Читать книгу Saartjie Omnibus 6 - Bettie Naudé - Страница 10
3
ОглавлениеDie boef van Kaapstad
Saartjie kyk die vreemde seun minagtend op en af en sê dan: “Wat het jy gevra?”
“Ek het gevra of jy mal is.”
“Lyk ek vir jou mal?”
“Ja.”
Saartjie byt op haar onderlip.
“Jy’t geen maniere nie,” sê sy. “Wie is jy?”
“Louis de Jager,” sê hy en voeg laggend by: “Dis nie ek wat nie maniere het nie, dis julle Lynnekommers – maar toemaar, ek sal julle vinnig regruk.”
Hierdie windlawaai is sestien. Hy is ’n groot, frisgeboude seun met ’n growwe stem. Sy hele houding spreek van geweldige selfvertroue en hoogmoed.
“En wat is jou naam, poplap?” vra Louis en kyk koel na Saartjie.
Haar blou oë skiet vonke. “Wie is jou poplap?”
“Jy, natuurlik. Jy kan mos sien ek praat met jou. Hier is niemand anders nie.”
“Hoe durf jy?!” Saartjie stamp hard met haar voet teen die grond.
“As ek jou poplap wil noem, sal ek. Hier is niemand wat my kan keer nie.”
Saartjie besluit dit sal nie help om haar humeur te verloor nie.
“My naam is Saartjie Baumann,” sê sy trots, “en dis ’n naam wat jy nooit in jou lewe weer sal vergeet nie!”
Louis dink hieroor na en vra dan: “Hoekom sal ek so ’n lelike naam nooit vergeet nie?”
“Toemaar, jy sal nog sien.” Saartjie swaai om, gaan met ’n wipstappie by die hekkie in en slaan dit hard agter haar toe.
“Haai, poplap!” bulder Louis skielik.
Sy draai om.
“Ekskuus?” sê sy kil en uit die hoogte. “Wat het jy gesê?”
“Ek het gesê: ‘Haai, poplap!’ Hoor gou hier!” kom sy stem droogweg.
Louis leun nou gemaklik oor die hekkie.
“Ken jy dalk daai onbeskofte japsnoet wat hier bly? Hy is so ’n klein outjie sonder voortande en hy’t nou net van die skool af gekom.”
“Praat jy miskien van my boetie, Apie?”
“Ditsem, dis die einste hy. Die naam pas nogal by hom. Hy lyk mos nes ’n bobbejaan.”
Saartjie klem haar hand styf om haar boeksak vas. Hierdie vent beledig vir Apie, wat beteken hy beledig nou ook vir haar en haar hele familie. Sy is sommer lus en trek los en moker hom met die tas oor sy kop, maar ’n opgevoede dame doen nie so iets nie. Sy moet net wag en geduldig wees – die dag van afrekening sal nog kom! Sy gaan daarvoor sorg.
“Wat wil jy met Apie maak?” vra Saartjie ysig.
“Ek wil hom goed opdons,” bulder die boelie. “Ek het hom gewaarsku as ek verby hom stap, moet hy sy pet oplig en my ordentlik groet, maar toe hy nou net van die skool af kom, het hy dit nie gedoen nie. Hy het verby my geskiet en hier ingehol.”
“Mooi so,” sê Saartjie. “Hoekom moet hy sy pet vir ’n buffel soos jy lig?”
“Omdat ek gesê het hy moet – dis hoekom. As ek hom in die hande kry, slag ek hom lewendig af.”
Louis gluur woes na Saartjie asof hy haar ook wil afslag.
“Jy praat natuurlik net so groot omdat hy baie jonger en kleiner as jy is,” sê Saartjie skielik smalend. “Hoekom vra jy nie ’n ou van jou eie ouderdom om sy pet vir jou te lig nie?”
“Ek sal – as ek so ’n ou hier in Lynnekom raakloop. Ek skrik vir niemand in hierdie simpel plek nie!”
“Jou mislike windlawaai!” snou Saartjie hom toe.
“Sê dit weer!” Die Kapenaar leun oor die hekkie en druk sy groot wysvinger amper teenaan Saartjie se neus. “Sê dit net weer!”
“Ek sal!” sê Saartjie uitdagend en spoeg dit weer uit: “Jou mislike windlawaai!”
En dan doen sy iets wat Louis totaal onkant vang – sy hap na sy vinger! Hy ruk dit vinnig weg en retireer onwillekeurig.
“Jou lafaard!” snou Saartjie hom toe. “Ek sal jou wys!”
Sy pluk die hekkie oop, lig haar boeksak hoog bokant haar kop op en storm op hom af.
Louis skrik nou nog groter. Hy retireer al vinniger terwyl hy sy oë nie vir ’n oomblik van haar afneem nie. Hierdie meisiemens is gevaarlik!
“Ek baklei nie met meisies nie,” sê hy verward.
Saartjie kom tot stilstand en Louis ook – ’n goeie ses meter van haar af.
“Jy’s te bang!” skree Saartjie.
“Nonsens, man! Meisies baklei mos nie – nie as hulle maniere het nie.”
“Dink jy miskien jý het maniere, jou boef?!”
“Bring enigeen van Lynnekom se ouens,” sê Louis terwyl hy nog ’n treë terug gee. “Bring hulle. Ek skrik nie vir een van hulle nie. Ek sal dat hulle almal hul pette vir my lig! Ek sal hulle dik tik – met my een hand agter my rug!”
“Maar jy’s bang vir my, nè?”
“Ek het jou gesê – ek baklei nie met meisies nie.”
“Maar jy weet hoe om hulle te beledig!”
“Ek weier om verder met ’n geitjie soos jy te praat,” sê hy uit die hoogte, maar gee darem vinnig nog ’n treë agteruit.
Saartjie dink vinnig. Sy moet Galpil kry om hierdie vermetele vent goed op sy plek te sit.
“Sorg dat jy vanmiddag vieruur in die hoofstraat is,” sê sy. “Dan gaan jy ’n ou ontmoet wat maerder en jonger as jy is, maar nie sy pet vir jou sal lig nie!”
“Hy sal!”
“Ek sê jou, hy sal nie!”
“Ek sal hom dit máák doen!”
“Jy sal dit nie regkry nie – so wê!” Saartjie steek haar tong lank vir hom uit.
Louis dink ’n oomblik na. Sy het gesê die outjie is jonger en maerder as hy. Soos ’n regte boelie voel hy dat hy die ou sommer maklik sal kan vasvat.
“Ek sal vieruur in die hoofstraat wees,” sê hy smalend. “Sê vir daardie outjie om te kom. As hy nie sy pet vir my lig nie, sal ek vir hom maniere leer. En jy, poplap, sê vir daai boetie van jou hy moet uit my pad bly. Ek slag hom lewendig af as ek hom in die hande kry.”
Louis swaai om en stap weg. Toe hy ’n goeie entjie weg is – buite trefafstand van Saartjie se boeksak – draai hy om en skree: “En jy moet ook uit my pad bly. Volgende keer vergeet ek dalk jy’s ’n meisie en gee jou ’n paar harde klappe.”
“Toemaar, jou lafaard,” skree Saartjie hard terug, “vanmiddag sal jy ’n ding sien wat jy nie wil sien nie!”
“Kaa-kaa-kaa!” lag die boelie uit volle bors en stap grootmeneer met die straat af.
In die huis vertel Apie vir Saartjie hoe hy vir Louis weggehardloop het.
“Daai ou is miskien so sterk soos ’n leeu,” sê haar boetie, “maar hy kan nie so vinnig soos ek hardloop nie.” Dan voeg hy ernstig by: “Ek het nog nooit in my lewe so vinnig gehardloop nie – seker oor ek so bang was.”
“Toemaar, van vanmiddag af sal jy nie meer vir hom bang hoef te wees nie,” verseker Saartjie hom.
“Hoekom nie?” wil Apie weet.
“Ek kan jou nie nou sê nie, maar wees so vieruur se kant in die hoofstraat.”
Saartjie wil nie meer as dit sê nie, want sy weet mos nog nie of Galpil bereid gaan wees om Louis te takel nie.
Apie besluit om die middag in die hoofstraat te wees, maar hy gaan ligloop. Hy wil nie hê die boef van Kaapstad moet hom in die hande kry nie. Netnou kom hy wat arme Apie is dan sonder sy vel hier by die huis aan!
Nog nie een van die kleiner seuns wat deur Louis geboelie is, het by hul ouers gaan kla nie. Lynnekom se kinders dra nie graag stories aan nie. Hulle probeer altyd eers self ’n oplossing vir hul probleme kry.
Ná ete gaan Saartjie gou na Anna se huis toe. Haar vriendinne moet haar help om Galpil te oorreed om Louis vieruur aan te durf. Saartjie wonder net of Galpil sterk genoeg is om vir Louis ’n loesing te gee en hom ’n les te leer. Die Kapenaar lyk na ’n sterk ou – en miskien weet hy ook nog iets van boks af. Hoekom anders is hy dan so vol van homself?
Wanneer Saartjie by Anna kom, is Lina gelukkig reeds daar. Die Drie Muskiete sit en gesels nou in Anna se kamer. Anna en Lina is baie verontwaardig toe sy hulle van haar onderonsie met Louis vertel en is heeltemal bereid om saam met Saartjie na Galpil toe te gaan.
“Maar sal hy dit doen?” vra Anna huiwerig. “Sal Galpil bereid wees om die vent op te dons?”
Dit is natuurlik ’n belangrike vraag hierdie. Louis het mos nie met Galpil skoorgesoek nie.
“Maar soos ek vir Galpil ken,” sê Saartjie, “sal hy weier om sy pet vir die vent te lig – en dan gaan die poppe dans!”
Saartjie se oë vonkel eintlik van genot by hierdie gedagte.
“Jy’s darem ’n barbaar,” sê Anna laggend vir haar. “Dit lyk amper of jy daarna uitsien dat daai twee moet baklei.”
“Ek hou nie van ’n bakleiery nie,” sê Saartjie ewe vroom, “maar as dit moet, dan moet dit. Daai boelie moet ’n les geleer word. Hy moet ophou om my en my boetie en al Lynnekom se kinders so te beledig.”
Al sal hulle dit nie erken nie, sien Anna en Lina ook nogal uit na die geveg. Hulle hoop net Galpil trek nie kleinkoppie nie.
Die drie meisies besluit om vir hom alles te vertel – wat presies gebeur het en wat presies Louis gesê het. Hulle is seker Galpil sal net so vies soos hulle wees en saamstem dat daar definitief iets aan die saak gedoen moet word.
“En dan sal ek hom oortuig,” sê Saartjie selfvoldaan, “om Louis ordentlik op sy plek te sit.”
Die meisies behoort eintlik natuurwetenskappe vir môre se eksamen te leer, maar hulle probeer mekaar daarmee troos dat hulle nou al suf is en ’n bietjie vars lug moet skep. Ná vieruur, wanneer Louis de Jager die pak slae van sy lewe gekry het en so sag soos ’n lammetjie is, sal daar mos nog oorgenoeg tyd wees om te leer.
In die tuin by sy huis sit Galpil onder ’n boom en mondfluitjie speel. Sy twee vriende, Gert en Piet, sit op ’n bankie by hom.
Toe die Drie Muskiete daar aankom, gaan sit Gert en Piet op die gras by Galpil sodat die meisies hulle op die bankie gemaklik kan maak.
Galpil hou op speel en vra: “Hoekom leer julle nie?”
“Ons het kom asemskep,” sê Saartjie, “en toe ons julle hier in die koelte sien sit, het ons gedink dit sal lekker wees om ’n bietjie te gesels.”
“O,” brom Galpil, maar dan onthou hy skielik wat ’n gasheer se pligte is en sê vriendelik: “Maak julle tuis.”
Die meisies kan hulle nie juis tuiser maak as wat hulle alreeds is nie, maar hulle skuif nogtans effens op die bankie rond en glimlag soos dit ordentlike gaste betaam.
Galpil speel ’n paar opgewekte deuntjies en die meisies begin saamsing. Ná ’n ruk sê Galpil: “Ek’s nou moeg. Wil een van julle pêrre speel?”
Sy aanbod word beleefd van die hand gewys. Nie een van die “pêrre” is nou lus om te speel nie.
Anna en Lina kyk vinnig na Saartjie. Sy moet begin praat. Saartjie kyk na Galpil. Noudat sy vir Louis de Jager gesien het, lyk haar skoolmaat glad nie so groot en sterk gebou soos wat sy altyd gedink het nie. Maar hulle moet maar vir die beste hoop.
“Het jy vanoggend my briefie gekry, Galpil?” begin Saartjie.
“Ja, en ek het jou mos geantwoord. Jy’t gevra of ek sterk is en ek het ja gesê.”
“Maar is jy regtig sterk?”
“Natuurlik.” Galpil stoot sy bors effens uit. “Vra maar vir dié twee pêrre. Ek kan hulle voos foeter met my een hand agter my rug.”
Die twee “pêrre” knik bevestigend. Wie is hulle nou om te stry?
Saartjie dink daaraan dat Louis ook iets genoem het van sy een hand agter sy rug – hy het gesê hy sal al Lynnekom se ouens dik tik met sy een hand agter sy rug. Sy kan dit nie help nie, maar sy ril van opgewondenheid as sy aan die twee seuns se bakleiery dink. Dit gaan ’n geveg duisend wees!
“Weet jy hoekom het ek gevra of jy sterk is, Galpil?”
“Nee, hoekom?” vra hy agterdogtig. Hy wonder hoekom Saartjie so liefies vir hom glimlag.
Saartjie vertel breedvoerig hoe Louis vir Apie en Bennie geboelie het en hoe hy haar en al Lynnekom se kinders beledig het.
Die drie seuns luister aandagtig. Galpil skuif kort-kort rond asof hy nie gemaklik sit nie.
Toe Saartjie klaar vertel het, sê Piet: “Dis nie net Apie en Bennie wat deurgeloop het nie. Daar is nog ’n hele klomp ander laerskooloutjies ook. Hy het hulle bygedam en aangehou tot hulle belowe het hulle sal altyd hul pette lig as hulle hom sien.”
Gert het ook gehoor van die De Jager-vent wat hier in Lynnekom is. Galpil vertel nou dat hy ook stories oor die boelie gehoor het, maar voeg vinnig by: “Mens kan natuurlik nie alles glo nie.”
“Ja, maar ek praat nie van stories nie,” sê Saartjie beslis. “Ek het gesien hoe Apie gehuil het. En ek het julle mos vertel hoe ongeskik hy met my was. En hy het ons een en almal beledig.”
Saartjie draai na Galpil en sê: “Ons moet iets aan die saak doen. Dink jy nie ook so nie?”
Almal se oë is nou op Galpil. Hy besef dit is ’n belangrike vraag hierdie. Hy frons om te wys hy dink ernstig daaroor na.
“Ja, ek stem saam,” sê hy en knik plegtig sy kop. “Ons moet iets aan die saak doen – die vraag is net wát?”
Die Drie Muskiete kyk vinnig na mekaar. Dan voer Saartjie haar aanval verder en sê: “Jy is mos sterk, Galpil.”
“Huh?”
“Ek sê jy is mos sterk.”
Galpil wil eers vra wat die feit dat hy sterk is met die hele saak te doen het, maar dan bedink hy hom. Dit sal ’n onnosel vraag wees. Hy weet mos wat Saartjie wil hê hy moet doen. Hy weet hoekom sy vra of hy sterk is.
Daarom vra hy liewer ’n ander belangrike vraag: “Hoe lyk die perd? Ek bedoel nie of hy soos ’n filmster lyk of so iets nie. Ek bedoel, is hy groot en sterk? En nog iets, weet een van julle of hy miskien ’n bokser of ’n ding is?”
Almal skud hul koppe. Niemand weet meer van die Kapenaar af as dat hy ’n boelie is nie.
Saartjie is die enigste een van hulle wat Louis al gesien het, so sy moet hierdie inligting verstrek.
“Ek dink nie hy is te groot nie,” sê sy peinsend vir Galpil, “en ek weet natuurlik nie of hy sterk is nie. Hy is miskien net so effens groter as jy.”
Hiermee moet Galpil maar tevrede wees. Toe hy te lank stil sit sonder om iets te sê, vra Saartjie: “So jy stem saam ons moet iets doen om die boelie op sy plek te sit?”
Galpil knik net sy kop. Hy stem saam, maar soos wat dinge nou ontwikkel, lyk dit vir hom of hy die een gaan wees wat dit moet doen.
“Ek is bly jy voel net soos ons, Galpil,” sê Saartjie, “want jy is mos sterk en jy kan goed baklei. Jy kan daai boelie ’n les leer wat hy nooit sal vergeet nie.”
Almal verseker Galpil hy sal Louis de Jager van Kaapstad deeglik op sy plek kan sit.
“Jy moet hom net nie heeltemal disnis slaan nie,” sê Lina om Galpil nog verder heuning om die mond te smeer.
Galpil verseker haar hy sal dit nie doen nie, maar al is hy gevlei dat hulle so baie van sy krag dink, voel hy nie gelukkig oor die saak nie. Hy het nog nie eens gesê hy sal teen Louis de Jager baklei nie en nou aanvaar almal sommer net hy sal dit doen. En die ergste van alles is dat hy nie nou kan kop uittrek nie, want dan sal almal sê hy is bang.
“Luister mooi, Galpil,” sê Saartjie, “dan vertel ek vir jou my plan.”
Galpil luister en Saartjie vertel. Dit is vir hom baie duidelik dat sy alles haarfyn uitgewerk het vóór sy hierheen gekom het. Galpil besef ook nou sy en haar vriendinne het met ’n doel hier uitgeslaan en nie, soos sy gesê het, net om ’n bietjie te kom asemskep nie.
Saartjie verduidelik dat sy feitlik seker is Louis sal so vieruur se kant in die hoofstraat wees. Hy sal dan seker weer pik op al die seuns wat nie hul pette vir hom wil lig nie. Saartjie stel voor dat Galpil verby Louis moet loop sonder om aan sy pet te raak. Dan sal Louis hom natuurlik invlieg en hulle sal begin rusie maak “en dan sit jy hom goed op sy plek.” Sy glimlag vriendelik vir Galpil toe sy dit sê.
Galpil steur hom egter nie aan die glimlag nie. Hy is bekommerd en mompel fronsend: “Ek het nie ’n pet nie.”
Maar hierdie beswaar help hom net mooi niks nie. Daar is mos baie pette hier in Lynnekom – sommer hier onder die koelteboom ook! Gert en Piet is albei meer as bereid om hulle s’n vir hom te leen.
“Dankie,” brom Galpil net en kyk hulle vies aan. Hulle bewys hom glad nie ’n guns nie.
Galpil verstaan heeltemal wat hy moet doen. Hy moet net rustig in die hoofstraat rondstap en nie sy vriend se pet lig as hy verby die Kapenaar loop nie. Dan moet hy maar wag en kyk wat Louis volgende doen.
Die Lynnekommer hoop van harte die Kaapse ou gaan hom nie vir hom vervies nie, want dan sal daar mos nie ’n bakleiery wees nie. Hy kan die vreemde ou darem nie bydam as die vent niks aan hom gedoen het nie.
Galpil besluit in die stilligheid hy gaan ’n wrede en woeste gesig trek wanneer hy verby Louis stap sodat die boelie so groot skrik dat hy sommer heeltemal van die pet vergeet.
Alles is afgespreek. Galpil sal teen vieruur se kant met Gert of Piet se pet op sy kop in die hoofstraat afstap en dan sal hulle maar moet sien wat verder gebeur.
“Julle moet my nou verskoon,” mompel Galpil en staan op. “Ek gaan oefen.”
“Wat gaan jy oefen?” vra Saartjie verbaas.
“Met gewigte en goed sodat ek vanmiddag sterk kan wees,” antwoord Galpil.
“Dis nou te laat daarvoor,” sê Gert. “Jy sal jou net moeg maak. Jy moet liewer rus.”
Galpil sug swaar. Dan moet hulle hom verskoon dat hy tog maar gaan rus.
Saartjie, Anna en Lina is bekommerd toe hulle daar wegstap. Galpil is nou wel sterk, maar hy is nie naastenby so selfversekerd soos Louis de Jager nie.
“Daar is niks wat ons nou daaraan kan doen nie,” sê Saartjie en praat namens haar twee vriendinne toe sy byvoeg: “Ons moet maar net hoop vir die beste.”
Die nuus dat daar so teen vieruur “iets” in die hoofstraat gaan gebeur, versprei soos ’n veldbrand onder Lynnekom se kinders. Almal weet die “iets” het iets met die boelie van Kaapstad te doen. Apie het vir Bennie daarvan vertel en hulle het die nuus vinnig versprei.
Halfvier is daar al baie kinders in die hoofstraat en teen tien voor vier lyk dit of al wat ’n kind in Lynnekom is daar op en af stap.
Die Drie Muskiete staan by die poskantoor se een hoek en Galpil, Gert en Piet staan by die ander een. Niemand kan in die hoofstraat afstap sonder om by die poskantoor verby te gaan nie.
Die kinders, wat oral in groepies ronddrentel, hou Galpil se hoek fyn dop. Hulle weet die “iets” gaan van daardie kant af kom.
Galpil se geleende pet is te klein vir hom en sit hoog op sy kop, maar dit is mos nie daar om die son af te keer nie. Dit is vir ’n ander doel en daarvoor is die pet perfek.
Ten spyte van die feit dat hy uitgerus is, is Galpil skrikkerig. Hy gaap groot gape, maar dis nie van vaak nie – eerder omdat hy verbouereerd is.
Soos die tyd verbygaan, kry Galpil egter meer selfvertroue en is hy nie meer so erg senuweeagtig nie. Dit lyk mos amper of die kêrel van die Kaap nie gaan opdaag nie.
Toe daar vieruur nog steeds nie ’n teken van Louis de Jager is nie, word Galpil baie spraaksaam. Hy vertel nou vir sy vriende en ander kinders wat binne hoorafstand ronddrentel hy is baie jammer die “perd” van die Kaap het nie opgedaag nie. Hy wat Galpil is, voel lus en reg vir die ou wat hom so grootmeneer hou met die kleiner outjies.
“Ek wonder hoekom bly hy weg?” sê Saartjie vir Anna en Lina. “Ek was seker hy sou kom omdat ek vir hom gesê het die ou wat nie sy pet vir hom sal lig nie is maerder en jonger as hy.”
Voor Anna en Lina hierop kan antwoord, hoor hulle Gert opgewonde sê: “Daar’s hy!”
Die meisies swaai om en kyk in die rigting waarna Gert wys. Louis de Jager kom ewe nonchalant na die poskantoor toe aangestap.
Galpil het hom ook gesien en is nou skielik tjoepstil. Hy begin weer gaap en die gape word al hoe groter soos Louis nader kom en Galpil sien hoe groot en sterk hy is.
“Dis hy, Galpil!” skree Saartjie.
Galpil weet dit. Hy voel mos die gespanne atmosfeer aan en sien hoe staar al die kinders met groot oë na Louis. Die kleiner outjies wat al onder sy klappe deurgeloop het, laat spat dadelik en gaan staan op ’n veilige afstand.
Naby die hoek van die poskantoor waar Saartjie, Anna en Lina staan, kom Louis tot stilstand. Hy kyk met die straat op en sien die baie kinders wat daar ronddwaal.
’n Paar laerskoolseuns wat nog maar net van hom gehoor het, staan doodstil en gaap hom oopmond aan. Die boelie sien dit en skree kwaai: “Maak toe julle monde! Staan op aandag! Haal af julle pette!”
Die outjies skrik hulle boeglam. Hulle monde is dadelik toe en hulle spring met een flink beweging op aandag en haal hul pette af.
Toe hy verby die kleintjies stap wat soos soutpilare staan, sê die boelie van die Kaap smalend: “So ja, ek sal julle Lynnekommers maniere leer.”
Hy is nou by Saartjie-hulle. Die meisies gluur hom met vlammende oë aan.
“Hallo, poplap!” sê Louis grinnikend vir Saartjie. “Ek sien jy het nou nog twee poplappe by jou.”
“Praat maar lekker groot,” sê Saartjie kil. “Jy gaan vanmiddag ’n ding sien wat jy nie wil sien nie.”
Louis kyk met die sypaadjie af en sien hoe Galpil, Gert en Piet hom aandagtig staan en dophou. Die een ou is effens groter as die ander twee en hy lyk nogal taai. Dit is seker die een wat hom kastig vandag ’n les gaan leer.
Die Kapenaar kyk Galpil goed deur en dan voel hy baie beter.
Die Lynnekommer is heelwat ligter en kleiner as hy. Hy sal waarskynlik nie eens wil baklei as Louis vir hom sê hy is die Wes-Kaap se bokskampioen in sy afdeling nie. Die boelie besluit hy sal Galpil net ’n paar klappe gee, dan sal die ou maar te gretig wees om sy pet vir hom te lig.
Louis trek sy broek effens op en loop met ’n swaaistap na Galpil-hulle toe.
Galpil gee nog een lang, verbouereerde gaap, dan sê hy vir sy vriende: “Hier kom dit, pêrre,” en stap stadig na Louis toe.
Die kinders beweeg almal nader aan die plek waar die twee mekaar sal ontmoet. Die atmosfeer voor die poskantoor was nog nooit so gespanne nie.
Apie en Bennie kom ook nader, maar sorg dat hulle ’n goeie entjie van Louis af staan. Netnou gewaar hy hulle en bevlieg hulle – veral vir Apie wat nie vandag ná skool sy pet vir hom gelig het nie.
Maar Apie en Bennie het niks te vrees nie. Louis se oë is stip op Galpil gerig. Galpil se oë is ook op Louis gevestig. Gert se pet sit hoog op die kroon van sy kop.
Die twee seuns kom stadig nader aan mekaar.
Saartjie, Anna en Lina is net ’n paar treë weg van die plek waar Galpil en Louis mekaar gaan ontmoet. Hul harte klop wild.
“Hou duim vas vir Galpil!” sê Saartjie hees. “Hou styf duim vas!”