Читать книгу Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé - Страница 12
4
ОглавлениеLynnekom se spoke (2)
Dit is donker buite. Die sekelmaan het agter die wolke verdwyn.
Die Drie Muskiete stap na Lina-hulle se voorhekkie toe. Saartjie loop voor. Lina is agter haar en dan Anna.
Skielik begin Lina giggel.
“Wat’s dit?” vra Saartjie en draai om.
“Jy moet sien hoe lyk jy van agter af!” sê Lina. “Kompleet nes ’n spook!”
Saartjie stap so ’n entjie weg sodat Anna ook kan kyk.
“Jy weet, Saartjie,” sê Anna, “as ek nie geweet het dis jy nie, het ek vir ’n vale gehardloop.”
Die meisies lag te lekker en die een probeer om meer soos ’n spook te lyk as die ander. Met die lang swart kouse en die swart skoene aan hul voete lyk dit of hulle deur die lug sweef. Saartjie weet sommer hulle gaan baie pret hê. “Wag maar tot die maan uitkom en hulle my rooi neus sien!” sê sy.
Die drie staan hoog in hul skik by die hekkie. Hulle loer versigtig op en af in die straat en soek hul eerste slagoffer.
“Ons moet net nie naby die lamppale gaan nie,” sê Lina.
Saartjie maak ’n paar roggelgeluide agter in haar keel.
“Wat doen jy nou?” vra Anna.
“Ek maak net my stembande los sodat ek so laag soos ’n spook kan praat,” sê sy en maak weer so ’n paar growwe geluide. Anna en Lina kyk haar geamuseerd aan.
Dan sê Saartjie: “So ja, nou’s my stem gereed. Laat ek maar die praatwerk doen.”
Die meisies kyk weer in die straat af. Hulle sien nêrens ’n lewende wese nie. Dit lyk sowaar of almal in Lynnekom vanaand vergadering toe is.
“Kom ons loop met die agterste straat langs,” stel Lina voor.
Die drie stap weg. Iemand wat nie weet dit is hulle nie, sal baie groot skrik. Hulle lyk kompleet soos drie spoke wat oor die aarde sweef.
Wanneer die meisies in die agterstraat kom, gaan staan hulle skielik botstil. ’n Entjie voor hulle is die hotel se agterplaas en reg oorkant is daar ’n straatlamp wat ’n dowwe ligkol op die pad en sypaadjie gooi. Hulle sien duidelik hoe oom Jorsie, Lynnekom se man van twaalf ambagte en dertien ongelukke, by die deur uitgeslinger kom.
Almal hier ken oom Jorsie en sy streke. Hy is ’n ou man, klein en tengerig gebou, wat altyd ’n groot wolpet dra. Die pet is heeltemal te groot vir sy kop. As dit nie vir sy twee groot bakore was nie, sou die pet oor sy oë afgesak het.
Oom Jorsie se hande staan vir alles reg en hy doen allerhande los werkies, maar hy het ongelukkig ’n drankprobleem. Hy is meer aangeklam as wat hy nugter is. Die dominee en die verskillende vroueverenigings het al baie probeer om hom te laat insien hoeveel skade dit hom berokken, maar dit het alles net mooi niks gehelp nie. Hulle het die stryd nou maar gewonne gegee.
Dit is vir Saartjie, Anna en Lina baie duidelik dat oom Jorsie vanaand ook weer hoog in die takke is. Hy kom al singende met die halfdonker straat afgestap: “O brandewyn, laat my staan …”
“Dís ons kans!” fluister Saartjie. “Ons gaan hom só groot laat skrik dat hy nooit weer na ’n bottel sal kyk nie.”
Die meisies gaan staan teen die heining.
“Wanneer hy reg oorkant ons is,” fluister Saartjie, “gaan ek van voor af na hom toe stap. Anna, dan kom jy van die linkerkant af aan en jy sweef van die regterkant na hom toe, Lina. Ons gaan staan wanneer ons so ’n paar tree van hom af is kyk dan eers wat gebeur.”
Die drie staan doodstil. Hulle haal opgewonde asem.
Oom Jorsie kom al swaaiende en singende aan. Hy sing nou hard: “My bonnie lies over the ocean …”
Toe hy by die deel kom wat sê: “Bring back, oh, bring back, oh, bring back my bonnie to meeeeeeee …” steier hy effens en op daardie selfde oomblik kom Saartjie op hom afgestap.
Ná ’n paar tree gaan staan sy doodstil en wag dat Anna en Lina van die kante af moet inbeweeg.
Oom Jorsie knip sy oë. Hy kyk verstom na die wit gedaante hier voor hom en sê dan met ’n hees stem: “Ek glo dit nie.” Hy begin hard sing die brandewyn moet hom laat staan – hy dink natuurlik dis die drank wat hom sulke snaakse dinge laat sien!
Die oubaas strompel vorentoe en Saartjie beweeg ligvoets agteruit. Dit lyk kompleet asof die ding so deur die lug sweef. Oom Jorsie steek weer in sy spore vas. Hy sing nie meer nie. Hierdie vreemde affêre steek hom dwars in die krop.
Hy vryf sy oë en kyk weer, maar die wit ding bly nog steeds daar staan. Die oom vryf weer – dié keer so hard dat die wolpet skoon oor sy oë gly. Hy ruk die pet vinnig af. Hy wil sien wat aangaan. Hy wil nie onverwags oorrompel word nie.
Oom Jorsie staar stip na die wit gedaante voor hom. Saartjie moet op haar onderlip byt om nie te lag nie. Die oubaas wieg nou glad nie meer heen en weer nie, maar sy broekspype het skielik onbedaarlik aan die bewe gegaan. In ’n poging om homself moed in te praat, sê hy weer: “O brandewyn, laat my staan” en dan: “Ek glo dit nie.”
Hy bewe nou behoorlik soos ’n riet en lek kort-kort oor sy droë lippe.
Saartjie besluit sy moet iets doen voor hy flou word sonder dat hulle enige pret gehad het. Sy sê in ’n lae, hol stem: “Wat glo jy nie?”
Selfs Anna en Lina voel koue rillings langs hul ruggrate afhardloop. Saartjie se stem klink asof dit uit die doderyk kom.
Oom Jorsie is só lam geskrik dat hy nie ’n geluid kan uitkry nie. Sy mond gaan oop en toe, maar daar kom niks uit nie.
“Jou dag het aangebreek, Jorsie,” sê Saartjie onheilspellend. “Die uur van afrekening is hier!” Dit klink vir die verskrikte en oorblufte oom Jorsie asof haar hol stem van ver af aangesweef kom, van ’n plek waar dit wemel van die dooies.
Die arme oom se tande klap só geweldig op mekaar dat hy hoegenaamd nie iets kan sê nie.
“Kyk regs van jou!” beveel die spookstem.
Oom Jorsie maak so en snak na asem wanneer hy sien hoe ’n ander gedaante nou na hom toe aangesweef kom.
“Kyk links van jou!”
Oom Jorsie sien ’n derde gedaante – en sy pet val summier oor sy oë!
Hy pluk die ding verskrik van sy kop af en probeer gou skat of die gedaantes in daardie oomblik nog nader gekruip het.
Lina begin stadig vorentoe beweeg.
Dan kry oom Jorsie uiteindelik ’n geluid uit. “Ag, hemeltjie!” skree hy, “Help my tog!”
Hy kyk vreesbevange rond. Die spoke beweeg nou in ’n kring om hom en daar is nêrens uitkomkans nie. Dit voel of die gedaantes oral om hom is en of hulle enige oomblik sulke lang, klam vingers gaan uitsteek om hom aan sy nek te wurg … en te wurg …
Oom Jorrie kyk met oë vol vrees na die spook wat gepraat het.
“Asseblief, meneer Groot Spook,” sê hy doodbenoud, “gee my nog ’n klein ou kansie. Vergewe nog hierdie een keer vir ou Jorsie … Asseblief tog … Ai toggie …” Die oubaas begin soos ’n klein kindjie kerm.
“Jy drink gans te veel, Jorsie,” kom die lae spookstem.
“Ag toggie … Asseblief tog … Laat my asseblief net gaan … Asseblief toggie …”
“Die drank is sleg vir jou gesondheid,” sê die spookstem weer.
“Ja, Meneer; ek weet, Meneer … My hart is klaar … gedaan … Maar daar sal nie weer ’n druppel drank oor my lippe kom nie … Nie ’n enkele druppel nie … Laat my net gaan, asseblief toggie!”
Die drie spoke staan doodstil om die oubaas wat soos ’n riet bewe. Hy soebat eenstryk deur en loer kort-kort of die ander twee spoke hom nog steeds omsingel. Dit begin vir hom lyk of hulle al hoe nader aan hom kom en oom Jorsie begin harder as ooit soebat.
Net toe kom die maan agter ’n wolk uit en Saartjie sê: “Jou arme sukkelaar, kyk na my. Kyk na my neus!”
Oom Jorsie staan en staar. Sy mond val nog groter oop en hy bibber en bewe asof dit ’n ysige winternag is. Hy het nog nooit so ’n afgryslike ding gesien nie!
“Dis hoe jou neus gaan lyk as jy aanhou drink!” sê Saartjie streng.
“Ek sal ophou … Ek belowe … Asseblief tog … Daar sal nooit weer ’n druppel drank oor my lippe kom nie … Asseblief tog, Meneer … Wees my genadig!” Dit lyk of oom Jorsie nou gaan begin huil. Sy senuwees is gedaan.
“Reg, jy kan gaan,” kom die lae, hol stem uit die doderyk, “maar as jy nie jou woord hou nie, kom ons terug, hoor jy?!”
“Ag, dankie … Dankie tog …” prewel oom Jorsie.
Saartjie sweef voor hom weg en sê: “Hardloop, Jorsie – voor ons besluit om jou weg te vat!”
Oom Jorsie laat hom nie twee keer nooi nie. Hy begin nael asof daar baie meer as net sewe duiwels agter hom aan is. Hy verslap sy pas net een keer om sy pet uit sy oë te kry sodat hy darem kan sien waar hy hardloop.
Saartjie, Anna en Lina krul eintlik om soos hulle lag.
“Jy was wonderlik, Saartjie!” sê Anna. “Ek het self elke keer koue rillings gekry toe jy praat.”
“Ek is seker oom Jorsie het só groot geskrik dat hy nooit weer gaan drink nie!” sê Lina.
Saartjie kyk op haar horlosie.
“Ons moet nou wikkel na Isabel-hulle toe,” sê sy, “anders is ons laat.”
Lina stel voor dat hulle eers nog ’n slagoffer soek, want sy is seker Isabel en “daai wolf met die blink kar” sal nog lank in die somerhuisie sit en handjies vashou.
Anna maak beswaar. Isabel en “daai nare ou” mag wel miskien nog lank daar sit, maar hulle drie spoke het nie baie tyd om te mors nie. Hulle moet terug in Lina-hulle se huis wees voor hul ouers van die vergadering af kom.
Saartjie stel voor dat hulle na Isabel se huis toe gaan, maar die kans waarneem om ’n bietjie pret te hê as hulle iemand langs die pad teëkom. Die ander twee is tevrede hiermee.
Hulle draai om en stap met die straat af. Naby die hoek kom daar skielik ’n fiets om die draai.
Die meisies spring vinnig weg sodat hulle teen die heining op die sypaadjie staan. Die fiets se lig is só skerp dat hulle nie kan sien wie dit is nie.
“Sal ons uitspring en hom skrikmaak?” vra Lina.
“Wag!” fluister Saartjie en haar stem bewe. “Kyk daar op sy kop!”
Die ander twee kyk en hulle sien dit ook! Dis die Suid-Afrikaanse Polisiediens se wapen!
Die meisies druk hulle nou nog stywer teen die heining vas. Die konstabel ry niksvermoedend op sy fiets verby. Saartjie-hulle hou asem op en slaak ’n sug van verligting toe hy om die volgende hoek gaan.
“Sjoe,” sê Saartjie, “dit was darem vir jou amper!”
Anna en Lina vee die sweet van hul voorkoppe af. Ja-nee, dit was so hittete.
Die drie stap vinnig verder. Eers wanneer hulle doodseker is die konstabel gaan nie terugkom nie, begin hulle weer ontspan.
Saartjie begin nou selfs grootpraat. “Julle weet,” sê sy, “ons moes daardie konstabeltjie bang gemaak het. Hy sou net so groot soos oom Jorsie geskrik het. Almal is bang vir spoke, en ek wed julle ’n polisieman óók …”
“Maar onthou,” sê Anna, “hy’t ’n rewolwer. Sê nou hy’t só groot geskrik dat hy sy rewolwer uitgepluk en geskiet het!”
Saartjie en Lina besef dit kon gebeur het. Hulle is nou maar bly hulle het die konstabel nie ook probeer bangmaak nie. Soos Saartjie sê, dan was hulle dalk nou regte spoke!
Toe die drie meisies in die volgende straat na die bankbestuurder se huis toe afdraai, kom daar weer iemand op ’n fiets aangery. Wanneer hy onder ’n lamplig deurry, herken hulle hom – dit is Lynnekom se posman, Frikkie Booysen. Hy is seker op pad terug poskantoor toe, want hy huur ’n kamer aan die agterkant van die gebou.
“Hy skeep sy werk deesdae vreeslik af,” sê Saartjie. “Almal kla oor hy die verkeerde briewe in die verkeerde posbusse sit. Kom ons leer hom ’n les!”
Die drie meisies staan doodstil teen ’n motorhuis se wit muur. Frikkie moet hier voor naby hulle verbygaan.
Die posman kom fluitend op sy fiets aangery.
Toe hy reg by die drie “spoke” kom, roep Saartjie met haar hol spookstem: “Frikkie!”
Die posman sit sy voet op die grond om te stop, maar klim nie van sy fiets af nie.
“Wie’t my geroep?” vra hy.
“Frikkie!” sê Saartjie weer en hy draai om. Skielik sien hy die drie spoke. Hy snak na asem en sy oë rek wyer en wyer.
Hulle het nie bene nie, is die eerste gedagte wat by Frikkie opkom. Dit beteken hulle kan my nie vang nie, is sy tweede gedagte. Hy lig sy voet van die grond af op om vinnig te trap.
“Frikkie!” skree Saartjie. “Staan stil!”
Frikkie aarsel ’n oomblik en dan maak hy maar so. Dit help nie om moeilik te wees as ’n spook jou roep nie. Die gedoente kan ’n man dalk iets aandoen. Jy weet nooit nie.
Die drie spoke kom nader gesweef. Frikkie begin soebat. Hy sê hy is van die Boland af en hy is ’n goeie kêrel. Hy stuur elke maand die helfte van sy salaris vir sy ma daar onder in die Kaap en wat sal van sy arme moeder word as sy nie meer sy geldjies kry nie?
Frikkie sê dit alles in een asem nog lank voor Saartjie-hulle eers by hom is.
Saartjie besef hulle kan nie te lank met hom staan en gesels nie. Die drie gedaantes kom ’n paar tree van die bibberende Frikkie af tot stilstand – en net toe loer die maan agter ’n wolk uit.
“Kyk na my neus, Frikkie,” beveel Saartjie met haar hol, diep stem.
Die posman kyk en sy oë peul amper uit sy kop. Hierdie geeste het nie bene of gesigte nie – maar die een met die vreesaanjaende stem het ’n groot rooi neus, die liederlikste neus wat hy nog ooit gesien het!
“As jy aanhou om so agterlosig te wees en die verkeerde briewe by die verkeerde huise aflewer,” sê Saartjie, “gaan jy net so ’n neus kry! Maak dat jy hier wegkom! Ry!”
“Jissie …” Dit lyk amper of Frikkie van pure verligting gaan omkap. “Ek sal nooit weer een enkele fout maak nie,” sê hy en wip op sy fiets se saal en trap vir ’n vale. Daar was seker nog nooit vantevore of hierná iemand hier in Lynnekom wat ’n fiets so vinnig getrap het nie.
Frikkie is in ’n japtrap by sy kamer agter die poskantoor. Hy sluit die deur bewend toe en sak hygend op die vloer neer. Praat van ’n noue ontkoming …
Saartjie, Anna en Lina stap laggend verder. Dit was alles net ’n bietjie onskuldige pret. Maar nou gaan die aand se belangrikste spokery begin – die gedoente wat Kris en Isabel weer bymekaar moet uitbring.
Die meisies kom by die bankbestuurder se huis aan. Daar staan ’n groot, blink motor voor die huis. Hulle gaan staan by die hekkie en kan “daai nare ou” soos Anna hom noem, of “daai wolf met die blink kar” soos Lina hom noem, of “Snor” soos Saartjie hom noem, of Theodor soos Isabel hom noem, hard in die somerhuisie hoor gesels.
“Onthou nou,” gee Saartjie haar laaste bevele in ’n fluisterstem, “julle bly ’n entjie agter my. Ek gaan reguit na die somerhuisie toe loop sodat dit lyk of ek aangesweef kom. Wanneer ek by die ingang kom, sal ek gaan staan. En dan, wanneer hulle my oopmond sit en aangaap, moet julle twee ook aangesweef kom.”
“Hoe gaan hy verby ons kom as hy wil weghardloop?” vra Anna.
“Hy gaan nie by ons verbykom nie,” sê Saartjie. “Hy sal ’n ander plan moet maak. Hy sal oor die muurtjie agter in die somerhuisie moet spring.”
Anna mompel sy hoop Saartjie is reg. Sê nou net hy vlieg hulle in en begin sommer wild en wakker onder hulle slaan?
Die Drie Muskiete se harte klop vinnig terwyl hulle geluidloos by die hekkie inglip.
Voor in die somerhuisie is daar ’n opening waar ’n mens inloop. Dit is ’n ronde huisie met ’n baksteenmuurtjie van omtrent ’n meter hoog rondom. Die dak rus op ’n paar pilare.
Isabel en Theodor sit op die bankie reg oorkant die ingang. As hulle nou net hul koppe draai, sal hulle die drie swewende gedaantes duidelik sien naderkom.
Toe hulle omtrent twintig tree van die somerhuisie af is, wys Saartjie Anna en Lina moet wag. Sy sluk en stap dan stadig en grasieus vorentoe. Die sekelmaan is nou agter die wolke en dis pikdonker.
Saartjie kom al nader.
Theodor is net mooi besig om sy arm om Isabel te probeer sit. Sy skuif vies weg.
“Hoekom is jy so snaaks met my?” vra Theodor en probeer sy arm weer om Isabel sit. Maar dan kyk hy by haar kop verby en sy arm bly net so in die lug hang. Sy oë peul amper uit sy kop.
“Hè … Isabel … hè …”
“Moet asseblief nie jou arm om my sit nie,” sê Isabel beslis. “Ek hou nie daarvan nie.”
Dit is egter nou die laaste gedagte in Theodor se kop! Hy beduie na die ingang en stamel: “Kyk … Kyk … Wat’s dit daardie?”
Isabel kyk vererg na Theodor. Sy wonder watter streke hy nou weer wil uithaal. Dan sien sy die vrees op sy gesig en sy mond wat oophang.
Isabel swaai om. Sy sien nou ook die wit gedaante wat na die somerhuisie aangesweef kom – reguit na hulle toe! Sy voel hoe haar bene lam word en is dankbaar hulle sit, anders sou sy sowaar omgeslaan het.
Saartjie swenk effens weg sodat sy van voor af na die somerhuisie kan aansweef. Isabel en Theodor se koppe draai saam soos hulle haar dophou. Die twee klou soos vreesbevange kinders aan mekaar vas.
Saartjie is nou reg voor die somerhuisie en sy stap stadig na die opening toe. Isabel en Theodor staar met ingehoue asems na haar. Saartjie gaan staan doodstil en kyk na hulle. Dit is pikdonker en sy lyk kompleet soos ’n spierwit gedaante sonder bene.
Theodor se hart klop tien keer wilder as Isabel s’n, want terwyl sy die spook so beangs aankyk, val iets haar skielik by – Saartjie! Saartjie het mos van spoke gepraat – spoke wat glo nie gevaarlik is nie.
“Daar … daar is nóg twee,” fluister Theodor skielik skaars hoorbaar. Isabel sien hoe die ander twee spoke aangesweef kom en by die eerste een aansluit. Drie spoke, dink sy – Saartjie, Anna en Lina! Hulle doen mos altyd alles saam.
Die drie spoke staan doodstil. Hulle lyk só vreesaanjaend dat Isabel begin twyfel of dit die meisies is. Daar gly ’n yskoue rilling langs haar ruggraat af. Sê nou dis regte spoke?
Nee, Isabel wil liewer nie aan so iets dink nie. Dit móét Saartjie, Anna en Lina wees!
“Moet … moet … ek vir hulle iets vra?” stamel Theodor.
“Ja. Vra wat hulle wil hê,” sê Isabel.
“Wat … wat wil julle hê?” vra Theodor en probeer hard om sy stem nie te laat bewe nie.
“Ons wil jóú hê,” kom Saartjie se hol stem wat klink of dit baie eeue laas gebruik is. “Ons wil jou hê … jou hê … Ons wil nuwe bloed hê …”
Isabel word yskoud, maar dan onthou sy dat Saartjie mense en stemme so goed kan na-aap.
Theodor is asvaal en die sweet pêrel op sy voorkop. Dis nie net sy broekspype wat bewe nie – sy hele lyf bibber!
Net toe kom die maan uit en die twee sien Saartjie se bloedrooi neus. Isabel trek haar asem vinnig in. As dit Saartjie is, kan sy mos nie so ’n neus hê nie! Maar dan onthou Isabel van die neus wat Kris gehad het vir daardie konsert waarin hy ’n hanswors was.
Isabel is nou seker die drie spoke is Saartjie, Anna en Lina. Sy voel só verlig dat sy hard op haar onderlip moet byt om nie hardop te begin lag nie.
Theodor sit en klappertand asof dit in die hartjie van die winter is.
“Dit help nie jy sit net so nie,” fluister Isabel. “Sit hulle op hul plek. Klim met jou vuis onder hulle in.” Sy geniet die petalje nou terdeë.
“Wie – ek?” vra Theodor in ’n piepstemmetjie.
“Ja, jý.”
“Mens kan nie teen geeste baklei nie,” sê Theodor benoud. “As hulle jou klap of iets, sit die merk vir die res van jou lewe daar!”
Isabel moet nou baie hard konsentreer om nie te lag nie.
“Kom!” sê Saartjie onheilspellend vir haar twee vriendinne. “Kom ons gaan gryp hom!”
Die drie beweeg stadig vorentoe.
“Nee!” skree Theodor angsbevange. “Neeee! Ek het julle niks aangedoen nie!”
Hy pleit nou vir ’n vale, maar dit help nie. Die drie spoke sweef al nader en nader.
“Hardloop, Isabel!” skree Theodor skielik. “Hardloop!”
Hy los vir Isabel net daar en vlieg soos ’n warrelwind oor die muurtjie en nael dat hy so klein word. Hy strompel oor die blombeddings, pyl reguit voorhekkie toe en mik vir sy motor.
Isabel bars uit van die lag. Sy kan dit nie langer inhou nie. Saartjie, Anna en Lina begin ook nou lag en die vier skater te heerlik.
“Hoe het jy geweet dis ons?” vra Anna deur haar trane.
“Ek kon mos sien!” sê Isabel. “Maar ek moet erken, ek was die eerste paar oomblikke baie benoud …”
“Jy het darem ’n bangbroek vir ’n kêrel,” sê Saartjie grinnikend.
“Wie sê hy’s my kêrel?” vra Isabel verontwaardig.
Intussen wil Theodor net sy motor se deur agter hom toeklap toe hy die meisies se uitbundige gelag hoor. Sy hart klop nog wild, maar daar is nou ’n diep frons tussen sy oë. Watse gelag kan dit wees?
Skielik onthou hy van die drie meisies wat hom vertel het dat dit so vreeslik hier in Lynnekom spook. Vreemd, daar was drié spoke … Theodor klim uit sy motor en luister na die gelag.
Hy is nou nie meer bang nie. Hy is woedend. Dís natuurlik wat dit is – hulle het hom vir die gek gehou! Hy het die hele tyd geweet iets is nie pluis nie toe die drie spoke daar staan. Maar hy het op daardie stadium so groot geskrik dat hy nie mooi helder kon dink nie.
Theodor klap sy motordeur boos toe en stap vinnig terug na die somerhuisie. Hy is briesend. Hy besef wat ’n swak indruk hy op Isabel moes gemaak het.
Saartjie is net besig om vir haar te wys hoe oulik die spookgewaad gemaak is toe die meisies die haastige voetstappe hoor. Hulle swaai om en sien Theodor verwoed aangestap kom.
“O gonna, wat nou?” vra Anna en skuif agter Isabel in.
“Hoe durf julle!” roep Theodor uit. Hy bewe nou van woede, nie meer van vrees nie.
Saartjie en Lina glip ook vinnig agter Isabel in.
“Hoe durf ons wat?” vra Isabel kil.
“Ek praat met die meisiekinders!” snou Theodor haar toe. “Hoe durf julle my so vir ’n gek hou?” gil hy vir Saartjie-hulle.
Die windlawaai met die snor en blink motor se selfrespek het duidelik ’n knak gekry. “Ek is sommer lus en gee julle elkeen ’n loesing!” sis hy.
“Waag dit net!” verdedig Isabel en sit haar arm beskermend om die drie spoke. “Dan sal jy met my te doen kry!”
“Is jy wraggies aan hul kant?” vra Theodor hy gegrief.
“Natuurlik is ek … En ek dink dis beter dat jy nou ry. Baie dankie vir al die kere wat jy my opgelaai het. Jy hoef dit nie meer te doen nie – en ek wil ook nie hê jy moet weer vir my kom kuier nie.”
Theodor staan behoorlik en blaas soos wat hy hom moet inhou om Saartjie-hulle nie te lyf te gaan en hul nekke om te draai nie.
Ná ’n paar oomblikke sê hy net boos: “Ga!” en swaai om en strompel blindelings weg.
Saartjie wil giggel, maar sy is darem ook skrikkerig. Dit is dalk te gevaarlik om nou te lag.
“So ja,” sê Isabel glimlaggend toe hulle Theodor se motor hoor wegtrek, “dis oor en verby.”
“Ek hoop nie jy’s kwaad vir ons nie, Isabel?” vra Anna benoud. “Ons het hom nou weggejaag en dalk wou jy hom gehad het?”
“Moenie laf wees nie,” lag Isabel. “Jy’t mos gehoor wat sê ek vir hom. Ek wonder heeltyd al hoe om van hom ontslae te raak.”
Almal lag nou weer heerlik.
“Jy weet, Isabel,” sê Saartjie skielik en gee ’n ongemaklike hoesie, “ek het ’n ouboet …”
“Ja, ek weet jy het ’n ouboet, Saartjie,” sê Isabel. “Sy naam is Kris – en weet jy wat weet ek nóg?”
“Wat?” vra Saartjie effens uit die veld geslaan.
“Ek weet julle’t Theodor hierdie poets gebak omdat julle so graag wil hê ek en Kris moet weer uitgaan. Ek lees julle al soos ’n boek!”
Die Drie Muskiete glimlag verleë.
“En weet julle wat weet ek nóg?” vra Isabel.
Die “spoke” skud hul koppe.
“Ek gaan nou vir julle koekies en koeldrank gee – en terwyl julle dit verslind, gaan ek vir Kris ’n brief skryf en jy gaan dit vanaand vir hom gee, Saartjie.”
Saartjie is natuurlik meer as bereid om dit te doen. Sy sê ook sy hoop haar broer sal hierna nie meer soos ’n beer met ’n kopseer daar by die huis rondloop en almal se koppe wil afbyt nie.
Die meisies kuier en eet heerlik by Isabel. Toe hulle moet loop omdat dit laat word, gee Isabel vir Saartjie die brief wat sy intussen geskryf het en sê: “Gee dit asseblief vanaand nog vir hom, hoor.”
Isabel waarsku die drie ook om liewer nou hul spookklere uit te trek, want netnou skrik iemand en skiet dan op hulle. Die meisies vertel maar liewer nie vir haar dat hulle die gewapende konstabel so ampertjies bang gemaak het nie!
Saartjie-hulle is skaars terug by Lina se huis of hul ouers kom hulle oplaai.
Nadat Saartjie vir haar ouers nag gesê het, gaan sy na Kris se kamer toe. Sy sien ’n fyn ligstrepie onder die deur deurskyn. Sy klop saggies.
’n Nors stem sê: “Kom in.”
Saartjie draai die knop en gaan in. Kris sit en skryf ’n brief. Saartjie sien hoeveel velle opgefrommelde papier daar rondlê. Dis duidelik ’n baie belangrike brief wat Kris probeer skryf. Sy is seker dit is ’n liefdesbrief vir Isabel.
“Wat staan jy daar soos ’n bobbejaan?” brom Kris. “Kan jy nie sien ek’s besig nie?”
“Jy hoef nie my kop af te byt nie. Ek het net vir jou iets gebring.”
“Wat? Jy’t niks om vir my te bring nie.”
“Oukei,” sê Saartjie snipperig, “as jy nie die brief wat Isabel vir jou stuur wil hê nie, sal ek maar loop.”
Saartjie draai om. Daar speel ’n glimlag om haar mondhoeke.
Kris kan sy ore nie glo nie. Hy vlieg op.
“Wat?” skree hy. “Wat sê jy? Waar is die brief?”
“Wat maak dit saak?” vra Saartjie vermakerig. “Jy wil dit mos nie hê nie.”
“Ek wil! Natuurlik wil ek die brief hê! Gee dit vir my!”
Kris sien hoe Saartjie met die agterkant van haar hand oor haar voorkop vee. Dit is nie ’n goeie teken nie. Hy weet hoe vasberade sy is wanneer sy dit doen.
Hy sê dadelik sagter en vriendeliker: “Ekskuus dat ek ongeskik was, Saartjie. Dis oor ek in so ’n toestand is. Gee asseblief nou vir my die brief.”
“Met plesier,” sê Saartjie glimlaggend en gee dit vir hom.
Kris lees dit dadelik, sommer so voor haar. Sy gesig begin straal van vreugde en dan lees hy dit weer.
“Saartjie,” sê hy opgewonde en gryp haar en bokspring met haar in sy arms in die kamer rond, “jy’s die wonderlikste sussie in die hele wêreld! Ek is mal oor jou!”
Dan lees Kris die brief vir die derde keer en sê dromerig: “Sy het my lief … Sy sê dit hier … Sy het my lief … baie lief … En ek het haar net so lief!”
Saartjie glimlag tevrede, sê vir haar broer nag en maak sy deur sag agter haar toe. Kris hoor haar nie eens nie. Hy staan met die brief in sy hand en staar droomverlore voor hom uit …
Saartjie kruip in die bed. Dit was ’n lang en opwindende aand. Sy gee ’n lang gaap en haar ooglede is swaar van die vaak. Ja-nee, sy en haar vriendinne het vanaand goeie werk gedoen – én baie pret gehad.
Sy gaap weer. Haar oë val toe en daar is ’n sagte glimlag om haar mondhoeke. Saartjie slaap rustig …