Читать книгу Saartjie Omnibus 6 - Bettie Naudé - Страница 8
2
ОглавлениеSaartjie en Amanda
Toe Lina hoor van die boelie wat Apie so afgeknou het, is sy ook baie verontwaardig.
“Ons moet iets doen,” sê sy. “Ons moet hom terugkry.”
Saartjie en Anna stem natuurlik met haar saam, maar wat kan hulle doen?
“Wag tot Galpil van die vent hoor,” sê Saartjie ná ’n oomblik. “Hy sal hom gou op sy plek sit.”
“Hoe weet jy?” wil Anna weet. “Apie sê dan die ou is so sterk soos ’n leeu.”
“Wel, Galpil is nog sterker!” sê Saartjie.
Anna en Lina kyk vinnig na mekaar. Hulle hoop nie Galpil en Saartjie word weer kêrel en meisie nie. Met hul vorige kamtige verhouding – wat gelukkig net ’n paar dae gehou het – was Saartjie baie slegte geselskap.
Lina is ’n skraal langbeenmeisie met mooi blonde vlegsels wat laag in haar rug hang. Sy is aan die begin nie baie lus om by Saartjie se planne in te val nie, maar op die ou end ondersteun sy haar tog voluit.
Sy wil nou weet hoe Galpil van die geboelie te hore gaan kom.
“As hy dit nie iewers anders hoor nie, sal ek hom self vertel!” sê Saartjie en voeg by: “En dan sal ek vir hom sê hy moet iets aan die saak doen.”
Die meisies stem uiteindelik saam – Galpil is net die regte persoon om Louis op sy plek te sit. En as hy dit nie kan of wil doen nie, sal hulle met iets vorendag moet kom. Die “boef van Kaapstad” soos Saartjie hom noem, moet reggesien word.
Die Drie Muskiete kan nou niks doen nie, want hulle is te besig met eksamen skryf. Maar sodra dit verby is, gaan hulle ernstige aandag aan hierdie saak skenk en dan kom die dag van afrekening!
Saartjie se raad is: “Kom ons vergeet eers vir ’n paar dae van hierdie boef van Kaapstad …”
“Ons sal dit net kan doen as hy niks verder aanvang nie,” sê Anna.
En dit is heeltemal waar. Hulle sal nie van hom kan vergeet as hy aangaan om die kleiner outjies so af te knou nie. Hulle sal drasties moet optree.
Maar Saartjie wil nie nou aan daardie moontlikheid dink nie. Sy vra Lina om vir haar Boyle se Wet te verduidelik. Anna skuif ook nader, want sy verstaan dit self ook nie te lekker nie.
Die volgende dag skryf die graadneges sosiale wetenskappe. Saartjie het nie veel geleer nie, want sy hou van sosiale wetenskappe en het altyd in die klas opgelet. Sy is seker sy sal goed vaar in hierdie vak. Sy wens net sy kon dieselfde voel oor môre se natuurwetenskappe!
Ná die eksamen sit die kinders in hul klas. Hulle kan leer vir die volgende dag se vak of sommer net ’n boek lees. Die onderwyser laat hulle selfs toe om fluisterend te gesels. Hy is druk besig om vraestelle na te sien.
Saartjie en Anna deel ’n bank en Lina sit net agter hulle. Die drie het die oggend se vraestel bespreek en Anna en Lina dink ook hulle het taamlik goed gevaar. Hulle moet eintlik nou vir natuurwetenskappe leer, maar nie een van hulle voel juis lus nie. Hulle is moeg ná sosiale wetenskappe se lang vraestel.
Verder is Saartjie ook effens bekommerd. Dit lyk vir haar of hulle die dag van afrekening met die boelie van Kaapstad nie sal kan uitstel nie.
Toe sy gistermiddag van Lina af by die huis kom, het Apie haar vertel dat Louis de Jager vir Ben-ou-pen (soos hy sy maat noem) ook in die hande gekry het. Hy het die verskrikte Bennie glo ’n paar klappe gegee en toe gevra of die outjie dan nie maniere het nie. In die toekoms moet Bennie op aandag staan as hy wat Louis is verbykom, en sy pet beleefd lig. Hy het ook vir Bennie gesê hy gaan Lynnekom se kinders regruk in die paar dae wat hy hier kuier.
Dis darem snaaks, dink Saartjie, dat hy net vir die kinders wat kleiner as hy is maniere wil leer. Hoekom keer hy nie ’n seun van sy ouderdom voor en sê dat hy sy pet vir hom moet lig nie?
Saartjie voel die tyd het aangebreek om vir hierdie boef van Kaapstad te wys hy het nie die alleenreg op klappe uitdeel nie. Sy vat ’n stukkie papier en skryf kort en saaklik:
Galpil
Is jy sterk?
Saartjie
Sy wys die kort briefie vir Anna en Lina en hulle knik glimlaggend hul koppe. Hulle het gehoor dat Louis de Jager vir Bennie ook afgeknou het. Hulle weet Saartjie gaan Galpil nou begin oorreed om daardie Kaapse vent te takel.
Saartjie vou die briefie op en skryf Galpil se naam daarop. Dan kyk sy met ’n onskuldige gesig op na die onderwyser. Toe sy sien hy kyk ook op en boonop reguit na haar, begin sy sommer ’n paar formules by haarself prewel. Gelukkig is haar handboek vir natuurwetenskappe oop voor haar. Dit lyk of sy besig is om baie hard te leer.
Toe die onderwyser weer begin werk, gee Saartjie die briefie vinnig oor haar skouer vir Lina en fluister: “Gee aan!”
Lina maak so en die briefie trek van die een hand na die ander tot by Galpil.
Galpil is ’n sterkgeboude ou met ’n growwe stem. Sy hare is altyd deurmekaar en sy lang skoolsokkies lê altyd op sy skoene. Toe hy die briefie kry, hou hy dit eers toe in sy hand en kyk ook ewe onskuldig op om seker te maak die onderwyser is besig met sy nasienwerk.
Galpil herken Saartjie se handskrif en wonder wat sy wil hê. Hy maak die briefie oop en lees dit gou. Dan antwoord hy Saartjie net so kort en saaklik.
Sy briefie trek nou met die ry op tot by haar.
Uiteindelik kry sy dit en lees wat hy sê. Anna en Lina buig nader en hulle lees ook.
Saartjie glimlag. Galpil was nog nooit iemand vir baie woorde nie en sy is ook nie lus om nog ’n briefie te skryf nie.
“Sê vir hom ek sal hom later sê,” fluister sy vir Lina oor haar skouer. Lina fluister dit vir die meisie agter haar en só gaan die mondelinge boodskap met die ry af.
Maar die boodskap verander intussen heeltemal. Teen die tyd dat dit by Galpil uitkom, hoor hy: “Saartjie sê dis baie laat en hoe later hoe kwater, so jy moet jou sê sê.”
Galpil sit fronsend hieroor en nadink. Hy kan nie kop of stert van die boodskap uitmaak nie.
Saartjie lees Boyle se Wet weer ’n keer deur. Noudat Lina dit verduidelik het, verstaan sy dit beter. Sy hoop eintlik dit is ’n vraag in môre se vraestel.
“Saartjie!” kom die onderwyser se stem skielik.
Sy wip soos sy skrik en is dadelik vies vir haarself daaroor. Sy sit mos soet en leer. Dit is nie nodig om so te skrik nie.
“Ja, Meneer?” Saartjie staan op.
“Gaan haal asseblief my tas in die personeelkamer. Dit staan op die tafel.”
“Seker, Meneer.” Saartjie loop vinnig by die klaskamer uit. Sy is bly om ’n bietjie uit te kom. ’n Mens raak moeg van so stil sit en leer!
Saartjie loop stadig met die lang gang af na die personeelkamer wat op die stoep uitloop. Toe sy by die deur kom, klop sy eers, want daar kan miskien onderwysers wees wat ’n afperiode het. Niemand antwoord nie. Saartjie klop weer, ’n bietjie harder. Dan maak sy die deur oop. Skielik kom daar ’n rukwind van die stoep se kant af en sy sien net papiere rondwaai. Sy maak die deur vinnig toe en raap die velle papier wat voor haar voete lê op.
“Sjoe,” sê sy net.
Daar is niemand in die personeelkamer nie. Die skool se stoorkamer is reg langsaan die personeelkamer. Daar is ’n deur met ’n venster in tussen die twee vertrekke. Die venster se hortjies is vandag oopgetrek en ’n meisie van Saartjie se klas is besig om die stoorkamer se rakke af te stof.
Saartjie stap na die lang tafel in die personeelkamer en kyk na die boonste papier in haar hand. Dan gaan staan sy skielik botstil. Bo-aan die papier staan in duidelike swart letters:
Natuurwetenskappe – graad 9
Saartjie laat sak die papier vinnig. Sy is boeglam geskrik en knyp haar oë styf toe. Haar hart bons. Dit is die vraestel wat hulle môre moet skryf – en hier staan sy met die ding in haar hand. Wat as iemand nou hier inkom en haar daarmee vang? Niemand sal haar glo as sy sê die papiere het van die tafel afgewaai en dat sy dit maar net opgetel het sonder om na die vrae te kyk nie. Sy sal uit die skool geskors word!
Die gedagte om gou na die vrae te loer kom nie eens by Saartjie op nie. Sy het nog nooit in haar lewe met enigiets gekul nie.
Dit voel of die vraestel haar hand brand. Saartjie loop vinnig na die tafel toe en gaan sit dit daarop neer sonder om eers weer daarna te kyk. So ja, nou voel sy beter. Sy is ontslae van die gevaarlike ding.
Deur die ruit in die deur tussen die personeelkamer en die stoor staar die ander graadnege-meisie, Amanda Gous, peinsend na Saartjie wat só aan skok ly dat sy nie eens agterkom sy word dopgehou nie. Amanda wonder watse papiere Saartjie soos ’n warm patat daar op die tafel neergegooi het.
Saartjie gryp haar onderwyser se tas en is by die deur uit. Haar hart bons nog steeds. As iemand haar daar moes betrap het, was sy in groot moeilikheid – al is sy onskuldig!
Amanda Gous en Saartjie het nog nooit oor die weg gekom nie. Saartjie dink Amanda is onderduims en wag net haar kans af om haar wat Saartjie is aan die pen te laat ry. Gelukkig bly Amanda in die koshuis en kom sy en Saartjie nie te veel met mekaar in aanraking nie.
’n Onderwyseres het vir Amanda gevra om ’n bietjie in die stoor te gaan afstof. Maar Amanda stof nou glad nie meer af nie. Sy brand van nuuskierigheid om te sien wat staan op daardie papiere wat Saartjie so haastig – amper skelmpies – op die tafel neergesit het.
Amanda beweeg vinnig na die stoorkamer se deur toe. Sy wil gou by die personeelkamer inglip om te sien wat Saartjie daar neergesit het. Sy sal dadelik weer uitglip. Niemand sal haar eers sien nie.
Sy draai die deurknop en dan sak haar moed in haar skoene. Die deur is gesluit. Amanda besluit om van hier af te probeer sien wat op die papier staan en druk haar neus styf teen die ruit. Haar oë rek skielik groot. Sy sien die vetgedrukte letters boaan duidelik:
Natuurwetenskappe – graad 9
Amanda probeer nog meer lees, maar die letters van die vrae self is so klein dat sy niks kan sien nie. Dit kan haar egter nie skeel nie. Die meisie glimlag van oor tot oor. Sy het nou uiteindelik vir Saartjie!
Wie sou nou ooit kon dink Saartjie Baumann sou ’n vraestel uit die personeelkamer steel, die vrae gou lees en die vraestel dan weer skelmpies kom terugsit? Wag tot die ander kinders hiervan hoor! Dan gaan die kastig wonderlike Saartjie nie meer so gewild wees nie! Amanda lag hardop van vreugde.
Saartjie is terug na die klaskamer. Sy is baie bekommerd oor die vraestel wat sy in haar hande gehad het. Sy het net na die opskrif gekyk en glad nie die vrae gesien nie, maar dit pla haar nogtans.
Pouse vertel Saartjie vir Anna en Lina presies wat gebeur het.
“Maar hoekom pla dit jou?” vra Lina. “Jy het mos nie die vrae gesien nie.”
“Ek weet, ja, maar nogtans …”
“Jy moes darem net so vinnig geloer het,” terg Anna, “dan sou jy geweet het of Boyle se Wet daarin is of nie.”
“Moenie nog daaroor spot nie,” sê Saartjie vies. “Ek het my boeglam geskrik toe ek daar staan en sien wat ek in my hande het.”
“Aag, hou op wroeg,” sê Lina. “Vergeet van die hele storie. Jy het nie na die vrae gekyk nie en ons almal weet mos jy sou nooit so iets gedoen het nie.”
“Weet julle wat ek gaan doen – en sommer nou dadelik?” vra Saartjie skielik.
“Wat?” vra haar twee vriendinne gelyktydig.
“Ek gaan vir Ou Grompot vertel wat presies gebeur het – dan is my gewete mos skoon.”
Ou Grompot, oftewel meneer Burger, gee vir die graadneges natuurwetenskappe. Hy het ’n bokbaardjie wat hy gedurig streel en is baie knorrig van geaardheid. Die kinders loop almal lig vir hom.
“Gaan praat met hom as jy wil,” sê Lina, “maar hy sal nie kwaad wees of dink jy’t gelees wat in die vraestel staan nie. Die papiere het per ongeluk van die tafel afgewaai en jy was ordentlik genoeg om dit op te tel.”
“As dit jou beter sal laat voel as jy hom vertel het, moet jy dit liewer doen,” stel Anna voor.
“Ja, ek sal beter voel. Wag julle hier vir my.”
Saartjie stap na die personeelkamer toe. Sy klop aan die deur en haar hart klop wild. Haar gunstelingonderwyser, meneer Theo Stegmann, wat sosiale wetenskappe gee, maak die deur oop. Hy glimlag en sê: “Ja, Saartjie?”
Sy glimlag ook vriendelik en vra: “Meneer, mag ek asseblief met meneer Burger praat?”
“Net so ’n oomblik.” Theo Stegmann verdwyn binnetoe.
Saartjie wens Ou Grompot was ook so vriendelik. Hoekom moet hy so vol dinge en draadwerk wees?
Meneer Burger verskyn in die deur.
“Ja, wat is dit?” mompel hy. “Weet jy nie dis nou my teetyd nie?”
Die onderwyser beduie na die koppie tee in sy hande en gluur kwaai na haar.
“Ekskuus, Meneer, ek weet, maar dis ’n baie ernstige saak.”
“Nou toe, laat ek hoor.”
Hy neem ’n lang teug uit die koppie.
“Meneer, ek sal sommer reguit wees. Ek het môre se vraestel vir natuurwetenskappe gesien …”
“Wat? Dis onmoontlik!”
“Nee, Meneer,” sê Saartjie en sluk swaar, “dis nie onmoontlik nie. Ek sal vir Meneer vertel wat presies gebeur het en ek gee vir Meneer my woord van eer dat ek nie een enkele woord van die vrae gesien het nie.”
“Nou toe, gaan voort,” sê die onderwyser ongeduldig. “Ek is nie lus vir ’n lang relaas nie.”
Saartjie sluk weer ’n keer en vertel dan wat gebeur het – hoe sy die personeelkamer se deur oopgemaak het en hoe die wind die papiere toe van die tafel afgewaai het. Sy het dit alles opgetel en toe sy die vraestel heel bo-op sien, het sy dit dadelik op die tafel neergesit sonder om een keer na die vrae te kyk.
Ou Grompot staan ingedagte en tee drink. Hy lyk glad nie meer so kwaai nie en daar is selfs ’n effense trek van ’n glimlag om sy mondhoeke.
Saartjie eindig met die woorde: “En dis al, Meneer. Dis al wat gebeur het. Ek het net gevoel ek moet Meneer vertel. Maar op my woord van eer …”
“Ja, ja,” sê die onderwyser ongeduldig, “maar sê vir my – was die versoeking groot?”
“Hoe bedoel Meneer?”
“Die versoeking om na die vrae te kyk – was dit groot?”
Saartjie byt effens op haar onderlip en dan gooi sy haar kop agteroor. Hierdie vraag is vir haar ’n belediging.
“Nee, Meneer,” sê sy en haar stem is kil. “Dit was glad nie vir my ’n versoeking nie.”
“Ek weet, Saartjie.” Tot haar verbasing glimlag Ou Grompot nou baie vriendelik. “Ek maak maar net ’n grappie.”
Hy lag hartlik, en Saartjie lag maar saam.
“Ek waardeer dit dat jy my kom vertel het, maar dit was nie nodig nie. Jy sien, die vraestel wat jy in jou hande gehad het, was nie vanjaar s’n nie.”
“Nie, Meneer?” vra Saartjie verbaas.
“Nee, dit is een van twee jaar gelede. Die vraestel wat julle môre skryf, is in my studeerkamer by die huis. Dis hoekom ek aan die begin gesê het dis onmoontlik dat jy dit kon gesien het.”
Voor Saartjie hierop kan antwoord, sê Ou Grompot op sy gewone kortaf manier: “Nou toe, gaan speel. Ek wil my tweede koppie tee in vrede geniet,” en gaan by die personeelkamer in.
Saartjie stap glimlaggend na haar vriendinne toe en vertel hulle wat die onderwyser vir haar gesê het.
“Sien jy nou,” sê Lina, “ek het jou mos gesê jy’s verniet bekommerd.”
“Ek weet, maar ek voel baie beter. Kom ons vergeet nou van die hele gedoente.”
Die Drie Muskiete vergeet daarvan, min wetende dat daar iemand anders is wat nie van plan is om dit te vergeet nie – Amanda Gous!
Toe die klok lui en die kinders in die klaskamer kom, daag ’n lid van die leerderraad op en sê meneer Burger het opdrag gegee dat hulle solank moet sit en leer vir môre se natuurwetenskappe-vraestel. Die onderwyser sal eers so oor tien minute hier wees.
Amanda Gous sit op hete kole. Sy kan haar geheim nie langer stilhou nie. Die tyd het nou aangebreek om vir die ander kinders te vertel hoe skynheilig die wonderlike Saartjie Baumann is.
Amanda is opgewonde. Sy wag lankal vir so ’n kans. Sy is seker niemand sal hierna ooit weer met Saartjie wil praat nie. Dit is natuurlik te sê as die hoof haar nie sommer uit die skool skop nie, want hy moet natuurlik ook weet. Nadat sy die klas vertel het, gaan sy vir die hoof ook hiervan sê.
Voor Amanda opstaan, loer sy eers vinnig na Saartjie wat niksvermoedend met Anna sit en gesels. Dan gaan staan Amanda voor die klas, lig haar hand vir stilte en sê dramaties: “Ek het iets baie belangriks om vir julle te vertel.”
Die kinders word stil. Almal kyk belangstellend na Amanda en wonder wat die baie belangrike iets is.
“Ek wonder wat is dit met die geitjie?” fluister Saartjie vir Anna.
“Daar is iemand hier tussen ons wat so gemeen is dat ons hele klas ’n slegte naam gaan kry,” begin Amanda. “Sy is ’n skelm wat nie in ons klas hoort nie – en ook nie in ons skool nie!”
Daar is ’n triomfantelike kyk in Amanda se oë.
“Hierdie meisie het soos ’n dief in die nag by die personeelkamer ingesluip,” gaan sy dramaties voort, “en môre se vraestel vir natuurwetenskappe gesteel. Toe lees sy gou al die vrae en sit die ding weer op die tafel neer.”
Die klas snak na asem. Dit is ’n lae en gemene ding om te doen.
Saartjie is doodsbleek. Sy kyk fronsend na Amanda.
“Ek het besluit om julle te sê wie so gemeen was,” kondig Amanda aan. “Daar sit sy – Saartjie Baumann!”
Daar is ’n hele paar uitroepe van ongeloof. Dit kan nie wees nie. Saartjie sal mos nooit so iets doen nie!
“Ek het haar met my eie oë gesien,” sê Amanda. “Dit help nie sy ontken dit nie.”
“Ons glo jou nie!” skree ’n klomp kinders gelyk.
“So?” Amanda se oë skiet vonke. “Nou hoekom ontken sy dit dan nie? Hoekom sê sy nie iets nie? Sy’s bang, want sy weet sy’s skuldig!”
Almal kyk nou na Saartjie. Sy is wasbleek, maar daar speel ’n effense spotlaggie om haar mondhoeke. Sy staan stadig op en haar stem is byna onhoorbaar sag toe sy sê: “Jy weet, Amanda, ek kry jou jammer. Jy is ’n lae, gemene wurm.”
“Dit help nie jy skel my uit en noem my name nie!” sê Amanda skril vir Saartjie. “Ek het jou gesien en ek gaan die hoof ook daarvan vertel, want dis my plig. Ek hoop hy skop jou uit die skool!”
Saartjie glimlag nog steeds, al is haar hand in ’n vuis gebal. Sy draai na die klas en vra: “Glo julle ek het gedoen waarvan sy my beskuldig?”
“Nee!” sê almal dadelik.
“Ek het haar met my eie oë gesien!” skree Amanda.
“Laat ek julle sê wat gebeur het!” Saartjie begin kalm vir die klas vertel hoe sy die vraestel terug op die tafel gesit het sonder om na die vrae te kyk.
“Hoe weet ons jy praat die waarheid?” snou Amanda haar toe.
“Want my naam is Saartjie Baumann en nie Amanda Gous nie!”
Amanda is effens uit die veld geslaan en Lina skree: “Hoe weet jy dit alles? As jy vir Saartjie gesien het, hoe weet jy dit was die vraestel vir natuurwetenskappe?”
Almal skree nou sy moet sê hoe sy dit weet.
Amanda vertel hoe sy in die stoorkamer gewerk en toe vir Saartjie met die papiere in haar hand gesien het, en hoe sy ná Saartjie die goed neergesit het deur die venster geloer het en duidelik die opskrif gesien het wat sê dit is die natuurwetenskappe-vraestel vir graad nege.
“En toe het jy jou neus seker plat teen die ruit gedruk om te sien wat die vrae is!” sê Lina smalend.
“Ek het nie!” verdedig Amanda haarself. “Ek was geskok dat een van die mense in my klas so iets kon doen.”
“Jy hoef nie so geskok te gewees het nie,” sê Saartjie koel. “Ek en jy was nog nooit vriende nie en ons sal ook seker nooit wees nie.”
Skielik gaan die deur oop en meneer Burger kom in.
“Wat gaan hier aan?” vra hy en streel sy bokbaardjie met sy vingerpunte.
Voor iemand kan antwoord, sê Amanda gou haar sê: “Meneer, Saartjie het die vraestel wat ons môre skryf, gesien!”
“Dis ’n ernstige aantyging, Amanda,” sê die onderwyser.
“Ek weet, Meneer, maar ek het haar gesien. Ek het haar uitgevang!” Amanda begin haar hele storie weer van voor af vertel.
“Jy weet, Amanda,” sê Ou Grompot, “ek sal Saartjie nie kwalik neem as sy jou nooit vergewe vir hierdie kwaadstokery teen haar nie.”
Amanda is heeltemal uit die veld geslaan. “Maar Meneer …”
“Bly stil!”
Amanda is tjoepstil. Sy voel vreeslik gegrief. Niemand wil haar glo nie, selfs nie eens die onderwyser nie.
“Saartjie het my pouse kom spreek,” sê Ou Grompot vir die klas, “en my vertel wat gebeur het. Ek het haar verseker sy hoef glad nie bekommerd te wees nie. Ek glo haar dat sy die papiere net opgetel het en glad nie na die vrae gekyk het nie. Maar al het sy ook daarna gekyk, sou dit nie saak gemaak het nie, want dit is ’n ou vraestel en nie die een wat julle môre gaan skryf nie.”
Die klas kyk Amanda vermakerig aan. Hulle het nooit vir een oomblik gedink Saartjie is skuldig nie.
Meneer Burger draai na Amanda en sê streng: “As ek jy is, sal ek Saartjie nederig om verskoning vra. Maar sit nou. Ons het reeds genoeg tyd gemors. Gaan voort met julle werk.”
Amanda is heeltemal verbysterd. Sy strompel na haar sitplek toe. Saartjie kyk dankbaar na die klas. Almal glimlag vriendelik en party knipoog vir haar.
Die voorval word met fluisterstemme bespreek. Saartjie is nou nog meer gewild as ooit vantevore. Amanda het in die put geval wat sy self gegrawe het. Almal is seker haar kwaadstokery sal nou end kry.
Amanda sit eenkant in die klas. Niemand praat vir die res van die dag met haar nie.
Toe die klok vir huistoegaantyd lui, borrel die kinders by die klasse en die gebou uit.
Saartjie, Anna en Lina stap oor die rugbyveld bushalte toe. Amanda loop ’n entjie agter hulle in die rigting van die koshuis. Sy begin skielik vinniger stap en haal hulle in, maar die Drie Muskiete ignoreer haar.
“Saartjie?” sê sy uiteindelik huiwerig.
“Ja?” Saartjie se stem is kil.
“Ek is vreeslik jammer ek het jou beskuldig van iets wat ek weet jy nooit sou gedoen het nie.”
Saartjie antwoord nie dadelik nie. Daar is ’n ongemaklike stilte.
“Hoekom het jy die storie nie met my kom bespreek nie?” vra Saartjie uiteindelik. “Hoekom moes jy dit voor die hele klas gaan uitblaker?”
“Ek het dit as my plig beskou,” mompel Amanda.
Saartjie kyk na Amanda. Sy is glad nie kwaad vir die meisie nie, maar sy weet hulle twee sal nooit oor die weg kom nie. Hulle sal nooit vriende kan wees me.
“Ek vra om verskoning,” sê Amanda.
“Ek aanvaar jou verskoning,” sê Saartjie en haar stem is nog steeds kil. “Wat my betref, is die hele ding nou verby en vergete.”
Die drie vriendinne stap vinnig aan na die bushalte waar die bus al gereed staan. Amanda draai weg en loop koshuis toe.
In die bus op pad terug Lynnekom toe spot die kinders lekker oor die voorval.
Later, in hulle straat, stap Lina eerste weg, en toe Anna.
Saartjie stap alleen verder en toe sy by die betonplaveisel kom, spring sy sekuur van die een blok na die ander terwyl sy haar boeksak styf onder haar arm vasknyp. Sy konsentreer so op die springery dat sy nie die seun naby die Baumanns se voorhekkie raaksien nie. Hy hou haar aandagtig dop.
Toe Saartjie by die laaste blok kom, sê sy ingedagte: “So ja.” Sy kyk op en sien nou eers die seun hier langs die hekkie.
Hy staar haar verbaas aan en sy kyk met net soveel verbasing na hom. Sy ken hom glad nie. Maar skielik tref dit haar: Dit is seker Louis de Jager. Hy is seker die boef van Kaapstad.
“Is jy mal?” vra hy.
Saartjie antwoord nie. Sy vee met haar hand oor haar voorkop en haar oë vlam. Sy gooi haar kop agteroor. So dit is die vent wat die kleintjies so afknou. Dit is die boelie met wie daar afgereken moet word.