Читать книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé - Страница 10
3
ОглавлениеPret by die spookhuis
Saartjie stap vinnig onder die boomtakke wat so woes rondswaai deur na die verlate ou huis in die maanlig.
Sy loop versigtig om na die agterdeur toe. Sy is nie meer bang nie, want sy ken mos die pad deur die kombuis na die kamer wat oom Tom en tannie Lottie gebruik. By die agterdeur wat nou so krakend heen en weer in die wind swaai, aarsel sy ’n oomblik. Dit help tog nie om te klop nie, want die oom-hulle sal dit nooit hoor nie – en buitendien verwag hulle haar mos.
Saartjie stap moedig deur die kombuis en met die donker gang af na die trap toe. Dis amper of die ou huis kort-kort kreun onder die wind se woeste aanvalle. Sy dink skielik aan Apie se woorde net voor sy daar by die klomp weg is: “Dis ’n nag vir spoke!”
By die boonste trap tree Saartjie versigtig oor die plek waar sy vanmiddag ’n gat in die vloer getrap het. Sy gaan staan ’n oomblik doodstil en luister. Nêrens in die hele huis hoor sy ’n enkele geluid nie, behalwe die deure en vensters wat kraak as die wind so daaraan ruk.
Onder die oom-hulle se kamerdeur sien Saartjie ’n dowwe ligskynsel. Sy slaak ’n sug van verligting. Sy het lelik benoud begin word toe alles so doodstil is.
“Oom Tom! Tannie Lottie!” roep Saartjie.
Die deur gaan oop en die oom verskyn met ’n lantern in sy hand.
“Kom binne,” sê hy vriendelik.
Tannie Lottie groet ook vriendelik en dit lyk of die twee oumense bly is om weer jong geselskap te hê.
“Ons het gedink jy het miskien besluit om nie meer te kom nie,” sê tannie Lottie glimlaggend. “Ons het gedink jy’s bang hier is regte spoke!”
Saartjie het mos nou nie meer rede om bang te wees nie en sy sê ewe dapper: “Ek’s niks bang nie, Tannie. ’n Ou spokie kan my nie laat skrik nie!”
Sy kom sit by hulle op ’n kissie.
“Koffie vir jou?” vra die moederlike ou tannie.
“Dit sal baie lekker wees, dankie, Tannie.”
Terwyl die kinders daarbuite sit en wonder wat van haar geword het en of die spoke haar miskien al gevang het – of soos Anna dramaties sê: “na die doderyk weggevoer het” – sit Saartjie in die spookhuis en koffie drink.
Sy sien nou eers daar is ’n kombers oor die venster gespan en besef dit is hoekom niemand die lig van buite af kan sien nie.
Die oom vertel vir Saartjie dat hulle van plan is om môreoggend in die pad te val Bosveld toe. Die garage-eienaar het gesê hulle kan die bakkie vroegoggend kom haal.
“En sal ons nie bly wees om hier weg te kom nie,” sê tannie Lottie in haar effens klaerige stem.
Saartjie onthou skielik sy moet die sakdoek waarin die mes toegeknoop is nog hier op die vloer neersit. Galpil gaan vanaand so groot skrik dat hy weghardloop, maar die ander kinders sal môre in die daglig kom kyk of sy dit hier gelos het. Hulle sal wil seker maak sy was regtig in die spookhuis. Sy hoop maar net oom Tom en tannie Lottie is teen daardie tyd al weg sodat die klomp hulle nie hier raakloop nie.
“Oom-hulle ry môre vroeg?” maak Saartjie seker.
“Ja, ek kan die bakkie al agtuur by die garage kry. Dan kom laai ek net vir tannie Lottie en die goed op en ons is weg.”
Saartjie verduidelik dat hulle die sakdoek met die mes daarin tog asseblief op die vloer moet laat bly lê, anders sal die kinders nooit glo dat sy regtig in die huis was nie. Die twee oumense glimlag goedig toe sy buk om die sakdoek op die vloer neer te sit. Hulle begin die speletjie nou ook geniet.
“Vanaand speel ek vir oulaas spook,” lag oom Tom, “en ek sê vir jou, daai seun gaan só skrik dat hy selfs nie eers in die dag hiernatoe sal wil kom nie!”
“Oom moet hom darem nie só erg laat skrik dat hy flou word of iets nie,” sê Saartjie. Sy kry die arme Galpil nogal half jammer.
Saartjie staan op. Sy moet nou teruggaan, want die ander sal wonder waar sy so lank draai. Netnou word hulle so onrustig dat hulle polisie toe gaan en vir hulle sê die spoke het haar gevang!
“Baie dankie dat Oom en Tannie my so gehelp het,” sê Saartjie toe sy hulle groet.
“Dis als in die haak,” sê oom Tom, “maar onthou, jy moet maar liewer nie van ons praat nie, want as die mense uitvind ons het meer as ’n week hier gebly, kom ons dalk in die moeilikheid …”
“Ek sal ek nie ’n woord van Oom-hulle sê nie,” verseker Saartjie hulle. En sy sal mos nie! Sy wil bekend staan as iemand wat nie vir spoke skrik nie en wat die geeste selfs op hul plek gesit het!
Oom Tom stap saam met Saartjie.
“Ek gaan kry gou my wit laken en die ketting,” sê hy. “Dan sal ek hier vir die seun wag.”
Arme Galpil, dink Saartjie weer toe sy vinnig van die huis af weghardloop. Hy gaan hom vanaand boeglam skrik. Maar dit sal hom goed doen. Hy wil mos altyd so grootpraat. Sy hoop hy skrik só groot dat hy niemand ooit weer “ou perd” noem nie!
Op die grasbult ’n entjie van die huis af sit die kinders en gis oor wat met Saartjie kon gebeur het. Sy bly darem nou al lank weg. Hulle begin al erg bekommerd raak.
Vol vertroue, want dit lyk mos nou of dit nie meer vir hom gaan nodig wees om by die huis in te gaan nie, sê Galpil: “Ek sê julle pêrre, die spoke het vir Saartjie gevang!” En dan voeg hy by: “ ’n Spook is nie ’n perd om mee te speel nie!”
Net om heeltemal seker te maak almal verstaan sy posisie, sê hy ook sommer vinnig: “As sy nie terugkom nie, gaan ek natuurlik nie meer soontoe nie, want dit bewys mos dan daar ís sulke goed soos spoke.”
“Ja, maar hoekom het sy nie geskree nie?” vra Apie. “As die spoke haar wou vang, sou sy mos geskree het.”
“En sy sou teruggeveg het,” sê Lina. “Ons ken mos vir Saartjie. Sy sal nie dat ’n spook of enigiemand haar vang as sy nie gevang wil wees nie!”
Almal skud hul koppe. Dis waar. Hulle ken vir Saartjie. Selfs ’n spook sal sukkel om haar te vang.
“Ek sien iets!” skree Apie skielik opgewonde en die verligting is duidelik hoorbaar in sy stem. Almal kyk na waarheen hy met sy vuil voorvinger wys. Dis Saartjie wat in die maanlig oor die grasveld aangehardloop kom!
Die kinders spring op – gereed om ook te hardloop as dit nodig is. Hulle kyk goed, maar sien niks wat vir Saartjie jaag nie. Dan ontspan hulle wanneer hulle haar vrolik hoor lag en skree: “Hallo, julle ouens!”
’n Paar waaghalsiges stap haar tegemoet.
“Wat het gebeur, Saartjie? Vertel ons dadelik!”
Al die kinders praat tegelyk en almal is ewe opgewonde. Die ander klomp wat eers goed gekyk het of daar nie miskien wit gedaantes agter Saartjie aankom nie, stap nou ook nader. Almal drom om Saartjie saam om te hoor wat sy te vertel het.
“Ek het die sakdoek met die mes in die kamer op die boonste verdieping, die een naaste aan die trap, neergesit.”
Galpil staan effens eenkant en luister. Hy is tjoepstil en sê nie ’n woord nie. Hy hoop maar net niemand kan hoor hoe vreeslik sy hart klop nie.
“Wat het gebeur?”
“Het jy iets gesien?”
“Waar was die spoke?”
“Hoeveel was daar?”
“Wat het hulle gedoen?”
Saartjie hou haar hand in die lug vir stilte.
“Wag,” sê sy laggend, “julle vra te veel vrae.”
Almal is nou doodstil. Hulle wag ongeduldig dat sy moet begin vertel.
Saartjie geniet al die aandag. Sy loer eers gou vlugtig oor haar skouer na die spookhuis. Die kinders kyk ook onwillekeurig om en skuif suutjies nader aan mekaar.
“Julle weet, toe ek so na die donker huis toe aanstap, toe dink ek by myself – as daar spoke is, wil ek hulle sien. En toe roep ek hulle …”
“Wat?!” Die kinders kan hul ore nie glo nie.
“Ja, ek het geskree: ‘Spoke, as julle daar is, kom uit! Ek wil julle sien!’ Dis wat ek geskree het.”
Die kinders hang aan Saartjie se lippe.
“En toe?” vra Apie. Sy stem is eintlik hees.
“Toe niks nie,” sê Saartjie. “Die spoke was weg.”
Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke. Sy geniet hierdie toneelspelery baie.
“Jy bedoel jy het niks spoke gesien nie?” vra Anna teleurgesteld.
Galpil begin net weer makliker asemhaal en glimlag, toe sê Saartjie: “Ek sê nie ek het nie spoke gesien nie. Ek sê net toe ek na die huis gestap het, het ek die spoke uitgedaag en hulle het nie uitgekom nie.”
Galpil se glimlag verdwyn dadelik weer en almal luister nou gespanne.
“Wat het in die huis gebeur?” vra Lina die vraag op almal se lippe. “Was daar toe spoke?”
“Wel, julle sien,” sê Saartjie fronsend en sy loer vinnig om te sien watter indruk hierdie huiwerige houding op almal maak, “dis moeilik om te sê.”
Saartjie geniet elke oomblik van haar speletjie.
“Wat’s moeilik om te sê?” brom Apie en hy maak sommer ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande in hul afwesigheid skitter om te wys hoe vies hy is dat Saartjie nie reguit sê wat gebeur het nie.
“Dis moeilik om te sê of ek ’n spook gesien het.”
Almal frons. Almal dink na oor Saartjie se laaste woorde.
“Jy bedoel, miskien het jy ’n spook gesien en miskien nie?” vra Lina huiwerig.
Saartjie knik. Ja, dis wat sy bedoel.
“Kom, laat ek julle alles vertel.” Saartjie besef sy kan hulle nie langer aan ’n lyntjie hou nie.
“Dis omtrent tyd,” brom Apie.
“Ek het eers gesê ek glo nie aan spoke nie, maar vanmiddag het ek gedink almal wat die spoke gesien het, kan tog nie verkeerd wees nie en daar moet seker sulke goed wees,” begin Saartjie verduidelik. “Maar toe besluit ek ook ek is nie ’n bangbroek nie. Ek skrik nie vir spoke nie en ek gaan dit vanaand bewys!”
“Maar wat het gebeur?” vra ’n hele paar stemme.
“Wag,” sê Saartjie en lig haar hand. “Ek’s mos besig om te vertel!”
Die kinders bly weer stil en Saartjie praat verder: “Niks het gebeur voor ek by die huis gekom het nie. Ek het al nader geloop en vir die spoke geroep om uit te kom, maar hulle het nie. En toe gaan ek by die huis in en toe …”
Saartjie speel skitterend toneel. Haar stem is nou hol en swaar en haar oë is groot en staar strak na die kinders. Almal staan nog nader aan mekaar en meer as een loer skelm oor sy of haar skouer.
“En toe?” vra Anna hees.
“Toe ek by die huis instap, het ek sommer dadelik gevoel daar is iemand of iets daarbinne! Ek het deur die kombuis geloop, en toe voetjie vir voetjie met die gang af – en dit het vir my gevoel asof ek al nader aan die iets of iemand kom!”
Niemand sê of vra iets nie. Almal luister net gespanne na Saartjie. Die sweet pêrel op Galpil se voorkop.
“Onder in die gang het ek by die voet van die trap gaan staan. Ek het gevoel die ding is nou baie naby. Maar ek het met die trap begin opgaan … al nader en nader aan die ding wat ek gevoel het daar moet wees …”
Saartjie besluit dit is die ideale oomblik om eers weer ’n bietjie stil te bly.
Niemand maak ’n geluid nie. Dis doodstil hier buite in die donker. Net in die verte hoor ’n mens hoe die wind deur die bloekomtakke huil.
“En toe? Wat het die ding toe gedoen?” vra Lina ná ’n paar oomblikke benoud.
“Ek het nie gesê daar wás ’n ding nie,” help Saartjie haar vriendin reg. “Ek het net gesê dit het vir my gevóél of daar ’n ding was … Ek het nog steeds hoër en hoër met die trap opgeklim. En toe … toe ek amper bo is … toe lyk dit vir my of daar iets wasigs – ’n witterige ding, julle weet –voor my op die trap in die lug hang.”
Die kinders snak hoorbaar na asem.
Saartjie vertel gretig verder: “Ek het lank net so stil gestaan. Ek was nie bang nie, maar my hart het vinnig geklop. En toe besluit ek dis malligheid, ek kan mos nie die hele aand so op die trap staan nie. Ek moet die sakdoek met die mes in die kamer gaan sit sodat Galpil dit kan kom haal.”
Nou kyk Saartjie reguit na Galpil. Hy sug en vee die sweet van sy voorkop af.
“Wat het jy toe gedoen, Saartjie?” wil Anna weet.
“Ek het na die wit gedaante gekyk en my hand opgelig en met my vinger na die ding gewys en hard gesê: ‘Voertsek! Weg is jy!’ Is daar ’n thin line space hier?”
Saartjie lig nou ook haar vinger en skree hard sodat die kinders wip van die skrik. Party lag verleë en ander skuif nog nader aan mekaar.
“En toe, wat toe?” vra Lina.
“Toe gaan die wit ding weg,” sê Saartjie asof sy nie enigiets anders verwag het nie. Sy is mos nie bang vir ’n spook nie.
“En toe gaan ek op na die eerste kamer toe en sit die sakdoek met die mes daarin op die vloer neer. Julle sal nie glo watse mooi uitsig is dit daar van die boonste venster af nie,” borduur sy lustig voort. “Dis pragtig op so ’n mooi maanverligte aand as die wind deur die boomtoppe speel. Só pragtig dat ek toe eers ’n hele rukkie daar bly staan en uitkyk het.”
Die kinders gaap Saartjie oopmond aan. Hulle het nog nooit ’n verhaal van soveel moed en dapperheid gehoor nie.
“Toe ek terug ondertoe gaan,” vertel Saartjie verder, “het dit weer vir my gevoel of daar iets op die trap is. Ek het skaars ’n paar trappe afgeklim, toe sien ek weer so ’n wit gedaante voor my sweef. Maar hierdie keer het ek nie gaan stilstaan nie,” sê Saartjie soos ’n ware heldin.
“Ek het my hand gelig en gesê: ‘Voertsek! Weg voor my!’ en toe loop ek sommer dwarsdeur die wit ding. Dit was asof dit toe net daar verdwyn. Ek kon niks wits meer voor my sien nie.”
Saartjie se gehoor kyk haar met heldeverering aan.
“Toe ek buite kom, het ek terug hierheen gehardloop omdat ek besef het ek het miskien te lank by die venster gestaan en dat julle dalk al bekommerd is oor my.”
Met ’n rustigde skouerbeweging, asof dit alles niks besonders is nie, sê Saartjie ten slotte: “Dis maar al wat gebeur het.”
Vir ’n hele paar oomblikke praat niemand nie. Almal is diep onder die indruk van hierdie wonderlike verhaal wat Saartjie so meesterlik vertel het.
Apie is die eerste een wat iets sê en dis net een woord: “Jislaaik!”
Hy het op hierdie oomblik soveel bewondering vir sy suster met wie hy gewoonlik so baie stry en baklei.
“Sjoe, Saartjie, jy’s wónderlik!” sê Anna.
“Ag, nee wat,” sê Saartjie beskeie. “Dis sommer niks.”
Saartjie is hoog in haar skik. Almal wens haar geluk met haar dapper daad.
Sy voel nie sy het gejok nie. Haar gewete is skoon. Sy het mos maar net vertel dat dit vir haar gevoel het of daar iemand was (en daar wás mos ook – oom Tom en tannie Lottie!) en dat dit vir haar gelyk het of sy ’n wit ding op die trap sien. Sy het mos nie gesê sy hét ’n spook gesien nie. Sy het net gesê dit kon miskien ’n spook gewees het.
Hierdie verhaal het ’n baie groter indruk op die kinders gemaak as wanneer sy byvoorbeeld eerder sou vertel dat sy honderde spoke gesien het.
Almal is oortuig daarvan dat Saartjie wel ’n spook gesien het en soos Anna sê: “Een spook of ’n honderd, wat maak dit saak? Een is genoeg om ’n mens te laat weghardloop – maar Saartjie het nie weggehardloop nie!”
Ja-nee, Saartjie is ’n heldin in almal se oë. Dis nou nie altemit nie.
Ná al die rugkloppery en gelukwensery verby is, draai almal na Galpil wat die hele tyd nie ’n woord gesê het nie.
“Nou toe,” sê Lina effens smalend vir hom, “gaan haal die sakdoek en die mes!”
Galpil het natuurlik heimlik gehoop as hy so stilbly, hulle sal vergeet dat hy daar is – of vergeet dat hy Saartjie se sakdoek en sy knipmes moet gaan haal.
“Eh … eh … pêrre …” stamel hy en grinnik verleë, “dis … dis nou nie meer nodig om te gaan nie – nie dat ek bang is nie, want ek is mos nie ’n perd wat ’n bang haar op sy kop het nie – want Saartjie het mos gesê sy glo nie aan spoke nie en nou glo sy daar ís sulke goed en …”
Galpil kry nie kans om klaar te praat nie. Al die kinders skree hom gelyktydig dood en vra of hy dan bang is.
“Jy’t gesê as Saartjie iets in die spookhuis gaan neersit, sal jy dit gaan haal,” sê Lina. “So, nou moet jy gaan!”
Almal dring daarop aan. Daar is geen uitkomkans vir Galpil nie. Hy besef hy sal nooit die skande oorleef as hy nie gaan nie. Almal gaan sê hy is ’n papbroek.
“Orraait,” sê hy vir die klomp barbare om hom, “ek sal gaan. Ek sê mos maar net dit lyk vir my onnodig, maar ek sal gaan!”
“Nou toe, begin dan loop,” sê Lina vermakerig. “Jy staan net hier.”
Die meisies is almal in hul noppies. Saartjie het weer eens bewys ’n meisie kan doen wat ’n seun nie kan nie.
Die seuns is bek-af. Galpil lyk maar baie skrikkerig, en hulle kan hom ook nie kwalik neem nie. Soos wat Apie en Bennie fluisterend besluit – ná wat Saartjie vertel het, sal ’n honderd osse hulle nie nou daar na die spookhuis toe sleep nie.
“Wanneer gaan jy, Galpil?” vra Saartjie glimlaggend.
“Ek bespied eers die wêreld,” antwoord Galpil en kyk aandagtig na die huis tussen die bome.
“Dit help nie om die plek hiervandaan te bekyk nie,” sê Lina. “Jy sal niks sien nie. Die spook is vanaand binne-in die huis en nie buite nie!”
“Moenie met my lol nie,” brom Galpil. “Ek’s nie ’n perd wat ’n lollery kan vat nie!”
Ten spyte van die feit dat Saartjie haar altyd vererg as Galpil van “ou perd” of “pêrre” praat, voel sy nou tóg effens jammer vir hom. Hy gaan vanaand baie groot skrik! Maar hy wil mos altyd so grootpraat. Dalk sal hy ’n les leer wat hy nie gou gaan vergeet nie.
Sy glimlag vriendelik en sê dan vir hom: “Jy weet, Galpil, jy moet net nie bang wees vir spoke nie.”
Almal luister aandagtig. Dis mos Saartjie wat nou praat en sy is ’n deskundige op die gebied van spoke!
“Jy moet die spook net vas in die oë kyk,” gee sy raad, “en met jou vinger na hom wys en streng sê: ‘Voertsek! Weg is jy!’ Dan sal jy sien hoe gee hy pad.”
“Dankie, Saartjie,” sê Galpil gedwee. Hy draai met ’n swaar sug om en stap traag deur die maanverligte veld in die rigting van die spookhuis.
Die klomp kinders sit weer op die bultjie. Hulle kan nie wag om te sien wat gaan gebeur nie. Die meisies is seker Galpil sal nie die moed hê om vir die spook daar op die trap te sê hy moet voertsek, en dan ook nog Saartjie se sakdoek met sy knipmes in te gaan haal nie.
Die seuns voel ook soos die meisies, maar hoop nogtans hulle is verkeerd. Miskien verbaas Galpil hulle almal. Miskien sit hy die spook op sy plek en kom terug met die sakdoek en die mes. Dan sal hy hul held wees! Dan is die seuns se reputasie gered!
Galpil stap traag van die groep af weg. Maar dan begin hy skielik vinniger stap, want hoe gouer hierdie affêre verby is, hoe beter.
Naby die huis stap hy egter weer stadiger.
Galpil is nou by die agterdeur. Hy loer eers in, maar kan niks sien nie.
By die trap agter ’n deur wat na die eetkamer lei, staan oom Tom. Hy het ’n wit laken oor sy skouers en hou ’n swaar ketting waarvan die grootste gedeelte op die vloer lê in sy hand vas. Hy sien die seun wat so versigtig inloer dofweg deur die gleufie in die deur.
Oom Tom glimlag. Hy wil die kêreltjie nie graag skrikmaak nie, maar hy het Saartjie belowe om dit te doen. Buitendien, hy moet die seun hier wegkry, anders gaan vertel hy die hele Lynnekom van hulle, en dan is daar groot moeilikheid.
Die oom besluit om Galpil nie te erg skrik te maak nie. Hy weet natuurlik nie hoe bang Galpil reeds is as gevolg van Saartjie se storie nie!
Galpil kom gebukkend, voetjiie vir voetjie, by die kombuis in en mik met die gang af.
Hy stap tot by die trap en kyk dan op. Sy hart klop woes. Hy kan niks sien nie, maar dis op hierdie trap waar die spook Saartjie wou voorkeer. Galpil kyk lank na die trap, maar daar is niks wat vir hom na ’n witterige ding lyk nie.
Hy skraap al sy moed bymekaar. Hy gaan nou vinnig by die trap op hardloop. Maar juis op hierdie oomblik besluit oom Tom hy het nou lank genoeg gewag. Hy moet iets doen.
Galpil se voet raak net mooi aan die eerste trap, toe skud die oom die ketting. Dit maak ’n grillerige geluid in die stil huis. Galpil swaai verskrik om en skree hees: “Wassit? Wassit?” Hy het die spook nog die hele tyd voor hom op die trap verwag en nou klink dit of die ding hier reg agter hom is! Dit is weer stil.
Galpil hoor net sy eie vinnige asemhaling. Sy rug is nou na die trap gedraai en sy oë is skrefies soos hy na al die hoeke in die sitkamer loer.
Oom Tom glimlag en sit die laken wat oor sy skouers hang oor sy kop sodat net sy oë deur die twee gaatjies daarin kan sien. Dan kom hy agter die deur uit en gaan staan in die vertrek.
Toe die oom beweeg, rinkel die ketting. Galpil bespied die sitkamer vir die soveelste keer toe hy die ketting hoor. Sy oë peul amper uit sy kop. Daar staan ’n wit ding voor hom. Dis die spook!
“He … he …” Galpil klink soos iemand wat tegelyk lag en huil. “He … he … he …” sê hy aanhoudend en retireer met sy arms voor hom uitgestrek. Die spook kom stadig vorentoe. Hy maak nie ’n geluid nie. Jy hoor net die geluid van die slepende ketting.
Galpil is boeglam geskrik. “St- … st- … staan stil!” sê hy met ’n klein stemmetjie.
Oom Tom glimlag en gaan staan. Hy wens die seun wil nou weghardloop. Hy wil hom mos nie te erg bang maak nie.
Toe Galpil sien die spook gaan staan, kry hy weer effens moed. Hy wys met sy vinger na die ding soos Saartjie gesê het hy moet doen. Nie net sy vinger nie, maar sy hele hand en arm skud behoorlik soos wat Galpil bewe.
Dan sê hy met ’n stem wat niks meer as ’n blote piepgeluid is nie, al het hy gehoop dit sal sterk en kwaai uitkom: “Voertsek! Weg is jy!”
Volgens Saartjie moes die spook nou padgegee het, maar dit gebeur nie. Inteendeel, die spook kom al nader en nader …
Galpil skree nog een keer “Voertsek!” terwyl hy vinnig retireer. Hierdie geskree help ook nie. Die spook kom nog steeds nader. Galpil los ’n bloedstollende gil en dan swaai hy om en nael. Hy het nog nooit in sy lewe so vinnig gehardloop nie!
Die kinders op die bultjie vlieg om. Hulle het die gil gehoor. Dan sien hulle vir Galpil aangehardloop kom asof daar baie meer as net sewe duiwels agter hom aan is. Hierdie keer wag hulle nie eers om te sien of daar iets wits agter Galpil aangesweef kom nie. Hulle spring dadelik verwilderd op en laat spaander!
Die enigste een wat nie hardloop nie is Saartjie. Sy loop net en lag dat die trane eintlik so uit haar oë rol. Oom Tom het sy werk baie goed gedoen.
Sy skree vir die klomp om nie laf te wees en soos wilde goed te hardloop nie. Sy is mos by hulle en sy ken spoke! Sy weet hoe om met die goed te werk. Maar niemand hoor haar eers nie. Almal hardloop net vir die vale!
Galpil kom soos die wind verby Saartjie en skree: “Spook! Hol, ou perd, hol! Die spook is agter my!”
Die kinders nael vinnig, maar Galpil vlieg met só ’n vaart verby hulle dat dit lyk of hulle stilstaan! Saartjie stap kopskuddend na Lina se huis toe. Daar is seker niks in die wêreld wat Galpil daarvan sal laat afsien om ’n ieder en ’n elk “ou perd” of “pêrre” te noem nie.
By die huis vertel Galpil uitasem wat gebeur het. Saartjie is dik van die lag. Sy weet mos wat regtig gebeur het. Oom Tom het die seun net so ’n bietjie skrikgemaak.
Volgens Galpil was daar egter nie net een spook nie, maar vyf! Hulle wou hom daar in ’n hoek vaskeer, maar hy het sy pad oopgeslaan.
“Ek het hulle my vuiste laat proe!” sê hy opgewonde en dan vir Saartjie: “Die een ou wat jy daar gesien het, het seker sy vier pêlle gaan roep.”
“Ja, seker,” sê Saartjie net droogweg.
Die seuns voel hul reputasie is nou gered. Soos Apie sê: “ ’n Mens moet onthou – Saartjie het een spook raakgeloop, maar Galpil het vyf met die vuis bygekom! Wat sou gebeur het as my suster vyf spoke daar op die trap moes gesien het, hè?”
Saartjie is heeltemal tevrede. Dis miskien beter dat dinge só moes eindig. Sy neem Galpil nie eintlik kwalik dat hy nou so oordryf nie. En wie weet, dalk het hy só groot geskrik toe hy oom Tom daar in die wit laken sien dat hy regtig gedink het dis vyf spoke!
Die volgende oggend gaan maak Saartjie eers by die garage seker die oom en tannie se bakkie is weg, dan loop sy saam met Anna en Lina na die spookhuis om haar sakdoek te gaan haal.
Net toe hulle by die verlate ou huis aankom, daag Galpil, Gert en Piet ook daar op. Hulle sê hulle kom die mes haal, maar sy weet Galpil wil kom uitvind of die mes regtig daar in die kamer op die vloer is. Hy moes seker laas nag baie lank wakker gelê en gedink het hoe Saartjie so maklik verby die spook kon kom.
Die Drie Muskiete en die drie seuns gaan saam by die kamer in en Saartjie slaak ’n sug van verligting. Daar is geen teken van oom Tom en tannie Lottie nie en in die middel van die kamervloer lê die sakdoek met die mes daarin toegeknoop.
Galpil kyk na Saartjie. Die bewondering is duidelik in sy oë te lees.
“Heng, ou perd!” sê hy.
Saartjie kyk vinnig anderpad en staar kastig by die venster uit. Sy is dik van die lag.