Читать книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé - Страница 8
2
ОглавлениеOom Tom en tannie Lottie
Die volgende dag versprei die nuus soos ’n veldbrand onder Lynnekom se kinders. Saartjie en Galpil het mekaar uitgedaag. Hulle gaan afsonderlik by die spookhuis in om die spook – of spoke! – te sien!
Saartjie voel glad nie gelukkig oor die affêre nie. Sê nou maar net daar is regtig ’n spook? Sy dink weer daaraan dat die mense wat almal die kastige gedaante gesien het, nie betroubare getuies is nie. Maar selfs hierdie gedagte troos haar nie nou veel nie.
Die middag ná skool is Saartjie stil in die bus. Lynnekom se kinders is almal besonder uitgelate en vol pret. Môre is mos Saterdag en daar is nie skool nie en vanaand gaan hulle almal kyk – natuurlik van ’n veilige afstand af – hoe Saartjie en Galpil by die spookhuis ingaan, eers sy en dan hy.
“Hoekom is jy so stil?” vra Lina toe die bus al naby Lynnekom is.
“Ek dink sommer,” antwoord Saartjie.
Anna en Lina kyk glimlaggend na mekaar. Hulle kan sien Saartjie is bekommerd. Anna begin weer saggies sing van die een spook wat vet is en die ander een wat maer is.
“Probeer jy snaaks wees?” vra Saartjie kil.
“Nee, hoekom?” Anna kyk verbaas na haar.
“Kan jy nie liewer iets anders sing nie?” vra Saartjie en voeg vies by: “Dis te sê as jy móét sing!”
Ja-nee, Saartjie is nie haarself nie. Sy is baie bekommerd. Sy byt effens op haar onderlip en vee met die agterkant van haar hand die weerbarstige krul van haar voorkop af weg. Sy wonder wat ’n spook met ’n mens maak as hy jou vang.
Dié middag is Saartjie alleen by die huis. Sy sit mismoedig by haar kamervenster en kyk uit na die spookhuis. Sy was nie eens lus om saam met Anna en Lina te gaan tennis speel nie. Sy het sommer net gesê sy voel nie “lekker” nie.
In Lynnekom gesels die kinders vanmiddag aanhoudend oor Saartjie en Galpil. Almal behalwe Saartjie en Galpil wens dit moet donker word. Hulle wil sien hoe eers Saartjie en dan Galpil na die spookhuis toe loop en wat gaan gebeur as die spook of hopelik ’n hele horde spoke hulle jaag!
“Maar,” soos Apie vir sy maats sê, “ons sal net vir Saartjie sien skree en hardloop, want as die spoke haar verwilder, sal Galpil mos nie ’n voet daar sit nie.”
“Daai spoke is gevaarlik, ouens,” sê Bennie en klink sommer bang. “Ek en ou Apie weet. Ons het hulle gesien!”
Apie knik sedig kop terwyl die punt van sy tongetjie deur die opening voor in sy mond speel. Hy stem duidelik volkome saam met Bennie: Daardie spoke is alles behalwe ’n grap.
Galpil sit mismoedig by die huis aan allerhande spookstories en dink. Hy wonder hoe gevaarlik is ’n spook. Hy is nie eers vanmiddag lus om by sy vriende te kuier nie.
“Ja-nee, ou perd, jou broek bewe,” sê hy hardop vir homself. Hy wonder of Saartjie ook skrikkerig voel.
In haar kamer sit Saartjie nog steeds droewig voor haar en uitstaar. Sy sug swaar en wonder of Galpil ook skrikkerig voel.
Saartjie kyk vir die soveelste keer peinsend deur haar venster na die ou plaaswoning. Die huis lyk rustig en stil daar tussen die hoë bloekombome.
Snaaks dat spoke net in die aand verskyn en nie in die dag nie nie, dink sy. En toe kry Saartjie skielik ’n blink gedagte. Ja, dis wat sy gaan doen! Dan hoef sy nie vanaand daar in die donker huis te loop en voel-voel nie. Sy sal weet hoe en waar om te loop, want sy sal die plek darem al ’n bietjie ken. Sy gaan vanmiddag – of sommer nou – na die spookhuis toe om die plek deur te kyk. So helder oordag is daar mos nog nie sprake van spoke nie!
Saartjie trek gou haar skoolklere uit. Sy trek ’n slenterbroek en ’n ligte toppie aan. Sy sit ’n bofbalpet skeef op haar kop en draf haastig by die huis uit.
Saartjie stap al met die agterstrate langs sodat niemand haar moet sien nie. Sy wil nie hê hulle moet weet sy gaan na die ou plaaswoning toe nie en sy is al moeg vir almal wat vandag oor en oor vir haar gevra het: “Is jy bang?”
Nou hardloop Saartjie deur die veld na die huis. Sy gaan staan in die skaduwee van die ou bloekombome en tuur aandagtig na die ou plek wat so rustig lyk. Dis of hier geen lewe is of nog nooit was nie.
Dit is stil. Saartjie hoor net die geskree van die sonbesies, en af en toe kraak een van die bome se takke. Verder is dit doodstil …
Die ou huis lyk vervalle en verwaarloos. Daar is nie meer ’n enkele heel venster oor nie en party van die deure swaai net aan een skarnier. Onkruid en allerhande soorte gras en rankplante groei teen die mure op. Die huis lyk verwaarloos in die middagson, maar nie gevaarlik nie, dink Saartjie. Iewers in die verte hoor sy ’n paar duiwe koer.
“Hier is glad nie ’n spook nie, wat nog te sê van ’n hele klomp?” sê Saartjie sag by haarself. “Apie en Bennie en daai ander spul en oom Izak wat ook kastig ’n gedaante hier gesien het, is nie betroubare getuies nie!”
Saartjie voel sommer baie beter. Die vreedsame toneel, die ou huis wat so rustig in die namiddagson lê en droom, die sonbesies wat sing en die duiwe wat so lustig koer, laat haar ontspan. ’n Spook sal tog nie in só ’n plek tuis voel nie!
Sy is heeltemal gerus totdat sy skielik daaraan dink dat spoke mos nie bedags verskyn nie! Die plek lyk nou miskien rustig en mooi, maar sê nou daar dwaal saans ’n kwaai gees – of selfs meer as een! – rond? Dan is dit natuurlik ’n heel ander saak!
Saartjie stap uit die skaduwee in die sonlig na die huis toe. Sy gaan nou ondersoek instel sodat sy vanaand presies weet hoe sy moet loop en waar om die sakdoek wat Galpil moet gaan haal neer te sit.
Sy stoot die agterdeur wat feitlik nog net ’n paar repies hout is oop en gaan staan in die deur. Sy staar na die skemerte daarbinne en stap dan by die kombuis in. Dis of daar ’n koue klammigheid oor alles hang.
Saartjie se hart klop vinniger.
Sy stap deur die kombuis en dan met ’n gang af na die sitkamer toe. Sy is sommer vies vir haarself dat haar hart so bokspring. Hier is mos nie spoke nie – in elk geval nie helder oordag nie!
In die sitkamer is daar ’n trap wat lei na die boonste verdieping waar die slaapkamers is. Saartjie gaan staan by die voet van die trap. Sy hoor ’n sagte geritsel. Sy byt bang op haar onderlip. Haar hartklop klink nou soos hamerslae in haar ore. Haar oë is groot gerek. Wat maak daardie geluid? Spoke loop mos nie bedags rond nie …
Skielik glimlag Saartjie. Daar het ’n sagte windjie begin waai en sy besef dis dít wat die repies geskeurde muurpapier so laat ritsel.
“Ai, dat ek nou so vir koue pampoen skrik,” sê sy hardop vir haarself en vee met die agterkant van haar hand die krul van haar voorkop af weg.
Saartjie loop op haar tone by die trap op. Sy weet self nie hoekom sy juis saggies moet loop nie, maar nou ja, ’n mens weet nooit nie …
Toe sy al ’n paar trappe op is, gaan staan sy stil. Dís nou ’n goeie plan, dink sy. Sy sal haar sakdoek in een van die boonste kamers gaan neersit en dan vanaand …
Saartjie glimlag van oor tot oor. “Mooi dink,” praat sy weer hardop met haarself. Haar voorkop is eintlik op ’n plooi getrek soos wat sy konsentreer.
Sy sal haar sakdoek in een van die kamers op die vloer gaan neersit. Dan vat sy vanaand ’n sakdoek wat net soos dié een lyk wat sy nou hier by haar het en wys dit vir al die kinders daar by Lina-hulle se huis. Dan stap sy hier na die spookhuis toe en wag ’n rukkie sonder om in te gaan. Dan kom sy terug en vertel vir almal hoe sy by die huis in en met die trap op is en die sakdoek toe in die kamer op die vloer neergesit het. Dan moet Galpil die sakdoek gaan haal – en hy sal natuurlik by die huis moet ingaan.
Saartjie glimlag tevrede. Dit is nogal ’n oulike plan, maar dan skud sy onwillekeurig haar kop en dink dat dit darem nie regverdig sal wees nie. Sy sal dit nooit oor haar hart kan kry om te jok nie – en dit sal nie eens ’n noodleuentjie wees nie. Nee, sy kan dit nie doen nie.
En nog iets, dink Saartjie, ek is seker die klomp barbare wat so graag bloedstollende gille wil hoor, sal die sakdoek op een of ander manier merk sodat hulle seker kan wees dit is dieselfde een.
Saartjie besluit haar goeie plan is nie regtig so goed nie. Sy sal maar net eenvoudig vanaand by die huis moet inkom en die sakdoek in een van die slaapkamers gaan neersit. Dit sal maklik wees, want sy wat Saartjie Baumann is, glo mos nie aan sulke goed soos spoke nie.
Sy loop verder met die trap op. Kraak-kraak, maak haar voetstappe op die ou houttrap. Dit klink amper soos kreungeluide. Wanneer sy stilstaan, is die gekreun gelukkig darem ook stil.
Saartjie is amper op die boonste trap wanneer sy skielik botstil gaan staan. Sy hoor iets – en dit is beslis iets vreemds! Dis nie net die geritsel van die muurpapier of die trap se gekraak nie …
Haar hart bons weer geweldig. Dit voel amper of dit uit haar keel gaan spring. Met haar kop effens skuins luister sy aandagtig. Sy hoor stemme! Dit is mense wat saggies praat. Praat geeste uit die doderyk dan met mekaar? Saartjie vee met die agterkant van haar hand die klein sweetdruppeltjies van haar voorkop af. Sy wil net by die trap afhardloop toe sy ’n manstem duidelik hoor sê: “Môre is ons weg hier, vroutjie.”
Saartjie byt verward op haar onderlip. Sy draai haar kop nou nog skuinser soos wat sy luister, maar sy hoor nie weer iets nie. Alles is doodstil.
Praat spoke sowaar Afrikaans? En waarheen gaan hulle môre weg?
Allerhande gedagtes flits deur Saartjie se brein. Daardie stem klink vir haar glad nie soos ’n spookstem nie – dis nie eens hol of swaar nie. Dis net ’n ou man se krakerige stem.
Saartjie se oë is groot en haar ore gespits. Sy hoor nou ’n temerige vrouestem: “Ja, ou man, ek sal bly wees om hier weg te kom.”
Dis mense wat daar praat! Saartjie is oortuig daarvan. As dit spoke was, sou sy beslis nou vir die vale genael het, maar dis nie spoke nie.
Sy besluit om ondersoek in te stel. Die mense kan haar mos nie opeet nie. Dit klink vir haar na ’n ou man en vrou – en sy wat Saartjie is, het mos net soveel reg as hulle om in hierdie verwaarloosde huis te wees.
Voetjie vir voetjie stap Saartjie by die trap op. Die boonste trap is egter al só verrot dat die planke met ’n harde gekraak breek toe Saartjie haar voet daarop neersit. Haar voet glip skoon deur die hout.
“Gonna!” sê Saartjie hardop. Haar pet het afgegly en hang nou oor haar oë. Voor sy van haar verbasing kan herstel en haar voet kan uitkry, word ’n deur voor haar oopgeruk en daar staan ’n bejaarde man en vrou voor haar. Hulle kyk kwaai na haar.
“Wie’s jy?!” bulder die man.
Saartjie kyk op. Sy kan niks sien nie. Sy pluk haar pet af en kyk na die kwaai oumense. Haar een been is gebuig onder haar en die ander een sit in die trap vas.
“Middag, Oom! Middag, Tannie!” Saartjie grinnik verleë. “Ek het bietjie vasgeval …” Saartjie sluk-sluk. Haar oë is pierings.
“Wat soek jy hier?” Die oubaas se wenkbroue is twee yslike vraagtekens.
Met ’n soet glimlaggie kyk Saartjie op na hom. Hulle is gelukkig darem nie twee spoke nie!
“Ek het sommer net hier ingekom om rond te kyk, Oom,” sê sy vriendelik, “en toe het ek geval, Oom weet.”
“Die arme meisie het miskien seergekry,” sê die gesette vrou en sy waggel nader om Saartjie te kom help.
Die oom kom nou ook nader. Hy sit sy hande versigtig onder Saartjie se arms en help haar op terwyl die tannie Saartjie se been uit die gat trek.
Saartjie staan op en trap op die been.
“Het jy seergekry?” vra die tannie besorg.
“Nee, Tannie, ek het net so ’n bietjie geskrik toe die trap breek.”
Saartjie staan effens agter die tannie, weg van die oom wat haar so kwaai aangekyk het. Sy wil buite trefafstand bly. Netnou gee hy haar sommer ’n oorveeg!
Die oom en tannie kyk na mekaar. Sy lyk bekommerd. Hy lyk vies.
“Wat’s jou naam?” bulder die oubaas.
“Saartjie, Oom … Saartjie Baumann.”
“Woon jy hier op Lynnekom?”
“Ja, Oom.”
Saartjie voel nou nie meer so skrikkerig nie. Die tannie is baie vriendelik en die oom lyk nou skielik ook nie meer so kwaai nie. Saartjie besef die oumense het seker net so groot soos sy geskrik toe hulle die lawaai hoor.
Die tannie kyk vraend na haar man. Dit is of sy wil sê: “Wat gaan ons doen?”
Die lang, skraal man staan ’n oomblik en dan sê hy vir Saartjie: “Kom saam met ons.”
Saartjie stap saam. Sy is nou glad nie meer bang nie. Sy ken mos mense. Sy weet sommer dis twee goeie ou mense hierdie. Hulle sal haar nie kwaad aandoen nie. Sy is oortuig daarvan. Sy wonder net wat hulle hier in die spookhuis doen.
Hulle gaan in by die kamer waaruit die twee oumense so skielik verskyn het toe hulle die lawaai en die harde “Gonna!” gehoor het.
In die hoek is ’n matras met beddegoed op. Verder is daar nog ’n paar houtkissies in die kamer en eenkant in ’n ander hoek sien Saartjie ’n paraffienstofie op ’n kissie. Langsaan is ’n kissie met koppies, pierings, borde en ’n paar ander stukkies eetgerei daarop. Teen die muur staan daar twee groot tasse.
Die ou oom en tannie gaan sit elkeen op ’n kissie en die oubaas wys met ’n benerige vinger vir Saartjie om ook te sit. Sy kom sit op ’n kissie reg voor hulle. Saartjie frommel haar bofbalpet verbouereerd in haar hande op, want sy weet nog nie wat met haar gaan gebeur nie.
“Wat doen jy in hierdie huis, meisie?” vra die oom. Hy klink nou niks meer kwaad nie.
Saartjie besluit om sommer alles te vertel. “My boetie, Apie, en sy maat, Bennie, het gesê dit spook hier, want hulle het kastig ’n hele horde spoke gesien. En toe het ander kinders ook begin sê dat hulle ’n spook hier gesien het.”
Saartjie praat vinnig en moet nou eers bietjie stilbly om asem te skep.
Die ou man en vrou kyk na mekaar. Dan sê die oom: “En toe?”
“Ag, Oom weet, ek glo nie aan spoke nie en toe het ek gesê hulle het hulle almal dit net verbeel. Hulle is nie betroubare getuies nie, Oom weet.” Saartjie kan sien die oumense is beïndruk met haar goeie woordeskat.
Sy vertel in haar noppies verder: “En toe sê die ander ek is te bang om in die donker hierheen te kom en toe sê ek ek is nie. En toe spreek ons af dat as ek hier inkom, Galpil dit ná my sal doen. Ek moet ’n sakdoek hier kom neersit en hy moet dit dan kom haal. So, ek het besluit om die wêreld vanmiddag bietjie te kom verken, sodat as hier vanaand ’n spook of spoke is, ek sal weet hoe om vinnig uit te kom en weg te hardloop.” Saartjie glimlag vriendelik en sê dan: “Dis maar al, Oom.”
“Jy sê julle moet vanaand kom kyk of dit hier spook?”
“Ja, Oom.”
Die oubaas en sy vrou kyk na mekaar.
“Ons moet haar maar alles vertel, ou man,” sê die tannie. “Dit is mos ons laaste aand. Sy sal vir niemand sê nie.”
Dan draai die ou vroutjie na Saartjie en vra: “Of hoe, meisie?”
“Nooit nie, Tannie,” sê Saartjie plegtig sonder dat sy enige idee het waaroor dit gaan.
“Reg, ons sal jou alles vertel,” sê die oom vir Saartjie en daar is ’n ondeunde flikkering in sy bruin ogies wanneer hy byvoeg: “Miskien kan ons jou help om vir die ander te wys jy is nie bang nie.”
Saartjie skuif haar kissie nader. Sy is nou die ene belangstelling.
“Ek is oom Tom en dit is my vrou, tannie Lottie.”
“Aangename kennis, oom Tom. Aangename kennis, tannie Lottie.” Saartjie steek ewe ordentlik haar hand uit en groet die twee oumense plegtig. Sy is baie bly tannie Lottie se naam is nie Meraai nie, want dan sou sy regtig begin dink oom Izak hét ’n spook gesien.
Oom Tom begin vertel, en Saartjie luister aandagtig. Toe die oubaas klaar is, bars sy uit van die lag. Oom Tom en tannie Lottie lag ook heerlik saam.
“Dis baie snaaks!” lag Saartjie. “Ons gaan vanaand baie pret hê!”
“Maar ons help jou net as jy op jou erewoord belowe om vir niemand van ons twee te vertel nie.”
“Ek belowe, Oom.” Saartjie maak ewe sedig ’n kruis oor haar hart.
Soos Saartjie die ding verstaan, is oom Tom en tannie Lottie wat volgens die oubaas “nie goed bedeeld is met aardse goedere nie” op pad na hul seun in die Bosveld. Hulle het hul huisie in die Vrystaat saam met feitlik alles wat hulle besit, verkoop en vir hulle ’n tweedehandse bakkie aangeskaf om sak en pak met die bietjie wat hulle oor het, na hul seun en skoondogter toe te trek. Hulle wil die laaste dae van hul lewe rustig daar in die Bosveld gaan deurbring.
Maar die bakkie het hier op Lynnekom onklaar geraak en hulle moes dit garage toe neem. Die werktuigkundiges het vir die oumense slegte nuus gehad. Daar is groot fout met die bakkie en ’n hele paar onderdele moet eers van die fabriek af bestel word omdat dit so ’n stokou model is. Dit sal omtrent tien dae neem om die bakkie weer aan die gang te kry.
Toe het die twee oumense met hul hande in hul hare gesit. Hulle was te trots om by iemand hulp te vra en hulle het nie geweet waar om te slaap nie. Hulle besluit toe maar om die eerste aand terwyl hulle dinge oordink in die veld in die bakkie te slaap. Die garage het gesê hulle kan nog ’n entjie daarmee ry, maar nie te ver nie.
Die oom en tannie was baie mismoedig. Hulle het by Lynnekom uitgery en toe van die hoofpad afgedraai en toevallig op die verlate ou huis afgekom. Hulle kon sien niemand woon hier nie en het sommer dadelik besluit om dit hul tydelike heenkome te maak.
Die volgende oggend het oom Tom toe die bakkie na die garage geneem, ’n paar inkopies gedoen en hulle het in die huis ingetrek. Hulle het nie veel geld nie, maar hulle kan mos verniet hier bly. Oom Tom het net vir die garagemense gesê hy bly op ’n plaas – en dis mos waar!
Oom Tom en tannie Lottie het die beste van die saak gemaak en hulle so gemaklik moontlik hier ingerig, maar een aand het hulle twee seuns by die huis gehoor. Hulle het groot geskrik, want as iemand moet weet hulle woon hier, sal die polisie dit hoor en hulle kom verwyder. Toe het die oom ’n blink idee gekry. Hy het ’n wit laken oor sy kop gegooi en ’n ketting wat nog saam met al die ander goed van die bakkie afgelaai is, gevat en dit agter hom aangesleep.
Die twee knapies wat hy so lelik die skrik op die lyf gejaag het, was natuurlik Apie en Bennie. Oom Tom moes twee ander kere ook spook speel om mense te laat padgee. Dit was toe die “spook” wat natuurlik die ander kinders en vir oom Izak verwilder het.
Saartjie lag omdat Apie en Bennie gepraat het van “ ’n hele horde spoke” en dit was maar net een spook. En boonop was dit nie eens ’n regte spook nie!
“Ons vertrek môre, Saartjie,” sê oom Tom en sy ogies vonkel ondeund, “maar vanaand gaan ons nog eers ’n bietjie moles maak!”
“Dankie, Oom!” Saartjie se gesig straal sommer. “Ek is so bly Oom-hulle gaan my help!”
Die drie spreek af wat hulle gaan doen. Saartjie sal kom en so ’n rukkie by die oumense sit en gesels. Dan sal sy haar sakdoek daar neersit en na die ander kinders toe teruggaan. Dan kom Galpil aan die beurt – en dán gaan die poppe dans! Oom Tom gaan spook speel en vir Galpil die grootste skok van sy lewe gee.
Saartjie is hoog in haar noppies. Toe sy by die spookhuis wegstap, loop sy en sing: “Die een ou spook was vet en die ander ou spook was maer …”
Sy sien uit na vanaand.
Toe Saartjie vir Anna en Lina van die tennisbane af sien kom, hardloop sy opgewonde na hulle toe.
“Hallo! Lekker gespeel?” vra sy vriendelik.
Die twee kyk verbaas na mekaar. Hulle wonder waarom Saartjie skielik so opgeruimd is.
“Is jy nie meer bang nie?” vra Anna.
“Bang waarvoor?”
“Vir die spoke, natuurlik!”
Saartjie trek haar skouers rustig op. “Ag, wie’s nou bang vir spoke? Ek skrik nie vir hulle nie!”
“Dis maklik vir jou om nie bang te wees nie,” sê Anna, “want jy glo mos nie aan spoke nie. Jy dink nie daar bestaan so iets nie!”
Saartjie dink daaroor na. Sy besef skielik die kinders sal dit mos as ’n baie groter heldedaad beskou as sy maak asof sy wel aan spoke glo, maar nogtans die moed het om vingeralleen by die donker spookhuis in te gaan.
“Ek het bietjie gedink,” sê sy en vee ’n krul van haar voorkop af weg. “Daar is darem baie mense wat die spook of spoke al gesien het. Dis Apie en Bennie, die ander klomp kinders, en selfs oom Izak ook, en …”
“Maar onthou, hulle is nie betroubare getuies nie!” val Anna haar ondeund in die rede.
“Ek dink hulle is,” sê Saartjie beslis. “Hulle moes iéts gesien het. Almal kon hulle dit darem nie verbeel het nie!”
Anna en Lina kyk verbaas na Saartjie. Sy staar rustig voor haar in die pad terwyl sy aanhou neurie van die vet spook en die maeretjie.
“Jy sê nou presies die teenoorgestelde,” sê Anna.
“Waarvan?” wil Saartjie weet.
“Van wat jy vroeër gesê het! Jy’t gesê jy glo nie aan spoke nie.”
“En dat die getuies nie betroubaar is nie,” sê Lina.
“Ek het intussen besef ek is verkeerd,” sê Saartjie ondeund. “Ek glo nou daar ís sulke goed soos spoke en die getuies ís betroubaar.”
Anna en Lina is skoon dronkgeslaan.
“Wat nou van vanaand?” vra Lina. “Gaan jy nog na die spookhuis toe?”
“Natuurlik! Ek glo daar is so iets soos spoke, maar ek is nie bang vir hulle nie. Ek gaan by daai huis in!” Dan voeg Saartjie dapper by: “En as ek hulle daar sien, sal ek nog met hulle gesels ook!”
“Wat gaan jy met hulle gesels?” wil Lina smalend weet.
“Ek gaan vir hulle vra of hulle dan nie tot rus kan kom nie en of ek hulle nie dalk kan help nie.”
Anna kyk Saartjie met bewondering aan, maar Lina bly skepties. Saartjie geniet die speletjie natuurlik terdeë. Noudat die gevaar verby is, is sy kaatjie van die baan!
“Ek hoop net,” sê sy, “Galpil is nie so bang dat hy vanaand glad nie opdaag nie.”
Dié aand sluk die meeste kinders in Lynnekom hul kos sommer baie vinnig af. Almal gaan skielik vanaand uit. Die een gaan kastig by ’n ander een kuier en die ander een gaan weer kastig by dié een kuier, en so gaan dit aan. Die ouers hoor baie stories – terwyl niemand regtig by enigiemand gaan kuier nie!
Almal maak net spore en kom by die oop erf langs Lina-hulle se huis bymekaar. Van hier af gaan hulle eers vir Saartjie dophou, en as die spook of spoke haar nie gevang het nie en sy kom lewendig terug, dan gaan hulle kyk hoe werk Galpil met die spoke se gal – of liewer, hoe werk die spoke met sýne!
Daar is baie kinders. Soos die geluk dit wil hê, is Lina se ouers juis vanaand na ’n konsert toe en hulle weet dus nie wat aan die gang is nie.
Lynnekom se jongklomp wag geduldig. Hulle sien die spookhuis in die verte in die bleek maanlig. Alles lyk vreeslik verlate en daar kruip kort-kort ’n yskoue rilling langs die kinders se ruggrate op. Die wind waai so effens en skuur die ou bloekombome se takke krakerig teen mekaar.
Galpil en sy twee vriende, Gert en Piet, daag eerste op. Die kinders maal om hom.
“Hoe voel jy, Galpil?”
“Is jy bang?”
“Ek het gehoor as ’n spook jou klap, bly die merk daar sit tot jy eendag doodgaan!”
“Het jy jou atletiekskoene saamgebring om vinnig te kan weghol?”
Galpil steur hom nie aan al die vrae en aanmerkings nie. Hy kyk vinnig na ’n groep meisies wat eenkant staan, maar hy gewaar nog nie vir Saartjie nie. Hy kry skielik hoop. Sal dit nie wonderlik wees as sy nie opdaag nie? Dan hoef hy mos nie by die spookhuis in te gaan nie!
Hy voel nou soveel beter dat hy sy bors uitstoot en trots sê: “Ek is nie ’n perd wat vir ’n spook skrik nie!”
Die seuns juig Galpil hard toe. Die meisies maak net uitjou-geluide
Galpil se optimisme is egter van korte duur, want dan sien hy vir Saartjie, Anna en Lina aangestap kom.
Die meisies klap hande vir Saartjie.
“En toe, Galpil?” sê sy vriendelik. “Hoe voel jy?”
“So goed soos altyd,” mompel hy. “Hoe anders moet ek voel?”
“Bang vir die spook of spoke!” sê Saartjie tartend.
“Nie ek nie! Maar ek wed jou jý’s bang!”
“Nooit nie!” sê Saartjie selfversekerd.
Dis vir die ander kinders al asof Galpil se stem effens bewe. Saartjie klink baie meer oortuigend.
“Hier is die sakdoek wat ek in die huis gaan neersit,” sê Saartjie. “Wil jy hom sien?”
Galpil kyk na Gert en Piet, dan sê hy: “Nee, hoekom sal ek die ding wil sien?”
Maar hy stamp Gert in die ribbes en sê hees: “Toe nou!”
“Ek wil graag die sakdoek sien,” brom Gert.
Saartjie gee dit laggend vir hom. Dit is duidelik dat Galpil, Gert en Piet vanmiddag afgespreek het om die sakdoek goed te bekyk, want miskien is dit nie dieselfde een wat Galpil moet gaan haal nie. Hulle het daaraan gedink dat Saartjie hulle miskien ’n streep kan trek.
Hulle ondersoek die sakdoek behoorlik en gaan dan nog ’n stappie verder. Gert bind sy Switserse knipmes in die sakdoek toe. Daar is nie nog so ’n mes in Lynnekom nie. Wanneer Galpil die sakdoek gaan haal, moet die knipmes nog daarin toegedraai wees – dan sal almal weet dit is dieselfde sakdoek.
Die kinders is almal tevrede met hierdie reëling. Saartjie dink daaraan dat as sy gekul het deur haar sakdoek vanmiddag daar binne te los, dit tog nie sou gehelp het nie. Sy is bly sy het besluit om nie te kroek nie.
Alles is gereed. Saartjie het die sakdoek met die toegedraaide knipmes in haar hand.
Sy sê laggend: “Ouens, ek skrik nie vir spoke nie. Ek sal by die huis ingaan, met die trap op loop en die sakdoek dan mooi netjies op die eerste slaapkamer se vloer neersit. Dan kom ek terug en ons kyk hoeveel moed dié perd hier langs my het!” Die kinders lag heerlik vir Saartjie wat Galpil so goed na-aap.
Almal stap saam na die ou huis toe. Op ’n grasbultjie omtrent vyftien tree van die verwaarloosde plek af gaan almal sit. Die huis lyk twee keer so geheimsinnig en spookagtig in die flou maanlig, en die somber stilte op die erf laat die kinders ril. Hulle gaan niks verder nie en sit gereed om te laat vat as daar miskien iets vreemds gebeur.
Saartjie waai ewe opgewek vir hulle tot siens en stap dan aan.
“Alles van die beste!”
“Kophou!”
“Koes vir die spoke!”
Saartjie loop laggend alleen verder deur die veld.
“Moenie oor my bekommerd wees nie!” skree sy oor haar skouer terug.
Saartjie stap reguit na die donker skaduwees van die bloekombome wat nou gevaarlik heen en weer swaai in die wind. Die kinders hou haar met groot oë dop. Meer as een dink sy wat Saartjie is, is die dapperste meisie wat hulle ken.
Net een keer wonder Saartjie – sê nou daar is regtig spoke iewers in die groot ou huis? Sy wil liewer nie eers aan so iets dink nie! Oe, maar sê nou oom Tom en tannie Lottie is eintlik ook spoke wat haar ’n streep getrek het sodat hulle haar vanaand kan vang?
Saartjie voel ’n ysige krieweling langs haar ruggraat opkruip. Sy moet nou ophou om sulke nonsens te loop en dink. Dis die wind wat so woes deur die bome waai wat haar senuwees op hol het. Daar is niks om voor bang te wees nie. Arme Galpil is mos die een wat hom vanaand boeglam gaan skrik.
Saartjie begin fluit. Die wind dra die wysie tot by die wagtende kinders: “Die een ou spook was vet en die ander ou spook was maer …”