Читать книгу Saartjie Omnibus 6 - Bettie Naudé - Страница 12
4
ОглавлениеDie geveg
Die twee seuns stap stadig tot by mekaar. Galpil trek allerhande gesigte in die hoop dat dit Louis sal laat skrik en dat hy dan niks van die pet sal sê nie. Maar Louis skrik nie. Hy is vol selfvertroue. Hy het Galpil vinnig opgesom en sien kans vir hom.
Die twee is nou verby mekaar en Louis swaai skielik om.
“Haai!” sê hy bars en gaan staan met gebalde vuiste. Galpil gaap nie meer nie. Hy gaan staan en sluk swaar. Sy adamsappel wip op en af.
“Ek sê haai!” sê Louis bars.
“Ja?” Galpil se stem is gewoonlik grof, maar dit klink nou skielik klein en pieperig.
“Het jy nie maniere nie?” bulder die Kapenaar.
“Natuurlik het ek.” Galpil is verlig dat sy stem beter klink.
“Nou hoekom haal jy dan nie jou pet van jou kop af as jy verby jou meerdere stap nie?”
Louis gluur woes na Galpil.
Saartjie-hulle hou die twee met ingehoue asems dop.
“Wie sê jy’s my meerdere?” vra Galpil vererg en sy stem klink nou net so grof soos die boelie s’n.
“Ek sê so!”
“Wel, ek sê jy is nie – en ek sal nie my pet vir jou lig nie!”
“O so, nogal astrant, nè?”
“Ja, ek is – en wat daarvan?”
Louis kyk weer aandagtig na Galpil. Hy wonder vir ’n oomblik of hy hierdie ventjie nie miskien verkeerd opgesom het nie. Maar dit lyk darem nie so nie. Galpil is definitief maerder en kleiner as hy.
“Lyk my jy wil baklei,” sê Louis vol van homself.
“As jy wil,” sê Galpil ewe selfversekerd en voeg by: “Ek gee nie om nie.”
Louis kan sy vermetelheid nie glo nie.
Dan gaan Galpil selfs verder en sê: “Jy boelie die klein outjies om hul pette vir jou te lig. Hoekom probeer jy my nie ook dwing om dit te doen nie?”
Galpil het nou baie duidelik sy uitdaging gestel.
“Mooi so, Galpil!” skree Saartjie opgewonde. “Wys die onbeskofte vent!”
Die ander kinders kry nou ook moed en skree vir Galpil om die vent “te wys”.
Louis is effens uit die veld geslaan. Hy het nie sulke astrantheid verwag nie. Hy besluit om sy troefkaart te speel.
“Besef jy met wie jy praat?” vra hy bars.
“Ek besef dit, ja.”
“Met wie?”
Galpil kyk uitdagend na hom en sê met sy growwe, sterk stem: “Met ’n boelie van Kaapstad.”
Die kinders begin opgewonde juig.
“Ditsem, Galpil!” styg Apie se skril stemmetjie bo die lawaai uit. “Dons die boelie goed op!”
Apie staan heeltemal buite die kring toeskouers. Hy is reg om vir ’n vale te nael as Louis miskien in sy rigting beweeg.
“Ek het jou nie gevra om my te beledig nie,” sê Louis vir Galpil. “Ek het gevra of jy weet wie ek is.” Voor Galpil nog ’n beledigende antwoord kan gee, sê die boelie vinnig: “Kom ek sê jou wie’s ek. Ek is Louis de Jager, die Wes-Kaap se middelgewigbokskampioen in my ouderdomsgroep.”
Die kinders is stil. Hulle oë is groot. Galpil se adamsappel wip-wip weer op en af.
En toe, om hierdie dramatiese onthulling te onderstreep, haak Louis af en klap Galpil se pet van sy kop af.
“Nou weet jy wie’s ek,” sê hy bars. “So as ek in die vervolg verby jou stap, kom jy onmiddellik op aandag en lig jou pet. Verstaan? Anders trek ek jou velle van jou lyf af.”
Galpil staan met gebalde vuiste. Hy wonder of hy sommer nou met die boelie moet begin baklei en of hy nog moet praat. Hy besluit om liewer nog iets te sê. Miskien sal dit dan nie nodig wees om met die ou te baklei nie.
“Moenie dink ek skrik vir jou nie,” sê Galpil dapper, al bewe sy stem so effens. “En tel my pet nou dadelik op!”
“Ek sal nie!”
“Jy sal!”
“Ek sal nie!”
Die twee skree oor en weer vir mekaar, amper asof hulle dink die een wat die hardste skree, sal die geveg wen.
Saartjie word moeg vir die geskree. Sy en die ander kinders wil mos aksie hê.
“Haai!” skree sy. “Hou op!”
Dit werk. Die twee seuns bly dadelik stil. Saartjie weet nie presies hoe sy te werk moet gaan om hulle aan die baklei te kry nie. Dan dink sy aan haar jare op laerskool. Daar het sy die woord baie gehoor. Sy sê dit nou ook sommer.
“Gee vir hom jou kesj, Galpil!” sê sy opgewonde.
Die kinders skree nou almal Galpil moet vir die boelie sy kesj gee. As hy dit doen en die ou gee vir Galpil sy kesj terug, moet die twee met mekaar baklei. Dan sal daar aksie wees.
Om vir iemand jou kesj te gee, moet jy met jou vuis teen die teenstander se boarm slaan. Galpil huiwer ’n oomblik, maar almal hits hom aan. Dan stap hy vorentoe en tik liggies met sy vuis teen Louis se boarm. So ja, nou het hy vir Louis sy kesj gegee.
“Jy weet wat jy doen, nè?” sê Louis. “Ek het jou gewaarsku – ek is die Wes-Kaap se middelgewig-bokskampioen. Wees nou ’n soet seuntjie, tel jou pet op en lig hom beleef elke keer as jy my sien.”
“Ek sal nie!” snou Galpil hom toe.
“Nou goed dan!” Louis slaan Galpil twee keer hard teen sy arm en gee só vir hom sy kesj terug.
Die twee moet nou begin baklei, maar hulle doen dit nog nie.
“Ons kan nie hier met mekaar baklei nie,” sê Louis. “Hier is te veel mense wat die geveg sal stop as ek jou pap slaan.”
“Jy dink so, nè? Wag maar, ou perd, jy sal sien!”
“Ek kan nie wag nie,” sê Louis uitdagend. “So, waar baklei ons?”
“Enige tyd, enige plek,” sê Galpil vreesloos.
“Die tyd is nou. Sê net waar’s die plek!”
“By die spruit!” sê Piet.
“Oukei,” sê Galpil, “kom ons gaan spruit toe.”
“Maar die spul meisiekinders,” sê Louis en waai met sy hand in Saartjie-hulle se rigting, “gaan nie saam nie. Meisiekinders hoort nie by ’n bakleiery nie.”
Saartjie is vies, maar sy kan niks doen nie. Louis is heeltemal reg. Jong dames hoort nie by ’n rowwe geveg nie, so dit sal nie mooi lyk as hulle daarop aandring om saam te gaan nie. Preuts en uit die hoogte sê sy: “Dis die laaste ding wat ons wil doen – om na ’n vieslike vuil vuisslanery te kyk!”
Die seuns stap nou almal na die spruit toe. Die meisies staar hulle agterna en Saartjie skree agterna: “Sterkte, Galpil! Wys hom ons het nie tyd vir boelies hier in Lynnekom nie!”
Naby die spruit vorm die seuns ’n kring om die twee bakleiers en Galpil en Louis lig hul vuiste terwyl hulle mekaar stip in die oë staar.
Saartjie, Anna en Lina het intussen ’n entjie gaan stap. Daar is mos niks wat hulle keer om dit te doen nie. En daar is ook mos niks wat hulle keer om ’n entjie in die rigting van die spruit te gaan stap nie.
Die drie meisies sit nou onder ’n boom en kyk af op die geveg, maar hulle kan niks daarvan uitmaak nie. Al wat hulle sien, is die skreeuende klomp seuns om die twee vegters.
Die Drie Muskiete hou styf duim vas vir Galpil en wag angstig vir die uitslag. Hulle het nie ’n benul hoe die geveg verloop nie.
Toe daar ’n geweldige gejuig onder die seuns opgaan, sê Saartjie opgewonde: “Galpil het hom gemoker! Dit gaan goed. Dis hoekom die klomp so skree!”
Maar dan sterf die gejuig weg en die seuns is stil – baie stil.
“Nou gaan dit nie meer goed nie,” sê Saartjie mismoedig.
Ongelukkig was Saartjie se opmerkings oor die geveg in die kol. Die twee seuns het albei half versigtig begin, toe vlieg Galpil in en plant ’n paar goeie houe. Dit was toe dat die seuns so gejuig het. Dinge het egter vinnig omgeswaai.
Galpil was moeg van die sarsie houe – hy het waarskynlik nie die middag genoeg gerus nie – en toe takel Louis hom. Dit was toe dat die seuns so stil was.
Vir die res van die geveg bly Galpil se ondersteuners, wat natuurlik almal is wat daar staan, doodstil. Ná die Lynnekommer se aanvanklike woeste aanval domineer Louis die geveg. Hy is duidelik groter en sterker en weet ook baie meer van boks af.
Galpil spook hard, maar hy het nie ’n kans nie. Die houe reën op hom neer en ’n harde een wat hom op die maag tref, laat hom inmekaar sak. Dit is dan ook die einde. Sy blus is uit. Galpil het baie moedig probeer om die boelie ’n les te leer, maar hy kon dit nie regkry nie.
Louis stap so trots soos ’n pronkende pou van die groep af weg.
“Julle moet maar water oor hom gooi,” sê hy vir die seuns wat daar rondstaan, “en onthou, as ek ooit verby een van julle stap – lig jul pette of anders kry julle wat hy gekry het!” Die boelie beduie na Galpil wat op die grond lê en kreun terwyl Gert en Piet hul bes doen om hom te probeer help.
Die Drie Muskiete stap mismoedig na die seuns toe. Saartjie voel skuldig. Sy is indirek daarvoor verantwoordelik dat Galpil so ’n pak slae gekry het.
Galpil kry uiteindelik sy asem terug. Hy kom regop en Saartjie kniel langs hom. Dit lyk amper asof hy hospitaal toe moet gaan. Hy het ’n geswelde oog wat oor ’n paar uur ’n yslike blouoog sal wees. Daar is ’n skraap oor sy neus en sy lip is gesny.
“Jammer, Saartjie,” sê hy sag, “ek het my bes gedoen …”
“Toemaar, Galpil, dis niks. Jy moes nooit eens met hom baklei het nie. Hy is gans te groot vir jou.”
Saartjie se stem is sag en daar is ’n teer glans in haar oë. Sy weet nie hoekom nie, maar in Galpil se oomblik van vernedering hou sy meer van hom as nog ooit vantevore.
Sy vee sy gesig versigtig met haar sakdoek af. Die seuns drom almal om hulle saam. Hulle wil help. Almal bewonder Galpil se moed. Hy het sowaar die Wes-Kaap se middelgewig-bokskampioen aangedurf en al het hy verloor, is hy nog steeds ’n held in almal se oë.
Die Lynnekommers voel almal maar bek-af en mismoedig. Hulle weet Louis de Jager gaan nou nog ’n erger buffel wees.
Toe Saartjie later weer in haar kamer sit en vir môre se natuurwetenskappe probeer leer, besluit sy om ’n ander plan met die boelie te maak. Galpil kon die vent nie op sy plek sit nie, maar sy sal. Sy wat Saartjie is, gaan ’n plan bedink. Sy het vir Louis belowe hy gaan nog boet en sy sal haar belofte nakom.
Maar Saartjie het nie nou tyd om te dink aan hoe om met Louis af te reken nie. Sy moet vir die eksamen leer!
Maar daarna sal daai Kapenaar ’n ding sien wat hy nie wil sien nie. Saartjie vee die weerbarstige krul van haar voorkop af weg – wag maar, boetie, wag maar!
Die volgende dag kry die laerskooloutjies dit opdraand by Louis terwyl Saartjie-hulle in die hoërskool is. Die boelie stap op en af voor die skool en die seuns moet elke keer op aandag gaan staan en hul pette lig. Almal doen dit, want hulle weet mos wat met Galpil gebeur het.
Toe die graadneges met die eksamen begin en die vraestel vir natuurwetenskappe kry, lees hulle dit eers vinnig deur. Dan kyk die Drie Muskiete feitlik gelyktydig op en knipoog vir mekaar. Die vraag wat hulle al drie baie goed kan beantwoord, is sowaar daar:
Gee ’n kort verduideliking van Boyle se Wet.
Saartjie voel tevrede. Die vraestel lyk maklik. Natuurwetenskappe is haar swak vak, maar sy ken die meeste van die werk. Sy val weg en begin gretig skryf.
Die laaste paar dae van die eksamen gaan vinnig verby. Saartjie, Anna en Lina is hoog in hul skik, want hulle dink hulle het baie goed gedoen. Nou kan hulle op die boef van Kaapstad konsentreer.
“Hierdie ou voer ’n skrikbewind onder Lynnekom se kinders,” kondig Saartjie dramaties vir Anna en Lina aan. “Dis ’n skrikbewind wat nog nooit in die geskiedenis geëwenaar is nie!” Die geskiedenisgedeelte van sosiale wetenskappe is mos Saartjie se gunstelingvak. Sy voeg sommer ook by dat hierdie skrikbewind haar aan die Franse Revolusie herinner.
Anna en Lina luister met groot oë na Saartjie.
Die skrikbewind is natuurlik glad nie so erg as wat sy dit maak nie, maar Louis de Jager veroorsaak baie moeilikheid, veral onder die kleiner kinders. Deesdae moet hulle nie net vir hom op aandag gaan staan en hul pette lig nie – hulle moet ook nederig buig as hy verbystap. En om alles te kroon begin die boelie met nóg iets wat hom selfs nog meer pret verskaf. As die outjies so buig en buk, skop hy hulle op die sitvlak en skater dan van die lag.
Die afgelope twee dae geniet Louis die spulletjie nie meer so baie nie, want hy loop nie meer enige slagoffers raak nie. Lynnekom se kinders bly omtrent almal by die huis, want hulle is te bang om op straat te verskyn.
Toe die laaste eksamenvraestel geskryf is, ontmoet die Drie Muskiete mekaar by Anna-hulle se huis. Hulle moet die gevaar wat die rustige lewe hier in Lynnekom so versteur, nou dringend bespreek.
“Ons moet die vent eens en vir altyd ’n les leer,” sê Saartjie.
Die vriendinne sit ernstig en dink in Anna se kamer. Anna se sussie wat altyd so ’n laspos is, sit ook eenkant. Sy dink ook diep. Hulle het hard probeer om van haar ontslae te raak, maar hulle kon nie. Sy het gedreig om vreeslik te skree en hulle het toe besluit dit sal beter wees as sy bly.
Muggie het uitgevind sy kry alles met hierdie drie reg as sy dreig om te begin skree. Dit is haar beste wapen. Saartjie sê altyd Muggie het ’n blikkeel en as sy eers begin skree, kan geen mens se oortromme dit hou nie.
Muggie sit nou ook met ’n geplooide voorkop voor haar en uitstaar. Sy loer so af en toe na die ander drie om te sien of haar houding enige indruk op hulle maak. Sy help hulle mos dink.
“Weet julle wat?” vra Saartjie uiteindelik.
Nee, skud almal kop, hulle weet nie wat nie. Hulle is dankbaar Saartjie sê iets, want hulle is moeg om net so te sit. Hulle dink nie eens meer aan die groot probleem nie. Elkeen sit en wonder net wat die ander dink.
“Ek weet van iets wat ’n mens pateties laat lyk,” sê Saartjie. “As jy met klere en al in die water val en jy kom uit en hoes en proes en spring soos ’n nat hoender rond. En jy sal nog meer belaglik lyk as jy dan sommer weer in die water gestamp word.”
Anna en Lina stem volkome hiermee saam en toe Muggie sien hulle knik, doen sy dit dadelik ook.
“Luister mooi,” sê Saartjie opgewonde, “ek het ’n plan.” Haar oë glinster, want sy is seker hulle gaan baie pret hê.
Anna, Lina en Muggie luister aandagtig. Saartjie lê haar plan uit. Hulle en paar ander meisies van Lynnekom moet Louis daar op die damwal ontmoet – en dan moet die meisies hom pak en in die water gooi.
“En as hy teen die wal uitklouter,” sê Saartjie giggelend, “dan stamp ons hom weer in! En ons hou so aan tot hy om verskoning vra en belowe om niemand weer te boelie nie.”
Anna en Lina – én Muggie, nadat sy eers na die ander twee gekyk het om te sien wat hul reaksie is – dink dit is ’n uitstekende plan. Hulle moet nog net die fynere besonderhede uitwerk.
“Wat as hy nie kan swem nie?” vra Anna.
“Hm, dit sal ’n gemors afgee,” sê Saartjie peinsend. Sy het nooit hieraan gedink nie.
“Nee, ek is seker hy kan swem. Hoekom sal so ’n sterk ou nie kan swem nie? Buitendien, hy kom van Kaapstad af en dis mos waar die see is. Natuurlik kan hy swem.”
Almal is tevrede met Saartjie se redenasie en soos Lina droogweg byvoeg: “As hy nie kan swem nie, is dit ook maar tot daarnatoe.”
Saartjie se plan word sorgvuldig bespreek. Hulle besluit om Louis die volgende middag in die water te gooi. Saartjie sal wel nog aan ’n manier dink om hom op die damwal te kry. Lynnekom se meisies sal daar tussen die bosse skuil en as Saartjie die boelie beetkry en hom pootjie, sal hulle almal storm en kom help.
Die Drie Muskiete besluit hulle gaan omtrent twintig meisies nodig hê om die ou te pak en van die wal af te sleep en in die water te gooi. Saartjie is seker sy sal meer as genoeg gewillige hande kry om te kom help, want almal is mos vies vir die boelie van die Kaap.
Alles is afgespreek.
“Ek sal Louis môremiddag vieruur by die damwal ontmoet,” sê Saartjie. “Gaan reël julle solank met die meisies om daar te wees. Hulle moet agter die bosse naby die groot wilgerboom op die wal wegkruip en halfvier al op hulle poste wees. Lina, jy moet Louis saam met my ontmoet. Dis beter as ons twee hom gelyk pak, want netnou stamp hy my te maklik weg. Anna, jy bly by die meisies – en julle moenie slaap as ons hom beetkry nie. Julle moet dadelik kom help.”
Anna en Lina hou van Saartjie se plan. Hulle gaan sommer dadelik twintig meisies soek om hulle te help.
Muggie gaan saam met hulle nadat sy ’n kruis oor haar hart gemaak het om te belowe dat sy niemand anders van die plan sal vertel nie. Die geheim mag nie uitlek nie. Louis de Jager moet niks vermoed nie.
Saartjie gaan huis toe en sit nou alleen in haar kamer. Sy dink weer oor haar plan om Louis te straf. Sy kry nie enige swak plekke daarin nie. Al is die vent ook hoe sterk, sal hy mos nooit twintig meisies van hom kan afskud nie.
Nou moet Saartjie net sorg dat die boelie môremiddag vieruur daar op die damwal gaan wees.
Sy wonder wat om te doen. Sal sy na Louis se huis toe gaan en voorgee sy wil met hom vriende wees? Sal sy maak of sy van al die beledigings en afknouery vergeet het? Dan kan sy hom mos nooi om haar daar op die damwal te ontmoet sodat hulle lekker kan sit en gesels.
Nee, besluit Saartjie, dit sal nooit werk nie. Sy sal eerstens nie met hom vriendelik kan wees nie, al wil sy ook, en tweedens lyk hy nie soos iemand wat graag met ’n meisie vriende sal wil wees nie. Hy is so ’n buffel dat hy haar waarskynlik sommer sal afjak as sy daar by sy ouers se huis aankom.
Louise se swakheid is definitief nie meisies nie, dink Saartjie. Nee, dis sy hoogmoed. Hy dink mos hy is so vreeslik sterk en hy hou hom mos so vreeslik dapper. Sy moet dit teen hom gebruik. Sy moet hom uitdaag. Hy is die soort wat ’n uitdaging sal aanvaar, veral as hy ’n bangbroek genoem word. Sy moet hom kwaad maak en hom uittart – dan sal hy definitief môremiddag dam toe kom.
Saartjie tel haar pen glimlaggend op en trek haar skryfblok nader. Sy skryf vinnig. Toe sy klaar is, lees sy die brief weer deur. Sy is seker dit sal maak dat hy by die damwal gaan opdaag.
Maar hoe gaan sy die brief aflewer? Sy hoor stemme in die tuin en kyk by die venster uit. Dit is Apie en Bennie wat daar speel. Hulle bly deesdae net in die tuin en gaan glad nie meer uit straat toe nie. Hulle is bang hulle loop hulle in die boelie vas.
Saartjie gaan vinnig by die huis uit met die brief in haar hand. Apie-hulle moet die brief vir Louis gaan gee, want hulle wil mos ook hê hy moet terugbetaal word vir wat hy aan Lynnekom se kinders doen.
“Haai,” groet Saartjie die twee waar hulle besig is om op die grasperk kragte te meet.
“Haai jouself,” groet hulle terug en hou op stoei.
“Ek wil hê julle moet gou vir my iets doen,” sê sy.
Die twee kyk na mekaar en dan agterdogtig na haar.
“Wat?” Apie se tongpunt speel deur die opening waar sy twee voortande moes gewees het.
“Julle moet hierdie brief vir my gaan aflewer.”
“Waar?” vra Bennie.
“Vir wie?” wil Apie weet.
“Dis vir Louis de Jager.”
Die twee seuns kyk verbaas na Saartjie.
Apie kry eerste weer beheer oor sy stembande en sê: “Dink jy ons is mal?! Die ou sal ons velle van ons lywe af trek as ons daar by hom uitslaan!”
“Aikôna,” sê Bennie. Hy skud sy kop heftig heen en weer en vou sy arms beslis.
“Aikôna,” beaam Apie sy maat se woorde en maak dan dieselfde gebare as hy.
“Wag nou,” paai Saartjie, “ek weet julle is bang vir hom, maar ek is seker hy sal nie aan julle raak nie. Hy sal die brief net lees en dan vir julle ’n antwoord gee. Dis maar al.”
“Hoe weet jy hy sal nie aan ons raak nie?” wil Bennie weet.
“Wie sê hy sal ons nie sommer ’n paar taai klappe gee nie?” vra Apie en maak ’n paar sisgeluide om weg te steek hoe bang hy is.
“Ek weet dit net – vertrou my,” sê Saartjie. “As hy enigiets van julle verwag, sal dit net wees dat julle beleef moet wees en julle pette vir hom moet lig. So doen dit sommer sodra julle hom sien, dan sal alles reg wees. Dan sal hy nie aan julle raak nie.”
“Ja, maar ons moet deesdae nog buig ook,” sê Bennie, “sodat hy ons kan skop!”
“Dis glad nie so erg nie,” sê Saartjie. “Wees net nederig teenoor hom. Toe, asseblief, net hierdie een keer. Ek belowe julle as julle hierdie brief aflewer, gaan julle nie weer probleme met hom hê nie. Daai boef van ’n boelie gaan van môremiddag af so mak soos ’n lammetjie wees.”
Apie en Bennie begin nou belangstel. Hulle is bereid om te doen wat Saartjie vra as hulle die versekering kan hê dat Louis hulle nie meer so sal afknou nie.
“Ek belowe julle dit,” sê Saartjie plegtig. “Het ek julle al ooit iets belowe en nie woord gehou nie?”
Die twee seuns dink hieroor na. Hulle kan nie onthou dat sy al ooit gesê het sy sal iets doen en dit dan nie gedoen het nie.
“Wat is die plan?” wil Apie nou weet.
“Ek kan julle ongelukkig nie sê nie, maar julle sal sien. Gaan gee net die brief vir hom. Dan is julle teen môremiddag ontslae van die vent.”
Die seuns kyk na mekaar. Dan bespreek hulle die saak in fluisterstemme, maar Saartjie kan nog steeds elke woord hoor.
Bennie dink die ou gaan hul nekke omdraai. Hulle gaan soos twee lammetjies wees wat tussen ’n trop leeus instap.
Apie dink weer die ou sal nie so wreed wees voor sy pa en ma nie. Die ergste wat met hulle kan gebeur, is dat elkeen ’n skop kry.
Nadat hulle ’n rukkie so fluisterend gestry het, besluit hulle om die brief tog maar te neem. Hulle sal sonder pette op hul koppe soontoe gaan – dan hoef hulle dit mos nie vir die boelie te lig nie!
“Ons sal dit doen, Saartjie,” sê Apie, “maar daar is moeilikheid as dinge nie uitwerk soos wat jy sê nie.” Hy maak weer ’n paar sisgeluide – hierdie keer om haar te laat verstaan die moeilikheid gaan sommer baie groot wees as alles nie volgens plan verloop nie.
Bennie wikkel sy sproetneus op en af om te wys hy gaan ook baie moeilik wees as hulle hul lewens waag en daarna nog steeds geboelie word.
Die twee seuns loop uiteindelik sonder hul pette daar weg. Saartjie gaan sit in die koelte onder die boom en wag vir die antwoord.
Apie en Bennie maak die De Jagers se tuinhekkie versigtig oop. Hulle los dit vir veiligheid oop, want miskien moet hulle vinnig weghardloop.
Die twee stap met die tuinpaadjie op. Hul harte bons. Apie klem die brief styf in sy hand vas.
Louis sit toevallig in die tuinhuisie naby die hekkie. Hy kyk met ’n frons op sy voorkop na die twee outjies wat so bang na die voordeur toe mik. Hy sou nooit kon dink hulle sal dit waag om hierheen te kom nie. Hy wonder wat hulle wil hê.
Toe hulle regoor die tuinhuisie is, bulder Louis: “Hei! Wat soek julle?”
Die seuntjies het hom nie gesien nie en wip soos hulle skrik. Apie laat val sommer die brief. Hulle swaai om en kyk na Louis wat op ’n bankie in die tuinhuisie sit. Die twee kom soos een man op aandag en buig lomp. As hulle nou pette gehad het, het hulle dit sommer baie hoog in die lug op gelig.
“Ek sien julle maniere verbeter darem,” grom Louis. “Wat wil julle hê?”
Apie raap die brief van die grond af op en stap huiwerig nader. Bennie bly staan waar hy is. Hy loer vinnig oor sy skouer om seker te maak die tuinhekkie is wel oop. Hy staan gereed om vinnig weg te hardloop as dinge gevaarlik raak.
Louis ruk die brief uit Apie se hand en lees vinnig. Hy word rooi in sy gesig en bal sy vuis. Dit is ’n yslike groot vuis en Apie staan sommer by voorbaat ’n paar treë weg.
“Simpel meisiemens!” bulder Louis en lees die brief dan weer:
Beste Buffel
Jy dink seker jy is nou ’n grootmeneer omdat jy vir arme Galpil wat baie kleiner as jy is ’n pak gegee het. Wel, jy is nie. Ek en al die ander kinders van Lynnekom dink nog steeds jy is ’n lafaard en ’n boelie – en ek is nie bang om dit reguit vir jou te sê nie, in jou gesig. Maar ek dink jy is bang om my te ontmoet! Jy skrik vir ’n meisie! Foei tog!!
As jy nie bang is nie, ontmoet my en my vriendin Lina môremiddag vieruur onder die wilgerboom op die damwal. Die dam is by die spruit naby die plek waar jy en Galpil baklei het.
Ek en Lina wil ernstig met jou praat, maar ons is seker jy sal nie soontoe kom nie. Jy is te veel van ’n lafaard. Wê! Ek steek vir jou tong uit!
Laat my weet of jy vieruur daar sal wees en of jy te bang is om twee meisies te ontmoet!
Saartjie Baumann
Louis de Jager is woedend. As hy daardie astrante meisiemens nou in die hande kry, gee hy haar sommer ’n paar taai klappe, vroumens ofte nie!
“Sê vir haar,” bulder hy en Apie staan nog ’n paar treë agteruit, “ek sal môre daar wees. Ek gaan haar oor my skoot trek en haar ’n pak slae gee – dís wat sy kortkom. Weg is jy, voor ek jou ook sommer gryp!”
Bennie en Apie is soos die wind daar weg. Hulle hou aan hardloop tot hulle by Saartjie is.
“Hy was baie kwaad oor jou brief,” sê Apie uitasem. “Hy sê hy gaan jou môre ’n pak slae gee.”
“Hy was so kwaad,” sê Bennie opgewonde, “dat hy skoon vergeet het om ons te skop!”
Saartjie glimlag. Sover verloop haar plan nog uitstekend. Die boelie gaan môremiddag vieruur by die damwal wees en sy sal met ten minste nog twintig meisies daar wag. Die dag van afrekening het uiteindelik aangebreek.