Читать книгу Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé - Страница 14
5
ОглавлениеPeter van Zimbabwe
Saartjie was reg. Sy en haar vriendinne hét daardie aand toe die spoke so in Lynnekom gebaljaar het, goeie werk gedoen.
Oom Jorsie sit sy mond die hele volgende week nie aan drank nie. Hy sê vir almal hy gaan nooit weer drink nie en dit lyk nogal of hy dit bedoel. Hy vertel vir die mense alkohol akkordeer nie met sy gesondheid nie, want hy het ’n swak hart.
Die hele Lynnekom is in hul noppies wanneer hulle van oom Jorsie se besluit hoor en boonop sien hy hou daarby. Dominee versprei die blye nuus met groot dankbaarheid. Hy is oortuig daarvan dit is die manier waarop hy en die gemeente se kerkraad en susters vir oom Jorsie gehelp en gebid het, wat hom hierdie groot besluit laat neem het.
Maar dis nie al nie. Baie mense praat oor hoe beleefd die posbode, Frikkie, deesdae is. Hy kom sy pligte stiptelik na en daar beland skielik glad nie meer verkeerde briewe in posbusse nie.
Daar is nou weer vrede in die Baumanns se huis. Kris is glad nie meer nors nie. Hy stap met ’n breë glimlag rond en is die vriendelikheid vanself. Dit lyk of hy en Isabel nou maller as ooit oor mekaar is.
Ja-nee, soos Apie sou gesê het as hy van alles geweet het: “Saartjie-hulle het daardie aand goeie werk gedoen. Dis nou maar wors.”
Een middag sit Saartjie en klavier speel. Sy hou van Strauss se lewendige walse. Saartjie speel baie goed klavier en het al baie medaljes op kunswedstryde gewen. Sy is so verdiep in haar spel dat sy nie die voordeur hoor oopgaan nie.
Apie en Bennie kom vinnig in. Hulle steur hulle nie aan Saartjie se gespeel nie, want hulle is aan die stry.
Apie sê: “Laat die ou vir jou by die huis wag, man. Ons gaan swem.”
“Maar ek sê jou mos ek kan nie gaan swem nie.” Aan die moedeloosheid in Bennie se stem is dit duidelik dat dit al die soveelste keer is wat hy dit vir Apie sê.
“Jy kán!” skree Apie.
“Ek kan nie!” skree Bennie. Hy word nou regtig kwaad vir Apie se lollery.
“Jy kán!”
“Ek kan nie!”
“Jy kán!”
“Ek kan nie!”
Saartjie draai om op die klavierstoeltjie. Sy kan haarself nie meer behoorlik hoor speel nie, só lawaai Apie en Bennie. Dit klink of hulle dink die een wat die hardste skree, die argument gaan wen.
Saartjie slaan so hard as wat sy kan met albei haar hande op die klavier se basnote. Dit maak ’n harde lawaai en Apie en Bennie is skielik tjoepstil. Hulle het groot geskrik. Die geluid van die note sterf stadig weg.
“Hoekom skree julle so op mekaar?” vra Saartjie. “Het julle nie maniere nie? Julle kan mos sien ek speel klavier.”
Die twee seuns kyk na haar.
“Jy bedoel jy probéér klavier te speel,” brom Apie.
“Ek het jou nie gevra om snaaks te wees nie. Gaan skree op ’n ander plek!” sê Saartjie kwaai.
Die seuns gluur woes na mekaar. Saartjie sien skielik Bennie is vreeslik netjies uitgevat.
“Gaan jy kerk toe?” vra sy geamuseerd.
“Moenie laf wees nie,” sê Bennie. “Dis mos nie Sondag nie.”
“Hy’s simpel,” sis Apie deur die opening tussen sy voortande. “Wie trek nou in die middel van die week só aan?”
“My ma het gesê ek moet!” kap Bennie bitsig terug.
“Hoekom?” vra Saartjie nuuskierig.
“Want my nefie kom vandag.”
Saartjie onthou skielik Apie het haar al van hierdie nefie van Bennie vertel.
“My pa bring hom nou-nou van die stasie af, maar hierdie ou,” en Bennie wys vies na Apie, “hou nou aan ek moet saam met hom gaan swem.”
“Ons gaan vinnig – net in en uit,” sê Apie, “dan’s ons weer terug.”
“Ek sê jou mos ek kan nie,” sê Bennie ergerlik. “Peter gaan nou enige oomblik hier wees!”
“Jy kán!”
“Ek kan nie!”
“Jy kán!”
Die seuns begin weer skree.
“Bly stil!” beveel Saartjie.
Hulle maak so, maar gluur mekaar boosaardig aan.
“Jy’s laf, Apie. Bennie kan mos nie gaan swem as hy vir sy nefie wag nie,” sê Saartjie.
Bennie knik heftig kop. Apie kyk vies voor hom uit en mompel dat sy eie suster nou glad ook teen hom is.
“Maar sê my, hoekom is jy so uitgevat?” vra Saartjie vir Bennie.
“My ma sê mens kan my nefie altyd deur ’n ring trek,” verduidelik Bennie en hy pluk-pluk aan sy kraag om te wys hoe ongemaklik hy in hierdie klere voel. “My ma sê ek moet darem ten minste ook netjies lyk wanneer hy hier aankom.”
Bennie trek ’n vies gesig. Hy verkies beslis sy gewone klere.
Apie aanvaar nou uiteindelik sy maat kan nie saam met hom gaan swem nie.
“Hoe ’n ou is dié Peter?” vra hy skielik. Saartjie wil ook weet.
“My ma sê altyd ek moet soos hy wees,” sê Bennie mismoedig. “Hy’s glo die slimste seun in die skool, én in die hele Zimbabwe – en hy werk hard en hy’s altyd so voorbeeldig en als …”
“Hoe oud is hierdie engeltjie?” vra Saartjie.
“Veertien – maar hy’s sowaar al in matriek.”
Apie en Saartjie se monde val oop van verbasing.
“Hy is net so oud soos jy, Saartjie,” gaan Bennie aan. “Dis hoekom ek wil hê jy en jou maats moet my help om hom besig te hou. Ek en hy kom nie klaar nie. Hy is vreeslik vol van homself – praat die heeltyd net groot.” Bennie bal sy vuiste en voeg by: “Toe ons verlede jaar in Zimbabwe was, het ek hom eendag amper met my vuis bygedam.”
“Hoekom het jy nie?” wil Apie weet.
“Hy was net bietjies te groot,” mompel Bennie.
Apie dink ’n oomblik na. Dan stoot hy sy bors uit en sê: “Toemaar, as hy hom die week wat hy hier is snaaks hou en met jou sukkel, dan sê jy net vir my.”
“Wat sal dít help?” vra Saartjie glimlaggend.
“Baie,” sê Apie kordaat. “Ek en Bennie sal hom sáám aanvat!”
“O,” sê Saartjie droogweg. Te oordeel aan Apie se uitdagende houding sou mens dink hy gaan hierdie Peter alleen aanvat, maar nee – hy sal dit darem nie sonder Bennie se hulp waag nie!
“Sodra hy aankom, sal ek hom hier na jou toe bring,” sê Bennie vir Saartjie.
“Hmmm,” mompel sy net. Sy is nie juis lus om hierdie Peter van Zimbabwe te ontmoet nie.
“Kom, Bennie,” sê Apie, “siende dat jy te bang is om te gaan swem, sal ek maar saam met jou daar by julle huis vir die ou loop wag. Maar ek trek nie ook my Sondagklere aan nie, hoor! Ek doen dít nie eers vir ’n kóning nie!”
Bennie mompel dat hy dit ook nie eers vir die koning sal doen nie, maar sy ma het hom gedwing om dit vir Peter te doen – en Apie weet mos hoe snaaks ma’s partykeer kan wees. Apie loop met sy arm om Bennie se skouer saam met hom by die deur uit. Hy voel jammer vir sy maat … Hy weet hoe ma’s kan lol.
Saartjie glimlag. Sy stap kombuis toe en gaan kry vir haar iets om aan te peusel uit die spens.
Later besluit sy om nóg ’n bietjie te gaan klavier speel. Sy val weer lustig met ’n Strauss-wals weg. Saartjie speel nou die pragtige “Blou Donau”. Die klanke vul die hele vertrek en is selfs tot buite op die sypaadjie hoorbaar. Menige verbyganger begin saggies saamneurie. ’n Ou oom en tannie kyk na mekaar en glimlag. Die oom sê saggies: “Die Saartjie … ai, dié Saartjie tog – sy kan darem vir jou speel, hoor!”
Saartjie leef haar volkome in die stuk in. Sy speel sag … dan weer harder … al harder … en dan skielik weer sag en strelend …
Sy gewaar nie vir Bennie, Apie en Peter by die oop venster nie.
Saartjie speel die laaste akkoord en dit klink soos ’n eggo van ver … daar ver waar die Donau-rivier vloei en waar die waters so blou is. Sy sit in vervoering terwyl die laaste akkoord sag wegsterf.
Dit is ’n paar oomblikke lank doodstil behalwe vir die sonbesies se geskree in die tuin. Dan klap Peter opgewonde hande en roep uit: “Manjifiek! Bravo!”
Saartjie wip soos sy skrik. Sy swaai om en sien vir Apie, Bennie en die seun wat sy nie ken nie, buite by die venster staan. Apie en Bennie kyk verbaas na Peter. Hulle het nog nooit sulke Afrikaanse woorde gehoor nie.
Saartjie is ook só verbaas dat sy net kan sê: “Hè?”
“Dis manjifiek! Bravo!!” sê die seun weer opgewonde.
Saartjie sluk. Sy stoot ’n krul met die agterkant van haar hand van haar voorkop af weg.
“Wie … wie’s jy?” vra sy.
Bennie maak keel skoon en sê: “Dis die ou van wie ek jou vertel het, Saartjie. Dis my nefie, Peter.” Dan kyk hy na Peter en sê: “Dis Saartjie.”
Bennie glimlag tevrede. Hy het hulle mos mooi voorgestel, net soos sy ma gesê het hy moet.
Peter maak ’n elegante buiginkie en sê: “Ek is geëerd om jou te ontmoet, Saartjie.”
Saartjie is skoon uit die veld geslaan. Sy knik net met haar kop en sê: “Ek ook.”
Apie en Bennie gaap Peter oopmond aan. Lynnekom se kinders gebruik nooit sulke groot woorde nie.
“Ek het julle mos gesê hy’s ’n snaakse ou,” brom Bennie onderlangs vir Apie. Peter is ’n lang, skraal seun met ’n bos blonde hare wat ’n massa krulle is. Hy is baie netjies uitgevat en lyk beslis of ’n mens hom deur ’n ring kan trek, soos Bennie se ma sê.
Saartjie kyk aandagtig na die Zimbabwiër. Hy maak ’n goeie indruk op haar met sy elegante manier van praat en sy mooi maniere.
“Is die ou altyd so?” vra Apie fluisterend vir Bennie.
Bennie knik met sy kop. “Ongelukkig altyd.”
Peter hoor hulle natuurlik.
“Wie’s jou ‘ou’?” vra hy kwaai vir Apie. Apie skrik. Peter is baie groter as wat hy hom voorgestel het. Selfs al baklei hy en Bennie saam, sal hulle sukkel om hierdie ou op sy plek te sit.
“Dis sommer ’n manier van praat,” sê Apie en probeer vriendelik glimlag – maar dit lyk eerder na ’n grynslag. “Ek het net gewonder of jou hare altyd só is en hoekom jy dit nie laat sny nie … Dis maar al …”
“Vir jou inligting dan,” sê Peter en stoot sy vingers deur sy blonde krulle, “my hare is altyd so. My artistieke temperament laat my nie toe om my hare te sny nie.”
Apie en Bennie sluk. Saartjie is skoon verbaas en sê onwillekeurig: “Jissie!”
Peter kyk skuins by sy neus af na haar. “Mag ek vra of daardie onelegante uitlating op mý gemik was?”
Saartjie is skoon dronkgeslaan. “Jy bedoel die … die ‘jissie’?” vra sy.
“Dis presies wat my bedoeling was en nog steeds is.”
“Nee,” sê Saartjie vinnig, “dit was nie op jou gemik nie.”
Peter glimlag droogweg, amper asof hy ’n groot oorwinning behaal het.
Saartjie kyk peinsend na hom. Sy het nog nooit so ’n soort seun ontmoet nie. Sy weet nie wat om te dink nie.
Bennie staan en glimlag en skud sy kop heen en weer. Hy het hulle mos gesê Peter is ’n snaakse soort ou. Hierdie nefie van hom is sowaar ’n skepsel van ’n ander wêreld.
“Mag ek die geleentheid benut,” sê Peter nou vir Saartjie, “om jou te felisiteer met die meesterlike wyse waarop jy Strauss se bekendste en gewildste wals vertolk het.”
Apie en Bennie kyk met groot oë na hom. Saartjie byt op haar onderlip en vee weer oor haar voorkop. Sy wonder of hy probeer snaaks wees en of hy maar altyd so is.
“Dankie,” sê sy dan maar net en voeg vriendelik by: “Kom in.”
“Dit was ’n veeleisende rit van Bulawayo af,” antwoord Peter uit die hoogte. “Dit sal ’n lafenis wees om te sit, eerder as om hier buite by die venster te staan.”
Peter stap om die huis na die voordeur toe. Saartjie sê net by haarself: “Wel!” en haar oë vonkel. Sy kan nie wag om hom aan Anna en Lina voor te stel nie!
Apie en Bennie besluit hulle sal ook liewer sit as om so rond te staan. Hulle stap egter nie om voordeur toe nie, maar klouter sommer deur die venster.
“Bennie,” sê Saartjie opgewonde, “jy wil mos hê ons moet almal vir Peter ontmoet. Gaan roep gou vir Anna en Lina en sê hulle moet hiernatoe kom.”
“Ek bring sommer vir Galpil-hulle ook,” sê Bennie en grinnik. Dit gaan vet pret afgee.
Bennie klim vinnig weer by die venster uit. Hy gaan die kinders haal om sy nefie van Zimbabwe te kom ontmoet.
Peter kom by die vertrek in en gaan sit in ’n leunstoel. Saartjie is nog steeds voor die klavier. Apie sit op ’n stoel reg oorkant Peter en staar hom aan terwyl sy tongpunt gedurig deur die opening voor in sy mond speel.
“Ja-nee, Saartjie,” val Peter ewe gesellig weg, “Strauss is wat my betref die topkomponis sover dit ligter klassieke werke aangaan. Ek is ’n Strauss-liefhebber en ek moet erken jy het die ‘Blou Donau’ amper so goed vertolk soos wat ek dit gewoonlik doen …”
Saartjie snak na haar asem. So ’n verwaande vent! Hy het met die eerste oogopslag nogal ’n goeie indruk op haar gemaak – hy het mos “manjifiek” en “bravo” geskree en duidelik gewys hy hou baie van haar klavierspel – maar nou het hy alles bederf.
“Speel jy dan ook klavier, Peter?” vra sy ná ’n oomblik.
“Natuurlik,” sê hy en vee met sy vingers deur sy goue lokke. “Ek bespeel die piano al etlike jare.”
Apie skud sy kop. Hy kan dit sowaar nie glo nie. Hy het nog nooit van ’n ou op skool gehoor wat soveel groot woorde ken nie!
“Kom speel dan asseblief vir ons iets,” sê Saartjie glimlaggend.
“Nie nou nie,” sê Peter en lyk effens ongemaklik. “Baie dankie vir die aanbod, maar soos ek reeds genoem het – dit was ’n lang en vermoeiende treinrit.”
“Ek sien,” sê Saartjie veelseggend. Sy onthou mos nou Bennie het gesê hierdie Peter kan so grootpraat.
Apie sit nog steeds met groot oë na die wonderwerk hier voor hom en staar.
Peter vra vies: “Wat kyk jy?”
“Sommer,” sê Apie en maak sisgeluide om Peter te laat verstaan dat kyk mos vry is.
“Hoekom kyk jy so?” wil Peter nou weet.
“Omdat jy weird lyk,” antwoord Apie.
“Weird?” Peter se winkbroue is vraagtekens. “Daardie woord kom nie in my woordeboek voor nie. Ek dra geen kennis daarvan nie.”
“Dit beteken snaaks,” sê Saartjie smalend. “Apie bedoel jy lyk vir hom eienaardig.”
Peter kyk vies na Apie wat die hele tyd na hom bly staar terwyl sy rooi tongpunt deur die opening voor in sy mond speel.
Anna en Lina kom by die tuinhekkie in. Saartjie sien hulle en sy glimlag. Sy kan nie wag om die uitdrukkings op hul gesigte te sien wanneer hulle Peter sien en hoor praat nie.
Toe die twee meisies by die sitkamer instap, kom Peter vinnig op die been.
Apie vra verbaas: “Hoekom staan jy op?”
“As dames by ’n kamer inkom,” sê Peter uit die hoogte, “staan ’n ware heer altyd op.”
“Heng,” sê Apie en staan dan ook maar brommend op.
Daar is ’n uitdrukking van volslae verstomming op Anna en Lina se gesigte. ’n Seun van hul ouderdom het nog nooit hier in Lynnekom opgestaan as hulle by ’n vertrek inkom nie. En sy lang hare! Lina wonder of Zimbabwe nie haarkappers het nie.
Daar speel ’n glimlag om Saartjie se mondhoeke.
“Laat ek julle voorstel,” sê sy. “Dis Bennie se nefie, Peter van Zimbabwe. En dis Anna en Lina.”
“Haai,” sê Lina en waai liggies met haar hand.
“Haai,” sê Anna skamerig.
“Dis vir my ’n eer en genoeë om met julle kennis te maak,” sê Peter soos iemand wat spraaklesse neem en streel met sy vingers oor sy hare.
Die twee meisies gaap hom oopmond aan. Dan begin Lina giggel.
“Onthou julle wat oom Jorsie nou die aand gesê het toe hy ons sien?” vra sy vir Saartjie en Anna.
Haar vriendinne begin nou ook giggel. Hulle onthou hoe die oom na asem gesnak het toe hy die drie kastige spoke sien en toe stamel: “Ek glo dit nie!”
“Wel,” sê Lina laggend vir die ander twee wat nou onbedaarlik giggel, “dis wat ek ook nou sê.”
“Mag ek vra,” verneem Peter sedig, “watter stimulus julle lagspiere so geprikkel het?”
Die Drie Muskiete lag nou nog harder. Lina hou eintlik haar maag vas en sy kan net kopskuddend sê: “Nee, sowaar … Dis … dis nie moontlik nie.”
Peter gaan fronsend sit en ná ’n oomblik volg Apie sy voorbeeld.
Saartjie besef skielik hulle is darem nou ’n bietjie onbeskof.
“Ekskuus, Peter. Ons het maar net gelag oor iets snaaks wat nou die aand met ons gebeur het.”
Anna en Lina bedaar nou ook en kom sit op die rusbank.
“Waar gaan jy skool, Peter?” vra Anna.
“Ek is ’n leerder aan die Rhodes Seunskool in Bulawayo,” antwoord hy. “Dit word beskou as die beste skool in die Suidelike Halfrond.”
Die meisies kyk na mekaar. Sjoe, maar die ou kan darem vir jou grootpraat.
“In ons beroemde skool,” sê Peter en kyk onderlangs na Apie, “is goeie maniere een van die belangrikste vereistes waaraan leerders moet voldoen.” Hy skuif ’n entjie verder van Apie af weg. Hy dink duidelik hierdie klein smeerlap sal nooit as ’n leerder by sy skool aanvaar word nie.
“Snaaks,” sê Saartjie, wat nou al baie geïrriteerd met Peter se grootpratery is, “ek het nog nooit van daardie wafferse Rhodes-skool gehoor nie.”
“Ek ook nie,” sê Anna en Lina feitlik gelyktydig.
“Dit,” sê Peter, “openbaar eenvoudig ’n gebrek aan kennis – ’n tragiese maar tipiese verskynsel onder Lynnekom se jeug, te oordeel aan Bennie.”
Dit kos Saartjie, Anna en Lina ’n hele rukkie om uit te pluis wat Peter bedoel, maar Apie probeer nie eers nie. Hy sit maar net kopskuddend na Bennie se briljante nefie en luister.
“Ek kan nie sien,” sê Saartjie, “hoe wys dit nou juis ’n gebrek aan kennis as mens nog nie van ’n ou skooltjie soos Rhodes gehoor het nie.”
Peter sit penregop en stoot sy bors uit. “Rhodes is die mees befaamde en beroemde skool in die hele Suidelike Halfrond.”
“Hoekom nie in die wêreld nie?” wil Saartjie laggend weet.
“Ek hou nie daarvan as iemand snedige opmerkings oor my binnekortse alma mater maak nie,” sê Peter kil. “Kan ons asseblief van die onderwerp afstap?”
Apie kyk fronsend na hom. “Van wie se ma het jy gepraat?”
“So ’n onsinnige vraag regverdig nie ’n antwoord nie,” sê Peter snedig.
Die drie meisies kyk na mekaar. Hulle is skoon uit die veld geslaan. Is dit moontlik dat iemand, al is hy nou ook hoe slim, so selfvoldaan en vol aansit kan wees? Om alles nog erger te maak het hierdie Peter duidelik ook nie ’n sin vir humor nie.
Saartjie hoor die hekkie oopgaan. Sy kyk by die venster uit en grinnik by haarself. Dit is Galpil en sy twee vriende, Gert en Piet, saam met Bennie. Dit gaan kostelik wees om Peter se reaksie te sien wanneer Galpil hom “ou perd” noem!
Saartjie hoor hoe die seuns al stryende met die tuinpaadjie afgestap kom. Sy hoor hoe Galpil sê hy gaan Bennie se nek omdraai as Bennie nie vir hulle elkeen ’n hand vol lekkers koop nie. Dis wat hy hulle belowe het daar onder die koelteboom waar hulle na duiwe sit en kyk het toe hy hulle weggeroep het om die “ou perd” van Zimbabwe te kom ontmoet.
Die seuns stap by die sitkamer in. Apie spring vinnig op. Hy wil vir Peter wys hy ken sy maniere en dat ’n beroemde skool soos Rhodes maar te bly sal wees om hom as ’n leerder te aanvaar – ás hy natuurlik sou belangstel om soontoe te gaan.
Apie is baie afgehaal toe hy sien Peter bly sit. Hy besef skielik ’n mens staan seker net op as daar dames by ’n vertrek inkom en met ’n ongeërgde houding, asof hy bloot opgestaan het om sy bene ’n bietjie te rek, gaan Apie weer sit.
Galpil, Gert en Piet kyk verbaas na Peter. Saartjie glimlag. Hulle lyk klaar al so verras – en hulle het hom nog nie eers gehoor praat nie.
Galpil se hare is deurmekaar en sy kouse het al weer tot op sy skoene afgesak. Sy hemp hang soos gewoonlik agter by sy broek uit.
Al drie kyk na Peter se goue lokke en dan sê Gert: “Oom Schalk sal hom graag onder hande wil kry.” Oom Schalk is Lynnekom se haarkapper.
“Ja, en hy sal hom vir drie ouens laat betaal,” mompel Piet.
Galpil het nog niks vir Peter gesê nie en besef skielik dit is ongemanierd om net so te staan en staar. Hy loop met ’n uitgestrekte hand na Peter toe en sê: “Haai, ou perd. Skud bietjie blad.”
Die Zimbabwiër gee so ’n slap hand wat Galpil vir die vale skud.
“Dis Peter, Bennie se nefie,” sê Saartjie vinnig. “Peter, dis Galpil.”
“Wie?” vra Peter en vryf sy hand wat Galpil so hard gedruk het.
“Galpil. En die ander twee is Gert en Piet.” Hulle skud ook blad en nou vryf Peter éérs sy hand.
“Ek is geëerd,” mompel hy.
“Jy’s wat?” bulder Galpil verbaas.
“Geëerd.”
“O.”
Galpil kyk na Saartjie-hulle. Die vraag in sy oë is duidelik – is hierdie ou perd simpel, of wat?
Net om iets te sê, vra die seuns vir Peter of hy van sport hou.
“Vanselfsprekend,” sê hy, “maar nie bloot as fisiese mededinging nie.”
Galpil, Gert en Piet gaap hom soos visse op droë grond aan. Galpil herstel eerste van die skok en al wat hy kan sê, is: “Hè?”
“Ek bedoel,” verduidelik Peter, “sport dien vir my ook as belangrike teenwig vir die moontlike ooreising van intellektuele kragte tydens intellektuele skoolaktiwiteite.”
Almal luister aandagtig of daar darem iets van sy woorde is wat hulle kan verstaan. Saartjie begin wonder of Hoërskool Saamwerk hier in Johannesburg regtig so wonderlik is as wat hulle dink! Sy het skaars ’n benul waarvan Peter praat.
“Volg jy my?” vra Peter vir Galpil.
“Verseker, ou perd, verseker,” sê Galpil. “Dis ’n goeie punt daai … ’n baie goeie punt …” Galpil het natuurlik ook nie ’n idee waarvan Peter praat nie.
Galpil wil hier wegkom. Hy en Peter praat beslis nie dieselfde taal nie.
“Ons moet terug by ons duiwe kom,” sê hy, en Gert en Piet knik gretig. Hulle wil ook so gou as moontlik hier uitkom.
“Jy bly mos vir ’n week hier, nè, ou perd?” sê Galpil. “So dan sal ons jou seker weer sien.”
Die drie seuns groet en loop vinnig uit.
“Hulle’s lafaards om so vinnig weer te waai,” fluister Saartjie vies.
“Ek neem hulle nie kwalik nie,” fluister Lina. “Wie wil nou met ’n woordeboek sit en gesels?”
Peter sit ingedagte voor hom en uitstaar en hoor Saartjie en Lina nie eens nie. Hy kyk nou op en sê: “’n Eienaardige tipe – sowaar ’n eienaardige tipe.”
“Wie? Wat?” vra Saartjie.
“Dié … Galpil,” antwoord Peter. “Die aanspreekvorm ‘ou perd’ dui sekerlik op ’n sekere tipe agtergrond of ingesteldheid … Ek moet tog ’n bietjie daaroor oplees …”
Saartjie kyk peinsend na Peter waar hy nou so ernstig sit en dink. Hy is slim – daaroor kan niemand stry nie. Hy is so oud soos hulle en sowaar al in matriek! Maar hy het ongelukkig g’n sin vir humor nie en praat gans te veel groot.
Saartjie hoor weer die hekkie oopgaan en sien haar ouers inkom. Sy moet hierdie wonderkind seker aan hulle voorstel, dink sy en glimlag droogweg.
Dokter Baumann en sy vrou kom by die sitkamer in. Peter spring galant op – en Apie natuurlik ook.
“Hallo, Mamma; hallo, Pappa,” groet Saartjie. Die ander kinders groet ook almal.
“Julle klompie lyk lekker gesellig,” sê mevrou Baumann.
“Dis Peter dié, Mamma. Hy is Bennie se nefie van Zimbabwe,” sê Saartjie.
“Geëerd, Mevrou,” sê Peter hoflik.
Mevrou Baumann kyk verras op. Maar dan onthou sy Bennie se ma het haar vertel van dié seun wat glo so uitsonderlik op alle gebiede is.
“En Peter,” sê Saartjie trots, “dis my pa, dokter Baumann.”
Peter kom vinnig vorentoe en hou sy hand uit.
“Ek is besonder geëerd om u te ontmoet, Dokter. My tante hier in Lynnekom het my vertel van die skitterende werk wat u op die gebied van snykunde verrig.”
“O so?” sê Jan Baumann nederig. “Dankie.”
“My plan is om my ook op chirurgie toe te lê, Dokter. Ek gaan volgende jaar aan Oxford studeer …”
“Volgende jaar?” Dokter Baumann kyk verbaas na die lang seun met die skrander gesig en blonde hare.
“Ja, Dokter. Ek het my visier op die Excelsior-beurs.”
“Nou toe nou,” sê dokter Baumann en vergeet skoon om aan sy pyp te suig. Die Excelsior-beurs word deur Oxford Universiteit toegeken aan die beste matrikulant in die hele Statebond.
“Kom, my man,” sê mevrou Baumann glimlaggend, “jy moet nog ’n paar oproepe maak.”
“Ek is hier vir ’n hele week, Dokter,” sê Peter. “Ek sal dit hoog op prys stel as u my ’n keer saam hospitaal toe kan neem sodat ek kan sien wat eendag vir my voorlê.”
“Sekerlik,” sê dokter Baumann wat nog steeds effens dronkgeslaan lyk.
Saartjie se ouers knik vriendelik en stap by die vertrek uit.
“Ons moet nou ook gaan,” sê Peter en kyk na Bennie. “Jou ouers wag seker al.”
Peter groet die meisies beleefd. Bennie mompel iets wat veronderstel is om “totsiens” te wees en die twee is by die huis uit. Hulle stap met die tuinpaadjie af na die voorste hekkie toe – Peter ’n entjie voor Bennie.
“Ek hou nie van hom nie,” sê Saartjie toe die twee by die hekkie uit is.
“Ek ook nie!” sê Lina beslis.
“Dis wat ek ook sê,” sê Anna. “Ek hou niks van hom nie!”
“Ek ook nie,” brom Apie. “Hy dink hy’s so watwonders slim!”
Saartjie sê peinsend: “Hy dink nie net so nie – hy ís baie slim. Besef julle ouens hy is so oud soos ons en sowaar al in matriek?!”
Anna en Lina knik. Hulle besef dit.
“Ongelukkig weet hy dit en nou loop hy daarmee en spog,” sê Lina. “En dan praat hy ook nog so aansitterig! Nee wat, ek hou niks van hom nie.”
“Hy is gans te vol van homself,” sê Saartjie.
“Hy dink hy’s beter as ander mense,” sê Anna.
“Maar hy’s sommer ’n bog,” sê Lina. “Miskien ’n slim bog – maar nog steeds net ’n bog.”
Ja-nee, die Lynnekommers hou sover niks van Peter van Zimbabwe nie. Miskien is hulle so ’n klein bietjie jaloers op hom en voel hulle effens ongemaklik in sy geselskap, maar hulle sal dit nooit erken nie.
“Kom ons vergeet nou van die ou,” sê Saartjie.
Anna en Lina stem saam. Hulle gaan die week wat hy hier in Lynnekom is, tog seker nie veel van hom sien nie.
“Ek sal hom die hele tyd moet sien,” sê Apie mismoedig.
“Hoekom?” vra Anna en staan op.
“Wel, hy kuier by Bennie en ek sien Bennie elke dag, kos why Bennie is mos my pêl.”
Saartjie en Lina staan ook op.
Saartjie kyk so langs haar neus af na Apie en boots Peter uitstekend na: “Leer jou ouers en onderwysers jou nie om jou taal suiwer en korrek te gebruik nie?”
Anna en Lina lag, maar Apie sê: “Jy dink seker jy’s snaaks, nè?” en maak sisgeluide om te wys hy is lelik omgekrap.
Saartjie, Anna en Lina loop laggend by die huis uit. Saartjie stap ’n entjie saam met haar vriendinne. Hulle is heel opgeruimd. Hulle het besluit om hulle nie aan die Zimbabwiër te steur nie. Hy moet sy gang gaan en hulle sal hulle s’n gaan.
Min weet Saartjie dat haar naam nog saam met Peter s’n in koerante regoor die land gaan verskyn!