Читать книгу Saartjie Omnibus 4 - Bettie Naudé - Страница 12

4

Оглавление

Saartjie word kwaad

In Lynnekom word daar vir ’n geruime tyd oor niks anders as die spookvoorval gepraat nie. Die meisies spog met Saartjie se dapperheid en die seuns vertel weer trots hoe Galpil sommer vyf spoke disnis geslaan het. Later het Galpil beskeie bygevoeg dat hy nie mooi kon sien nie; daar kon miskien sewe of selfs agt spoke gewees het!

Maar die spoke en die spookhuis raak geleidelik vergete, want Lynnekom se jongklomp het soveel ander dinge om gedurende die lang somerdae te doen – skoolgaan, so ’n bietjie huiswerk doen, en baie swem en tennis speel.

Een middag laat kom Saartjie moeg van die tennisbaan af. Sy is tevrede oor hoe goed sy gespeel het. Sy het selfs een van die seuns wat kastig ’n kampioen is, geklop. Saartjie stap met die sypaadjie langs huis toe. Haar raket swaai teen haar bruingebrande bene. Haar bofbalpet sit agter op haar donker hare. Sy loop en droom en bou heerlik lugkastele …

Saartjie is nou ’n wêreldberoemde tennisspeler. Sy sien hoe sy al die belangrikste kampioenskappe op al die wêreld se beroemdste tennisbane wen. Sy het die hele wêreld aan haar voete en haar geboorteland, Suid-Afrika, is baie trots op haar!

Sy sien al hoe sy van haar roemryke oorsese toer af terugkom. Mense staan in hul duisende langs die strate om haar te sien en toe te juig. Sy waai met haar hande en knik met haar kop soos ’n koningin – ’n koningin van die tennisbaan.

Daar speel ’n soet glimlaggie om Saartjie se mond en hier waar sy op die sypaadjie loop, maak sy ook sulke elegante buiginkies met haar kop en waai eers na die een en dan na die ander kant toe. Sy loop só droomverlore dat sy nie eers vir Apie en Bennie skuins agter haar gewaar nie. Die twee negejarige knapies kyk fronsend na die fratse wat sy uithaal.

“Is sy mal?” fluister Bennie vir Apie.

Apie trek sy skouers op. Hy weet nie, maar te oordeel aan die uitdrukking op sy gesig vrees hy ook die ergste. Hoe kan ’n normale mens so in die straat loop en buig en waai as daar niemand is om dit voor te doen nie?

In haar verbeelding sien Saartjie nou hoe sy aan die president voorgestel word. Hy wil ook hulde bring aan hierdie dogter van ons land en hy wil die beroemde tennisster bedank vir die roem wat sy vir Suid-Afrika inpalm.

Saartjie begin stadiger stap. Sy is nou in ’n groot saal. Al die deftige mense, die land se hoëlui, staan eerbiedig langs die mure. Sy stap met die lang saal af na die verhoog waar die president haar inwag.

Hier op die sypaadjie loop Saartjie nou net so grasieus en trots. Sy kom tot voor die staatshoof te staan. Apie en Bennie kom ook tot stilstand en kyk met groot oë na haar.

Saartjie sit haar tennisraket neer. Haar wit tennisrokkie het nou in die ongelooflikste aandrok verander. Sy neem ’n punt van die rok in elke hand, sit haar regterbeen effens agter die linker een en maak ’n lae buiging. Dis mos hoe ’n mens die president groet.

Hierdie buiging is te veel vir haar boetie en sy maat.

“Haai!” skree Apie, en Saartjie verloor amper haar balans. Sy kom regop en kyk na die twee verbaasde gesigte. Saartjie grinnik verleë en tel haar raket op. Sy het só geloop en droom dat sy skoon vergeet het sy is hier in ’n straat in Lynnekom.

“Haai wat?” vra sy en probeer rustig klink.

“Wat doen jy?” vra Apie. Sy tongpunt speel deur die opening tussen sy voortande.

“Niks besonders nie!” sê Saartjie kil.

“Niks besonders nie!” Apie kyk verbaas na Bennie. Bennie skud sy kop. Daar is ’n mistroostige uitdrukking op sy sproetgesig. Ja-nee, dis nes hy gevrees het: Apie se suster het ’n skroef los – ’n grote.

“Jy sê jy doen niks besonders nie,” sê Apie, “maar jy loop hier in die straat soos ’n siek hoender en glimlag en goete, en buig en waai vir mense waar daar niemand is wat jou kan sien nie!”

Saartjie glimlag. Sy moes nogal snaaks gelyk het.

“Ek sal julle sê wat ek gedoen het,” sê sy. “Ek het geloop en droom ek is ’n beroemde tennisspeler wat die een kampioenskap na die ander wen – oorsee natuurlik. En toe ek terug Suid-Afrika toe kom, staan daar duisende mense langs die strate en klap vir my hande. Toe knik ek so met my kop en waai vir hulle. Hierdie laaste lae buiging was toe ek aan die president voorgestel is.”

Saartjie se oë vonkel. Apie en Bennie kyk haar verstom aan. Hulle dink nou nog meer sy is effens getik.

“Jy moet na ’n kopdokter toe gaan,” sê haar boetie, en sy maat knik met sy kop om te wys hy stem volkome saam.

“Hoekom?” vra Saartjie.

“Sodat hy jou kop kan dokter.”

“Moenie simpel wees nie,” sê Saartjie en stap aan. Sy het nie tyd om met sulke swape te staan en ginnegaap nie.

Hulle stap saam met haar.

“Dis nie ons wat simpel is nie,” sê Apie. “Dis jý. Dís hoekom jy na ’n kopdokter toe moet gaan.”

Saartjie antwoord nie. Sy stap net aan.

Die seuns loop saam en gesels laggend oor haar wat dink sy is ’n tennisster.

“Ek’t nog nooit in my lewe gehoor van iemand wat soveel nonsens kan praat nie,” sê Apie. Bennie knik sy kop en sê: “Ja-nee, ek ook nie.”

“Wie het julle twee genooi om saam met my te loop?” vra Saartjie vies.

“Ons kan stap waar ons wil!” Apie maak sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het. “Dis ’n vry land, is dit nie?”

Saartjie is tog nie lus om met hierdie twee te stry nie. Sy ignoreer hulle eerder heeltemal en stap net aan.

Die seuns word later moeg om so aanhoudend te praat en raak vies omdat Saartjie hulle nie antwoord nie.

Dan doen hulle iets wat hulle liewer nie moes gedoen het nie!

Apie stap aan Saartjie se een kant en Bennie aan haar ander kant, effens agter haar. Apie beduie agter Saartjie se rug vir Bennie na haar voete. Hy maak ’n swaaibeweging met sy hand. Dit is duidelik dat hy sy suster wil pootjie – en dan moet hulle twee nael!

Saartjie loop en wonder wat van die moderne jeug gaan word. Sy vertel hulle van haar drome en hulle dink sy praat nonsens! Hulle het absoluut geen verbeelding nie. Dís die moeilikheid met vandag se jong kinders.

Sy het pas tot hierdie filosofiese gevolgtrekking gekom, toe Apie skielik afbuk. Hy klap Saartjie se een been vas teen die ander een en sy struikel. Gelukkig val sy nie heeltemal nie. Maar dan besluit Bennie hy moet ook hand bysit en gee haar ’n stamp – en daar lê Saartjie op die sypaadjie!

Die twee seuns lag lekker soos wat hulle weghardloop.

Apie gil oor sy skouer: “Buig en waai nou vir die mense!”

Bennie skree: “En moenie van die president vergeet nie!”

Saartjie sit plat op die sypaadjie. Haar oë vlam. Sy is woedend kwaad. Sy byt op haar onderlip en vee met die agterkant van haar hand die krul van haar voorkop af weg.

“Wag maar,” sê sy sag, “hiervoor gaan julle boet!”

Saartjie kom kreunend regop. Sy het deksels hard geval. Sy begin haar net afstof toe sy Muggie se piepstemmetjie hoor. “Wat het met jou gebeur?”

“Ek het geval.”

“Hoekom?” wil Muggie weet.

“Omdat daai twee my gepootjie en omgestamp het. Maar hulle gaan nog jammer wees hieroor!”

“Maar hoekom het hulle dit gedoen?”

Saartjie is nie lus vir Muggie se gekarring nie.

“Sommer,” sê sy kortaf.

“Hoekom sommer?”

“Sommer sommer. Waar’s Anna?”

“Sy sit hier in die tuin en lees.”

Muggie staan oor die heining met Saartjie en praat. Die gepootjiery het reg voor Anna-hulle se huis gebeur.

Saartjie loop effens mank na die hekkie toe. Sy stap reguit na die groot boom in die tuin waar Anna altyd sit.

“Haai,” sê Anna toe sy haar vriendin gewaar.

“Haai jouself,” groet Saartjie terug en kom kreunend langs haar op die tuinbank sit.

“Wat makeer?” vra Anna. “Jy klink soos ’n ou mens van tagtig.”

“Ek het geval – hard geval – maar ons sal sien wat ons sal sien!”

Saartjie vertel vir Anna hoe Apie haar gepootjie en Bennie haar omgestamp het. Anna se oë vlam nou ook kwaai.

“Jy weet,” sê sy, “ek dink dis tyd dat ons daai twee ’n les leer!”

“Ja, en ’n goeie een daarby. Maar wat kan ons doen? Dit moet ’n les wees wat hulle nooit in hul lewe weer sal vergeet nie. Hulle is deesdae glad te astrant.”

Anna kyk na die speurroman in haar hand. Skielik straal haar gesig van vreugde.

“Ek het ’n plan!” sê sy opgewonde. “Dis iets wat ek hier in die boek gelees het. Ek sê vir jou, Apie en Bennie gaan só skrik en later só bang wees dat hulle enigiets sal belowe om los te kom. Hulle sal hierna heeltemal uit ons pad bly en nie gou weer vir ons probleme gee nie!”

Anna verduidelik opgewonde wat haar plan is. Saartjie luister aandagtig. Toe Anna klaar is, glimlag Saartjie breed en haar oë vonkel. Sy dink dis ’n uitstekende plan en dit sal definitief help om die twee knapies goed op hul plek te sit.

“Ons moet net ’n klomp meisies bymekaar kry,” sê Saartjie. “Dan sit ons vir ’n lang tyd net so in ’n kring om hulle sonder om ’n enkele woord te praat. Ons moet net so kyk … en kyk … en kyk … en kyk …”

Saartjie grinnik al klaar by die gedagte daaraan.

“En dan kom die verhoor en ons sluit hulle toe,” sê Anna met groot genot.

“Miskien is hulle teen daardie tyd al só bang dat dit nie eers nodig sal wees om daarmee aan te gaan nie,” sê Saartjie.

Hierdie toesluitery bekommer haar so effens. Sê nou net daar gaan iets verkeerd en die twee outjies word siek of histeries? Gonna! Sy wil liewer nie eers aan so iets dink nie! Haar ma sal haar beslis afslag. Maar Saartjie hou van die bangmaak-gedeelte van die plan – dis nou propperlies bangmaak, soos Apie sal sê.

Die plan wat Anna uit die boek gekry het, is baie eenvoudig. Hulle meisies vang vir Apie en Bennie en dan – om hulle eers sag te maak – sluit hulle die twee outjies in die waenhuis daar eenkant in die groot tuin toe. Niemand sal hulle hoor as hulle daar skree nie. Intussen gaan die meisies tennis speel en dan kom hulle so teen vyfuur terug en gaan by die waenhuis in.

Anna sê dit is baie grillerig in die waenhuis. Dan laat staan hulle vir Apie en Bennie wat hopelik teen hierdie tyd al baie bang sal wees elkeen op ’n kissie. Die kissie moet só staan dat die sonlig deur die venstertjie net mooi op die twee seuns se gesigte val. Dan sit die meisies in die skaduwee en staar stip na die twee gevangenes. Hulle praat nie – hulle staar net.

Volgens Anna – en Saartjie glo dit heeltemal, want sy ken mos vir Apie en Bennie – sal hierdie starende oë later só op die seuns se senuwees werk dat hulle al banger en banger sal word en al meer en meer sal wonder wat met hulle gaan gebeur.

As dit later lyk of hulle wil begin huil, sal Saartjie begin praat – en dan moet sy die troefkaart speel. Sy moet die seuns in ’n hol stem meedeel dat hulle skuldig bevind is en toegesluit gaan word. En niemand sal hulle ooit weer sien nie.

Nou moet Saartjie-hulle vir Apie en Bennie vasbind en maak of hulle uit die waenhuis stap en dit van buite af toesluit. Intussen gaan dit vir die seuns voel of hulle stoksielalleen in die waenhuis in, terwyl al die meisies vir hulle sit en kyk.

“Dis miskien baie drasties, maar die twee moet vroeër of later ’n les geleer word,” sê Saartjie. “Hulle soek aanhoudend moeilikheid.”

“Dis dalk drasties, maar dis glad nie gevaarlik nie,” stel Anna haar gerus.

Die twee meisies bespreek die plan nou volledig. Die Drie Muskiete sal kom, en ook Gail Smith – en dan sal hulle nog ’n paar ander meisies ook kry. Hulle moet altesaam omtrent tien wees. Nie net omdat tien paar starende oë vir Apie en Bennie nog banger sal maak nie, maar omdat hulle tien meisies gaan nodig hê om die twee vabonde te vang.

“Dit sal maklik wees om tien meisies te kry,” sê Anna. “Almal is moeg vir daai twee se getergery. Hulle hou nooit op om ons uit te koggel nie.”

Die twee seuns gaan elke middag in die modderige rivier net buite Lynnekom swem. Die meisies besluit dit sal die beste plek wees om hulle te vang.

Saartjie is uiteindelik by Anna weg. Sy stap fluit-fluit terug na die Baumanns se huis toe. Sy is in haar skik. Môre gaan Apie en Bennie ’n les geleer word – een wat hulle nie gou sal vergeet nie!

Op die sypaadjie naby hul tuinhekkie gaan staan Saartjie stil. Sy kyk na die betonplaveisel en sug omdat sy nou weer moet begin spring. Saartjie dink daaraan dat hierdie simpel gespringery nie nodig sou gewees het as sy ’n fiets gehad het nie. Sy kon dan mos maar net met haar fiets oor die betonblokke gejaag het.

Saartjie wens deesdae al meer sy het ’n fiets gehad. Lina het een en daar is ’n kans dat Anna ook een gaan kry, so dan moet sý wat Saartjie is mos ook een hê. Dink net hoeveel meer dinge sal sy en haar vriendinne dan kan doen, want hulle sal alles mos baie vinniger kan doen! Saartjie het al baie geskimp en ’n keer of wat selfs reguit gevra ook, maar haar ouers wil nie byt nie.

Haar ma wys elke keer speels vir Saartjie haar grys hare en vra of haar dogter wil hê sy moet nog méér daarvan kry. Dit is volgens Martha Baumann wat sal gebeur as sy weet haar rabbedoe-meisiekind baljaar op ’n fiets rond. Sy sal haar doodbekommer. Saartjie dink haar ma oordryf. Sy is mos nie meer ’n babatjie nie!

Saartjie sug. Sy het nog nie ’n fiets nie, so sy sal maar net eenvoudig moet spring. Sy wip versigtig van die een blok na die ander en sorg dat sy elke keer mooi in die middel te lande kom. Sy hou ver van die gleuwe af, want sy wil tog nie weer van voor af begin nie.

Sonder dat sy aan ’n gleuf raak, kom sy by die hekkie uit. Saartjie hardloop met die tuinpaadjie langs huis toe. Apie sit op die stoep, maar toe hy haar gewaar, loop hy vinnig binnetoe en gaan sit by sy ma in die sitkamer. Hy dink hy is veilig hier. Hy is bang sy suster is so kwaad omdat hulle haar gepootjie het dat sy hom sommer sal klap.

Maar Saartjie ignoreer Apie heeltemal en dit laat hom nog meer onrustig voel. Sy vertel selfs nie eers vir hul ma hy het haar gepootjie nie. Sy bly net met so ’n bejammerende kyk in haar oë na hom staar. Dit laat hom kompleet voel soos ’n skaap wat slagpale toe gelei word.

Toe die twee die aand sit en huiswerk doen, kan Apie die stilte en Saartjie se simpatieke kyke nie meer verdra nie. Hy sê: “Ek en Bennie het jou vandag lekker laat val, nè?”

Saartjie kyk glimlaggend na haar boetie. Dan skud sy haar kop sedig en sê sag: “Arme ou Apie.”

Apie is nou sommer baie bekommerd. Hy hou net niks van haar geheimsinnige houding nie. Dit sal baie beter wees as sy hom liewer wil slegsê of selfs sommer klap. Dis mos wat sy behoort te doen. Hy wens sy wil dit nou doen, want sy ouers is ten minste naby. Hy kan net ’n keel opsit, dan sal sy ma hom kom help. Dan is die hele affêre mos iets van die verlede.

Maar Saartjie kyk net telkens van haar boek af op en maak dan sulke klikgeluidjies met haar tong om te wys hoe jammer sy hom kry.

“Wat gaan jy doen, hè?” vra hy kastig uitdagend.

“Wat gaan ek doen waaroor?” Saartjie se wenkbroue is twee vraagtekens asof sy nie ’n benul het waarvan hy praat nie.

“Oor vanmiddag. Oor ek en Bennie jou so hard laat val het.”

“O, dit,” sê Saartjie net en tel haar boek op.

“Ja, dít!” sê Apie dadelik. Hy wil nie hê sy moet weer so doodstil sit en net af en toe sulke klikgeluidjies maak nie.

Saartjie kyk na haar boetie. Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke en dan sê sy sag: “Laat ek jou hande sien.”

Apie is so dronkgeslaan deur hierdie onverwagte versoek dat hy sonder om twee keer te dink sy arms uitsteek om sy hande te wys.

Saartjie bekyk sy hande aandagtig, eers van die een kant en dan van die ander kant af. Dan sê sy: “Hmm, dit sal perfek pas.”

“Wat?” vra Apie. “Wat sal perfek pas?”

“Die tou,” sê Saartjie en tel haar boek met mening op. Sy wil leer. Sy het nie nou tyd om te sit en gesels nie.

Apie se oë is pierings. ’n Tou! Sy hande! Die tou gaan natuurlik om sy hande!

“Jy sal dit nie waag nie!” sê hy vurig.

“Wat?” vra Saartjie verbaas.

“Om my op te hang nie!”

“Waarvan praat jy?” vra Saartjie onskuldig en daar is ’n soet uitdrukking op haar gesig. “Ek het nie nou tyd om raaisels te speel nie. Ek moet leer.”

Dit is weer stil. Saartjie leer en Apie staar voor hom uit. Hy vryf af en toe sy polse. Hy is baie onrustig. Hy sal Bennie moet waarsku, want daar is beslis iets aan die gang. Hulle twee sal moet ligloop en ver van Saartjie-hulle af bly.

Toe mevrou Baumann vir Apie kom sê dis tyd dat hy moet gaan slaap, staan hy met ’n swaar sug op. Hy het nie veel geleer nie. In die deur draai hy om.

Saartjie sit glimlaggend na hom en kyk. Dan sê sy dit weer: “Arme ou Apie.”

“Probeer jy snaaks wees, hè?” sis haar boetie.

“Nee, ek kry jou net jammer.”

“Wel, ek sê jou: Jy los my uit! Ek is nie ’n ou met wie jy moet lol nie.” Apie wikkel sy sproetneus om te wys hy is lelik omgekrap.

Dit maak nie ’n indruk op Saartjie nie. Sy glimlag net soet en sê weer sag: “Arme ou Apie.”

Apie gee ’n snork, dan swaai hy om en stap vinnig weg. Hy probeer om dit nie te wys nie, maar hy is nogal skrikkerig. Hy wonder wat beplan Saartjie – en natuurlik daardie vriendinne van haar ook. Hy is seker hulle voer iets in die mou. ’n Tou! Sy hande! Die gedagte aan die kombinasie van hierdie twee dinge laat hom baie ongemaklik voel.

Maar, troos Apie homself toe hy later in sy bed klim, wat hulle ook al met hom en Bennie wil doen, die meisies sal hulle twee eers moet vang – en dit gaan nie so maklik wees nie!

Lina en Gail Smith is die volgende dag baie gretig om deel te wees van die plan om Apie en Bennie ’n les te leer wat hulle nooit sal vergeet nie. Dit is ook nie moeilik om by die skool ses ander meisies te kry wat van die kans gebruik wil maak om die twee vir al hul streke terug te betaal nie.

Die meisies spreek af om almal die middag drie-uur by Saartjie-hulle se huis bymekaar te kom. Apie sal dan al weg wees om Bennie te gaan haal sodat hulle in die rivier kan gaan swem.

Alles verloop volgens plan. Toe Saartjie die middag by die huis kom, het Apie al geëet en is hy al weg na Bennie toe. Hy is nog op laerskool in Lynnekom en kom altyd voor sy suster by die huis.

Hul ma antwoord Saartjie se vraag met ’n sug: “Hulle het gaan swem. Apie sê hulle het nie huiswerk nie.”

Drie-uur ontmoet die meisies mekaar in die somerhuisie in die Baumanns se tuin. Saartjie verduidelik die hele plan sorgvuldig en almal is in hul skik. Gail Smith, die Engelssprekende meisie wat onlangs in Lynnekom kom woon en groot maats met Saartjie-hulle geword het, is die enigste een wat beswaar maak.

“Sê nou hulle skrik so groot dat hulle sommer aan hul harte doodgaan?” vra sy.

“Jy bedoel ’n hartaanval kry?” vra Saartjie glimlaggend.

Gail knik.

“Hulle sal nie. Hul harte makeer niks nie,” sê Lina.

Die ander meisies dink ook daar is nie die geringste kans dat die seuns se harte sal ingee nie.

Almal verstaan wat hulle moet doen en die tien meisies val opgewonde in die pad na die swemgat toe waar Apie en Bennie sorgeloos in die modderwater baljaar.

Die meisies stap al geselsend deur die veld, maar toe hulle by die rivier se oewer kom, sluip hulle versigtig nader. Hulle duik agter die bosse weg en kruip nader tot hulle die swemgat kan sien.

Daar lê twee bondels klere op die grasbank langs die water en twee koppe steek bo die modderige water uit. Die twee seuns is besig om mekaar met hande vol water in die gesig te bestook. Die een wat die langste kan uithou, sal die wenner wees. Hulle besef glad nie hulle word dopgehou nie.

“Haai!” skree Saartjie skielik hard.

Die seuns staak die watergeveg. Hulle kyk vinnig om na die wal en sien die meisies.

“Het julle swembroeke aan?” vra Saartjie.

“Nee! Gee pad hier!” skree Apie. “Kan julle nie sien dis ’n swemgat vir ouens nie?”

Die twee seuns trap water en beweeg al verder van die wal af weg.

“Hoe gaan ons hulle vang?” vra Anna en bloos effens. “Ons kan mos nie sit en kyk hoe hulle uitkom nie?”

“Wag hier,” sê Saartjie. Sy hardloop by die rivier se wal af, raap die twee bondels klere op en is in ’n kits weer terug by die meisies.

“Haai! Wat maak jy?!” skree Apie en Bennie feitlik gelyktydig en hulle klink nou baie benoud.

“Ons wil met julle praat,” laat Saartjie van haar hoor. “Ons hou julle klere tot julle belowe julle sal uitkom en ons by die groot wilgerboom ontmoet.”

Die boom is agter ’n bultjie en ’n mens kan nie die swemgat daarvandaan sien nie.

“Selfs al belowe hulle, wie sê hulle sal dit doen?” wil Lina weet.

“Ek dink hulle sal,” sê Saartjie. “Apie spog altyd dat hy nooit ’n belofte verbreek nie.”

In die water is Apie en Bennie intussen druk besig om hierdie nuwe verwikkeling te bespreek. Hulle kom uiteindelik tot ’n besluit en Apie skree: “Ons klim nie uit nie. Ons belowe niks. As julle soos ’n klomp pampoene daar wil staan, moet julle maar. Dis lekker koel hier in die water.”

“Kom ons sit, mense,” sê Saartjie laggend vir haar vriendinne. “Hulle sal vinnig van plan verander. Hulle kan nie eers behoorlik swem met ons hier nie!”

Saartjie is heeltemal reg. Terwyl die meisies daar sit, moet die seuns watertrap sodat net hul koppe bo die water uitsteek.

Dis nie lank nie, of dit begin ook koel word, want ’n groot wolk skuif voor die son in. Die meisies kan sien die seuns sit weer koppe bymekaar en dan skree Apie: “Kan julle my hoor?”

“Natuurlik!” skree Saartjie terug. “Ons is nie doof nie!”

“Hoekom wil julle met ons praat?” wil Apie weet.

“Julle weet goed!” skree Saartjie terug. “Dink maar net aan gister!”

Apie en Bennie hoef dit nie eers te doen nie. Hulle weet goed die meisies is daar om met hulle af te reken omdat hulle Saartjie laat val het – en ook oor al die ander dinge wat hulle al aangevang het. Hulle sien juis vir Mathilda ook daar. Sy weet seker dit was hulle wat nou die dag haar fiets se bande afgeblaas het.

Bennie erken aan Apie dat hy nie meer baie langer kan watertrap nie. Dit voel vir hom of hy enige oomblik ’n kramp gaan kry en die meisies sit so gemaklik daar op die wal asof hulle nooit gaan padgee nie.

Die seuns besluit om die stryd gewonne te gee. Apie het voorgestel dat hulle eers woord hou en dan probeer ontsnap …

“Orraait!” skree Apie.

“Orraait wat?” wil Saartjie weet.

“Gee ons klere en gaan wag by die wilgerboom. Ons sal julle daar kry.”

“Belowe jy?”

“Ek belowe, ja.” Apie probeer om selfs in die water ’n kruis oor sy hart te maak.

“En jy, Bennie?” skree Saartjie.

“Ek belowe ook,” skree Bennie en hy klink skoon uitasem.

Saartjie hardloop met die klere by die wal af en gooi dit op die gras neer. Apie en Bennie trap water en beweeg nog verder van die wal af weg.

Die meisies loop laggend na die wilgerboom toe. Lina dink hulle moet die seuns dadelik omsingel wanneer hulle opdaag.

“Ja-nee,” sê Saartjie. “Ek ken vir Apie. Hy is ’n klein kansvatter. Hy sal woord hou en hiernatoe kom, maar sodra ons ’n paar woorde gepraat het, sal hy voel hy het sy belofte nagekom en dan sal hulle probeer weghardloop.”

Terwyl die meisies wag, bind hulle hul sakdoeke aan mekaar vas en Saartjie besluit watter vyf van hulle vir Bennie moet pak en watter vyf vir Apie. Hulle sal die seuns se hande met die sakdoeke vasbind en die twee dan soos krygsgevangenes voor hulle uitjaag tot by die ou waenhuis op Anna-hulle se werf.

Apie en Bennie klouter mismoedig teen die wal uit.

“Ek sê vir jou, Ben, ou pen,” sê Apie nou al die soveelste maal, “hulle gaan ons vasbind … en seker ophang!”

“Dit help nie om dit vir my te sê sonder om te sê wat ek daaraan moet doen nie!” brom Bennie. “Hulle sou ons in elk geval uitgelos het as jy nie gister vir Saartjie gepootjie het nie!”

“En wat van jou? Jy’t haar omgestamp!” snou Apie sy maat vererg toe.

“Dit help nie ons baklei nie,” sê Bennie. “Hulle sal ons darem seker nie regtig vasmaak nie.”

Maar die seuns is glad nie so seker hiervan nie. As ’n spul bloeddorstige meisiekinders met griewe en verwyte bymekaar is, is hulle tot enigiets in staat. Apie en Bennie voel baie ongemaklik.

Die twee besluit hulle sal eers vir die meisies vra wat hulle wil hê en dan laat spaander, want dan het hulle mos woord gehou. As die meisies hulle agterna sit en probeer vang, sal hulle vir die vale slaan en skop!

Die meisies staan reg toe die twee stadig en agterdogtig naderkom. Saartjie hou die sakdoektou gereed agter haar rug.

Niemand praat ’n woord nie. Apie en Bennie staan voor Saartjie. Albei se vuiste is gebal. Die meisies sprei effens uit en vorm ’n sirkel om hulle. Die seuns se oë is groot. Hulle is maar net twee en daar is tien meisies – almal groter as hulle.

“Nou ja, hier is ons. Wat wil julle hê?” vra Apie.

Die seuns dink nog hulle gaan ’n paar woordjies wissel en dan padgee, toe vang Saartjie hulle onverhoeds en skree: “Gryp hulle!”

Die twee is in ’n kits op die grond en hul hande word styf vasgebind. Hulle word hierna ook aan mekaar vasgemaak voor hulle nog kans kry om te skop of te skree.

“Toe-toe, mannetjies, stap aan!” sê Saartjie en gee hulle ’n stamp. “Vandag is die dag van afrekening.”

Apie en Bennie loop gedwee. Wat anders kan hulle doen? Die meisies is net agter hulle.

Hulle weet hulle gaan nou boet vir hul sondes, tensy hulle vinnig ’n plan maak!

Saartjie Omnibus 4

Подняться наверх