Читать книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé - Страница 14

5

Оглавление

Apie en Bennie se straf

Die groep kinders stap deur die veld en hou al met die agterstrate langs sodat niemand hulle moet sien nie. Apie en Bennie moet nou tussen die meisies loop sodat ’n verbyganger nie dalk kan sien hulle is vasgebind nie.

Sonder dat enigiemand hulle gewaar of onraad merk, kom die meisies uiteindelik met hul twee gevangenes by die verlate ou waenhuis aan.

“So ja, julle word hier toegesluit tot ons besluit wat om met julle te doen,” sê Saartjie. Hulle knoop die tou om die seuns se hande los en stamp hulle by die waenhuis in.

Die deur word vinnig toegemaak en Anna sluit dit met die groot ou sleutel wat sy ná ete uit hul motorhuis gaan haal het.

“Sal hulle nie kan ontsnap nie?” wil Gail weet.

“Dis onmoontlik,” verseker Anna haar laggend. “Hulle is so vas soos in ’n tronk.”

Anna vertel hoe sy gou ná skool gaan kyk het dat alles in orde is. Daar is genoeg kissies vir al die meisies om op te sit wanneer hulle die twee seuns so gaan aanstaar. Sy het ook seker gemaak die toue is lank genoeg om hulle behoorlik vas te maak.

“Dit sal hulle goed sag maak,” sê Saartjie, “om nou so alleen daar in die waenhuis te sit en wonder wat met hulle gaan gebeur.”

“As ons vyfuur kom om hulle op te hang, sal hulle al so mak soos lammetjies wees,” voeg Anna grinnikend by.

Die meisies kan skaars wag. Dan gaan die pret eers regtig begin!

Saartjie, Anna, Lina en Gail gaan trek gou tennisklere aan en kry hul rakette. Met die woorde: “Tot vyfuur dan!” gaan die groepie uitmekaar.

Apie en Bennie sit mismoedig op twee kissies. Hulle het al probeer uitkom, maar vinnig gesien daar is geen hoop om te ontsnap nie. Die waenhuis is regtig soos ’n tronk. Die deur is van dik hout gemaak en daar is net een venstertjie hoog teen die muur – met tralies voor!

“Ek wonder hoekom het Anna se pa hierdie ding gebou?” vra Bennie.

“Hy’t dit nie gebou nie,” brom Apie. “Dis al hier van die Engelse oorlog af. Hulle het die gevangenes hier opgesluit.”

“Ja, en nou sit ons hier ook soos twee bandiete,” kerm Bennie.

Die seuns wonder wat die meisies met hulle gaan doen en wanneer hulle gaan terugkom. Dit is vervelig om so hier te sit en niks doen nie.

“Ek sê jou: hulle gaan ons ophang,” herhaal Apie vir die soveelste keer. “Hoekom anders wou Saartjie dan gisteraand weet hoe dik my arms is? En hoekom het sy gesê die tou sal perfek pas?’

Bennie het nie antwoorde op hierdie vrae nie. Hy sug swaar.

“Hulle sal dit darem nie regtig doen nie,” soek hy troos by Apie. “Sy sou gevra het hoe dik jou nek was as sy ons wou ophang. En sy kan ons nie ophang nie.”

“Hoekom nie?” kap Saartjie se boetie terug. “Jy weet mos watter onredelike goete is meisiekinders!”

Bennie mompel dat hy en Apie heel moontlik sal doodgaan as hulle opgehang word.

“Natuurlik! G’n mens word opgehang en lewe nog daarná nie.” Apie is nie in ’n bui om sy maat te troos nie.

Maar nogtans, dink Apie skielik, die meisies sal hulle tog seker nie regtig ophang nie … Sê nou hulle maak net of hulle die twee gaan vasmaak, maar hulle doen dit nie regtig nie? Sê nou hulle wil die twee net só groot laat skrik dat hulle sommer enigiets sal belowe wat die meisies hulle vra? Maar hoe gaan die meisies dit regkry om hulle te bluf dat hulle regtig iets gaan doen? Hoe gaan hulle die twee al banger en banger maak en dit dan op die ou end nie regtig doen nie? Wat gaan hulle aanvang?

Apie se hele sproetgesig is op ’n plooi getrek soos hy dink. Hy draai sy oë effens en sien die twee toue wat daar in die een hoek lê. Apie vlieg op.

“Ek weet wat hulle gaan doen!” skree hy opgewonde. “Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hulle kan my nie trick nie!”

Bennie vlieg ook verwilderd op.

Hy het nou net gedink aan hoe hulle sy dooie liggaam van die tou gaan afhaal en hom dan na sy ma toe dra … hoe almal huil en hoe hulle praat van die goeie, gawe seuntjie … van liewe ou Bennie wat nou nie meer met hulle is nie …

“Kom help gou!” roep Apie.

Hy is besig om ’n kissie onder die balk in die plafon in te skuif.

“Bring daai toue daar in die hoek hier!”

Bennie maak so.

“Draai die tou om my lyf.”

“Hoekom?” vra Bennie geskok. “Ek wil jou mos nie vrekmaak nie!”

“Moenie onnosel wees nie,” snou Apie hom toe. “Doen wat ek sê. Ons gaan daai klomp vandag ’n lekker streep trek!”

Bennie bind die tou om sy maat se lyf vas. Apie staan nou met die punt daarvan in sy hande wat teen sy lyf afhang. Hy kyk op na die balk. Hoe op aarde gaan hy – of die meisiekinders – die tou oor die balk kry sodat hulle nie kan wegkom as hulle vasgemaak is nie? Sy gesig is weer die ene plooie soos hy dink.

“Hier moet ’n leer wees,” sê hy.

“Daar.” Bennie wys na die een hoek tussen ’n klomp ou meubels.

“Kom help my gou!” sê Apie vrolik.

Die twee seuns pluk die leer uit waar Anna dit gesit het nadat sy die toue getoets het. Dit is ’n trapleer en hulle skuif dit onder die balk in.

Bennie wil dit nie sê nie, maar dit lyk vir hom asof Apie ook van sy varkies verloor het, nes Saartjie toe sy gister so geloop en waai en buig het vir mense wat nie eers daar was nie.

Apie sit ’n kissie mooi onder die balk neer, klim dan daarop en sê Bennie moet met die punt van die tou waarvan die ander punt om sy lyf gebind is, by die leer opklim.

Toe Bennie bo is, sê Apie: “Sit die tou nou oor die balk.”

Bennie doen dit en dan skree Apie opgewonde: “Hoera! Ek het dit geweet!”

Die tou is nou styf getrek en dit kom net mooi bo-oor die breë balk. Apie is uiteindelik oortuig hy is reg. “Laat ek jou sê wat daai klomp swape gaan doen,” sê hy opgewonde.

Hy vertel vir sy maat, en Bennie se gesig straal nou ook. Hy is seker Apie is op die regte spoor. Die meisies beplan om hulle te blinddoek, die toue om hulle te bind en hulle dan elkeen op ’n kissie te laat klim. Dan gaan hulle die toue oor die balk gooi en maak of hulle nou so stewig vasgemaak is dat hulle nooit weer – wel nie sonder hulp nie – sal kan loskom nie. Dit moet ’n nare gevoel wees as jy vasgebind is en nie kan loskom nie!

“Maar dit sal natuurlik nie gebeur nie,” sê Apie en sy oë glinster van genot, “want die tou is mos nie lank genoeg nie! Ons sal ons net halfdood skrik en hulle sal hulle halfdood lag omdat ons so geskrik en gesoebat het.”

Bennie is dankbaar hy het so ’n slim maat.

“Maar wie laaste lag, lag die lekkerste,” sê Apie dan en hy swaai sy hande deur die lug.

“Hoe bedoel jy?” wil Bennie weet.

“Ons gaan hulle terugkry.”

“Maar hoe?”

“Dis maklik,” sê Apie. “Wat hulle ook al vra of sê ons moet doen – ons weier net eenvoudig.”

Bennie wil nog meer uitvra, maar Apie sê hulle moet die kissies en leer en toue eers weer sit waar hulle dit gekry het.

“Luister nou mooi,” sê Apie toe hulle alles weggesit het en weer op hul kissies sit.

Bennie luister na Apie se skitterende plan. Hulle gaan die bordjies verhang. Hulle gaan sorg dat die meisies vandag soebat – en nie hulle twee nie.

Bennie stem met alles saam wat Apie sê, maar hy het darem ’n paar vragies.

“Nou vra, laat ek hoor,” sê Apie met ’n houding soos ’n koning wat sy onderdane goedgunstiglik toestemming gee om maar iets te sê.

“Sê nou hulle maak die tou dalk rêrig om die balk vas? Onthou, hulle sal ons seker blinddoek en dan sal ons nie kan sien nie.”

“Ons weet mos die tou is te kort,” stel Apie sy maat gerus.

“Maar sê nou net ons moet op twee kissies klim – die een kissie bo-op die ander een?”

Hieraan het Apie nie gedink nie.

“Wel, dan sal ons mos weet ons moenie iets snaaks doen soos spring nie. Dit sal te gevaarlik wees. Ons bene en arms gaan styf vasgemaak wees, so ons sal soos vlermuise in die lug hang. Ons sal mos sien, of as ons nie sien nie, sal ons mos voel of ons op een of twee kissies staan.”

“En sê nou hulle bring ander toue en gebruik nie diés nie?” Bennie wys na die twee toue in die hoek.

“Dan sal ons dit mos sien wanneer hulle hier inkom en weet dis te gevaarlik om te spring,” sê Apie, “maar ek sê jou, alles gaan gebeur net soos ek gesê het.”

Bennie glo dit, maar hy dink darem dit gaan moed kos om sommer so blindelings te spring. Sê nou maar net hulle het ’n fout gemaak en pleks dat hulle – soos hulle beplan het – vir die vale uitnael en die waenhuisdeur agter hulle toeklap, hang hulle soos dooie mossies daar in die lug?

“Hou op wonder wat verkeerd kan gaan,” brom Apie. “Doen net alles soos ek gesê het en ons sal die klomp uitvang.”

Terwyl Saartjie, Anna en Gail tennis speel en heeltyd wonder hoe dit met die twee verdrietige swape in die waenhuis gaan, geniet Apie en Bennie hul gate uit. Hulle is nou besig om sirkus te speel en vang allerhande toertjies aan. Apie klim tot bo-op die leer en hang soos ’n vlermuis aan die balk waaraan hulle kastig nou-nou opgehang gaan word. Hy kyk of hy van die een kant van die waenhuis tot aan die ander kant kan kom, sonder om te val, deur van een balk na die volgende te swaai. Ja-nee, die twee seuns is glad nie meer bang nie.

Vyfuur ontmoet die meisies mekaar naby die waenhuis.

“Die twee is seker nou al senuweewrakke,” sê Saartjie. “Onthou, kyk net stip na hulle tot hulle later so verbouereerd raak dat hulle begin skree vir genade. Dan sal ek die praatwerk doen en dán – as dit lyk of dit nodig is en hulle hou hulle astrant – dan hang ons hulle op …”

Toe Apie en Bennie die meisies hoor naderkom, gaan sit hulle gou op die kissies.

“Moenie bang wees nie,” fluister Apie. “Niks kan gebeur nie. En wanneer jy grondvat, spring jy dadelik op en nael.”

Bennie knik. Hy verstaan, maar hy voel nogtans effens skrikkerig. Sê nou maar net …

Anna sluit oop en die tien meisies borrel by die deur in. Die twee seuns sit stil en gedwee op die kissies. Apie se oë is op skrefies getrek. Hy sien Anna los die sleutel sommer in die slot.

“Stoot julle kissies terug,” sê Saartjie kwaai.

Die seuns gehoorsaam kastig gedwee.

“So ja. Sit nou.”

Apie en Bennie maak so. Die sonstrale deur die venstertjie val skerp op hul gesigte.

Die meisies kom sit op die kissies in die skaduwee. Hulle vou hul arms en staar stip na die twee seuns.

Daar is ’n doodse stilte in die waenhuis. Niemand praat nie. Twintig starende oë is stip op Bennie en Apie gerig.

’n Minuut gaan verby – twee, drie, vier, vyf minute. Bennie verander ongemaklik van posisie en dan Apie ook. Hy mompel vir sy maat: “Hulle dink seker hulle’s snaaks.”

Bennie gee net ’n verleë laggie. Hy hou niks van die starende oë nie.

Dit gaan nou al tien minute lank so aan. Bennie vee die sweet op sy voorkop met sy hand af. Apie staar ingedagte na sy skoenpunt wat al ingeduik is van al die klippe wat hy so gedurig skop.

Hy skuif weer op sy kissie rond en brom vir Bennie: “As hulle tot môre toe soos houtpoppe hier wil sit, is dit orraait met my. Dan sit ons ook!” Hy vou sy arms en kyk reguit na die meisies.

Saartjie staar stip na die seuns, maar sy is vies. Dit lyk nie of hierdie bangmakery, hierdie gestaar wat kastig so aan hul senuwees moes knaag, enige uitwerking op die twee het nie. Apie, en nou selfs Bennie ook, kyk astrant na hulle toe terug.

Saartjie besluit dit is vervelig om net so te sit. Dit is nou tyd vir aksie.

“Weet julle hoekom laat ons julle so stil sit?” vra sy.

Wanneer Saartjie begin praat, verslap die meisies se gespanne houding. Hulle is almal al vies vir dié sittery – veral aangesien dit blykbaar geen uitwerking op Apie en Bennie het nie.

“Nee, hoekom?” vra Apie. Hy is ook nou bly die stilte is verbreek. As hy moet eerlik wees, het die affêre so effens op hom begin werk.

“Omdat ons julle kans wou gee om na te dink oor julle sondes.”

Apie kyk na Bennie. Bennie kyk na Apie.

“Het jy sondes, Ben, ou pen?” vra Apie.

“Nie waarvan ek weet nie, Aap, ou skaap,” antwoord Bennie. “Het jy?”

“Nee, nie waarvan ek weet nie.”

Die twee seuns lag onnatuurlik hard.

Saartjie byt op haar onderlip. Daar is ’n frons op haar voorkop. Sy het gedink die twee sou teen hierdie tyd al baie bang wees – maar hulle bly astrant!

“Toemaar,” sê sy, “julle simpel gelag sal netnou in ’n gehuil verander.”

“Wie gaan huil?” vra Apie met ’n onskuldige gesig.

“Ons sal sien.”

Die meisies gluur kwaai na die twee wat so totaal op hul gemak daar sit.

“Gister,” sê Saartjie en haar stem is kil, “het julle mos gedink julle is baie snaaks. Jy het my gepootjie, Apie, en jy, Bennie, het my gestamp dat ek val – baie hard val – en ek …”

“Het jy miskien seergekry?” val Apie haar in die rede. Hy maak ’n sisgeluid deur die opening voor in sy mond.

“Dis nie nou ter sprake nie,” sê Saartjie uit die hoogte. “Julle twee het baie ander meisies ook al gestamp en gepootjie. En dis julle wat altyd die lang gras daar op die voetpaadjie van die bushalte af aan mekaar vasbind sodat ons hoërskoolkinders struikel en val as ons kortpad vat. En verder is julle lief daarvoor om onskuldige meisies se fietsbande af te blaas. Dis mos vir julle ’n groot grap, nè?”

Apie en Bennie besluit dit is miskien beter om nie op hierdie aantygings te antwoord nie. Dis mos alles waar. Hulle sit maar net met onskuldige gesigte na Saartjie en kyk.

“Ons meisies,” sê Saartjie en wys met haar vinger na die ander, “het besluit om julle ’n kans te gee. Julle moet belowe om ’n paar goed te doen – en julle beloftes natuurlik na te kom ook – dan sal ons julle laat gaan. Dan sal ons julle nie verder straf nie, want dit was seker al straf genoeg om op so ’n heerlike middag in ’n waenhuis toegesluit te wees en niks te kan doen nie?”

Apie en Bennie kyk na mekaar en hulle glimlag. Hulle het die sirkusspelery hier nogal geniet.

Saartjie kyk fronsend na die ander meisies. Hulle kyk na haar en skud hul koppe. Hulle kan dit nie verstaan nie. Die twee outjies lyk glad nie bang nie. Hulle moes teen hierdie tyd al gesmeek het vir genade, maar hulle sit ewe luilekker daar en lag!

“As ons nie die goete wil doen wat julle wil hê ons moet doen nie, wat gaan julle dan doen?” vra Apie. Hy dink daaraan dat hulle die “goete” ernstig sal moet oorweeg as hulle dalk op twee kissies moet klim of as die meisies tou gebruik wat langer is as dié wat daar in die hoek lê.

“Dan, Apie en Bennie,” sê Saartjie saaklik, “gaan ons julle vasmaak en toesluit – vir ewig! ’n Verhoor is duidelik nie nodig nie, want julle het skuld erken.”

Die meisies is teleurgesteld. Saartjie se dramatiese woorde het glad nie die uitwerking op die seuns wat hulle gedink het dit sal hê nie. Die twee lyk nie eers bang nie, al bespreek hulle die saak darem fluisterend.

Skielik sê Apie: “Orraait, laat ons hoor wat is die goete wat ons moet belowe!”

Saartjie raak al hoe ongemakliker. Sy kan hierdie houding van hulle glad nie verstaan nie. Sy moet die leiding neem en dit voel nou amper vir haar asof Apie besig is om dit te doen. Maar sowaar – as die twee nie instem met alles wat sy vra nie, gaan hulle vasgemaak en toegesluit word. Sy het gehoop die vasmakery gaan nie nodig wees nie, maar sy begin haar nou vir die seuns vervies. Hulle soek mos vir moeilikheid!

“Luister mooi!” sê Saartjie kwaai. “Julle stamp, stoot of pootjie nooit weer enige meisie nie! Julle knoop nooit weer daardie gras daar op die voetpaadjie nie! Julle blaas nooit weer ’n meisie se fietsbande af nie! En wanneer julle een van ons op straat raakloop, staan julle beleefd eenkant en doodstil. Julle knik vriendelik en glimlag en stap eers weer verder wanneer ons verby is.”

Dit is al die “goete” wat Saartjie met die ander meisies bespreek het, maar omdat die seuns so astrant is, voeg sy nou ook by: “En daardie waterpistooltjie wat jy het, Apie, vat ek as buit omdat jy my al twee keer daarmee geskiet het. Jy moet dit vir my gee.”

Apie verroer nie ’n ooglid nie en Saartjie sluit af met: “Nou ja, dis alles wat julle moet belowe om te doen. As julle weier, word julle vasgemaak!”

Saartjie was glad nie so streng en ferm soos wat sy van plan was om te wees nie. Terwyl sy gepraat het, het sy die hele tyd gesien haar woorde maak nie enige indruk nie en gewonder hoekom. Die twee astrante knapies sit net daar en glimlag.

“Nou toe, wat sê julle?” vra sy ongeduldig.

“Mag ons eers gou oor die goete praat?” wil Apie weet.

“Julle het net een minuut!”

Apie en Bennie sit en fluister.

Saartjie kyk na Anna en Lina. Hulle frons. Hulle kan dit ook nie kleinkry nie. Hulle het nog nooit vir Apie en Bennie so dapper gesien nie.

Apie verduidelik vir Bennie dat hulle Saartjie se aanbod natuurlik moet verwerp. As hulle op die nippertjie sien die meisies gaan langer toue gebruik of hulle moet op twee kissie staan, kan hulle gou vra vir nog ’n kans om oor die saak na te dink.

“Weet jy wat, Saartjie?” sê Apie ná sy fluistergesprek met Bennie.

“Wat?”

“Julle spul,” en Apie wys met sy hand oor al die meisies se koppe, “moet simpel wees as julle dink ons gaan belowe om al daai goete te doen.”

“Gryp hulle!” skree Saartjie verontwaardig. “Ons gaan hulle vasmaak!”

Die ander meisies is net so vies. Hulle vlieg op en pak die twee beet. Apie en Bennie sit hulle nie eers teë nie!

“Bring die toue en die leer!” beveel Saartjie.

Die seuns slaak stilletjies ’n sug van verligting toe hulle sien die tou daar in die hoek word gehaal. Hulle voel nóg beter toe hulle sien daar word net een kissie vir elkeen van hulle reggesit.

“Blinddoek hulle!”

Gretige hande gryp na Apie en Bennie. Sakdoeke word styf oor hul oë gebind en agter hul koppe vasgemaak. Hulle kan nou absoluut niks sien nie.

“Ons sal julle ’n les leer!” sê Saartjie en sy draai die tou om Apie se lyf vas.

Anna en Lina is besig met Bennie wat nou begin spartel. Hy hou nie daarvan om nie te kan sien nie – en hy hou net niks van die tou om sy hele lyf nie. Dit voel skielik vir hom of die meisies hierdie ophangery ernstig bedoel. Sê nou maar net Apie het ’n fout gemaak en hulle swaai nou-nou van een van die balke?

“Apie,” sê hy bewerig, “wat as …”

“Bly stil, Bennie!” snou Apie hom toe. “Gaan jou dood soos ’n man tegemoet en onthou – hou die blink kant bo!”

Apie hoop Bennie snap sy boodskap. Dit lyk so, want Bennie is nou stil.

Die meisies kyk verbaas na mekaar. Hulle kan nie verstaan hoekom die twee nog nie soebat en smeek vir genade nie.

“Maak die toue om die balk vas, Anna!” beveel Saartjie.

Apie en Bennie hoor hoe Saartjie die leer skuif en Anna opklim. Apie voel skielik ook nie meer so seker van sy saak nie, maar hy kan nie sien hoe hy verkeerd kan wees nie. Die meisies sal hulle tog nie regtig ophang nie. Dis mos onmoontlik. Hy en Bennie moet net moedhou en spring wanneer hulle moet spring. Selfs al hang hulle ’n rukkie in die lug sal Saartjie hulle tog sekerlik weer laat sak.

“Apie moet eerste op sy kissie klim,” sê Anna en ’n klomp hande gryp hom sommer dadelik en tel hom daarop.

“So ja,” sê Anna en Apie voel hoe die tou styf om hom trek. “Die tou is goed vas.”

“Staan stil, Apie,” sê Saartjie in haar diepste, holste stem. “As jy roer, val jy van die kissie af en dan is jy so dood soos ’n mossie!”

Anna het die leer geskuif en die meisies gryp nou vir arme Bennie en plak hom bo-op sy kissie neer. Hy staan regop en voel hoe die tou styf om hom trek.

“Apie!” sê hy beangs.

“Hou die blink kant bo, Ben, ou pen. Hou die blink kant bo,“ sê Apie gerusstellend.

Saartjie kyk fronsend na die twee. Sy verstaan nie watse geblink-kant-bo-houery dit met hulle is nie. Sy het Apie nog nooit so koel en kalm gesien nie.

“Die tou is styf vas, Saartjie,” sê Anna hard sodat Apie en Bennie haar goed kan hoor. “As die ventjie nou spring, sal hy soos ’n riet in die wind hier rondswaai!”

Bennie is bitter benoud. Sy lyf bewe onder die toue.

“Nou goed,” sê Saartjie en kom staan reg voor die twee seuns, “ons gee julle ’n laaste kans. As julle nie belowe om al die goed wat ek opgenoem het te doen nie, word julle opgehang. Julle voel die tou mos al om julle lywe, nè?”

Albei seuns knik met hul kop. Hulle kan nie help om dit te voel nie.

Twee meisies staan agter elke outjie en hou hul hande styf vas sodat hulle nie kan loswikkel nie, anders sal dit van die balk afgly.

“Die toue is styf bo aan die balk vasgemaak. As julle spring of van die kissies afgestamp word, sal julle stadig rondswaai in die lug,” sê Saartjie in ’n doodse stem. “Julle sal bo in die lug swaai en later sal die tou deurskaaf. Natuurlik sal julle val. Baie ver val …”

Saartjie besluit as hierdie realistiese beskrywing hulle nie bang maak nie, sal niks anders dit kan doen nie. Om die pap nog dikker aan te maak sê sy: “Julle sal julle morsdood val!”

Die seuns antwoord nie.

Dan voeg Saartjie sag by: “Maar julle het ’n kans om so ’n marteling vry te spring. Belowe net om daardie goed wat ons vra te doen en ons haal die sakdoeke van julle oë en die toue om jul lyf af en laat julle gaan. Wat sê julle?”

Voor Bennie ingee en miskien iets belowe, sê Apie gou: “Ons belowe niks. Ons skrik nie vir julle nie!”

Die meisies kyk verslae na mekaar. Dit is asof hulle nou in ’n hoek gedryf word. Hulle het nooit verwag dinge gaan hierop uitloop nie.

“Wat sê jy, Bennie?” vra Saartjie.

Bennie sluk en sê dan huiwerig: “Ek sê soos Apie sê. Hang ons maar op as julle wil.”

“Mooi so, Ben, ou pen,” wens Apie hom geluk. “Ons skrik mos nie vir hulle nie, nè?”

“Nee, ons skrik nie vir hulle nie,” sê Bennie dapper, maar sy stemmetjie is maar pieperig en dit voel vir hom of die trane baie naby is.

Saartjie-hulle weet nou regtig nie wat om te doen nie. Hulle was nie sulke weerstand te wagte nie. Saartjie aarsel ’n oomblik en dan sê sy: “Nou ja, as hulle so koppig wil wees, moet ons hulle maar laat hang!”

Die meisies besef hul plan het lelik skeefgeloop omdat hulle dit nie kon regkry om die twee knapies te dwing om die beloftes te maak nie. Maar dit gaan nogtans groot pret wees om te kyk hoe die outjies die moed bymekaar moet skraap om te spring en hoe die paniekerige uitdrukkings op hul gesigte skielik in vreugde verander wanneer hulle van die grond af opstaan en besef hulle swaai nie in die lug rond nie.

“Ek gee julle nog een laaste kans,” kondig Saartjie aan. “Gaan julle belowe, of nie?”

“Jy mors jou asem,” sê Apie en hy voeg ook sommer by: “Sê groete vir Ma en Pa en Kris.”

Saartjie glimlag. Dié Apie darem! Hy is sowaar ’n dapper mannetjie!

Die meisies het natuurlik nie die vaagste benul dat Apie en Bennie weet die toue is nie aan die balk vasgemaak nie.

Maar al weet die twee dit, bly hulle darem nogtans skrikkerig. Dis ’n vreeslike gevoel om so op ’n kissie te staan met ’n tou om jou gebind, jou oë geblinddoek en jy weet jy moet nou enige oomblik spring. Onder die sakdoek is Bennie se oë styf toegeknyp. Apie se hart klop wild. Sê nou net iets gebeur met Bennie? Sê nou net …

“Gaan julle self spring, of moet ons julle stamp?” vra Saartjie.

“Ons sal self spring,” mompel Apie.

“Goed, ek tel tot by drie – dan spring julle.”

Die meisies staan weg. Net die paar agter die seuns hou hulle nog vas. Hulle sal los wanneer die twee spring.

“Een!” begin Saartjie tel.

Apie staan reg. Bennie sluk vir die soveelste keer en sy adamsappel wip vir die soveelste keer op en af.

“Twee!”

Dit flits deur Apie se gedagtes – sê nou net die toue is regtig aan die balk vas? Bennie is só bang dat hy probeer om nie te dink nie. Hy sluk en sluk tot dit vir hom voel hy kan nie meer nie.

“Drie! Spring!”

Apie spring die donkerte in en skree: “Kom, Bennie!”

Bennie spring ook.

Die twee kom soos blits regop. Hulle skud hulle koppe woes en gelukkig kom die sakdoeke van hul oë af. Blitsvinnig nael hulle na die deur toe. Dis mos hoe hulle afgespreek het.

Die meisies wat hulle klaar gemaak het om lekker te lag is nou so verbaas dat hulle die twee net oopmond staan en aangaap.

Saartjie kom eerste in beweging, maar dis reeds te laat. Die waenhuis se deur word hard in haar gesig toegeklap en die meisies hoor hoe die sleutel in die slot gedraai word. Hulle is nou hier toegesluit!

Buite skud Apie en Bennie hartlik hand en klop mekaar op die rug. Alles het perfek uitgewerk.

“Ons het hulle lekker gewys, nè, Ben, ou pen?” sê Apie laggend.

“Ja-nee, Aap, ou skaap! Ons skrik nie vir hulle nie!” sê Bennie en slaan Apie weer op die skouers dat hy hik.

Die seuns gee ’n paar bokspringe en slaan sommer ook ’n paar keer bollemakiesie van pure uitbundigheid.

In die waenhuis staan die meisies met verbaasde uitdrukkings op hul gesigte na mekaar en kyk. Dit het alles so vinnig gebeur! Toe hulle nog dink hulle gaan lekker lag, is die twee knapies soos vetgesmeerde varke by die deur uit.

“En nou?” vra Saartjie verslae.

Almal praat nou tegelyk. Dis baie duidelik dat Apie en Bennie moes geweet het die toue was nie aan die balk vas nie. Dis natuurlik hoekom hulle nie bang was nie.

“Hulle moes dit hier in die waenhuis uitgevind het,” sê Saartjie.

“Een van hulle moes die idee gekry het om die toue te meet,” sê Anna. “En toe sien hulle dis te kort om aan die balk vas te maak.”

“Dís hoekom hulle so dapper was,” sê Lina.

En toe begin Saartjie lag. Sy sien skielik die humor van die hele situasie in.

“Daai twee karnallies was te slim vir ons,” sê sy. “Hulle het sowaar meer met ons die gek geskeer as ons met hulle.”

Anna, Lina en die ander meisies begin ook nou lag. Die outjies het hulle slim uitoorlê, dis nie altemit nie!

“Maar wat gaan hulle nou met ons doen?” vra Anna bekommerd. Dit word al laat en hulle moet huis toe gaan.

Die meisies staan by die deur en hoor hoe Apie en Bennie daarbuite te kere gaan en mekaar luidkeels gelukwens.

“Apie!” skree Saartjie.

Dit is stil.

“Apie!” skree Saartjie weer.

Die seuns kom druk hul koppe styf teen die deur.

“Ja?” sê Apie. “Wat wil julle hê?”

“Die grap is nou verby. Sluit oop die deur dat ons kan uitkom.”

Die seuns lag weer uitbundig. Hulle slaan eers gou weer ’n paar keer bollemakiesie en dan skree Apie: “Dink julle ons is mal om julle te laat uitkom? Julle wou ons dan ophang!”

“Ons het mos maar net gespeel,” sê Saartjie met ’n vriendelike stemmetjie. “Ons het sommer net ’n grappie gemaak!”

Apie en Bennie lag weer luidrugtig.

Die meisies kyk moedeloos na mekaar. ’n Paar van hulle begin nou paniekerig word. Hul ouers wag seker vir hulle en daar gaan groot moeilikheid wees as hulle laat is vir aandete.

“Apie!” skree Saartjie. “Is jy en Bennie nog daar?”

“Natuurlik is ons. Waar dink jy sal ons wees?”

Saartjie sluk eers ’n paar keer swaar. Sy haat dit om te doen wat sy nou verplig is om te doen. “Wat moet ons julle gee sodat julle die deur sal oopsluit en ons laat uitkom?”

“Geld!”

Ja-nee, die seuns is baie beslis. Hulle het hierdie saak vroeër vanmiddag al in die waenhuis bespreek terwyl hulle planne beraam het.

“Hoeveel?” vra Saartjie.

“Tien rand van elkeen van julle!”

Hulle het ook vanmiddag reeds oor die bedrag besluit. Dit beteken hulle sal elkeen vyftig rand kry. Apie wou eers meer vra, maar Bennie het hom daaraan herinner dat die meisies ook maar platsak is en miskien net sal weier en probeer om die waenhuis se deur op die een of ander manier oop te breek.

Die meisies bespreek die aanbod fluisterend. Hulle is almal meer as gewillig om die geld te betaal, solank hulle net hier kan uitkom.

“Goed,” sê Saartjie uiteindelik teen die deur, “sluit oop, dan sal ons vir julle die geld gee …”

“Wanneer?”

“Wel, ons het nie nou geld by ons nie. Ons sal julle môre betaal.”

“Op jul ere woord?”

Almal belowe hardop saam. Apie en Bennie wens mekaar geluk. Hulle weet die meisies sal woord hou.

“Julle moet nóg ’n belofte maak,” sê Apie.

“En wat’s dit?” vra Saartjie agterdogtig.

“Julle moet belowe julle sal ons nie weer probeer vang om ons kastig ’n les te leer nie. Julle moet vergeet van al daai goete waaroor julle vies was – die gepootjie, die gestamp, die gras wat vasgebind was, Mathilda se pap fietswiele. Julle moet dit alles vergeet – en ook dat ons julle hier in die waenhuis toegesluit het. Ons is nou kiets, orraait?”

Daar is ’n oomblik stilte.

“En julle moet ons môre betaal,” kom Bennie se piepstemmetjie.

Die meisies is maar te bly om alles te vergeet, want hulle het nie eintlik vanmiddag met eer uit die stryd getree nie. Hoe gouer hulle dit kan vergeet, hoe beter.

“Goed,” sê Saartjie.

“Goed, wat?” wil Apie weet.

“Goed, ons belowe dit!”

“Orraait!” sê Apie tevrede en herinner hulle dan net weer vinnig: “Maar moenie die geld vergeet nie!”

Bennie sluit die deur oop en die meisies borrel uit. ’n Paar kyk kwaai na die outjies wat so breed staan en glimlag en stap dan vinnig weg. Dit is al laat en hulle moet opskud.

Die Drie Muskiete kan nie help om saam met die seuns te lag nie. Saartjie is nogal trots op haar boetie wat so uitgeslape is.

Saartjie Omnibus 4

Подняться наверх