moed hom begewe. “Gaan Ma ons sirkus toe laat gaan, of nie?”

“Ek het gesê julle gaan nié, Abraham! Dit help nie om weer met my daaroor te praat nie!”

“Goed!” sê hy hardop en brom dan onderlangs dat dit net hier is waar hy gaan wegloop. Hy gaan die wye wêreld in. Apie storm by die vertrek uit en hardloop met die trap op na sy kamer toe. Hy gaan inpak!

Daar speel ’n glimlag om dokter Baumann se mondhoeke. Sy vrou sukkel ook om haar lag te bedwing, maar sy gaan beslis nie toegee nie.

Saartjie sit nog ’n paar dingetjies op die tafel reg. Dan sê sy: “Ek’s klaar, Mamma. Is daar nog iets wat ek kan doen?”

“Nee, dankie, Saartjie,” sê haar ma.

“Wat het oor jou lewer geloop dat jy Ma vandag so fluks help?” vra Kris glimlaggend. Hy weet natuurlik goed dit is omdat Saartjie hoop hul ma sal swig en instem dat hulle maar sirkus toe kan gaan.

“Ek is altyd fluks,” sê Saartjie kil en vee ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy het nog nie vergeet dat Kris die eerste een was wat daaraan gedink het dat hul ma dalk die verkeerde fles perskes kerksaal toe gevat het nie.

Hulle hoor Apie by die trap afgestrompel kom.

“Hy het gou ingepak,” sê dokter Baumann geamuseerd.

Apie kom by die sitkamer in. ’n Vuil kussingsloop wat hy uit die wasgoedmandjie gehaal het, hang oor sy skouers. Al sy besittings is daarin.

Sy pa en ma, Kris en Saartjie kyk almal na die koddige agtjarige knapie. Nie een sê ’n woord nie, Apie ook nie. Hy wag dat hulle moet vra waarheen hy gaan. Dis mos niks minder as ordentlik nie.

“Gaan julle my niks vra nie?” por hy aan toe die stilte ondraaglik word.

“Wat moet ons jou vra?” Saartjie kry Apie jammer. Hy het nie soveel skuld soos sy aan hierdie storie nie.

“Julle moet my vra waarheen ek gaan!”

Sy ma sien die seun is baie gekrenk dat hulle hom nie eens so ’n eenvoudige vragie vra nie.

“Waarheen gaan jy, Apie?” vra sy en kyk op van haar breiwerk af.

Apie is bly dit is sy ma wat hierdie vraag vra.

“Ek voel hier’s nie meer plek vir my nie, Ma,” sê hy en sug swaar. “Ek het besluit ek gaan weg – China toe.”

Hy loer op om te sien watter indruk hierdie woorde op sy ma maak, maar hulle het nie die gewenste uitwerking nie.

“As jy so voel, Apie, kan jy Timboektoe toe ook gaan – solank jy net nie sirkus toe gaan nie!”

“Ma weet mos ek kan nie sirkus toe gaan nie – al wil ek ook – want ek het nie geld nie! En ek gaan ook nie Tim- … Tim-dinges toe nie. Ek gaan China toe!”

Apie stap vasberade deur toe. Dan gaan staan hy en draai vir oulaas om.

Nee, niemand het enigiets meer te sê nie. Dokter Baumann sit met sy boek voor hom en skud soos hy homself probeer bedwing om nie hardop te lag nie. Kris het ’n breë glimlag op sy gesig. Sy ma byt op haar onderlip en brei verbete verder. Saartjie sit en wonder of sy nie saam met hom China toe moet gaan nie.

“Nou ja,” sê Apie dapper, “as julle nie omgee nie, dan loop ek maar.”

Nee, blykbaar gee hulle nie om nie.

Die seun stap brommend weg. Hulle hoor hom mompel dat hy miskien … indien hy so voel … vir hulle ’n brief uit China sal skryf …

Toe Apie weg is, bars dokter Baumann en Kris uit van die lag. Mevrou Baumann lag saam. Saartjie lag ook, maar nie so hartlik nie.

“Sê nou hy loop regtig weg China toe?” sê haar ma.

“Hy sal nie verder as die tuinhekkie kom nie,” sê haar pa. “Ek het gesien hoe kyk hy na die gedekte tafel en wikkel sy neus toe hy die kos uit die kombuis ruik. Ek sê vir julle – vóór ons nog vir ete aansit, is Apie terug.”

Saartjie voel skuldig teenoor Apie. Hy het nie een keer gesê sý is vir sy moeilikheid verantwoordelik nie. Hy het wel vies na haar gestaar en sisgeluide gemaak, maar hy het nie direk gesê dat sy hom aangepor het om van die perskes te eet nie.

Ja-nee, Apie het hom nogal dapper gedra. Sy wonder hoe ver hy nou al op pad China toe is.

Lizzie kom sê die kos is gereed. Mevrou Baumann gaan kombuis toe om dit saam met haar in te dra.

“Wil Mamma hê ek moet help?” vra Saartjie en glimlag vriendelik.

“Nee, dankie.”

Saartjie sug. Dit lyk of al haar fluksheid en ywerigheid vanoggend nie veel gehelp het nie. Ma’s is darem maar snaakse goed. Haar ma is die liefste en gaafste mens in die hele wêreld, maar sy kan ook so kil en vasberade wees wanneer sy straf uitdeel.

Nadat dokter Baumann ’n tafelgebed gedoen het, begin sy vrou opskep.

“Ek sal Apie se kos maar in die lou-oond hou,” sê sy.

Haar woorde is skaars koud, toe hoor hulle die voordeur oopgaan. Dit is Apie wat van sy swerftog af terugkeer.

Hy kom die eetkamer binne en sit die kussingsloop met sy besittings in die hoek neer.

“Het Ma al van plan verander oor die sirkus-dinges?”

“Ek het gesê ek wil nie weer daaroor praat nie,” sê sy. “Julle gaan nie, en klaar.”

Apie kyk na sy bondeltjie goed op die vloer – en dan na die heerlike kos op die tafel.

“En toe?” vra Kris. “Hoe gaan dit in China?”

“Probeer jy snaaks wees?” Apie gluur sy ouer broer aan.

“Kom eet,” sê sy ma en haar stem is sag.

Die seun kyk weer na sy bondeltjie en dan weer na die kos.

“Ek sal so ’n stukkie eet, maar ek’s nie eintlik honger nie, Ma weet.”

Apie kom sit en val weg. Hy eet lustig en vertel vir hulle hy het besluit om sy reis China toe uit te stel. Dis te laat in die dag om nou te wil gaan. Wanneer hy eendag vertrek, sal hy sommer al drie-uur in die oggend moet opstaan!

Dit is ná ete en al kwart voor twee. Karzo se wêreldberoemde sirkus gaan halfdrie begin om al hul “wonderlike goete” soos Apie dit noem, vir Lynnekom se kinders te wys.

Die Baumann-gesin sit in die sitkamer. Die atmosfeer is gespanne.

Mevrou Baumann brei weer soos voorheen. Haar man probeer weer sy boek lees. Kris probeer leer. Saartjie en Apie staar na die groot muurhorlosie. Hoekom loop hy vandag so ekstra vinnig? Al wat die stilte verbreek, is hul swaar sugte. Saartjie begin … dan sug Apie … en dan is dit weer haar beurt …

Vyf voor twee klop iemand aan die voordeur en hulle hoor opgewekte meisiestemme.

“Dis Anna en Lina en Muggie, Mamma,” sê Saartjie hoopvol. “Hulle kom my haal om sirkus toe te gaan.”

“Dan moet jy maar vir hulle sê jy gaan nie meer saam nie.”

“Bedoel Mamma dit?”

“Natuurlik.”

Saartjie is bleek. Sy het gehoop haar ma sal reg op die einde kopgee.

Dokter Baumann kyk verwytend na sy vrou. Dan probeer hy maar weer lees.

Saartjie stap traag voordeur toe.

Hulle hoor uit die sitkamer hoe Anna en Lina haar opgewonde groet. Muggie se skril stemmetjie sê: “Kom, Saartjie, wat’s dit met jou? Ons is laat!”

Saartjie vertel vir haar maats dat sy nie kan gaan nie omdat sy gestraf is. Hulle kan dit nie glo nie. Sy ook nie.

“Wag net,” sê sy. “Ek gaan gou weer vra.”

’n Paar oomblikke later staan Saartjie pleitend voor haar ma.

“Mamma …”

“Nee, Saartjie.” Martha Baumann se breinaalde flits vinnig.

Die meisie gaan groet haar maats en maak die voordeur agter hulle toe. Dan kom sy terug sitkamer toe. Sy kyk na niemand nie. Haar oë blink.

Dit is ’n aaklige straf om die hele tyd so op hete kole hier te sit en wonder of hul ma hulle miskien tóg nog sal vergewe en sirkus toe sal laat gaan. Saartjie het nou nie meer veel hoop oor nie …

Apie se oë is nog steeds strak op die muurhorlosie gerig. Dit is nou al sewe minute oor twee. As sy ma hulle wil vergewe en sê hulle kan maar gaan, sal sy nou moet opskud. Dit word baie laat.

“Apie!” hoor hulle skielik ’n klomp seuns by die voorhekkie skree. Hy spring op en kyk deur die venster. Dit is Galpil, Gert, Piet en Bennie.

Hy waai vir hulle en draai om en sê: “Hulle kom my haal vir die sirkus, Ma.”

Maar sy antwoord nie. Sy sit net en brei.

“Apie, ou perd, kom nou!” gil Galpil. “Ons moet wikkel!”

Mevrou Baumann kyk nog steeds nie op nie. Haar breinaalde flits gevaarlik. Apie sê niks nie. Sy keel is te toegetrek. Die trane blink in sy oë.

Hy skud hartseer kop en beduie deur die venster vir sy maats dat hy nie kom nie. Die seuns hardloop vinnig met die straat af. Hulle wil nie laat wees nie.

Apie sak moedeloos op die rusbank neer. Met ’n doodse stem sê hy: “Almal gaan sirkus toe, en hier sit ons.” Hy sug swaar, soos dit ’n martelaar betaam.

Almal in die sitkamer is bleek.

Saartjie besluit om nog een keer te probeer.

“Kan Pappa nie iets doen nie?” vra sy en kyk vol hoop na haar pa. “Kan Pappa nie met Mamma praat en vra dat sy ons net hierdie een keer moet vergewe nie? Ons wil só graag sirkus toe gaan!” Daar is ’n snik in Saartjie se stem.

“As Mamma ‘nee’ gesê het,” antwoord haar pa, “dan is dit ‘nee’.”

Dokter Baumann frons. Hy het gehoop sy vrou sou later haar hart versag.

“Maar ek wil darem net een dingetjie sê.” Hy sit sy boek neer. “Mamma moet onthou sy het nie vanoggend regtig verloor nie …”

“O, nie?” sê sy vrou. “Dan het ek seker verkeerd gehoor toe hulle die uitslag bekendmaak.” Sy kyk vlugtig na die muurhorlosie. Dit is kwart oor twee.

“Ek bedoel dit nie só nie,” sê haar man. “Jy moet onthou, die beoordelaars het die verkéérde fles perskes beetgehad. As jy die regte een geneem het, sou jy loshande gewen het. Ek wil net hierdie een ou puntjie onder jou aandag bring …”

Nou wil almal hierdie een ou puntjie onder haar aandag bring. Saartjie, Apie en Kris praat feitlik gelyktydig soos hulle haar verseker dat sy definitief sou gewen het as dit net nie die verkéérde fles was nie.

Martha Baumann besef geleidelik hulle is reg. Die beoordelaar het nie haar perfek ingemaakte perskes gesien nie. Anders sou sy beslis gewen het! En Apie en Saartjie het nie opsetlik kwaad gedoen nie. Hulle sou nie die perskes geëet het as hulle geweet het sy het die fles spesiaal vir die huisvlytkompetisie gekies nie.

Sy kyk weer na die muurhorlosie. Daar is nog tien minute oor voor die sirkus begin.

“Ek weet nie hoekom julle so baie praat nie,” sê sy sag. “Hoe meer julle praat, hoe later gaan julle by die sirkus aankom.”

Verstom kyk almal na haar. Saartjie en Apie se oë is groot. Hulle weet nie of hulle reg gehoor het nie.

“Hè, Mamma?” vra Apie.

“Praat asseblief ordentlik, Abraham?”

“Skuus, Ma. Ek het bedoel – ekskuus, Mamma?”

“Ek sê julle moet gou maak, anders is julle laat vir die sirkus.”

Hul ma se woorde dring stadig tot hulle deur en die twee kinders se gesigte verhelder. Die een glimlag so breed soos die ander. Apie vlieg op en skree: “Sirkus, hier kom ons! Ja-hoeee!”

Saartjie lag en spring en omhels haar ma. Dokter Baumann gee vir elkeen geld vir toegang én lekkers én koeldrank. Hulle is nou sommer ryk – en hulle gaan sirkus toe!

“Kom, Saartjie!” skree Apie opgewonde. “Weg is ons!” Die twee vlieg só haastig by die huis uit dat hulle skoon vergeet om te groet.

Dokter Baumann en sy vrou kyk glimlaggend na mekaar. Kris tel sy notaboek met ’n sug op. Hy sal nou kan leer. Dit sal stil wees.

“Ek het gedink jy sal hulle uiteindelik tóg maar laat gaan, Martha,” sê dokter Baumann en daar is ’n teer glans in sy oë.

“Hulle is genoeg gestraf,” sê mevrou Baumann. “Dit was vir hulle erg om die hele dag so in spanning hier te sit.”

In die verte hoor hulle Apie se uitbundige “Ja-hoeee!” Dan hoor hulle dit weer, en dit klink of Saartjie hierdie keer saam met hom skree.

Sy en haar boetie hardloop op volle vaart na Karzo se wêreldberoemde sirkus toe.

Saartjie se lang, bruin bene vlieg oor die aarde. Sy is ’n goeie paar treë voor Apie. Hulle hoop hulle is nie laat nie. Hulle wil niks van al die sirkus se “wonderlike goete” misloop nie.

Saartjie Omnibus 2

Подняться наверх