Читать книгу Saartjie Omnibus 2 - Bettie Naudé - Страница 14

5
“Wonderlike goete”

Оглавление

Hoe nader Saartjie en Apie aan die sirkustent kom, hoe harder word die blaasorkes se opgewekte musiek – en hoe vinniger hardloop hulle.

Hulle koop kaartjies en gaan haastig by die tent in. Die arena met die saagsels in die middel is nog leeg. Hulle het gelukkig niks misgeloop nie.

Heel voor sien Saartjie vir Anna, Lina en Muggie en sy pyl reguit na hulle toe. Galpil, Gert, Piet en Bennie sit net agter die meisies. Apie hardloop tussen die rye af na sy maats toe.

“Ons het geweet jy gaan kom,” sê Anna vir Saartjie. “Ons het vir jou plek gehou.”

Saartjie is in haar skik. Sy is weer by haar maats. Hulle staar vol verwagting na die arena. Die sirkus kan nou maar begin …

Skielik hou die orkes op speel en daar is ’n doodse stilte in die tent. Lynnekom se kinders hou asem op. Wat gaan hulle eerste sien?

Daar is ’n harde gekletter van simbale. ’n Pragtige wit Arabiese hings kom by die arena in. Daar is ’n gordel om die perd se buik. Marzyna, die wêreld se liefling, hou daaraan vas en swaai om en om deur die lug terwyl hy al vinniger in die rondte hardloop. Dit is asemrowend. Die pragtige meisie het ’n kostuum aan waarop goed wat vir Saartjie soos juwele van allerhande groottes en kleure lyk, skitter. Die simbale kletter harder en harder en Marzyna swaai vinniger en vinniger.

Ná ’n laaste gekletter is die simbale eensklaps stil. Die wit perd draf stadiger en slaan oor in ’n trotse trippelpassie. Marzyna swaai haar met ’n grasieuse beweging tot op sy rug. Sy staan regop en waai glimlaggend soentjies vir die toeskouers wat haar meesterlike vertoning van ruiterskap toejuig.

Saartjie sit gespanne. Om en óm beweeg sy saam met die pragtige Marzyna wat nou allerhande waaghalsige toertjies op die hings se rug uithaal. Sy kry dit reg om selfs die moeilkste dinge maklik te laat lyk.

“Ongelooflik,” mymer Saartjie.

Marzyna maak ’n buiging en verdwyn so grasieus soos wat sy verskyn het. Die sirkusbaas met die welige snor verskyn skielik in die kollig. Hy het weer die swart keil op sy kop en dra nes die dag van die optog deur die strate ’n swart manel, wit rybroek en bruin kamaste. Hy klap met ’n lang sweep en hier kom die hansworse!

Tiekie, Bietjie en Kwartpens is drie dwerge en hulle haal die een mal frats na die ander uit. Die kinders kraai van die lag.

Kwartpens is nog korter as die ander twee en hy het ’n mombakkies met ’n verbaasde uitdrukking op sy gesig. Hy probeer alles wat die ander doen na-aap. Hy strompel rond, val oor sy eie voete, staan op, stof hom weer netjies af en slaan dan weer neer. Kwartpens is gedurig in Tiekie en Bietjie se pad. Hy slaan bollemakiesie, koggel hulle uit, hardloop weg as hulle hom wil vang en swaai dan vinnig om en pootjie hulle. Hy lag nie as die twee plat voor hom lê nie – nee, hy kyk met daardie verbaasde uitdrukking op sy mombakkies na die laggende toeskouers en vra kastig uit die veld geslaan: “Wat’s so snaaks, hè?”

Die trane rol oor die kinders se wange soos hulle vir die hansworse se streke skater. Galpil sê kort-kort: “Pêrre, ek lag my dood!”

Kwartpens gooi die ander twee hansworse in ’n kruiwa en stoot hulle onder dawerende toejuiging by die arena uit. Die sirkusbaas se sweep klap hard en die leeuhok word ingestoot.

Die kinders is nou tjoepstil. Hulle staar met groot oë na die vier brullende leeus. Hul harte klop woes toe die leeutemmer by die hok ingaan.

Hy slaan ’n paar keer met sy sweep en die leeus drom brullend in die een hoek saam. Apie sit oopmond en kyk. Die leeus doen die een toertjie ná die ander.

Nadat hulle elkeen op ’n kassie gaan sit het, kondig die sirkusbaas oor die luidspreker aan dat die leeutemmer nou ’n toertjie gaan doen wat min mense nog gesien het. Hy gaan sy kop in een van die gediertes se bek steek!

Daar is ’n gezoem van stemme en ’n tinteling van afwagting.

Tydsaam haal die man sy pet van sy kop af en sit dit op die stoel neer. Dan klap hy met sy sweep en een groot leeu kom brullend na hom toe aangedraf.

Die koning van die diere maak sy kake wyd oop en die man buk vinnig en steek sy kop in die leeu se bek. Almal hou asem op. Saartjie voel duiselig. Anna en Lina hou styf aan haar arms vas. Muggie, wat die hele tyd gesit en kougom eet het, se kakebene is skielik stil.

“As die leeu sy bek nou toemaak, is dit verby met daai ou,” fluister Apie hees.

Maar dit gebeur nie. Die dapper man trek sy kop uit, die orkes speel hard en almal skree en juig. Die leeutemmer buig na links en regs, wys na homself en dan weer na die leeus. Die leeuhok word weer uitgestoot.

Dit gons in die sirkustent oor hierdie “verskriklike” ongelooflike ding wat almal nou net gesien het.

Die tyd vlieg soos ’n droom verby. Die kinders sien pragtige, trippelende ponies, drie akrobate met verstommende toertjies op sweefstokke hoog bo teen die dak, ’n goëlaar in Oosterse klere wat lyk soos ’n wese van ’n ander wêreld en ’n man wat ’n swaard insluk. Dit laat Galpil onwillekeurig tot almal se groot vermaak uitroep: “Ek glo dit nie, pêrre, dis kroekery …”

Uiteindelik stap Lynnekom se kinders traag uit by die groot tent met sy fantasiewêreld wat almal so betower. Hulle gaan nog vir dae aaneen praat oor die sirkus en al sy “wonderlike goete” soos Apie dit noem. Party sal selfs probeer om van die toertjies wat hulle gesien het na te aap. Dan sal die herinneringe geleidelik vervaag totdat die towerwoorde weer eendag deur die strate weerklink: “Die sirkus is hier!”

Saartjie probeer uitpluis wat vir haar die wonderlikste was. Ná ’n lang gewik en -weeg besluit sy Marzyna op die wit perd was tóg haar gunsteling.

“Daardie pragtige bewegings van haar!” sê sy in ekstase. “En sy was niks bang nie. O, ek wens ek kan eendag soos sy wees!”

Anna het ook die meeste van Marzyna gehou, maar sy kan darem nie daardie slim ponies vergeet nie. Dit was vir haar tog te mooi om te sien hoe hulle netjies in gelid draf en dan op die klap van die sweep skielik van rigting verander.

“Ek was mal oor die akrobate,” sê Lina toe Saartjie en Anna haar vra. “Ek dink nie ek het een keer asem gehaal terwyl hulle daar hoog in die lug rondgeswaai het nie.”

Die Drie Muskiete vra nie vir Muggie wat sy die meeste geniet het nie, maar sy vertel nogtans vir hulle: Kwartpens die hanswors. Sy sê sy sal ’n honderd rand betaal om weer te kan sien hoe hy daar in die arena loop en rondval en gekskeer.

Die seuns wat net agter die meisies loop, begin nou ook saam gesels. Die drie groter ouens, Galpil, Gert en Piet, was die meeste beïndruk met die “perd” wat die swaard ingesluk het.

“Ek sou dit nie geglo het as ek dit nie met my eie oë gesien het nie,” sê Galpil kopskuddend, “maar noudat ek dit met my eie oë gesien het, glo ek dit nog steeds nie!”

Apie en Bennie hoef nie twee keer te wonder watter item hul asems die meeste weggeslaan het nie – die leeutemmer en sy leeus was beslis hul gunsteling.

“Haai, Apie,” sê Saartjie skielik. “Ek dink nou net aan iets.”

“Waaraan?” vra haar boetie en kyk haar agterdogtig aan.

“Ons het mos nog elkeen van die geld wat Pappa vir ons gegee het oor, nè?”

Apie knik huiwerig kop. Sy oë is op skrefies en die punt van sy tong speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.

“Nou luister,” sê Saartjie saaklik, “ons sou nie vanmiddag sirkus toe kon kom as Mamma aanhou nee sê het nie. Ek dink ons moet vir haar van daai spesiale lekkers koop waarvan sy so baie hou.”

Apie dink ernstig hieroor na. Hy was van plan om vir homself lekkers te koop met sy oorskietgeld. Maar dan dink hy verder … Sy ma is nooit snoep met haar spesiale lekkers nie. Sy gee altyd vir hulle daarvan.

“Wat sê jy?” vra Saartjie.

“Ma is die beste ma in die wêreld – en dis ons skuld dat haar perskes nie eerste prys gewen het nie. So ek dink dis ’n goeie idee om vir haar van daai lekkers te koop,” sê Apie.

Hy is heel in sy skik met hierdie reëling. Sy ma sal bly wees oor die geskenk en sy sal vir hulle ook van die lekkers gee. En al is al sy geld op, het sy maat Bennie mos nog oor! Bennie sal dit maar net met hom moet deel. So hy wat Apie is, kry nóú lekkers – en netnou by die huis weer!

Hulle koop die lekkers en alles verloop volgens plan. Hul ma is in haar noppies oor die geskenk en begin dadelik daarvan uitdeel, min wetende dat haar jongste se sakke nog bol staan van die lekkers wat Bennie aan hom moes afstaan.

Die sirkus is verby, maar Saartjie dink nog baie aan die pragtige Marzyna op haar wit hings. Sy klim selfs een of twee keer op ’n stoel in haar kamer en probeer buiginkies maak en soene waai vir die skare wat haar so toejuig! In haar gedagtes voer sy allerhande gevaarlike toertjies op die wit perd se rug uit.

Dit is ongelukkig nie baie suksesvol nie. Selfs Saartjie se geweldige verbeeldingskrag is nie genoeg om die stoel in ’n trippelende Arabiese hings om te tower nie.

Die sirkus en Marzyna, die wêreld se liefling, verdwyn egter stadigaan uit Saartjie se gedagtes. Haar aandag is nou weer by haar skoolwerk.

Een oggend sit sy in die klas en skryf ’n opstel. Almal is druk besig. Hulle moet ’n spanningsverhaal skryf. Die leerders hou van hierdie onderwerp en die klas is tjoepstil.

Saartjie lees die gedeelte wat sy klaar geskryf het weer deur. Sy voel haar opstel is goed, maar as sy nog ’n paar lyke daarin kan kry, sal dit nóg beter wees. Sy het een keer gelees hoe meer slagoffers daar in ’n moordstorie is, hoe meer geslaagd is die verhaal.

Vyf moorde klink vir haar beter as drie. Sy moet nou vinnig nog twee karakters van die gras af maak, dan sal haar opstel perfek wees. Vyf moorde in twee bladsye! Sy behoort goeie punte te kry.

Saartjie begin weer skryf. Anna sit langs haar en agter hulle sit Lina. Langs Lina sit nóg ’n meisie van Lynnekom, Matilda Neilson.

In die ry langs Saartjie-hulle sit Galpil en Gert, en net agter hulle Piet en ’n koddige ou wat in die koshuis bly, Hannes Van Wyk.

Almal beskou Hannes as ’n kenner op die gebied van skole, want hy het al in elke provinsie skool gegaan. Die Drie Muskiete hou nogal van hom, want ten spyte van al sy ondervinding is hy altyd in die moeilikheid by die onderwysers.

Saartjie glimlag toe sy opkyk en haar kop effens draai. Hannes is al lankal klaar met sy opstel. Hy sit en speel nou met ’n lang glaspypie. Dit is ’n ideale ertjieskieter. Voor hom op die bank lê sy ammunisie – ’n klomp harde, uitgedroogde bessies.

Saartjie glimlag toe sy sien hoe Hannes sorgvuldig rondkyk. Hy soek duidelik na moontlike slagoffers.

Net toe Hannes ’n bessie optel om in sy mond te sit, staan die onderwyser op en begin tussen die banke rondstap om te kyk hoe die kinders vorder.

“Hoe lyk dit, Saartjie?” sê hy vriendelik toe hy langs haar staan. “Amper klaar?”

“So te sê, Meneer.” Sy kyk op na haar gunsteling-onderwyser, Theo Stegmann. Sy weet nie hoekom nie, maar as hy met haar praat, bloos sy altyd.

Hy draai om en kyk na die ander ry en sy oë val op die ertjieskieter en ammunisie op Hannes se bank.

“Is jy klaar, Hannes?” vra hy.

“Ja, Meneer, lankal!”

“Nou haal jou voorgeskrewe boek uit en lees tot die ander ook klaar is,” sê die onderwyser. “En ek sal jou aanraai om van daardie ding ontslae te raak.” Hy wys na die ertjieskieter.

“Reg, Meneer,” sê Hannes met ’n effense sug.

“Ek weet natuurlik jy sal nooit droom om dit hier in die klas te gebruik nie,” gaan Theo Stegmann glimlaggend aan, “maar netnou word die versoeking te groot. Gee dit liewer weg.”

Die onderwyser stap verder. Hannes besluit dit is goeie raad wat Ou Theo hom gee. Netnou gebruik hy die dekselse ding en dan word hy gevang en is weer in die moeilikheid.

Die seun kyk rond om te sien vir wie hy die blaaspypie sal gee. Dit moet iemand wees wat glad nie in die versoeking sal kom om dit hier in die skool te gebruik nie.

Hy kyk na Saartjie. Sy is een van die mooiste en talentvolste meisies in die skool. Haar pa is ’n dokter en sy speel klavier en wen medaljes. Sy is ’n goedgemanierde jong dametjie. Iets soos ’n ertjieskieter sal haar mos nie in die versoeking lei nie.

Só redeneer Hannes. Dit wys net hoe min hy van Saartjie Baumann af weet.

Hy leun oor na haar en sê: “Dè, Saartjie.”

Sy vat die ertjieskieter vinnig by hom. Sy wil dit nogal graag hê.

“Gee vir my die ammunisie ook,” fluister sy en wys na die bessies.

Hannes kyk agterdogtig na haar. Hy twyfel nou sterk of hy die regte ding gedoen het. Sal ’n gevaarlike wapen soos hierdie ertjieskieter veilig by hierdie meisiekind wees? O, wel, dink hy, solank hy net nie een van die slagoffers is nie. Hy gee vir haar die ammunisie.

“Dankie,” sê Saartjie en glimlag vriendelik. Hannes sug. Hy was al in skole regoor die land, maar hy het nog nooit só ’n mooi meisie gesien nie. As sy so vriendelik vir hom glimlag, kan sy hom gerus maar met ’n bessie agter die oor klits – dit sal nie saak maak nie. Hy sal dit sowaar nie voel nie.

Die kinders is almal só druk besig dat niemand sien wat Hannes vir Saartjie gegee het nie.

Haar opstel is klaar. Sy het vyf moorde op die twee bladsye ingekry. Saartjie het amper nog ’n sesde een ook bygesit, maar hulle mag nie meer as twee bladsye skryf nie en toe moes sy haar storie maar kortknip. Sy is trots op haar laaste paragraaf:

En net toe die kranksinnige man wat die dorpie so op hol gejaag het die rewolwer lig om sy sesde slagoffer te eis, val die swaar hand van die gereg op sy skouer en ’n stem sê: ‘Ons hét jou!’ So het hulle hom toe uiteindelik gevang. En ’n maand later, toe die regter vir die mal man die doodvonnis gee, het hy gesê: ‘Ek wens ek kon jou vyf maal laat hang!’

Saartjie het die laaste sin bygevoeg omdat sy nog ’n reël oop gehad het. Sy wou hê haar opstel moes presies twee bladsye lank wees.

Onder die bank het Saartjie die ammunisie in haar een hand en die ertjieskieter in die ander. Sy byt op haar onderlip en kyk peinsend rond. Sy wil iemand baie graag met die ertjieskieter probeer bykom, maar sy is effens skrikkerig. Sê nou net hý – Theo Stegmann – haar gunsteling-onderwyser, betrap haar en jak haar voor die hele klas af? Nee, dít wil sy tog nie hê nie! Dit sal te vreeslik wees! Sy sal maar geduldig moet wag.

Die laaste periode van die dag het die leerders sang. Hier kry Saartjie die geleentheid waarvoor sy so geduldig gewag het.

Die Drie Muskiete staan in die agterste ry in die saal, naby die ingang.

Saartjie het die ertjieskieter en droë bessies vir haar twee maats gewys. Hulle is net so opgewonde soos sy. Hulle gaan vandag pret in die sangklas hê. Die meisies is nou besig om moontlike slagoffers te soek.

Twee rye voor hulle sien Saartjie ’n kop met bakore. Sy glimlag en haar gesig straal. Dis onmoontlik om daardie ore mis te skiet! En hulle behoort boonop aan Galpil! Hy sal nooit vermoed dis sy wat hom met ’n bessie geklits het nie.

Die onderwyseres is besig om ’n liedjie se woorde op die bord te skryf.

“Nou’s jou kans,” fluister Anna vir Saartjie.

Sy soek ’n bessie uit en sit dit in haar mond. Dan bring sy die ertjieskieter op na haar lippe en stoot die bessie met haar tong tot in die punt van die pypie. Sy is gereed.

Saartjie korrel versigtig na Galpil se linkeroor. Sy haal diep asem en blaas!

Haar slagoffer is net besig om vir die pêrre om hom te sê hy is nie ’n perd wat een noot in ’n sangklas sing nie en dat g’n onderwyser ’n geluid uit sy mond sal kry nie toe die bessie hom tref.

“Eina!” skree hy. “Sjoe! Dit brand!” Hy vryf sy oor.

“Wat is dit met jou?” vra die onderwyseres verbaas.

“Ek weet nie, Juffrou,” sê Galpil en hy hou aan vryf. “Iets het my gebyt.”

“Snert,” sê die onderwysers kwaai. “Jy probeer net die klas ontwrig. ”

Galpil wil nog iets terugbrom, maar dan sien hy die bessie op die vloer lê. Hy is nie gebyt nie, maar geskiet! Iemand het hom met ’n ertjieskieter gepeper!

“Dis nou beter, Juffrou,” sê hy toe hy sien sy kyk nog steeds na hom. Hy wil nie hê sy moet met hierdie storie inmeng nie. Dis ’n saak tussen hom en die persoon wat hom geskiet het. Galpil bal sy vuiste.

Die onderwyseres skryf weer op die bord. Galpil draai om en kyk woedend na die rye agter hom.

Net agter sy ry is daar ’n ry meisies, dan ’n ry seuns en dan weer ’n ry meisies – die ry waarin die Drie Muskiete staan.

Galpil konsentreer op die ry seuns. Dit moet een van hulle wees wat hom geskiet het. “As ek daai perd vang,” sê hy hees vir sy maats, “draai ek sy nek soos ’n mossie s’n om!”

Sy oë dwaal oor die rye soos hy soek na die een wat sowaar die vermetelheid het om vir hom wat Lodewyk le Fras de Waal is met ’n ertjieskieter by te kom. Galpil se oë val op Saartjie. Sy glimlag vriendelik. Hy grinnik vir haar, maar gluur vir die ander kinders in die saal.

Dit is nogal moeilik om terselfdertyd kwaad én vriendelik te lyk – kwaad vir die een wat hom geskiet het en vriendelik met Saartjie wat so liefies vir hom glimlag. Galpil se gesig vertrek op allerhande maniere soos wat dit hierdie teenstrydige emosies registreer.

Dan dwaal sy oë weer van Saartjie se onskuldige gesiggie af weg na die spul agterbakse seuns toe.

Die soektog duur voort.

Saartjie Omnibus 2

Подняться наверх