Читать книгу Saartjie Omnibus 5 - Bettie Naudé - Страница 8
2
ОглавлениеSaartjie probeer help
Saartjie is nog steeds besig om te wonder hoe sy en haar vriendinne kan sorg dat Kris en Isabel weer kêrel en meisie word, toe haar ma haar vir ete kom roep.
Kris sê nie ’n woord aan tafel nie. Hy sit net mismoedig voor hom en uitstaar en gee af en toe ’n swaar sug.
Saartjie gesels ook nie veel nie. Sy sit en planne beraam.
Maar Apie gesels aanhoudend. Hy vertel van al hul pret en kaskenades by die skool.
“Weet julle wat,” verduidelik hy al kouende, “Bennie het ’n dinges by ’n ander ou gekoop en ons het groot sports daarmee gehad het. Nog ’n stukkie vleis asseblief, Ma.”
“Hou jou bord – en hou asseblief jou taal suiwer,” sê sy ma en skep vir hom nog vleis in.
Apie knik en eet smaaklik verder.
Kris proe-proe net aan die kos en staar afwesig voor hom uit.
Saartjie probeer hom aan die gesels kry en vra: “Hoekom eet jy nie? Die wildsvleis is baie lekker.”
“Ek’s nie honger nie,” brom Kris net.
“Mens hoef nie honger te wees om van hierdie kos te hou nie,” sê Apie al kouende. Ná ’n paar oomblikke voeg hy by: “Maar die liefde is ’n snaakse ding …”
Kris gluur sy klein boetie aan. “Wat bedoel jy daarmee?” vra hy.
“Niks,” sê Apie. “Ek sê maar net die liefde is ’n snaakse ding. Wat’s fout daarmee?”
Kris gluur nog kwater na Apie, maar voor hy iets kan sê, keer dokter Baumann: “Toe nou, julle twee. Ons wil nie ’n bakleiery aan tafel hê nie. Jy was besig om te vertel van jou en Bennie se dinge, Apie.”
“O ja, Pa,” sê Apie. “Nou, julle sien, die saak staan só – daai dinges …”
“Watse dinges?” vra Saartjie.
“Ek gaan mos nou vertel watse dinges,” snou Apie haar toe. “Gee ’n mens kans!”
Almal bly stil. Apie kou eers nóg ’n mondvol kos en sê dan: “Nou wel, daai dinges is ’n snaakse ding. Dis ’n gewone stukkie papier, maar wat so snaaks is, dis swart en blink aan die een kant en as jy dit op ’n ander stuk papier sit, dan lyk dit of daar ’n swart inkkol op die papier is.”
Apie kou gou weer. Sy ma en pa en Saartjie wag belangstellend dat hy verder moet vertel, maar Kris sit en staar net die niet in.
“Ons het heeldag groot sports … ek bedoel vet pret gehad deur die dinges op ouens se boeke te sit as hulle nie kyk nie, maar die laaste periode was die beste! Ou Nukke was toe by ons …”
“Wie, Apie?” vra sy ma.
“Ou Nukke, Ma weet – Juffrou Necker.”
Saartjie glimlag. Sy onthou die onderwyseres maar te goed van haar laerskooldae af hier op Lynnekom.
“Wel, ons het gesit en lees en Ou Nukke was voor by die tafel met die register besig. Ek het met die dinges wat soos ’n inkkol lyk in my hand gesit en dit het my hand begin brand, kos why ek het gevoel …”
“Abraham!” sê dokter Baumann streng.
“Skuus, Pa,” sê Apie vinnig, “die dinges het my hand gebrand, want ek het gevoel ek moet dit darem net een keer propperlies … ag, ekskuus, ek bedoel ordentlik gebruik voor die klok lui vir huis-toe-gaan-tyd.”
Apie eet vinnig die laaste mondvol kos op sy bord, sit sy mes en vurk neer en vee sy mond met sy servet af. Dan vertel hy opgewonde verder: “En toe kry ek my kans – Ou Nukke staan op en gaan by die klas uit, maar die register lê nog steeds oop op die tafel en onderaan die lys name is daar ’n hele stuk skoon bladsy – wit en silwerskoon. Toe kyk ek na Bennie en hy kyk na my en ek sê: ‘Hoessit?’ en hy sê: ‘Hoessit?’ Toe sê ek: ‘Wie?’ en hy sê: ‘Traak my nie.’ Toe sê ek: ‘Ek?’ en hy sê: ‘Orraait!’ … Ag, ek bedoel ‘goed’. En toe staan ek op!”
Daar speel ’n glimlag om dokter Baumann se mondhoeke. Mevrou Baumann kyk na haar man en hy knipoog vir haar. Saartjie sit en glimlag, want sy geniet die manier waarop Apie die storie vertel. Kris sug ook nie meer so baie en so hard nie. Dit is asof hy nou ook luister.
“Toe loop ek met die dinges … die papiertjie wat soos ’n inkkol lyk voor na die tafel. Al die ouens in die klas sit en lees, maar Bennie hou my dop. Toe sit ek die dinges vinnig op die skoon deel van die register neer. Dit het nés ’n groot swart inkkol gelyk! Toe draai ek vinnig om en gaan sit weer op my plek.”
Apie vat sy beker warm sjokolade by sy ma aan, drink eers ’n sluk en begin dan weer vertel. Almal is die ene ore.
“Toe ek weer langs Bennie sit, fluister hy: ‘Ons gaan ons nou propperlies’ – dis sy woord, Pa, dis wat hy gesê het – ‘doodlag’. Net toe kom Ou Nukke weer by die klas in. Ek en Bennie maak of ons vir die vale lees, maar loer so effens by ons boeke verby. Ou Nukke stap na die tafel toe, maar dan gaan staan sy skielik doodstil. Sy kyk met groot oë na die inkkol en net om seker te maak sy sien reg, gryp sy haar brilletjie en loer daardeur ook … maar die inkkol is nog steeds daar!”
Jan Baumann begin nou hardop lag. Dan begin Martha en Saartjie ook. Selfs Kris sit en glimlag. Apie weet beslis hoe om ’n storie te vertel!
“En toe,” vertel Apie met lus verder, “toe gil die juffrou skielik en ons almal wip soos ons skrik. Ek en Bennie het natuurlik nog so ’n entjie hoër as die ander gewip asof ons baie ernstig gesit en lees het, maar intussen wou ons omtrent bars van die lag. Ek moes my hempsmou sit en kou om nie hardop te lag nie.”
“Toe beduie Ou Nukke na die groot inkkol op haar pragtige register en sê: ‘Wie het dit gedoen? Wie het die ink hierop uitgegooi? Die een wat dit gedoen het, staan op!’”
Saartjie kan die onderwyseres in haar verbeelding hoor. Juffrou Necker raak nogal gou ontsteld en dan word haar stem baie skril.
“Maar ek het mos nie ink op die register uitgegooi nie, so toe staan ek nie op nie,” sê Apie ewe parmantig. “’n Paar ouens het vinnig na my en Bennie gekyk, want hulle’t geweet ons het ’n dinges wat soos ’n inkkol lyk, maar ons het so woes vir hulle gegluur dat hulle geweet het hulle sal ná skool les opsê en toe maar liewer net stil gebly. Ou Nukke het skoon aan die bewe geraak van kwaadgeit en oor en oor gesê: ‘Die een wat dit gedoen het, gaan swaar gestraf word’ terwyl sy oor haar brilletjie na ons loer.”
Op hierdie dramatiese oomblik besluit Apie om eers gou ’n slukkie warm sjokolade te vat. Die ander is ongeduldig dat hy moet aangaan, maar drink nou maar ook eers van hul koffie.
“Ons sit toe almal so stil soos muise,” gaan Apie met ’n grinnik voort, “en toe mompel Ou Nukke iets van sy moet red wat daar te redde is en dán sal sy met die sondebok afreken. Toe gaan sy haastig by die klas uit om by Ou Mossie – meneer Mosterd, julle weet – daardie groot bottel rooi goed te gaan haal wat inkkolle uithaal. Ek vlieg toe op en gryp die dinges. Toe is die papier weer net so mooi skoon soos dit was.”
“Jou klein rakker,” sê dokter Baumann, nou ook met ’n grinnik.
“Ek het net klaar vir die klas gesê ek en Bennie sal die ou wat klik ná skool bykom, toe ek Ou Nukke se voetstappe hoor,” vertel Apie trots verder. “Ek skiet toe soos weerlig terug na my bank. Ek het skaars gesit toe Ou Nukke by die deur inkom.”
Apie vat eers weer ’n slukkie warm sjokolade.
“Die juffrou stap reguit tafel toe,” sê hy met blink oë, “en toe steek sy in haar spore vas. Sy staar na die register wat skielik weer spierwit is. Sy kyk wéér ’n keer en dan loer sy oor haar bril. ’n Klomp ouens in die klas begin giggel. Ou Nukke voel met haar vingers so oor die plek op die bladsy waar die inkkol was. ‘Dis snaaks,’ mompel sy en loer weer oor haar bril na die plek, ‘dis silwerskoon.’ Sy kan dit glad nie verstaan nie. Sy lyk skoon dronkgeslaan en krap haar kop … Toe bars almal uit van die lag – en ek en Bennie lag die hardste.”
“Ek hoop sy het uitgevind wie dit was,” sê Martha Baumann laggend, “en vir jou en Bennie ’n goeie loesing gegee.”
“Sy’t nie self uitgevind nie, Ma, maar toe ons sien sy begin ook lag, het ek en Bennie vir haar die dinges wat soos ’n inkkol lyk, gewys en sy het toe nog meer gelag en nie eers gepraat van straf nie. Sy’s nogal ’n sport.”
“’n Wat?” vra Apie se pa wat só lag dat hy nie juis kwaad kan lyk nie.
“’n Sport, Pa,” sê Apie. “Wat’s die regte woord daarvoor, Pa?”
“Hmm …” sê Jan Baumann en maak keel skoon. Hy draai na sy vrou en vra: “Wat’s die regte woord nou weer, Vroutjie?”
Martha Baumann maak ook keel skoon en skielik speel daar ’n ondeunde glimlag om haar mondhoeke: “Apie het mos vir jou gevra, my man.”
Dokter Baumann kyk nou na Saartjie en Kris vir hulp. Kris se gedagtes is weer elders, maar Saartjie maak darem of sy dink. Haar voorkop is geplooi, maar haar oë glinster van genot.
“Hmm … ’n Sport …” sê dokter Baumann. “Dis ’n gawe persoon, jy weet, Apie.”
“Ja, so soort van, Pa,” sê Apie, “maar dis nie heeltemal wat dit is nie.”
“Ja – wel,” sê sy pa en hoes, “in elk geval, ek hoop julle het daardie dinges … eh … daardie poets-papiertjie opgeskeur, want dit kan groot moeilikheid veroorsaak.”
“Ons wou dit hou vir later, Pa,” sê Apie, “maar toe waai die wind dit uit my hand weg en ons kon dit nie weer kry nie.”
“Ook maar beter so,” sê sy ma. “’n Ander onderwyser of onderwyseres sal miskien nie so ’n sport … eh … ek bedoel so gaaf soos juffrou Necker wees nie.”
Almal behalwe Kris lag. Nadat dokter Baumann gedank het, staan Kris met ’n swaar sug van die tafel af op.
Saartjie kry hom jammer. So ’n liefdesteleurstelling moet ’n baie moeilike storie wees!
“Ek wonder wat kan ek vanaand doen?” sê Kris en kyk mismoedig by die venster uit. Dis die eerste Saterdagaand in baie jare dat hy nie weet wat om met homself aan te vang nie. Hy en Isabel het altyd op naweekaande uitgegaan.
“Gaan jy dan nie kuier nie?” vra dokter Baumann terwyl hy sy pyp stop. Hy sien hoe sy vrou vinnig vir hom wys hy moet dit los, maar dis nou te laat.
“Waar kuier, Pa?” vra Kris en sug swaar.
“By Isabel, natuurlik.”
“Nee, Pa,” sê Kris en lyk soos ’n martelaar wat sy wrede, onverdiende straf soos ’n held dra, “ek gaan nooit weer vir haar kuier nie.”
“O so, is dit hoe sake staan?”
“Ja, Pa – dis hoe sake staan, maar ek wil nie daaroor praat nie,” sê Kris en loop by die vertrek uit.
Dit is ’n Saterdagaand en hy sit by die huis. Hoe kan die lewe so onregverdig wees? Kris loop stadig met die trap op na sy kamer op die boonste verdieping.
Jan Baumann kyk vraend na sy vrou.
“Ek sal jou nou-nou vertel,” sê sy sag.
“Kan ek vir ’n rukkie na Anna toe gaan, Mamma?” vra Saartjie.
“Ja, maar moenie te lank wegbly nie, hoor?”
“En kan ek bietjie na Bennie toe gaan, Mamma? Ek’s sommer nou-nou weer terug,” sê Apie.
“Goed, Apie, maar nie te lank nie!”
“Nee, Ma.”
Apie en Saartjie is soos twee warrelwinde by die huis uit.
Die Baumanns is nie bang om hul kinders op ’n lieflike someraand vir ’n uur of wat buite te laat speel nie. Lynnekom is so ’n rustige voorstad dat dit nie gevaarlik is nie. Buitendien is Anna-hulle hul bure, en Bennie-hulle woon net twee huise verder as Anna-hulle.
Wanneer Saartjie by die Strydoms se huis aankom, kry sy vir Anna se pa en ma en haar sussie, Muggie, in die sitkamer.
“Naand, tannie Lena. Naand, oom Louis. Haai, Muggie,” groet sy. “Waar’s Anna?”
“In haar kamer,” sê die tannie vriendelik. “Lina is ook daar.”
“Dankie, Tannie.”
Die Strydoms se huis is feitlik Saartjie se tweede tuiste, net soos die Baumanns se huis Anna se tweede tuiste is. Saartjie en Anna is reeds maats van daardie eerste dag toe hulle albei hul plomp babahandjies na mekaar toe uitgesteek het.
Saartjie gaan by Anna se kamer in en sê: “Haai!”
“Haai jouself,” groet Anna en Lina op die tipies Lynnekomse manier en sy kom sit by hulle op die bed.
“Wat’s wat?” vra Saartjie.
“Niks nuus nie,” sê Lina en Anna skud ook haar kop.
“En by jou?” vra Anna.
“Groot nuus,” antwoord Saartjie en haar blou oë vonkel eintlik.
Anna en Lina kyk vinnig na mekaar en skuif nader aan Saartjie. Hulle wil dadelik die groot nuus hoor.
Hierdie drie meisies – die Drie Muskiete – is ewe oud. Anna het ’n ronde gesig wat altyd lag. Sy sal Saartjie slaafs navolg in alles wat sy doen. Lina Rens is ’n lang, skraal meisie met twee blonde vlegsels wat teen haar rug afhang.
Saartjie en Anna was van graad een tot nou in graad nege nog altyd saam op skool. Lina het eers in graad vyf bygekom.
Die eerste dag hier in Lynnekom se laerskool was Lina die enigste een wat gesien het hoe Saartjie en Anna kattekwaad aanvang. Maar toe die onderwyseres wou weet wie dit was, het Lina net ongeërg by die venster uitgestaar. Sy het nie ’n woord gesê nie en van daardie dag af was Lina en die ander twee boesemvriendinne.
“Laat ons nou hoor, Saartjie,” sê Anna nuuskierig. “Wat is die groot nuus?”
“Julle ken mos vir Kris en Isabel, nè?”
Lina dink dis sommer ’n lawwe vraag. Natuurlik ken hulle vir Kris en Isabel.
“Dit was ’n retoriese vraag,” sê Saartjie. Om te wys hoe geleerd sy is, verduidelik sy: “’n Retoriese vraag het nie ’n antwoord nodig nie.”
“Moenie sulke ompaaie vat nie,” sê Anna ongeduldig. “Vertel vir ons die groot nuus!”
“Wel,” sê Saartjie en lê gemaklik agteroor op die bed, “dis uit tussen hulle!”
Anna en Lina kyk fronsend na mekaar. Dan vra Lina die vraag wat in albei se oë te lees is: “Wat bedoel jy ‘uit’?”
“Presies wat ek sê,” sê Saartjie en maak ’n klapgeluid met haar duim en voorvinger. “Klaar! Verby! Hulle is nie meer kêrel en meisie nie!”
“Onmoontlik!” sê Lina.
“Ek glo dit nie,” sê Anna geskok. “Hulle is dan al kêrel en meisie van ek só klein was.” Sy beduie met haar hand omtrent so hoog soos die bed van die vloer af.
“Wel, dis ongelukkig waar,” sê Saartjie.
Sy vertel vir haar vriendinne alles wat sy weet, en die twee luister aandagtig. Sy vertel ook hoe omgekrap Kris is en hoe hy sommer ’n mens se kop wil afbyt.
“Dis wat ’n liefdesteleurstelling aan ’n mens doen,” sê Saartjie en probeer lyk soos iemand wat alles van sulke dinge af weet.
Anna en Lina luister met groot oë. Saartjie klink sowaar soos ’n deskundige op hierdie gebied.
“Ja-nee,” sê Saartjie met ’n sug, “so ’n liefdesteleurstelling kan jou hele lewe vernietig.” Sy sug en loer onderlangs om te sien watter uitwerking hierdie dramatiese stelling op die ander twee het.
Dit lyk nogal asof Anna diep onder die indruk van haar woorde is, want sy sug ook. Maar Lina bederf alles deur te sê: “Ag, Saartjie, vergeet nou die toneelspelery en vertel vir ons meer van Kris en Isabel.”
Saartjie kyk vies na Lina en mompel iets van mense wat verbeeldingloos is, maar dan gaan sy aan met haar storie. Sy vertel van die man met die blink kar wat glo die moeilikheidmaker is. Dit was glo hy wat vir Kris by Isabel “uitgesit” het.
“Of sy blink kar,” sê Lina.
“Nee, Kris sê Isabel is te wonderlik om hom net vir ’n ander ou se kar te los.”
“So dit beteken hy is nog verlief op haar,” sê Anna asof sy ’n groot ontdekking gemaak het.
“Natuurlik is hy,” sê Saartjie. “Anders sal hy mos nie soos ’n siek hoender daar by die huis rondloop nie!”
Die drie meisies sit en dink oor die hele gedoente.
“Dis Isabel wat vir Kris gelos het,” sê Saartjie. “Ons moet dit onthou.”
Die ander twee knik om te wys hulle sal.
“Julle weet,” sê Anna, “dis rêrig tragies. Ek het my ma en pa al so baie hoor sê dis wonderlik dat Kris en Isabel al soveel jare saam is.”
“Die hele Lynnekom het nog altyd gesê hulle pas so mooi bymekaar,” sê Lina.
“Hulle is vir mekaar gemaak,” sê Anna sugtend.
“Ons kan nie toelaat dat hulle uitmekaar gaan nie,” sê Saartjie. “Ons moet iets aan die saak doen.”
Anna en Lina kyk na mekaar en knik.
“Maar wat?” vra Lina.
En dit is natuurlik die probleem. Wat kan hulle doen?
“Ons moet dink,” sê Saartjie.
Die drie meisies sit met fronsende voorkoppe soos hulle dink. Dis stil in die kamer. Ná ’n rukkie word hulle moeg om so doodstil te sit en begin onderlangs na mekaar loer. Elkeen kyk hoe die ander lyk as hulle kastig hard dink. Skielik bars al drie uit van die lag.
“Ek weet nie hoekom ons lag nie,” sê Saartjie ná ’n rukkie skuldig. “Ons het werk om te doen. Ons moet daardie twee verliefde skapies weer bymekaar uitbring.”
“Ja,” sê Lina, “ons moet die wolf met die blink kar uit die pad kry.”
“Ek wonder of hy ’n snor het,” sê Saartjie peinsend.
“Wat het ’n snor met die saak te doen?” vra Anna.
“Ek hou nie ouens met ’n snor nie. Hulle is altyd kroeks, soos Apie sal sê. In daai fliek wat ek vanmiddag gesien het, het die ou wat op die ou end nie die mooi meisie gekry het nie, ook ’n snor gehad, sien?”
Anna en Lina sien of verstaan nie juis nie, maar hulle wil nie nou oor ’n snor stry nie. Hulle wil vir Kris en Isabel help om weer bymekaar uit te kom.
Saartjie dink weer aan die middag se fliek en sê dan skielik: “Wag ’n bietjie!”
Anna en Lina kyk na haar. Saartjie byt effens op haar onderlip en vee met haar hand oor haar voorkop.
“Weet julle wat?” vra sy skielik.
Hulle skud hul koppe.
“Die ou in die fliek,” sê Saartjie opgewonde, “die ou met die snor wat nie die beeldskone heldin gekry het nie – hy’t haar nie gekry nie omdat hy ’n bangbroek was!”
“Waarvoor was hy bang?” vra Lina.
“Vir ’n bende wat hom en die meisie voorgekeer en toe al haar juwele en sy geld gevat het,” vertel Saartjie. “En terwyl die meisie trots en regop gestaan het, het die ou met die snor gebewe en gesoebat hulle moet tog asseblief sy lewe spaar.”
“Enige ou, snor ofte nie, sou mos bang gewees het,” sê Lina droog. “Sulke bendes skiet ’n mens sommer dood.”
“Nee, Lina, ’n regte man is nie bang vir gevaar nie!” sê Saartjie seker van haar saak. “Die heldin het toe só min van die ou met die snor gedink dat sy niks verder met hom te doen wou hê nie. Meisies hou nie van lafaards nie.”
Saartjie se vriendinne dink na oor wat sy gesê het en uiteindelik sê Lina: “Bedoel jy ons moet die ou met die blink kar bang maak sodat Isabel niks meer van hom moet dink nie?”
“Dis presies wat ek bedoel,” sê Saartjie opgewonde. “Want dan sal sy Kris mos weer terugvat.”
“En sê nou maar hy is nie ’n bang ou nie?” vra Anna. “Sê nou hy’s só dapper dat Isabel net nog meer van hom hou?”
“Apie sê Kris het gesê almal weet daai ou is ’n papbroek.”
“Maar wie sê hy’s regtig ’n papbroek?” wil Lina weet.
Saartjie trek haar skouers op. Sy weet nie. Sy sê mos maar net wat sy gehoor het.
“Nou maar goed, sê nou ons besluit om hom bang te maak,” sê Anna, “hoe gaan ons dit doen?”
Saartjie kyk ingedagte voor haar op die vloer. Sy dink ernstig oor hierdie probleem na. Hoe op aarde gaan hulle dit doen?
“Ons kan ons tog nie soos ’n bende vermom en hulle dan voorkeer nie,” sê Lina. “Ons is te kort en klein en wie weet, miskien is hy glad nie bang nie en dan moker hy sommer links en regs onder ons.”
“En dan vat hy ons nog polisie toe ook,” sê Anna.
“So wat is daar dan wat enige ou – al is hy nie ’n papbroek nie – se broekspype sal laat bewe?” sê Saartjie.
Die drie kyk na mekaar. Dan begin hulle skielik glimlag en Saartjie sê: “Dink julle ook waaraan ek dink?”
“Waaraan dink jy?” vra die ander twee feitlik gelyktydig.
Saartjie aarsel net ’n oomblik, dan sê sy in ’n growwe, hol stem: “Spoke! Wandelende geeste van die nag!”
Anna en Lina lag en hulle ril effens. Saartjie se stem het kompleet soos iemand uit die doderyk s’n geklink. Hulle verseker haar vinnig dat hulle ook aan spook se kind gedink het.
“Al is ’n man ook hóé dapper,” sê Lina, “as hy ’n spook sien, skrik hy hom boeglam. Dis nou maar wors, soos Apie sou sê.”
“Dis net so,” sê Saartjie opgewonde. “Hy sal aan die bewe raak en dan vir die vale hardloop. En enige man wat vir iets weghardloop, daal sommer baie ver in ’n meisie se oë.”
“Maar Isabel moet die bangbroekigheid sien,” sê Anna, “anders help dit mos niks nie.”
“Natuurlik moet sy dit sien,” stem Saartjie saam.
“En sê nou maar net sy hardloop eerste weg?” vra Lina.
Saartjie weet nie wat om te antwoord nie en sê: “Jy maak dinge verniet so ingewikkeld. Isabel sal nie weghardloop nie, want die spoke sal daar by haar huis wees!”
Hulle dink na oor Saartjie se woorde. Dan sê Lina: “Dis nogal ’n goeie idee. Ons kan die tweetjies gaan vastrap as hulle daar in Isabel-hulle se tuin in die somerhuisie sit en handjies vashou.”
Hoe meer Saartjie, Anna en Lina oor die plan gesels, hoe meer opgewonde raak hulle. Hulle het nog die ou wit lakens wat hulle ’n slag gebruik het om mee spook te speel.
“En onthou Kris se rooi neus,” sê Saartjie opgewonde. Anna en Lina lag. Hulle onthou daardie neus baie goed.
Dit is so ’n groot, rooi neus wat ’n mens oor jou eie neus sit. Kris het dit eenkeer by ’n konsert gebruik en Saartjie het dit geleen om Galpil en die seuns bang te maak toe hulle eenkeer van Lina-hulle perskes wou deps. Die een oomblik was daar ’n wit gesig en die volgende oomblik was daar ’n bloedrooi neus op die gesig. Galpil-hulle het hulle boeglam geskrik.
“Ons moet ons planne haarfyn uitwerk,” sê Saartjie saaklik. “Niks mag skeefloop nie.”
Die meisies sit opgewonde koppe bymekaar en bespreek hoe presies hulle alles gaan doen. Ná ’n rukkie sê Saartjie laggend: “Daai vent gaan hom só boeglam skrik dat hy nooit weer vir Isabel sal kom kuier nie. Hy gaan Lynnekom se spoke nooit vergeet nie!”