Читать книгу Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé - Страница 6

1

Оглавление

Kris het probleme

Die veertienjarige Saartjie Baumann klim by Lynnekom se halte van die bus af.

Sy dra ’n ligblou rok wat presies dieselfde kleur as haar oë is. Saartjie het ’n seldsame kombinasie van blou oë en donker hare. ’n Aantreklike ry sproete versier haar effense wipneus se brug. Wanneer sy, soos nou, glimlag, verskyn daar twee sjarmante kuiltjies in haar wange.

Saartjie glimlag oor die fliek wat sy vanmiddag gesien het. Dit was pragtig! Anna en Lina sou dit só geniet het!

Saartjie is vanmiddag alleen in stad toe, want haar twee boesemvriendinne kon nie saamgaan nie.

Anna mag vir vier Saterdae nie gaan fliek nie, want sy het te swak in hul laaste toetsreeks gevaar. Nou is dit haar straf.

Lina kon nie saamgaan nie, want sy moes saam met haar ouers by “die kwaaiste oom en tannie in die hele wêreld” gaan kuier. Hulle besoek hierdie oom en tannie van haar een keer ’n maand en Lina is altyd nors daaroor. Sy het Saartjie al baie saamgenooi, maar Saartjie stel nie daarin belang om ook onder die knorrige oom en tannie deur te loop nie!

Saartjie Baumann, Anna Strydom en Lina Rens is gedurig bymekaar. Hulle was saam op laerskool hier in Lynnekom, en hulle is nou ook saam by die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad. Lynnekom is ’n voorstad van Johannesburg en hulle drie is hier oral bekend – of is dit miskien berug? – as die Drie Muskiete.

Saartjie loop nog steeds glimlaggend en dink aan die pragtige film wat sy vanmiddag gesien het. Dit was vir haar wonderlik toe die heldin sommer reg aan die begin van die fliek vir die ryk man met die groot snor sê: “Ek wil nie met jou dans nie,” en na die arm man toe omdraai en sê: “Ek sal graag met jou wil dans.”

Saartjie kry weer lekker terwyl sy aan daardie toneel dink. Die pragtige heldin se voorgevoel was reg. Sy het dadelik geweet die een man is ’n goeie mens en die ander ene nie, én dat rykdom niks met die saak te doen het nie. Later het dit dan ook uitgekom dat die ryk man die skurk is, en die arm ou die held.

Saartjie stap ingedagte. Sy het ’n baie sterk verbeeldingskrag en beweeg nou in ’n droomwêreld van haar eie. Sy beleef weer die insidente in die film en verbeel haar sy is die heldin.

Saartjie maak nou net soos die heldin in die storie gemaak het, toe sy by die yslike danssaal ingestap het. Sy knik vriendelik met haar kop vir al die dansende pare wat stil gaan staan om haar skoonheid te bewonder. Sy stap trots en regop met die stil straat in Lynnekom af en knik grasieus met haar kop – eers na die een kant en dan na die ander kant toe.

Sy maak ook elke nou en dan ’n elegante buiginkie.

Saartjie spring nou vorentoe in die storie en beleef weer een van die laaste tonele, waarin die heldin se oë soos kole vuur gloei en sy vir die ryk man sê: “Leave me alone! I hate cowards!”

Dit was fantasties! Saartjie het gevoel sy wil sommer daar, ín die fliek, begin juig en hande klap. Sy het toe sommer geweet die film gaan ’n gelukkige einde hê.

Maar vroeër was Saartjie bekommerd, want nadat hulle die eerste keer vasgesit het, het die ryk man met sy snor, sjarmante maniere en baie geld, later ’n goeie indruk op die heldin begin maak. Sy het al meer saam met hom begin uitgaan en al minder saam met die arm ou.

Maar een aand is sy en die ryk man deur ’n bende voorgekeer. Dis tóé dat die heldin sien wat ’n lafaard hierdie man is. Sy bly trots en regop staan terwyl hulle haar met ’n rewolwer dreig en haar pêrels van haar nek afruk. Maar die ryk man slaan in sweet uit en smeek om genade.

Toe die bende in hul motor wegjaag, draai die heldin na die bewende man langs haar en sê vir hom dat sy lafaards haat.

Só het sy uitgevind vir wie sy regtig lief is. Sy het dadelik teruggegaan na die arm man toe.

Die prent eindig waar hulle in mekaar se arms voor hul huisie by die see staan en kyk hoe die son die weste rooi inkleur, en stadig in die oseaan wegsink, terwyl daar die mooiste dromerige musiek speel.

Dit was vir Saartjie ’n absoluut wonderlike fliek.

Sy loop nou daaraan en dink dat sy ook net soos die heldin reeds aan die begin gesien het die man met die snor is nie watwonders nie, al het hy so baie geld. Saartjie weet nie hoekom nie, maar sy beskou iemand met ’n snor altyd as ’n skelm. Miskien is dit as gevolg van al die boeke en flieks waarin die skurk altyd so ’n welige snor het.

Maar daardie toneel – en Saartjie glimlag sommer weer – waarin die heldin se oë so vlam, en sy vir die man met die snor sê om haar uit te los want sy haat lafaards, sal sy nooit vergeet nie!

Saartjie is nou naby die Baumanns se groot dubbelverdiepinghuis. Sy kom by Anna-hulle se huis, maar is salig onbewus van haar omgewing. Sy lewe haar totaal in in die film se gebeure.

Sy gaan staan stil en gooi haar kop onwillekeurig effens agtertoe. Dit is mos wat die heldin gedoen het net ná die bende weggejaag het. In haar verbeelding kyk sy nou stip na die ou met die snor.

Saartjie se oë vlam. Sy maak ’n verergde handgebaar en sê: “Leave me alone! I hate cowards!”

Sy dink sy speel net so skitterend toneel soos daardie wêreldberoemde Hollywood-aktrise in die film.

Saartjie is só verdiep in haar eie droomwêreld dat sy glad nie die sproetgesig by die Strydoms se hekkie raaksien nie. Dis Muggie, Anna se sesjarige sussie. Muggie maak die wêreld soms baie moeilik vir Saartjie-hulle, want sy wil altyd oral saam met hulle heen gaan. As hulle weier, sit die astrante klein snip só ’n keel op dat ’n mens se ore dit nie kan hou nie.

Muggie staan en gaap Saartjie oopmond aan. Saartjie beleef nou weer die toneel waarin die heldin en die man van haar drome (die arm een sonder ’n snor) in mekaar se arms na die sonsondergang oor die see staan en staar terwyl daar sagte musiek op die agtergrond speel.

Daar is ’n veraf blik in Saartjie se oë en ’n soet glimlag speel om haar mondhoeke. Skielik wip sy soos sy skrik, want hier reg by haar hoor sy Muggie se skril stemmetjie: “Haai, wat maak jy?”

Muggie se woorde ruk Saartjie terug uit haar droomwêreld.

Sy grinnik verleë vir Muggie wat haar so fronsend dophou.

“Haai,” sê Saartjie, “ek het jou sowaar nie eers gesien nie.”

“Ek weet jy het nie,” sê Muggie. “Wat het jy gedoen?”

“Hoe bedoel jy wat het ek gedoen?”

“Hoekom het jy so gestaan en jou hand geswaai en goete in Engels gesê en toe weer net so gestaan en soos ’n siek hoender gelyk?”

Saartjie lag. Dit moes baie snaaks gelyk het!

Dan maak sy keel skoon en sê uit die hoogte: “Ek het diep gedink, Muggie.”

“Waaroor?”

“Sommer oor dinge – goed wat niks met jou te doen het nie,” antwoord Saartjie en begin aanstap.

Muggie brom en Saartjie glimlag net toe sy iets hoor van “simpel mense wat in die straat gaan staan en hul arms swaai en met hulleself praat.”

Saartjie is maar bly dis net Muggie wat haar gesien het en nie een van die ouer kinders nie. Hulle sou haar weer vir hoe lank daaroor gespot het.

Die sypaadjie wat voor Saartjie-hulle se huis verbygaan, is met groot betonblokke geplavei. Sy sug en gaan staan toe sy by die plek kom waar die plaveisel begin. Dit is nou al jare, vandat die blokke daar gelê is, haar selfopgelegde taak om nooit daaroor te loop nie, maar altyd te spring – en as haar voet dan aan een van die gleuwe tussen die blokke raak, moet sy weer van voor af begin.

Die hele Lynnekom ken hierdie snaakse gewoonte van haar en almal dink dit is maar simpel. Saartjie dink ook so, maar sy kan eenvoudig nie sover kom om net gewoonweg oor die blokke te loop nie. Sy verbeel haar die vreeslikste ongelukke sal haar dan tref!

Sy was nege jaar toe sy begin het om oor die blokke te spring en sy is nou al veertien. Sy het nog nie een keer oorgeslaan nie en nog nooit gekul nie. As haar voet net effens aan ’n gleuf raak, begin sy altyd weer van voor af, al is die versoeking soms baie groot om haar voet net so effens te verskuif.

Saartjie kyk vies na die plaveisel. Dan vat sy haar handsak styf in haar hand vas en begin spring!

Sy wip vinnig en sekuur van die een blok na die ander. Sy hou ver van die gleuwe af weg. Sy sal sowaar skree van moedeloosheid as haar voet nou aan ’n gleuf moet raak en sy weer met haar pragtige klere en al van voor af moet begin.

Saartjie spring egter end-uit sonder om aan ’n enkele gleuf te raak. Sy kom uiteindelik moeg by die hekkie aan.

“So ja,” sê sy en stap met die tuinpaadjie op huis toe. Sy is in hierdie einste huis gebore en woon nou al veertien jaar hier.

Die Baumanns se mooi dubbelverdiepinghuis is teen ’n heuwel gebou. Uit haar kamer op die boonste verdieping kyk Saartjie oor die hele Lynnekom uit en op helder dae kan sy selfs Johannesburg se wolkekrabbers in die verte sien.

Dokter Baumann is ’n beroemde spesialis in die stad en hy en sy vrou het drie kinders. Kris, die oudste, is nou een-en-twintig en ’n derdejaarstudent aan die universiteit. Dan is daar natuurlik Saartjie en die negejarige Apie, of Abraham, maar niemand noem hom so nie, behalwe sy ma wanneer sy kwaad is.

Apie is ’n koddige skepseltjie wie se twee voortande makeer. Hy hou vol hy het hulle verloor toe hy eendag uit ’n boom geval het. Die feit dat hy ook ’n yslike blouoog gehad het toe hy by die huis kom, het hom glad nie van sy storie laat afsien nie.

Saartjie stap by die voordeur in en gaan reguit sitkamer toe waar sy stemme hoor.

“Hallo, Mamma,” sê sy.

Haar ma glimlag vriendelik en kyk van haar breiwerk af op.

Saartjie sien dat Kris voor die venster staan en mismoedig buitentoe kyk.

“Haai, Kris,” sê sy. “Ek het jou nie eers gesien nie.”

“Haai,” brom hy net.

“Wat het oor jou lewer geloop?” vra Saartjie fronsend. “Jy lyk soos iemand wat die wêreld se probleme op jou skouers dra.”

“Los my uit!” gil Kris op haar.

Saartjie vee die krul van haar voorkop af weg en sê: “Hoe kan ek jou uitlos as ek nie eers met jou begin het nie? Ek groet jou vriendelik en jy byt omtrent my kop af …”

“Ek wens julle wil my almal uitlos!” skree Kris en skiet soos blits by die vertrek uit en met die trap op na sy kamer toe.

Saartjie kyk hom verbaas agterna. Mevrou Baumann brei maar verder.

“Dis nou wat ek goeie maniere noem!” sê Saartjie.

“Jy is te jonk om te verstaan,” sê haar ma, wat ook maar effens bleek lyk ná haar oudste se skielike uitbarsting. “Kris bedoel nie regtig wat hy sê nie – en hy is nie vir jou kwaad nie.”

“Hoe kan Mamma sê hy bedoel nie wat hy sê nie?” wil Saartjie weet. “Ek het gehoor wat hy vir my gesê het!”

“Ek het ook gehoor, Saartjie,” sê haar ma glimlaggend, “maar jy moet jou nie aan hom steur nie. Hy het net voor jy ingekom het sy probleme met my bespreek. Hy is omgekrap, maar hy sal daaroor kom. Ons gaan maar almal vroeër of later deur so ’n tydperk in ons lewe – jy sal ook nog.”

Martha Baumann sug swaar.

Saartjie kyk fronsend na haar ma. Hoekom is Kris nou skielik so omgekrap? Sy verstaan dit glad nie. En watter tydperk is dit waardeur sy ook nog eendag sal moet gaan? Wat is dit wat ’n mens so lelik omkrap?

“Sal ek ook eendag deur so ’n dinges … so ’n tydperk gaan, Ma?”

Saartjie en haar ma kyk albei vinnig om. Apie loer oor die rugkant van die groot rusbank na hulle. Sy tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.

“Abraham,” sê sy ma kwaai, “was jy die hele tyd daar op die bank?”

“Ja, Ma. Ek het hier gesit en lees toe Kris inkom en oor al daardie goete praat. Ek het toe maar liewer tjoepstil gesit, Ma weet, want ek het gedink dis beter, anders gee hy my dalk sommer ’n oorveeg, Ma weet.”

Martha Baumann kan nie help om te glimlag nie. Sy besef dit was heel moontlik wys van Apie om stil te bly toe Kris so teenoor haar uitgepak het.

“Waaroor het Kris gepraat, Mamma?” vra Saartjie. “Ék weet,” sê Apie tevrede.

“Ek sal jou aanraai om alles wat jy gehoor het te vergeet, Abraham,” sê hul ma streng.

“Hoe kan ek goete vergeet wat ek nou net gehoor het, Ma?” wil Apie weet. “Mens kan mos nie sommer net vir jou kop sê ‘vergeet’ en dan vergeet hy alles wat hy gehoor het nie,” sê Apie en maak ’n sisgeluid deur die gaping in sy tande. “Dis mos onmoontlik!”

“Kris het met my gesels oor dinge wat jou nie aangaan nie en waarvan jy niks weet nie, Abraham.” Mevrou Baumann kyk kwaai na haar jongste. “En dis nou die einde van die saak.”

“Ja, Ma,” sê Apie. “Mens kan maar sê ek was nie eers hier nie. Sy ou liefdesgoete kan my tog nie worrie nie.”

“Abraham!”

“Ja, Ma?” Apie kyk onskuldig na sy ma.

“Ek het jou al ’n honderd keer gesê om nie Engelse woorde te gebruik as jy Afrikaans praat nie!”

“Ja, Ma. Ekskuus, Ma,” sê Apie en voeg dan vinnig by: “Maar ek is goed met Engels, dink Ma nie?”

“Ja, jy is. Maar ’n mens meng nie jou taal so nie.”

“Ja, Ma,” sê Apie gedwee.

Apie loop by die vertrek uit en gaan na sy kamer toe. Dinge begin hom nou hier verveel. Die biblioteekboek wat hy lees, is ook nie juis watwonders nie. Hy sal maar in sy kamer gaan strokiesverhale lees. Hy kan dit nie hier doen nie, want sy ouers word mos kwaad as hulle hom met Die Skim sien.

Toe Apie uit is, sê Saartjie: “Ek kan nog nie verstaan hoekom Kris so onbeskof was nie, Mamma. Wat het dit met liefde te doen?”

“Ag, Saartjie, vergeet tog nou maar daarvan,” sê haar ma en sug. “Een van die dae is Kris oor die ding en dan sal hy almal om verskoning vra dat hy so humeurig was.”

“Maar waaroor is hy so omgekrap?” vra Saartjie.

“Jy is nog te jonk om te verstaan, my kind. Dinge tussen Kris en Isabel is deesdae glad nie lekker nie. Dis al.”

“O,” sê Saartjie, “dis uit tussen hulle! Hoekom het Mamma nie net vir my gesê nie?” Sy gooi haar kop effens agteroor en vervolg: “Onthou, ek is darem al veertien jaar oud!”

Haar ma glimlag en gaan met haar breiwerk aan.

Honderde vrae maal deur Saartjie se kop. Haar broer se liefdesteleurstelling interesseer haar geweldig. Dit klink mos vreeslik romanties. Het hy vir Isabel afgesê of sy vir hom – en hoekom? Hulle gaan dan al soveel jare uit.

Saartjie besef dit sal nie help om haar ma verder uit te vra nie. Maar gelukkig is dit ook nie nodig nie! Apie het mos alles gehoor.

“Ek gaan bietjie kamer toe, Mamma,” sê Saartjie en rek haarself lui uit net om te wys dat sy alle belangstelling in Kris se hartsake verloor het.

Eintlik brand Saartjie van nuuskierigheid. Sy neem haar broer nou glad nie meer kwalik dat hy so ongeskik was nie. As mens ’n liefdesteleurstelling gehad het, weet jy mos nie eintlik wat jy doen nie – altans dis wat in boeke en flieks gebeur.

Saartjie stap kastig verveeld by die vertrek uit. Sy loop stadig by die trap op, gaan gooi haar handsak op haar bed neer en mik vinnig na Apie se kamer toe. Sy gaan nou alles uitvind.

Wanneer Saartjie aan Apie se deur klop, prop hy eers gou die strokiesverhaal onder sy kussing in en sê dan: “Kom in.”

Saartjie stap in en maak die deur agter haar toe.

“O, dis jy,” sê Apie vies en haal die strokies weer onder sy kussing uit.

“Hoe weet jy ek gaan nie op jou klik nie?” vra Saartjie met ’n grinnik.

“Jy bedoel oor ek hierdie goete lees?” vra Apie.

“Ja.”

“Ek weet sommer net jy sal nie,” sê Apie en begin verder lees hoe Die Skim sommer ’n dosyn ouens op een slag met sy vuiste uitmekaar moker.

Apie is heeltemal reg. Saartjie sal hom nie gaan verklik nie. Hulle twee stry nou wel baie, maar hulle sal mekaar nooit verraai nie. Soos Apie altyd sê – hy en sy suster staan saam teen die buitewêreld!

Apie bly verdiep in Die Skim se avonture. Saartjie wonder wat die beste manier sal wees om hom te laat praat oor wat hy van Kris se liefdesprobleme gehoor het. Sy weet as sy oorgretig klink, sal hy sy tong so deur die opening in sy mond laat gly en vra: “Wat’s dit vir jou werd?”

Hy en sy maat, Bennie, wil altyd weet wat inligting vir ’n mens werd is en hulle sal dit nooit vir jou verniet gee as hulle munt daaruit kan slaan nie.

Saartjie besef sy moet maak of sy nie regtig belangstel nie en maar net toevallig oor Kris gesels. Sy kom sit op die stoel langs Apie se bed. Hy kyk nie eens op nie. Die Skim is nou besig om ’n verwoede leeu met sy kaal hande beet te pak.

“Apie,” sê Saartjie en kyk kastig ongeërg by die venster uit.

“Ja?” Haar boetie kyk nog steeds nie op nie.

“Wat het Kris alles vir Mamma gesê?”

“Dit was vir jou snaaks!” sê Apie en kyk nou glimlaggend op. “Ek sit daar en probeer nie eers wegkruip nie, maar hulle sien my sowaar nie! Ek was later so dik van die lag dat ek my hemp se mou in my mond moes sit.”

Saartjie besluit sy sal liewer maar nie vra hoekom hy nie eerder sy sakdoek in sy mond gesteek het nie.

“Heng, ja,” sê sy kastig vriendelik, “dit was seker baie moeilik om jou in te hou.”

Apie grinnik. Ja-nee, dit was nogal. Dan tel hy sy strokiesverhaal op en lees verder.

“Jy’t my nog nie gesê waaroor Mamma en Kris gepraat het toe jy so amper gelag het nie,” herinner Saartjie hom.

“Het ek nie?” Apie kyk weer op.

“Nee.”

“Hoekom wil jy weet?”

“Aag, sommer,” sê Saartjie en probeer lyk asof sy glad nie sal omgee as sy nie weet nie.

Apie kyk na haar en sy tongpunt begin so hier voor in sy mond speel.

“Hoekom vra jy nie vir Ma om jou te vertel nie?” vra hy.

“Sy wil nie.”

“So dan wíl jy graag weet,” sê Apie en glimlag skielik breed. “Kos why jy het mos vir Ma ook gevra.”

“Wel,” sê Saartjie, “ek sal nie omgee om te weet nie …”

Dan kom die vraag wat Saartjie liewer wou vermy het. Apie sit sy strokies opsy en vra: “Wat’s dit vir jou werd?” Sy oë glinster eintlik van genot.

“Nie veel nie,” sê Saartjie, “want ek stel nie eintlik belang nie.”

Haar boetie kyk haar met ’n grinnik aan. Hy glo haar heel duidelik nie.

Saartjie kry ’n plan en sê: “Maar kom ek sê jou wat ek sal doen …”

“Wat?” Apie skuif nuuskierig nader.

“Ek het vyf rand oor van die fliek. Vertel my alles en die geld is joune. Maar verstaan my goed: dis ál wat ek het.”

Apie dink so ’n bietjie hieroor na. Eintlik kan hy sy geluk nie glo nie. Hy weet iets wat sy suster wil weet en waarvoor sy selfs bereid is om hom te betaal! Dis nou nie juis baie geld nie, maar wat. Dis immers iets.

“Nou goed,” sê Apie, “gee vir my die geld!”

Saartjie weet hy sal nie ’n woord vertel voor hy die geld het nie.

“Ek is nou terug,” sê sy en is gou by die deur uit.

Apie tel die strokiesverhaal weer glimlaggend op. Vyf rand – en sommer net so! Dis nou vir jou maklik geld maak!

Saartjie is gou terug en gee die vyf rand vir hom. Hy steek dit dadelik in sy sak.

Saartjie kom sit weer op die stoel en sê: “Toe, vertel nou. Vertel alles wat jy gehoor het.”

Noudat hy die geld het, is Apie heeltemal gewillig om sy deel van die transaksie na te kom. Maar hy kan nie so mooi onthou hoe die gesprek tussen hul broer en ma begin het nie.

“Kris het daar ingekom,” sê Apie fronsend, “en oor allerhande goete gepraat … Ek weet nie meer watse goete alles nie …”

Saartjie besluit om liewer niks te sê nie en Apie maar op sy manier te laat vertel.

“Maar toe hy sê sy hart is gebreek,” gaan Apie aan, “het ek begin luister. Toe het ek geweet hulle weet nie ek is daar nie. Ek het oor die bank se agterkant geloer om te sien hoe ’n ou lyk wie se hart gebroke is, maar Kris het nie vir my anders as gewoonlik gelyk nie.”

Saartjie glimlag en sê: “En toe? Wat sê hulle toe?”

“Niks nie. Kris het net so stil bly sit en voor hom op die vloer gekyk en kort-kort sulke lang sugte gegee. En toe sien ek Ma sit haar hand so oor syne en sê: ‘Wat het gebeur, my seun? Vertel vir my.’ En toe begin Kris vertel.”

“Wat het hy vertel?” Saartjie skuif effens nader.

Apie vertel vir haar Kris het swaar gesug en gesê Isabel is nie meer sy meisie nie – sy het ’n ander kêrel. Dis ’n man van die stad en hy het ’n groot, blink kar.

“En toe sê hy iets wat hom amper laat huil het.”

“Wat was dit?” vra Saartjie.

“Hy’t gesê Isabel wil niks meer met hom te doen hê nie. Sy sien hom glad nie meer raak nie. Sy’s net heeltyd by die ou met die blink kar.”

Apie bly stil. Sy voorkop is ’n frons soos wat hy dink aan watter “goete” hy nog alles gehoor het.

“Ma het Kris probeer troos, maar hy wou nie getroos wees nie,” vertel Apie dan verder. “Hy het gesê hy sal in sy lewe nooit weer na ’n meisiemens kyk nie.”

“En wat nog?” vra Saartjie die ene ore.

“Is dit nie genoeg vir vyf rand nie?” wil Apie weet.

“Ja, seker,” sê Saartjie, “maar het hulle niks verder gesê nie?”

“Nee, nie juis nie. Hulle het toe sommer net so gepraat. Ma het gesê Isabel sal moeg raak vir die ou met die blink kar en weer na Kris toe terugkom en toe sê hy – dit was asof hy vergeet het hy’t gesê hy sal nooit weer na ’n meisiemens kyk nie – hy hoop dit sal so wees, want hy sal Isabel nooit kan vergeet nie, kos why, hy het haar lief. Dis wat hy gesê het.”

Apie kyk na Saartjie. Hy voel dis darem nou oorgenoeg vir vyf rand.

“Wie is die man?” vra Saartjie.

“Watter man?”

“Die ander ou – die een met die blink kar?”

“Nee, ek weet nie. Kris het nie sy naam gesê nie. Hy het net die hele tyd daar gesit en gesug en gesê hy kan nie verstaan wat Isabel in die ou sien nie, want almal weet hy’s ’n papbroek. En toe sê Ma …” Apie frons weer soos wat hy probeer onthou.

“Wat het Mamma toe gesê?” vra Saartjie dadelik.

“Ma het gesê Isabel is dalk agter die blink kar aan en nie die ou nie – en toe raak Kris kwaad en sê Isabel is nie só nie. So toe moes Ma maar weer keer en sê sy’s jammer en sy weet Isabel is nie só nie. Sy het dit glo net gesê oor sy teleurgesteld is, want sy hou so baie van Isabel. Toe sê Kris Isabel is wonderlik en toe sug Ma en sê ook Isabel is wonderlik.”

Apie het nou klaar gepraat. Hy voel hy het sy deel van die transaksie baie mooi nagekom. Saartjie het mos waarde vir haar vyf rand gekry. Hy loer na Die Skim. Hy wonder of sy strokiesheld daardie rower wat so stilletjies van agter af aangesluip kom betyds gaan raaksien.

“Is jy seker Kris het nie die man se naam genoem nie?” vra Saartjie.

“Ja.”

“Het hy ’n beskrywing van hom gegee?”

“Nee, hy het net gesê die ou het ’n blink kar en almal weet hy’s ’n papbroek.”

“Het hy gesê of die ou ’n snor het?”

“Nee, maar ek weet wat dink jy.”

“Wat dink ek?” vra Saartjie effens vies. Sy gaan duidelik niks verder uit Apie kry nie.

“Jy dink as hy ’n snor het, is hy ’n kroek!”

Saartjie kan nie help om te glimlag dat haar boetie haar so goed ken nie. Sy staan op en mik deur toe.

“Is jy nou tevrede?” vra Apie.

Saartjie is seker Apie het vir haar alles vertel wat hy gehoor het, maar sy sê: “Ek wonder of so ’n klein bietjie inligting vyf rand werd is.”

“Jy kan maar wonder,” sê Apie, “maar jy gaan nie jou geld terugkry nie.” Hy begin hom nou weer verdiep in Die Skim se wonderlike avonture.

In haar kamer sit Saartjie en dink oor alles wat sy gehoor het. Sy kry Kris baie jammer. Dit moet vreeslik wees om deur so ’n liefdesteleurstelling te gaan. Sy wonder hoe sy haar broer kan help. Sy wil hê hy moet Isabel terugkry, want hulle hou almal baie van haar.

Isabel en Kris is al jare lank meisie en kêrel. Hulle was altyd saam op hoërskool en albei was op die leerderraad in matriek. Toe is hulle saam universiteit toe, waar hulle nou nog saam is. Isabel Theron woon ook hier in Lynnekom. Almal het gedink sy en Kris gaan nog eendag trou.

“Die liefde is darem maar snaaks,” sê Saartjie hardop vir haarself. “Hulle was soveel jare saam en nou is hulle net skielik nie meer bymekaar nie.”

Saartjie besluit sy moet iets aan hierdie saak doen. Sy en haar vriendinne, Anna en Lina, moet die paartjie help om weer bymekaar uit te kom. Sy weet nog nie hoe nie, maar sy weet dit moet gedoen word!

Saartjie staar ingedagte by haar kamer se venster uit. Sy hou van die idee dat die Drie Muskiete vir Kris gaan help. Hulle moet seker maak Isabel neem nie weer notisie van die ou met die blink motor nie.

Saartjie Omnibus 5

Подняться наверх