Читать книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé - Страница 8
2
Drama van die woud
ОглавлениеDie groot dag van die musiekfees kom nader en Saartjie oefen nou harder as ooit.
Haar huismense is teen hierdie tyd al moeg vir Drama van die woud wat so gedurig gespeel word.
As sy saans ná ete voor die klavier gaan sit om te oefen sê Apie: “Weg is ek! As ek daai dinges weer moet hoor, gaan ek van my trollie af raak.”
Saartjie brom gewoonlik net dat hy lankal reeds van sy kop af is. Dan loop haar kleinboet by die huis uit en gaan speel by Bennie.
Hulle oudste broer, Kris, wat ’n eerstejaar universiteitstudent is, sug net en loop ook by die vertrek uit. Hy gaan sit in sy kamer om te leer en maak die deur agter hom toe.
Saartjie se pa, dokter Jan Baumann, sug ook teen hierdie tyd al as sy voor die klavier gaan sit. Hy doen sy bes om nie sy irritasie te wys nie en luister na haar spel terwyl hy koerant lees.
Mevrou Baumann het in haar jong dae self ook goed klavier gespeel en sy moedig Saartjie gedurig aan. Sy is die een wat die vrede moet bewaar wanneer die ander gesinslede sommer reguit sê hulle wil asseblief tog nie weer die dreigende gevaar hoor wat die woud se diertjies na hul skuilplekke laat weghardloop nie.
Die dag voor die musiekfees kry Saartjie al die inligting oor die groot aand. Soos sy reeds weet, is daar ’n klomp deelnemers in haar afdeling – vyf uit elke provinsie. Sy moet agtuur die volgende aand by die stadsaal wees.
Saartjie voel skielik skrikkerig en verbouereerd.
“Sien Mamma hoeveelste speel ek?” vra sy en haar oë is groot.
“Dit maak mos nie saak wat jou nommer is nie …”
“Maar ek speel dertiende! Dis ’n ongelukkige nommer, Mamma,” sê sy ontsteld. “En dis môre boonop die dertiende van die maand!”
“Kom nou, my kind, jy glo tog nie aan sulke onsinnige bygelowe nie,” troos haar ma.
Maar Saartjie bly mismoedig.
Apie vryf sy hande van lekkerkry en sê vir haar: “Ek het eenkeer gelees van ’n ou wat gesê het hy glo nie die nommer 13 is ongelukkig nie en op die dertiende van die maand stap hy toe by ’n woonstelgebou wat se adres nommer 13 in die straat is en hy gaan na woonstel 13 toe om by sy vriend te kuier. Toe hy die deur oopmaak, val daar ’n emmer water oor hom uit en hy is papnat. Sy vriend se seun het die water op die deur gesit omdat hy gedink het sy maat kom kuier! Van toe af het daai ou geglo 13 is ’n ongelukkige nommer.”
Apie skater soos hy lag. Saartjie kyk hom met ’n suur gesig aan.
“Wat is so snaaks daaraan?” vra sy.
“Ek is bly ek’s nie jy nie,” sis haar boetie deur die opening waar sy voortande eers was. “As ek jy is, sê ek vir die mense ek wil nie dertiende speel nie.”
Saartjie loop vererg by die vertrek uit. Sy wil niks meer van die nommer 13 hoor nie.
Uiteindelik breek die groot dag aan … die dertiende. Saartjie besluit om die hele dag stil, soet en “mooi” te lewe. Sy is senuweeagtig, maar doen haar bes om dit nie te wys nie. Sy hou niks daarvan dat sy dertiende moet speel nie. Sy wens sy was heel eerste, dan kon sy klaarkry en op haar gemak na die ander sit en luister.
Dié oggend is Saartjie besadig en gedwee in die klas. Sy wil vandag mos “mooi” lewe.
Die leerders sit en luister na meneer Theo Stegmann se pragtige stem terwyl hy vir hulle van die Franse Rewolusie vertel.
Die meisies is dol oor hierdie man met die breë skouers, krulhare en vriendelike glimlag.
“Ai, hy’s darem maar beeldskoon,” sug Anna wat langs Saartjie sit.
Half vererg fluister Saartjie vir haar: “Mens sê nie ’n man is beeldskoon nie!”
Anna klap haar tong en sit en staar met ’n skaapagtige uitdrukking op haar gesig na Ou Theo, soos die kinders hom noem. Saartjie vervies haar altyd as sy sien hoe die ander meisies háár gunstelingonderwyser aangaap.
“Saartjie!” sê die onderwyser skielik. Hy kyk na haar en glimlag.
“Ja … ja, Meneer?” stamel sy en staan op. Sy is vies vir haarself dat sy altyd stotter en bloos wanneer hý met haar praat.
“Ek verstaan jy speel vanaand in die stadsaal?”
“Ja, Meneer.” Saartjie glimlag. Twee bekoorlike kuiltjies verskyn in haar wange.
“Alles van die beste, hoor. Ons gaan almal daar wees en ons weet sommer jy gaan die goue medalje verower!”
“Dankie, Meneer. Ek sal my bes doen.”
Hy glimlag weer vriendelik vir haar toe hy uitstap.
Saartjie voel salig gelukkig. Hy stel belang in haar, daarvan is sy seker, meer as wat hy in enigeen van die ander meisies in die skool belangstel. Sy móét vanaand wen! Sy kan hom nie teleurstel nie.
Die volgende periode is dit wiskunde. Die onderwyser is ’n ouerige, knorrige man met ’n bokbaardjie. Hy vlieg die leerders sommer vir die geringste dingetjie in en sê hulle goed sleg. Die kinders is skrikkerig vir hom. Hulle noem hom Ou Grompot. Hy is nie iemand wat soos sy jonger kollega, Theo Stegmann, af en toe ’n grappie met die klas maak nie.
“Dag!” sê Ou Grompot kwaai en pluk-pluk aan sy bokbaardjie.
“Haal uit julle wiskundeboeke. Ons gaan eers gou ’n paar probleme doen.”
Die leerders maak soos hy gesê het.
“Ons begin vandag met dié ry.” Hy wys na die een waarin Saartjie, Anna en Lina sit. “Begin heel agter.”
Elke leerder moet een som uit die wiskundeboek doen en Ou Grompot word sommer baie kwaad as hulle te lank vat om die antwoord uit te werk. Elkeen kry net ’n paar sekondes tyd.
Gelukkig is dit egter nie so moeilik soos dit lyk nie, want die kinders het lankal agtergekom die onderwyser spring nie rond en bont nie. Hy gaan op die ry af en sê net elke slag: “Volgende.”
Die leerders tel eenvoudig hoeveel sitplekke is hulle van die een af wat begin en dan weet hulle watter wiskundesom hulle sal moet doen. Dan het hulle genoeg tyd om dit uit te werk en wanneer hul beurt kom, word die antwoord net uitgeskree. Dit is mos maklik.
Saartjie sit agt plekke van die seun wat begin af. Sy kyk na haar som en werk dit uit. Sy het die antwoord. Dit is R3,50. Nou sit sy gemaklik agteroor en droom.
Sy sien hoe sy vanaand voor die volgepakte saal sit en speel, hoe Theo Stegmann heel voor na haar sit en kyk. Sy sal na hom kyk voor sy begin speel. Dan sal hy vriendelik glimlag en vir haar wys hy hou styf duim vas.
Intussen is daar konsternasie in die klas. Die een leerder se antwoord was verkeerd en die onderwyser het kwaai gesê: “Lyk my ek sal nooit enigiets in jou kop kan prop nie! Volgende. Doen nommer sewe!”
Almal sit nou van voor af en uitwerk. Alles is deurmekaar. Ou Grompot het een som oorgeslaan!
Saartjie sit só en droom dat sy glad nie agterkom sy sal nou die som ná die een wat sy uitgewerk het, moet doen nie. Sy sien in haar verbeelding hoe Ou Theo na haar toe kom – ná al die toejuiging en handgeklap bedaar het en sy die medalje ontvang het – en hoe hy haar hand skud en haar van harte gelukwens met haar pragtige spel.
Sy sal dan net beskeie antwoord: “Dankie, Meneer,” maar sy sal reguit na hom kyk en met haar oë praat. Sy sal dit nie hardop sê nie, maar hy sal duidelik in haar oë kan lees: “Meneer weet seker ek het net vir Meneer gespeel.” Sy besef dit gaan moeilik wees om so ’n lang sin net met haar oë te sê. Sy beter dadelik begin oefen om dit te doen.
Skielik hoor Saartjie hoe Lina wat net agter haar sit, antwoord en sy sit reg. Dit is amper haar beurt. Sy sal net R3,50 uitskree en dan kan sy weer heerlik verder sit en droom.
“Volgende!”
Dit is Anna wat langs Saartjie sit se beurt. Sy spring op.
“R3,50, Meneer,” sê sy.
“Reg, volgende!”
Verslae sit Saartjie. Sy byt op haar onderlip. Kan dit wees dat twee somme – een net ná die ander – presies dieselfde antwoord het?
“Ek sê, volgende!” Ou Grompot kyk kwaai na Saartjie. Sy staan vinnig op.
“R3,50, Meneer,” sê sy ferm.
Die onderwyser kyk kwaai na die meisie voor hom.
“Wat?” knor hy.
“R3,50, Meneer,” sê Saartjie huiwerig.
Sy besef nou sy het die verkeerde som gedoen. Die leerders begin giggel. Hulle weet natuurlik wat gebeur het. Saartjie het nooit agtergekom dat Ou Grompot ’n som oorgeslaan het nie.
“Volgens my boek,” sê die onderwyser sarkasties en slaan met sy hand daarteen, “het die antwoord hoegenaamd niks met geld te doen nie. Dit gaan hier oor hoenders!”
“Ekskuus, Meneer. Dit lyk my ek het die verkeerde som gedoen,” sê Saartjie en raap haar boek vinnig op om weer te kyk.
“Jy’s nou te laat, Saartjie,” sê Ou Grompot. Hy pluk-pluk aan sy bokbaardjie en kyk kwaai na haar. “Die antwoord is 24 hoenders.”
Saartjie wil sê sy het ook so gedink, maar sy besef dit sal nie help nie. Die onderwyser betrag haar peinsend terwyl sy vingers nog steeds aan sy bokbaardjie vroetel.
“So,” sê hy, “dís wat jy gedoen het! Jy het vooraf die som uitgewerk wat jy gedink het jy sal moet beantwoord en toe het jy só gesit en slaap dat jy nooit besef het ek het een van die somme oorgeslaan nie. Is dit wat gebeur het?”
“Ja, Meneer,” sê Saartjie gedwee. Almal in die klas maak só, maar wat help dit om dit vir Ou Grompot te sê?
“Jy moet gestraf word,” sê hy kwaai. “Ek duld nie so iets nie. Jy is nie vir jou gesondheid hier op skool nie.”
Saartjie is bleek. Sy het miskien iets verkeerd gedoen, maar dis darem nie so erg dat hy haar só hoef in te vlieg nie. Die klas is doodstil.
“Vir stafwerk doen jy Hoofstuk Twee in jou handboek se eerste vyf probleme. Dit behoort jou heel middag besig te hou!”
Saartjie is heeltemal verslae. Anna sluk en dan spring sy op.
“Meneer,” sê sy vinnig, “Saartjie moet vanaand by die musiekfees in die stadsaal speel …”
“Wat het ek met ’n musiekfees te doen?” Die knorrige ou man kyk Anna kwaai aan.
“Sit! Albei van julle. Ek aanvaar geen verskonings nie. Ek wil daardie strafwerk môre sien – en dit beter foutloos wees!”
Anna gaan sit en beduie vir Saartjie wat nog steeds aan skok ly sy moet ook. Die ander kinders kyk met medelye in hul oë na haar. Ou Grompot is darem ’n ou suurknol.
Saartjie sit nou – net soos al die ander in die klas – elke som aandagtig en uitwerk. Sy dink daaraan dat dit vandag die dertiende is. Sy het haar bes gedoen om stil en “mooi” te lewe, maar hier het sy nou in elk geval strafwerk gekry – sommer baie. Sy sal vanmiddag hard daaraan moet werk.
Dié middag kom Anna en Lina kuier en hulle probeer haar met die probleme help, maar tevergeefs. Lina sug: “Dié goed is bo my vuurmaakplek.” Anna sê: “Ek kan nie kop of stert daarvan uitmaak nie.”
Saartjie moet alleen aansukkel. Dis egter nie lank nie, of die Drie Muskiete begin klets. Hulle loop oor van opgewondheid oor die musiekfees.
Die hele Lynnekom gaan daar wees om te sien hoe Saartjie die goue medalje wen!
Wanneer Anna en Lina uiteindelik huis toe gaan, sit Saartjie lank alleen in haar kamer met die strafwerk en spook. Sy het drie probleme voltooi en sy is seker hulle is reg, maar daar is twee wat sy glad nie kan doen nie.
Sy staar moedeloos voor haar uit. Ou Grompot gaan haar lewendig afslag as sy die werk nie môre vir hom inhandig nie. En vanaand is die musiekfees! Sê nou sy kom glad nie eens onder die eerste drie nie en sy stel almal wat so baie van haar verwag teleur?
Dit sal beter wees as sy van die wêreld se probleme af kan wegkom. Dalk moet sy ’n non word. Sy sal stil lewe en een keer ’n maand ’n paar oomblikke afknyp sodat haar gesinslede haar kan kom besoek.
Sy sien al die trane in haar ma se oë wanneer sy sê: “My kind, ons mis jou so verskriklik …”
Dan sal sy wat Saartjie is, sê: “Ek weet, Mamma, maar hier is nie dinge soos musiekfeeste en Grompotte nie.” En dan sal sy haar leliewit hande na Apie toe uitreik en sag sê: “My dierbare boetie, ek vergewe jou vir al die stryery en onaangenaamhede …”
Apie sal swaar sluk en skoon vergeet om met die punt van sy tong in die opening waar sy tande moes gewees het, te speel. Sy oë sal nes hul ma s’n blink van die trane wanneer hy sê: “Dankie, my liefste sussie, dankie.”
Dan sal sy hulle vra om te gaan sodat sy terug na haar sel kan keer om daar te sit en peins oor die verhewe dinge van die lewe … nie oor dinge soos skool en somme en Ou Grompot nie. Miskien sal sy darem aan Ou Theo dink, want sy is seker hy sal wonder oor haar wat so op haar eentjie in ’n klooster opgesluit sit en dit betreur dat sy gunsteling, die biljante en begaafde Saartjie Baumann, nie meer in sy klas is nie.
’n Harde klop aan die deur ruk haar terug na die werklikheid.
“Ja?” sê sy en kyk weer fronsend na die strafwerk.
Kris kom by haar kamer in.
“Ek het gedink ek gaan jou heel middag hoor oefen,” sê hy. “Maar Ma sê jy moet strafwerk vir Ou Grompot doen.”
“Ja,” sug Saartjie en dan voeg sy by: “Hoe sal jy daarvan hou as jou enigste sussie ’n non in ’n klooster word?”
Sy staar pateties voor haar uit, lig haar hande op en loer vlugtig na hulle. Nee, hulle is glad nie leliewit en deurskynend nie: net vol ink. Sy laat sak hulle weer.
“Moenie soos ’n siek hoender daar sit nie,” sê Kris laggend. “Kom ek help jou gou. Algebra was mos my sterk vak. Jy moes net vir Ou Grompot gesê het jy’s my suster, dan sou hy nie so kwaai gewees het nie. Ek was laas jaar sy beste leerder. Hy het altyd gesê ek is die enigste matriek-ou wat darem so iets van algebra af weet.”
Kris steur hom gewoonlik nie juis aan Saartjie en Apie nie. Hy is mos al te groot – negentien – en op universiteit. Hy het ook al lankal ’n meisie.
Maar vandag kry hy Saartjie jammer en hy help haar vinnig. Hy verduidelik die twee somme vir haar en sy snap dit maklik.
“Dankie, Kris,” sê sy. “Jy’s ’n baie beter onderwyser as Ou Grompot …”
“Ek en Isabel sal vanaand daar wees en ons gaan vir jou duim vashou,” sê Kris toe hy uitstap.
Isabel Theron is Kris se meisie. Die twee was die vorige jaar saam in matriek.
Mevrou Baumann spreek aan tafel die mening uit dat dit miskien maar goed was dat Saartjie die strafwerk gekry het, want anders sou sy die hele middag rondgedwaal en haar oor die musiekfees bekommer het.
Saartjie het ’n pragtige Sondagrok aan. Sy praat nie veel in die motor nie. Haar pa en ma is ook stil. Hulle is net so gespanne soos sy. Apie is die enigste een wat aanhoudend gesels.
“Ou Bennie is my pel en hy wou my gekroek het!”
“Jou wát wou jou gewát het, Abraham?” vra sy ma. Sy noem Apie altyd Abraham wanneer sy hom berispe.
“Ag, ek bedoel my maat, Ma. Hy wou my inloop. Hy wou my laat betaal vir een van sy duiwe, maar toe sien ek die outjie lê so eenkant en toe sê ek ek wil hom eers deurkyk en toe sien ek hy’s siek en al halfdood! Ou Bennie wou my gekroe- … gekul het.” Apie skud sy kop hartseer en sê: “Mens kan deesdae niemand meer vertrou nie.”
Dan is dit weer stil in die motor.
Die stadsaal is van hoek tot kant gepak. Saartjie-hulle sit heel voor. Lynnekom se mense het seker gemaak hulle kry die voorste rye.
Saartjie sit by Anna en Lina. Langs hulle sit Apie en Bennie. Die twee is nou weer kliphard aan die baklei oor die siek duif. Bennie hou vol hy het nie geweet die duif is siek nie. Apie glo hom nie. Hy vertel sissend vir Bennie van al die “goete” wat hy al vir hóm gedoen het. Hy wil ook weet of Bennie nie skaam is dat hy sy beste vriend probeer inloop het nie.
Net agter die Drie Muskiete sit Galpil, Gert en Piet. Die ouens gesels kliphard. Saartjie glimlag floutjies toe sy hoor hoe Galpil vir al die “pêrre” in die omgewing vertel wat ’n groot eer dit vir hulle is om so naby iemand te sit wat die eerste prys gaan wen.
Anna en Lina se ouers sit by dokter en mevrou Baumann. Muggie sit langs haar ma. Sy waai vir haar heldin en skree skril: “Jy moet wen, hoor Saartjie!”
Die meisie glimlag maar net.
Anna mompel dat haar ouers vergeefs probeer het om Muggie tuis in hul huishulp se sorg te laat. By die geringste gepraat in daardie rigting het die kleintjie só ’n keel opgesit dat niemand dit kon verduur nie. Muggie glo vas Saartjie sal net wen as sy ook in die saal is. As Saartjie haar daar sien, gaan sy só bly wees dat sy sommer baie beter sal speel en die “medallie” sal wen! Op die ou end moes die Strydoms Muggie toe maar saambring.
Saartjie kyk rond. ’n Entjie van haar af sien sy vir Kris en Isabel. Hulle glimlag albei vriendelik vir haar. Sy probeer terug glimlag, maar dit is nie maklik nie. Sy voel maar skrikkerig.
In die ry agter Kris en Isabel sien sy meneer Stegmann en sy pragtige vrou. Hy het vanaand ’n oopslaanhemp en moderne baadjie aan en hy lyk vir Saartjie net soos haar gunstelingfilmster.
Sy sien hoe Anna ook na die onderwyser kyk.
“Wat’s dit met jou?” vra Saartjie. “Vir wie kyk jy so?”
“Vir hóm, wie anders?”
“Jy lyk soos ’n gapende vis,” sê Saartjie vies. “Maak toe jou mond!”
Anna bloos bloedrooi.
“Onthou, ek het hom eerste gesien,” sê Saartjie. “Jy was besig om met Lina te gesels toe hy die eerste dag by die klas inkom. Toe het ek jou op die skouer getik en gevra of jy ook sien wat ek sien. Jy het omgedraai en hom tóé eers gesien – nadat ek hom lankal gesien het.”
“Ek weet, Saartjie, ek weet,” sê Anna. “Jy het hom eerste gesien.”
Die twee buk gelyktydig vorentoe en kyk weer na hul geliefkoosde onderwyser en sy vrou. Hulle het haar eenkeer by ’n skoolfunksie ontmoet. Sy was baie gaaf. Hulle hou van haar …
Op die verhoog word die klavier reggestoot en twee bejaarde mans gaan sit by ’n tafel in die hoek. Die een het ’n welige baard. ’n Elegante dame wat deur ’n eenoogbril na die volgepakte saal loer, sluit by hulle aan.
Hulle is die drie beoordelaars. Die een man kom van Kaapstad, die ander een van Durban en die dame van Johannesburg af. Saartjie het haar al vantevore by kunswedstryde gesien.
Die toeskouers klap beleefd hande toe die voorsitter van die musiekfees die drie beoordelaars aan hulle voorstel. Die twee mans is doktore en die dame ’n professor in musiek. Hulle sit nou elkeen met pen en papier voor hulle, gereed om te besluit wie die beste speler in die verskillende groepe is.
Die eerste afdeling is die onder-14-groep waarin Saartjie optree. Nommer een is ’n Kaapstadse meisie.
Sy maak eers ’n elegante buiginkie en neem dan plek voor die klavier in. Sy kyk na die hoofbeoordelaar – die man met die baard. Hy fluister iets vir die ander twee en knik dan dat sy maar kan begin.
Saartjie sit aandagtig en luister. Haar hart klop vinnig. Al die deelnemers speel dieselfde komposisie: Drama van die woud .
“Sy speel bietjie stadig,” sê Saartjie fronsend.
“Jy sal haar maklik uitstof,” fluister Anna.
“Sy speel dit asof dit ’n dodemars is,” brom Lina.
Toe die meisie klaar is en die verhoog verlaat, word daar beleefd hande geklap.
Lynnekom se mense kyk almal na Saartjie en glimlag bemoedigend. Hulle dink duidelik sy is baie beter as hierdie Kaapse meisie.
Die een deelnemer ná die ander speel dieselfde komposisie. Soos dokter Baumann sê, en hy praat sekerlik namens almal in die gehoor, “omtrent presies dieselfde”!
Nommer 13 se beurt kom al hoe nader en nader. Saartjie byt haar onderlip vas. Sy is opgewonde en terselfdertyd ook bang, maar sy probeer om dit nie te wys nie.
Op die verhoog net bó die trap is die mat verrimpel en maak voue. Die mense lag meer as een keer hartlik wanneer ’n oorgretige deelnemer daaroor struikel.
Saartjie gegiggel ook wanneer dit gebeur en iemand strompelend na die klavier toe loop. Sy sal sorg dat dit haar nie oorkom nie! Sy gaan koel en kalm by die trap opklim en dan versigtig oor die voue trap. Dan sal sy stadig en statig na die klavier toe stap soos dit iemand betaam wat al baie voor groot gehore opgetree het. Sy sal ook eers vir die skare buig voordat sy gaan sit.
Nommer twaalf is klaar. Dit is ’n meisie van die Vrystaat. Sy word toegejuig. Dit klink of die gehoor dink sy was sover nog die beste. Sy het die moeilike stuk deurgespeel sonder om ’n enkele fout te maak.
Saartjie is bleek.
“En nou,” sê die voorsitter oor die mikrofoon, “nommer dertien! Saartjie Baumann, hier van Lynnekom.”
Die toejuiging is oorweldigend. Daar is baie van Hoërskool Saamwerk se kinders en almal skree Saartjie se naam.
Anna en Lina wens haar die beste toe en wys vir haar dat hulle styf duim vashou. Apie en Bennie kyk ook na haar waar sy nou opstaan en tydsaam deur haar musiekboek blaai.
“Dis my ou sussie daai,” sê Apie trots.
Saartjie is glad nie haastig nie. Sy moet kalm bly. Sy dink net aan een ding – sy moenie so onnosel wees om oor die voue in die mat te struikel nie! Sy moet kophou.
Terwyl Saartjie in haar musiekboek na die regte plek soek en almal haar naam skree en sommige kinders van Lynnekom probeer om haar op die skouer te tik, merk sy nie op dat twee mans die voue uit die mat haal en dit netjies regtrek nie.
Die meisie het die plek in haar musiekboek gekry en sy hou haar vinger by die bladsy. Sy skuif uit gang toe. Sy lyk baie ernstig. Ek moenie oor die voue val nie … Ek moenie oor die voue val nie … flits dit aanhoudend deur haar gedagtes.
Trots stap Saartjie met die gang af.
“Pêrre, nou gaan julle ’n ding sien,” klink Galpil se growwe stem bo die handeklap uit. “Dis Saartjie Baumann daardie! Pêrre, nou gaan julle daai klavier hoor praat!”
Dokter Jan Baumann se hart klop ook vinnig. Hy kyk na sy vrou en sien haar oë blink van die trane. Hy sit sy hand teer oor hare en trots kyk die twee na hul dogter wat die trap na die verhoog nou fier en regop bestyg.
Saartjie is op die verhoog. Sy staan ’n oomblik stil. Sy kyk nie af nie; sy kyk net reguit na die klavier. Sy moet nou ongeërg soontoe stap. Sy moenie na die mat toe afkyk nie en sy moenie oor die voue struikel nie. Sy is behep met hierdie een gedagte. Sy wil nie hê die mense moet vir haar lag soos vir die ander toe hul voete in die voue vasgehaak en hulle val-val oor die verhoog klavier toe gestrompel het nie.
Stadig en versigtig soos ’n trapsuutjies lig Saartjie haar een been hoog op en toe die ander een. Die gehoor begin grinnik en giggel. Sy lyk tog te koddig. Sy het duidelik nie gesien die mat is mooi reggetrek nie en dink dus die voue is nog daar.
Saartjie kyk strak na die klavier. Sy verstaan nie hierdie ontydige gelag nie. Maar hulle lag gelukkig nie omdat sy oor die mat val nie. Sy is nie so onnosel soos die ander klomp nie. Om seker te maak dat sy nie struikel nie lig sy haar voet ekstra hoog op en gee weer ’n versigtige tree. Die gehoor skater nou soos hulle vir Saartjie se trapsuutjiestreë lag.
Die meisie besef daar is iets verkeerd. Sy kyk af en sien daar is nie meer voue in die mat wat haar kan pootjie nie.
Saartjie word rooi. Sy sluk swaar, en dan begin sy ook hartlik lag en waai selfs vir die toeskouers. Sy probeer die indruk skep dat sy die hele tyd geweet het die voue is nie meer in die mat nie. Sy het maar sommer net so snaaks geloop om ’n grappie te maak.
Dit is te betwyfel of iemand glo sy het met opset soos ’n trapsuutjies oor die verhoog beweeg, maar almal lag lekker. Saartjie ook. Sy voel nou baie beter. Die verrigtinge was gans te somber en formeel. Selfs die drie beoordelaars grinnik saam.
Die aankondiger hou sy hand omhoog vir stilte en die gelag bedaar. Saartjie staan langs die klavier. Sy hou die punte van haar rok vas en maak ’n mooi kniebuiging.
Sy gaan sit voor die klavier. Dit is nou so stil dat jy ’n speld kan hoor val.
Dan kyk die hoofbeoordelaar op en glimlag vriendelik. Hy knik met sy kop.
Saartjie begin speel. Eers effens huiwerig – asof sy nie seker van haarself is nie, dan al vinniger en harder.
Haar hande vlieg oor die klawers. Almal in die stampvol saal luister aandagtig. Party mense sit selfs met toe oë. Daar was baie deelnemers wat die komposisie foutloos gespeel het, maar hierdie een vertolk dit met gevoel. Die gehoor kan die dreigende gevaar aanvoel en die diertjies van die woud se onrustigheid – en dan die paniek wanneer hulle in alle rigtings wegskarrel terwyl die gevaar al nader kom … al nader …
Saartjie het die mense, die voue in die mat, die lof en die medalje wat sy gaan kry as sy wen, alles vergeet. Sy speel asof sy besiel is.
Teen die einde speel sy al hoe sagter … en sagter … Die gevaar is verby … Sy speel liggies en versigtig soos die diertjies by hul skuilplekke uitloer … Die een kom uit … dan nog een … Sy speel geleidelik harder en vroliker … Al die diertjies juig en baljaar … hard en vrolik … En dan speel sy weer sagter … Die diertjies is vervul met heimwee en verlange … Een is moeg … een is weg … een van hul maatjies is gevang … Sy speel sag … met teerheid … en heimwee … Die laaste noot sterf huiwerend weg.
Vir ’n oomblik sit Saartjie roerloos. O, dit was wonderlik! Dit was die eerste keer dat sy die drama van die woud so duidelik kon aanvoel.
Die toeskouers is ook vir ’n paar oomblikke doodstil, nog onder die bedwelmende invloed van die drama wat in die woud afgespeel het. Dan bars die toejuiging los! Die gehoor staan soos een man op en roep Saartjie se naam uit.
Saartjie glimlag en vee onwillekeurig met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. Sy is in haar skik. Sy weet sy het pragtig gespeel. Sy maak ’n elegante buiging en gaan dan vinnig by die verhoog af.
Saartjie sit by Anna en Lina. Hulle verseker haar sy gaan wen. Albei glimlag breed. Saartjie hoor Galpil se growwe stem sê dat hulle nou sal sien of daar ’n perd onder die laaste klomp is wat die dinges in die woud beter as sy kan speel. Volgens hom is dit onmoontlik.
“Sê vir daai pêrre by die tafel,” bulder hy vir Saartjie sodat die mense voor in die saal almal kan hoor, “hulle kan daai medalje sommer nou al vir jou gee!”
Apie en Bennie is ook trots op haar, veral omdat sy so lekker vinnig gespeel het. Apie fluister vir sy maat dat sy sus ’n nuwe spoedrekord opgestel het!
Die kompetisie gaan voort. ’n Seun van Durban is nou aan die beurt. Hy speel goed, maar dit kom nie naby aan Saartjie se vertolking nie.
Sy leun effens vorentoe en kyk na haar pa en ma. Haar pa knipoog vir haar en sy knipoog terug.
Saartjie glimlag toe sy hoor hoe haar ma vir haar pa sê sy wonder waar hul dogter hierdie aanleg vir musiek vandaan kry en hy antwoord: “Ons Baumanns is baie talentvolle mense.” Hy stoot sy bors effens uit. Haar ma vertel hom egter nou van háár familie – die Ferreiras – en hoe talentvol húlle is! Hy moet dít nie vergeet nie!
Die een deelnemer ná die ander speel, maar dit is asof die toeskouers nou nie meer met soveel aandag luister nie. Hulle skuif rusteloos rond.
Die laaste persoon in hierdie afdeling maak klaar en die drie beoordelaars begin punte vergelyk. Daar is doodse stilte in die saal. ’n Klomp van Hoërskool Saamwerk se leerders begin met hul voete stamp en skree: “Saartjie! Saartjie Baumann!” Die skoolhoof staan op en kyk kwaai na die kinders wat so rumoer. Hulle is dadelik tjoepstil.
Die hoofbeoordelaar stap na die mikrofoon om die beslissing te gee.
“Die standaard was besonder hoog,” sê hy, “en dit is te begrype, aangesien die beste spelers in hierdie ouderdomsgroep vanoor die hele land hier opgetree het.”
Hy gaan verder en bespreek ingewikkelde musiekterme. Saartjie sit op hete kole. Kan hy nie maar net die uitslag bekend maak nie? Sy glimlag toe sy sien hoe styf Anna en Lina sit en duim vashou.
“En nou,” sê die beoordelaar en kug effens, “is dit my aangename taak om die wenner van ons goue medalje en diploma bekend te maak. Ons het 94 persent aan haar toegeken. Haar vertolking was meesterlik en sy staan kop en skouers bo die ander uit. Die nommer is …” Hy sit sy bril eers weer reg en kyk na die papier in sy hand.
“Die nommer is – dertien! Saartjie Baumann, van Gauteng!”
Die toejuiging is oorverdowend. Saartjie word van alle kante af gelukgewens.
Sy stap glimlaggend op na die verhoog om die medalje en diploma te ontvang.
Met pouse drom die mense in die voorportaal om haar saam. Anna en Lina staan langs haar. Hulle is trots om haar vriendinne te wees. Anna hou die medalje vir haar vas en Lina die diploma.
Dokter Jan staan en rook sy pyp tevrede. Mevrou Baumann soen hul dogter en sê net sag: “Saartjie … my kind …” Haar oë blink.
Juffrou Marks kloek soos ’n broeis hen om Saartjie. Muggie verseker almal met haar skril stemmetjie dat Saartjie nie sou gewen het as sy nie daar was nie.
Kris en sy meisie, Isabel, wens Saartjie ook van harte geluk. Kris sê hy het nooit gedink hy het so ’n talentvolle sussie nie, maar hy moet erken, hy hoop hy hoor nooit in sy lewe weer daardie Drama van die woud nie!
“Baie geluk, Saartjie,” hoor sy meneer Stegmann se stem. Sy kyk om. Ou Theo staan met sy hande uitgestrek. Hy glimlag vriendelik.
“Ons is almal trots op jou,” sê hy.
“D- … dankie, Meneer,” stamel sy. Hy is veronderstel om nou in haar oë te lees dat sy net vir hom gespeel het. Maar haar oë praat glad nie. Hulle kyk skaam af.
“Veels geluk,” sê mevrou Stegmann. “Jy het pragtig gespeel.”
“Dankie, Mevrou.” Saartjie skud haar hand.
Laat die nag lê sy nog in haar bed en lugkastele bou. Haar goue medalje staan op die tafeltjie langs haar.
Saartjie sien hoe sy eendag in al die wêreld se groot stede klavieruitvoerings gee: New York, Londen, Berlyn, Parys! Sy is ’n wêreldberoemde pianis wat voor konings, presidente en staatsmanne optree.
En dan … jare later … kom sy terug na haar geboorteland. ’n Skare van duisende juig haar toe. Sy kom uiteindelik terug na Lynnekom en haar maats staar haar met verwondering aan. Galpil vryf sy oë, want sy lyk soos ’n beeldskone wese uit ’n ander wêreld. Hy vertel vir al die pêrre dat hy haar eens op ’n tyd geken het, maar hulle glo hom nie. Hoe kon iemand so doodgewoon soos hy ooit iemand so ongelooflik soos Saartjie Baumann geken het?
Sy sien hoe sy in ’n oop motor stadig deur Lynnekom se hoofstraat ry hier na haar huis toe … Sy sien hoe die blomme op haar neerreën … en dan …
Saartjie se asemhaling word reëlmatig. Sy raak sag aan die slaap. Daar speel ’n soet glimlag om haar mondhoeke.