Читать книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé - Страница 6

1

Оглавление

Saartjie hoor van die spokery

Van waar Saartjie Baumann op ’n stoel voor die venster in haar kamer sit, kan sy die plek wat die kinders deesdae “die spookhuis” noem duidelik sien.

Die Baumanns woon in ’n groot dubbelverdiepinghuis in die landelike Johannesburgse voorstad, Lynnekom, en die veertienjarige Saartjie se kamer is op die boonste verdieping. Op helder dae kan Saartjie die stad se wolkekrabbers duidelik in die verte sien.

Deesdae stel Saartjie egter nie belang in die hoë geboue daar ver op die horison nie. Nee, as sy nou by die venster uitkyk, dwaal haar oë oor Lynnekom se hoofstraat, verby die kerk en laerskool waar sy en Anna en Lina soveel gelukkige jare deurgebring het, en kom dan te ruste op ’n bouvallige ou huis ’n entjie buite die woonbuurt.

Dan kyk sy altyd of sy iets kan gewaar van die spook of spoke wat glo daar by die ou huis “jol”, volgens Apie, haar negejarige boetie met die koddige sproetgesig en twee voortande wat skitter in hul afwesigheid.

Apie het kastig eendag uit ’n boom geval en só sy twee voortande verloor. Hy het ’n geweldige blouoog ook gehad, maar dit kon hy nie verduidelik nie. Hoe meer die Baumanns hom uitgevra het, hoe meer het hy koppig volgehou dat hy net uit ’n boom geval het. Dit was sy verhaal en dit kon hom nie traak wie hom glo en wie nie.

En buitendien is Apie nogal trots op sy haasmond. Die opening waar sy tande moes gewees het, is ’n ideale hulpmiddel om sy afkeuring te kenne te gee. Wanneer hy vies is of nie met iets saamstem nie, maak hy sulke sisgeluide daardeur.

Verder het Apie ook die gewoonte om wanneer hy volgens homself “groot goete” uitdink, gedurig met sy tongpunt deur die opening te speel. Hy glo vas hierdie gewoonte wat sy ma gewoonlik so irriteer, bewys hy is ’n baie groot denker.

Saartjie sit ingedagte na die spookhuis en kyk. Sy dink nou weer aan die storie wat Apie ’n paar dae gelede vertel het. Hy en sy boesemvriend, Bennie, het glo die middag in die riviertjie duskant Lynnekom gaan visvang.

Die visse wou nie byt nie, en later het die seuns hul visstokke neergegooi en met hul hande begin paddas vang. Hulle het ’n hele paar vettes gevang en die tyd het veels te vinnig verbygegaan. Toe hulle weer sien, was dit donker. Apie-hulle het die paddas toe maar in die sak wat vir die visse bedoel was, gegooi en begin aanstryk huis toe.

Dit was al donker toe hulle verby die ou plaashuis net buitekant Lynnekom loop. Hulle het nie eintlik van die huis notisie geneem nie, want hulle weet mos daar woon al jare lank niemand nie. Omdat dit toe al laat was, het hulle sommer kortpad deur die huis se erf gekies.

Maar vlak voor die plek het die twee seuns skielik botstil gaan staan. Apie se oë is nou nog groot wanneer hy daarvan vertel: “Ons kon nie roer nie, kos why voor ons was so ’n wit ding en die ding het so oor die aarde gesweef. En toe, voor ons nog kon vra wie hy is en wat hy wil hê, maak die ding sulke grillerige kreungeluide en ons hoor iets wat klink soos ’n spook wat kettings sleep. Ek en Bennie is nie bang ouens nie, maar toe hol ons vir al wat ons werd is.”

Saartjie glimlag by haarself terwyl sy hier in haar kamer sit en aan Apie se storie dink. Dit was hoe hy dit die eerste keer vertel het. Later, toe hy en Bennie agterkom hulle word nogal as helde beskou en die ander kinders luister aandagtig na hulle, het die storie baie stertjies bygekry. Dit was later nie net een spook nie, maar sommer vyf! Bennie reken selfs hy het sewe getel, maar hy erken darem hy kon ’n fout gemaak het.

Hoe meer die twee seuns hul storie herhaal het, hoe minder het hulle gepraat van die weghardlopery. Hulle het kastig net ewe rustig weggestap. In latere weergawes het hulle selfs begin beweer hulle het die spoke genooi om saam met hulle te stap!

Maar volgens Apie was die geeste ’n bietjie skrikkerig en het hulle hierdie vriendelike uitnodiging van die hand gewys.

Saartjie lag en sê hardop vir haarself: “Apie is darem maar laf!”

Nogtans, dink sy fronsend en byt effens op haar onderlip, daar moet iets in Apie en Bennie se storie steek, want ander kinders het ook gesê hulle het al vreemde geluide daar by die ou huis gehoor. Die jong Lynnekommers word al hoe versigtiger en kom deesdae nie meer naby die plek nie.

Saartjie staar na die spookhuis. Sy wonder wat sy sal doen as sy ’n spook moet raakloop. Sy sal seker só skrik dat sy nie eens sal kan weghardloop nie!

Sy voel selfs op hierdie oomblik wat die son so heerlik by haar kamer inskyn skrikkerig as sy aan sulke goed dink.

Saartjie draai haar kop en kyk in die groot spieël teen haar hangkas. Haar oë rek en haar mond val oop. Dis hoe ek sal lyk as ek vir ’n spook skrik, dink sy en bars uit van die lag.

Nou kyk Saartjie weer ernstig na haarself in die groot spieël. Sy het mooi, kortgeknipte krulhare en lieflike, helderblou oë. Wanneer sy glimlag, verskyn daar twee diep kuiltjies in haar wange en ’n mens sien haar pragtige wit tande. Op haar neus se brug is daar ’n paar verdwaalde sproete wat haar selfs nog aantrekliker maak.

Ja-nee, hierdie lewenslustige rabbedoe is ’n aantreklike meisie, dis nou nie altemit nie, al is sy natuurlik nie daarvan bewus nie. Saartjie dink nooit aan haar uiterlike nie. Sy is gans te besig om planne te beraam vir kattekwaad wat sy en haar vriende kan aanvang om die lewe interessant te maak. Soos Lynnekom se inwoners gewoonlik met ’n sug sê: “Waar Saartjie is, gebeur daar altyd iets.”

Saartjie begin nou vir haarself gesigte in die spieël trek. Sy wil kyk hoe lelik sy kan lyk. Sy probeer om haar een wenkbrou te lig terwyl sy die ander een laat sak, en terselfdertyd haar mond skeef te trek en haar neus te wikkel. Dis glad nie so maklik soos wat sy gedink het nie, maar dan klop iemand gelukkig aan die deur.

“Ja? Kom in,” sê sy.

’n Meisie van Saartjie se ouderdom stap by die deur in. Sy dra ook die beroemde Hoërskool Saamwerk se blou uniform. Sy is een van Saartjie se boesemvriendinne, Anna Strydom.

“Haai,” sê Anna en kom sit op die bed.

“Haai jouself,” groet Saartjie vriendelik terug op die tipies Lynnekomse manier.

Anna bly net langsaan Saartjie en hulle twee is al maats vandat hulle as babatjies eers agterdogtig uit hul kinderwaentjies na mekaar geloer het, en later al laggende hul vet handjies na mekaar uitgesteek het.

Anna is ’n ronde, vriendelike meisie. Sy is in dieselfde klas as Saartjie en hulle sit in dieselfde bank.

Saartjie, Anna en Lina Rens is bekend, geliefd – en soms ook gevrees! – as die Drie Muskiete. Hulle is altyd oral saam – en moenie praat van al die streke wat hulle uithaal nie. Selfs die seuns is maar skrikkerig vir die poetse wat hierdie drie meisies kan bak.

“Enige nuus?” vra Saartjie.

“Baie!” sê Anna opgewonde.

Saartjie is sommer dadelik nuuskierig. Sy skuif nader aan Anna.

“Komaan, uit daarmee! Wat is dit?”

“Dis weer die spokery!” Anna se oë is groot.

“Wat daarvan?” Saartjie skuif nog nader.

“Iemand het gisteraand weer ’n spook gesien – en dié keer was dit nie ’n kind nie!”

“Wie was dit?” wil Saartjie dadelik weet.

“Die skoenmaker, oom Izak.”

Saartjie is effens teleurgesteld. Oom Izak is so ’n vreemde oom dat niemand hom juis sal glo nie. Sy vra nogtans die vraag waarvoor Anna wag.

“Wat het hy gesien?”

“Hy sê hy het daar by die spookhuis verbygestap en toe kom daar sommerso uit die donker ’n wit ding na hom aangesweef,” vertel Anna nou geesdriftig. “Hy sê jare gelede is ’n ou tannie – tannie Meraai – in daardie huis dood aan ’n hartaanval en hy’s seker dis sy wat daar rondgesweef het.”

“En wat doen hy toe?” vra Saartjie ongeduldig.

“Hy’t glo gaan staan, en gesê: ‘Tannie Meraai, hoekom kan jy nie rus vir jou siel kry nie?’ Dis wat hy sê hy gesê het.”

“Ja, en toe?” Saartjie se oë is nou ook groot.

“Die swewende gedaante het nie geantwoord nie en net al nader na hom toe aangesweef. Oom Izak sê hy het nog so ’n rukkie gestaan, maar toe begin die spook sulke nare kreungeluide maak – en dis net daar wat die oom omspring en die pad vat! Hy sê geen spook sou hom ooit kon inhaal nie!”

Saartjie lag, maar dan byt sy op haar onderlip en staar peinsend voor haar uit. Sy sê sag: “Ek wonder of hierdie spookstories waar is?”

“Hoekom sal dit nie wees nie?” wil Anna weet. Sy twyfel nie vir ’n oomblik daaraan nie.

“Het jy die spook of spoke al self gesien?” vra Saartjie.

“Nee … maar Apie en Bennie het, en toe ander ouens ook en nou weer oom Izak en …”

“Hulle is nie betroubare getuies nie,” val Saartjie haar vriendin in die rede.

Anna frons.

Dan vra Saartjie: “Verstaan jy wat ek bedoel?”

Anna skud haar kop stadig heen en weer. Nee, sy verstaan nie so mooi nie.

“Kyk, as Dominee of so iemand gesê het hy’t die spook gesien, sou dit waar gewees het,” verduidelik Saartjie, “maar nou is dit nie noodwendig waar nie, want jy kan nie seker wees dat dié wat wél sê dat hulle dit gesien het, betroubare getuies is nie.”

Saartjie is so in haar skik met die uitdrukking “betroubare getuies” dat sy dit weer gebruik om vir Anna te wys hoe geleerd is sy wat Saartjie is.

Anna skud nog steeds haar kop. Sy kan maar nie mooi begryp nie.

“Jy sien,” sê Saartjie, “die saak staan só: Apie en Bennie het iets gesien waarvoor hulle hul boeglam geskrik het, maar dit hoef nie noodwendig ’n spook te gewees het nie. En die ander klomp het dalk maar net saamgepraat omdat hulle gesien het hoeveel aandag Apie en Bennie gekry het. So, toe sien hulle kastig ook die volgende aand iets vreemds by die spookhuis. En wat oom Izak betref …” Saartjie trek haar skouers veelseggend op en kyk na Anna: “Wel, ons ken hom mos almal en ons weet wat die grootmense van hom sê.”

Anna stem nou saam met Saartjie. Lynnekom se volwassenes praat altyd van oom Izak wat effens “nie lekker is nie” en nie al sy varkies het nie.

“As jy nie die stories glo nie,” sê Anna, en daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke, “hoekom gaan jy nie een aand na die spookhuis toe nie? Dan sal jy mos weet of daar ’n spook is of nie.”

Saartjie is in die verlede al baie deur haar vriende uitgedaag om iets waaghalsig aan te vang en dan het sy dit sonder veel aarseling gedoen, al het sy byna altyd daarna in groot moeilikheid beland.

Maar hierdie keer huiwer Saartjie effens. Sy is nie lus om haar kop sommerso goedsmoeds in hierdie ding te steek nie. Sy hou nou nie juis van spoke nie – om die waarheid te sê, sy is taamlik skrikkerig vir die goed.

Sy steek dit egter vir Anna weg en sê kastig rustig: “Ek glo nie in spoke nie. Ek weet daar is nie so iets nie.” Dan voeg sy beslis by: “So dis nie nodig dat ek moet gaan seker maak nie!”

Anna glimlag net en dan begin sy saggies die liedjie neurie van die een ou spook wat vet is en die ander een wat maer is.

“Jy’s lekker laf, Anna,” sê Saartjie laggend. “Waarvoor sit ons hier en gesels oor goed wat glad nie eens bestaan nie? Kom ons gaan na Lina toe.”

By die Baumanns se tuinhekkie gaan staan Saartjie stil. Sy kyk sugtend na die betonplaveisel wat ’n hele entjie met die sypaadjie af strek.

“Jy’s simpel met dié gespringery van jou,” sê Anna.

“Ek weet, maar ek doen dit al vir jare en jare. Ek kan mos nie nou ophou nie!”

Vandat die plaveisel hier op die sypaadjie gelê is, is dit Saartjie se selfopgelegde taak om nooit op die blokke te stap nie, maar altyd van die een na die ander te spring. As selfs die kleinste gedeelte van haar voet op ’n gleuf tussen die blokke te lande kom, moet sy weer van voor af begin. Saartjie erken self dit is ’n belaglike affêre, maar sy doen dit nou al vir so lank en het nog nooit gekroek nie, so sy voel sy kan maar net sowel daarmee aanhou.

Anna stap aan en Saartjie begin spring. Sy wip vinnig en sekuur van die een blok na die ander. Saartjie sorg dat sy in die middel van die blokke te lande kom en nie naby die gleuwe nie. Sy wil tog nie weer van voor af moet begin nie.

Aan die einde van die plaveisel wag Anna vir haar. Toe Saartjie by haar kom, sê sy net: “Jy’s rêrig simpel.”

“Ek weet,” antwoord Saartjie laggend. “Jy en Lina het dit seker al ’n honderd keer vir my gesê!”

Die twee vriendinne stap vinnig na Lina se huis toe.

“Ons moet koes by ons hek sodat Muggie ons nie sien nie,” waarsku Anna. “Ek weet sy speel iewers in die tuin.”

Muggie is Anna se sewejarige sussie en sy gee vir die Drie Muskiete baie probleme, want die klein snip wil oral agter hulle aan stertjie. As hulle haar nie wil saamneem nie, sit sy só ’n keel op dat hul oortromme wil bars en hulle noodgedwonge moet sê: “Nou kom!” Dan verhelder Muggie se gesiggie sommer dadelik en die geskree kry op die daad end. En al stap die drie groter meisies dan opsetlik vinniger hou sy al draffende by, al is dit ’n paar tree agter hulle.

Voor die Strydoms se huis stap Anna en Saartjie gebukkend agter die heining langs sodat hulle nie van binne af gesien kan word nie. Toe hulle by die oop hekkie kom, hardloop hulle vinnig verby en beweeg dan weer gebukkend verder.

Die twee is ’n paar tree verby die hekkie en wil mekaar net mooi gelukwens toe hulle ’n skril stemmetjie agter hulle hoor: “Haai! Wag!”

Hulle gaan moedeloos staan en kom regop. Muggie kom aangehardloop. Sy swaai haar pop, Trienkie, onverskillig aan een arm agter haar aan. Die pop kap-kap teen haar bene.

“Waar gaan julle heen?” vra die kleintjie hygend. “Julle’t gedink ek sal julle nie sien nie, nè?” Voor hulle nog kan antwoord, voeg Muggie by: “Maar ek’s nie blind nie. Ek het julle dadelik gesien! Wê! Pê!” Sy steek haar tongetjie lank uit. “Ek gaan saam met julle,” sê sy beslis en om dit te beklemtoon, sê sy weer: “Wê! Pê!” Die tongetjie kom weer uit.

Muggie staan met haar hande op haar heupe en haar kop effens skuins gedraai. Sy is reg om te begin skree as hulle haar en haar pop nie wil saamneem nie.

Saartjie en Anna kyk na mekaar. Albei kan maar net hul skouers optrek. Daar is duidelik geen ander uitweg nie. Muggie sal maar moet saamgaan.

“Ek weet nie hoekom jy so ’n lawaai maak nie,” sê Anna vir haar sussie. “Jy kan natuurlik saamgaan. Ons het mos nie gesê jy kan nie …”

“Hoekom het julle dan so agter die heining weggekruip?” wil Muggie weet. “Ek het julle gesien. Ek het al met die ander kant langs in die tuin geloop. Julle koppe het tog uitgesteek, wê!”

Saartjie en Anna kyk verbaas na mekaar en bars dan uit van die lag. Dit moes vreeslik snaaks gelyk het: Hulle twee wat aan die een kant van die heining suutjies sluip terwyl Muggie aan die ander kant net so suutjies saamsluip en hulle dophou!

Saartjie en Anna stap vinnig na Lina toe. Muggie draf geselsend saam. Die twee ouer meisie neem egter nie veel notisie van haar nie.

Lina Rens woon in die laaste huis in Lynnekom. Langs die Rense se erf is daar ’n oop stuk veld en net ’n entjie verder staan die ou plaashuis wat nou al jare lank leeg is – “die spookhuis” soos die kinders dit deesdae noem.

Dit is juis hieroor wat Saartjie en Anna nou hier by Lina is. Hulle wil hoor of sy dalk gisteraand die spook – of spoke! – se kreungeluide gehoor of miskien vir oom Izak sien weghardloop het. Lina sit op ’n bankie in die tuin wanneer Saartjie, Anna, Muggie en Trienkie daar aankom.

“Haai!” sê Lina vrolik toe sy die ander gewaar.

“Haai jouself!” groet hulle ewe opgewek terug.

Lina is ’n lang, skraal meisie met lang hare wat op haar rug hang. Sy is die een wat altyd effens beswaar maak as Saartjie met ’n voorstel vorendag kom, maar op die ou end speel sy tog saam en ondersteun Saartjie dan entoesiasties.

Saartjie, Anna en Muggie kom sit almal by Lina op die bankie en dan draai hul koppe in die rigting van die spookhuis.

“Het jy miskien gisteraand iets snaaks gehoor?” vra Saartjie vir Lina.

“Nee, wat moes ek gehoor het?”

“Iets soos iemand wat kreun …”

“Iemand wat nie van hierdie wêreld is nie,” voeg Anna met ’n skor stem by.

“Wie’t nou weer die spook gesien?” vra Lina geamuseerd.

“Oom Izak,” antwoord Saartjie.

Lina dink ’n oomblik hieroor na en sê dan: “Dit sê nie veel nie. Ons ken mos almal vir oom Izak.”

“Dis wat ek ook dink,” sê Saartjie en gryp dadelik na die geleentheid om weer te wys hoe geleerd sy is. “Oom Izak is nie ’n betroubare getuie nie. Nog geen betroubare getuies het al die spook gesien nie.”

Anna vertel nou wat oom Izak gesê het – hoe hy die spook gesien en gedink het dit is tannie Meraai se gees, en hoe hy haar gevra het hoekom sy nie tot rus kan kom nie. Die spook het nie geantwoord nie, maar net kreungeluide gemaak en al nader aan hom gekom. Toe kon oom Izak dit nie meer uithou nie, en hy het weggehardloop.

Terwyl Anna vertel, sit almal aandagtig na die ou huis in die veld en kyk. Dit word nou sterk skemer.

Saartjie kyk stip na die spookhuis en sê dan: “Sien julle wat ek sien?” Sy begin lag. Die ander sien dit ook en almal skaterlag.

Galpil, Gert en Piet kom deur die veld aangeloop. ’n Paar tree agter hulle volg Apie en Bennie. Die seuns loop luilekker, maar wanneer hulle by die spookhuis kom, begin hulle vinniger loop. Hulle vat ook nie hul gewone kortpaadjie deur die huis se erf nie, maar gooi ’n taamlike draai om die plek.

Die meisies lag heerlik, want dis tog te snaaks om te sien hoe bang die seuns is. Apie en Bennie is glad nie meer agter nie. Hulle hardloop nou heel voor. Nie een waag dit eers om oor sy skouer na die ou huis te loer nie.

“Hulle is darem maar ’n bang klomp,” sê Saartjie grinnikend.

Toe die seuns verby Lina-hulle se huis kom, stap hulle weer doodluiters en die meisies hoor hoe hulle grootpraat en sê hulle skrik nie vir spoke nie.

Saartjie is bekend vir hoe skitterend sy mense na-aap. Toe die seuns naby aan hulle kom, sê sy in ’n lae, hol spookstem: “Haai! Waarheen gaan julle?”

Die seuns steek in hul vier spore vas. Hulle kyk verskrik na mekaar. Dit is nou al amper donker. Apie sê: “Het … het julle gehoor wat ek gehoor het?”

Die ander knik kop. Hulle het dit ook gehoor. Hulle loer versigtig oor hul skouers, maar dan gewaar hulle die meisies en ontspan.

Die meisies lag lekker en die seuns kom vies nader.

Galpil is ’n fris knaap met ’n boskasie hare wat selde gekam word. Sy regte naam is Lodewyk le Fras de Waal, maar baie min mense weet dit. Almal ken hom maar as Galpil. Die Drie Muskiete hou nogal van Galpil en sy twee vriende, Gert en Piet. Hulle ken die seuns al baie lank, want hulle was saam hier op laerskool en is nou ook in dieselfde hoërskool.

Wat Saartjie egter dwars in die krop steek, is dat Galpil almal voor die voet as “ou perd” of “pêrre” aanspreek.

Wanneer hulle by die meisies kom, sê Galpil verontwaardig: “Probeer julle pêrre snaaks wees, of iets?”

Gert, Piet, Apie en Bennie kyk die laggende meisies ook vies aan.

Toe die gelag bedaar, sê Saartjie: “Nee, ons probeer nie snaaks wees nie. Ons het maar net gelag …”

“Hoekom?” wil Apie weet en hy maak sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.

“Omdat julle so bang is. Bang vir iets wat glad nie eers bestaan nie!”

Die seuns dink hieroor na.

“Bedoel jy die spook bestaan nie?” vra Galpil verbaas.

“Presies,” sê Saartjie smalend.

“Ons het die ding dan gesien – baie meer as net een,” sê Apie verontwaardig en hy wikkel sy sproetneus om te wys hy is nou omgekrap. “En ander kinders het die goete ook gesien – nou nie so baie soos ons nie, maar nogtans – en wat van oom Izak gisteraand? Hy’t ook ’n spook gesien!”

“So sê hy,” kap Saartjie terug, “en jy en Bennie en die ander klomp sê ook so, maar julle is nie betroubare getuies nie.”

Apie gluur sy suster kwaai aan.

“Wat beteken daai betroubare goete waarvan jy praat?”

“Sy bedoel sy glo julle nie,” antwoord Galpil. “Sy dink julle jok oor die spokery.”

“Nee, ek sê nie julle jok nie,” verduidelik Saartjie. “Ek sê net julle het julle dit dalk verbeel.”

Apie kyk verbaas na haar en dan sê hy gegrief: “Dink jy ons is mal dat ons ons sulke goete sal verbeel?”

Nee, skud Saartjie haar kop, sy dink maar net daar is nie ’n spook in daardie kastige spookhuis nie.

“Bewys vir ons jy glo nie aan spoke nie,” sê Galpil en wys met ’n vuil voorvinger na haar. “Gaan bietjie een aand alleen daar by daai spookhuis in.”

Saartjie skrik.

Almal kyk na haar.

“As daar nie iets soos spoke is nie, hoef jy mos nie bang te wees nie,” sê Apie en dit lyk of hy die speletjie nou baie geniet. Saartjie het grootgepraat en nou sit sy!

“Ag wat,” sê Saartjie en gee ’n verleë laggie, “dis nie vir my nodig om te bewys daar’s nie sulke goed soos spoke nie.”

“Jy’s ook maar lekker bang,” sê Galpil en gryns tevrede.

“Ek’s níé bang nie!” Saartjie vee met die agterkant van haar hand die weerbarstige krul van haar voorkop af weg. “Maar jý is!”

Die twee gluur na mekaar en die ander kinders hou hulle belangstellend dop. Dan sê Anna omdat sy dink sy moet Saartjie ondersteun: “Jy ís bang, Galpil. Saartjie sal na die spookhuis toe gaan, maar jy sal nie!”

Die seuns staan nou nader aan Galpil. Dit klink mos na ’n uitdaging.

Saartjie glimlag flou. Sy het so ’n idee Anna het haar nou van die wal in die sloot gehelp.

Gert en Piet pomp Galpil in die ribbes. Hy moet iets sê. Dit was ’n uitdaging en hy moet dit aanvaar.

“Oukei, ons gaan al twee na die spookhuis toe …” begin Galpil.

“Maar nie saam nie,” val Apie hom in die rede.

“Natuurlik nie!” snou Galpil hom toe. “Saartjie kan eerste gaan. Sy glo mos nie aan spoke nie. En as sy daar was, sal ek ook gaan – net om te wys ek’s nie ’n bang perd nie!”

“Mooi so, Galpil,” sê Apie trots, en te oordeel aan die ander seuns se glimlaggende gesigte stem hulle duidelik saam.

“Daar’s niks wat ’n meisie kan doen wat ’n seun nie ook kan doen nie – net so goed en selfs nog beter,” mompel Gert, maar hy maak seker hy staan agter Galpil toe hy dit sê. Hy wil tog nie hê hulle moet hom uitdaag om by die spookhuis in te gaan nie.

“Wat sê jy?” vra Anna vir Saartjie wat skielik besonder stil is.

Saartjie sluk swaar. Sy voel effens skrikkerig. Wie weet … ten spyte van die feit dat party van die getuies volgens haar nie betroubaar is nie, is daar miskien wél ’n spook of selfs ’n páár spoke. En dis nie goed om mee te speel nie!

Galpil sien Saartjie huiwer en dit gee hom moed.

“Is jy bang?” vra hy en hou hom dapper. “Erken net jy’s bang, dan vergeet ons van die hele affêre!” Galpil hoop innig sy sal tog maar net so sê en klaarkry.

Saartjie byt op haar onderlip. Dan gooi sy haar kop agteroor en sê uitdagend: “Ek is nie bang nie! Ek sal soontoe gaan, maar ná ek daar was, gaan jy ook!”

“Mooi so, Saartjie,” sê Anna en Lina opgewonde.

“Dis reg, Saartjie. Wys die papbroeke!” kom Muggie se skril stemmetjie.

Die klomp begin dadelik reëlings tref vir wat hulle agter Anna aan “die groot kompetisie” noem.

Hulle gaan môre-aand agtuur almal hier by Lina-hulle se huis bymekaarkom. Dan sal Saartjie eers na die spookhuis toe stap en as sy, soos Apie sê “lewendig terugkom”, sal Galpil gaan. Saartjie moet iets soos ’n sakdoek in die spookhuis gaan neersit om te bewys sy was daar en dan moet Galpil dit gaan haal.

Die klomp is hoog in hul skik met die reëlings. Dis môre boonop Vrydag, so hulle sal die aand tot laat kan opbly.

Almal sien uit na hierdie kragmeting, behalwe Saartjie en Galpil. Hulle twee is maar taamlik stil …

Saartjie Omnibus 4

Подняться наверх