Читать книгу Saartjie Omnibus 6 - Bettie Naudé - Страница 14
5
ОглавлениеDie dag van afrekening
Die ure op skool gaan die volgende dag vir Saartjie gans te stadig verby.
Alles is gereël. Anna en Lina het maklik twintig meisies bymekaar gekry. Hulle kon selfs nog meer gekry het as hulle wou. Niemand hou van die boef van Kaapstad nie. Feitlik almal se kleiner boeties het al onder hom deurgeloop.
“Jy is in bevel van die meisies, Anna,” sê Saartjie tydens pouse. “Jy moet hulle goed laat wegkruip, maar nie te ver weg nie. As ek en Lina daai boelie pak, moet julle vinnig spring en ons kom help, want hy’t vir Apie gesê hy gaan my oor sy skoot trek en my ’n pak slae gee.”
Anna en Lina luister aandagtig na die finale reëlings. Saartjie sê sy en Lina sal net so ’n paar minute voor vier by die damwal aankom. Die meisies moet dan al klaar daar wegkruip en tog asseblief nie almal opspring om vir hulle twee hallo te sê nie, want netnou is Louis ook vroeg en sien hulle. Anna moet net ’n wit sakdoek uit haar wegkruipplek waai. Dan sal Saartjie en Lina weet alles is reg en die meisies is daar.
“’n Paar van die meisies het gevra of hulle kieries en stokke moet bring,” sê Anna droogweg.
“Nee, moenie laf wees nie,” snou Saartjie haar toe. “Ons gaan die vent mos nie doodmaak nie. Ons gaan hom net halfpad verdrink.”
By die skool knipoog meisies aanhoudend wanneer hulle verby Saartjie stap. Hulle laat haar goed verstaan hulle is slaggereed vir vieruur se dinge.
Saartjie wil die middag eers ’n bietjie in haar kamer gaan rus, maar dan onthou sy Galpil het ook gerus voor hy teen Louis baklei het en dit het hom niks gehelp nie. Inteendeel, hy het amper in die hospitaal beland.
Verder is Saartjie ook gans te opgewonde om stil op haar bed te gaan lê. Sy trek ’n kniebroek en T-hemp aan, sit haar bofbalpet op haar kop en besluit om plakkies te dra, anders word haar tekkies net vuil in die veld.
Voor sy by die kamer uitloop, kyk Saartjie eers in die spieël en knipoog vir haarself.
“Vandag is die dag, meneer Louis de Jager,” sê sy vir haar spieëlbeeld. Haar oë glinster. Daardie boef gaan vandag ’n les leer wat hy nooit sal vergeet nie. Hulle meisies gaan sommer baie pret hê.
Saartjie is op pad na Lina toe. Anna is seker al besig om vir die ander klomp hul laaste instruksies te gee; hulle moet binnekort by die damwal stelling inneem.
Saartjie het gesê Anna moet reël dat die meisies twee-twee en kastig ongeërg dam toe dwaal en nie almal in een groot groep nie, anders is dit te ooglopend dat hulle iets in die skild voer.
Apie en Bennie het egter die nuus onder die seuns versprei dat daar iets aan die gang is en dat Louis de Jager ’n les geleer gaan word wat hy nooit sal vergeet nie. Hulle weet nie hoe en waar dit gaan gebeur nie. Hulle weet ook nie wat gaan gebeur nie – hulle weet net “iets” gaan gebeur.
Die seuns het besluit die beste manier om antwoorde op hul vrae te kry is om Saartjie te agtervolg.
Toe sy oor die plaveisel voor die Baumanns se huis begin spring, hou ’n hele klomp seuns, Apie en Bennie inkluis, haar van agter die heining aan die ander kant van die straat af dop. Hulle gaan haar nie onder hul oë uit laat nie. Hulle wil weet wat aangaan.
Naby die einde van die betonplaveisel kyk Saartjie af na haar voete. Sy byt op haar onderlip. Haar linkervoet raak effens aan een van die gleuwe tussen die blokke. Sy moet weer van voor af begin spring.
“Dis simpelgeit,” mompel sy, maar besluit nogtans om dit maar te doen. Sy is te bang daar sal iets vreesliks met haar gebeur as sy nie haar belofte aan haarself hou nie. Sy kan ook nie kul deur haar voet net so effentjies weg te draai nie, want dan jok sy mos maar net vir haarself.
Saartjie draai vies om. As sy opgekyk het, sou sy gesien het hoe ’n klomp koppe agter die heining oorkant die straat verdwyn.
Die seuns sug. Nou moet hulle nog langer hierso sit. Die hele Lynnekom weet al van Saartjie se springery – hierdie selfopgelegde taak wat sy so pligsgetrou nakom.
Die seuns hoop sy gaan hierdie keer beter spring sodat hulle nie baie langer so gehurk hoef te sit nie.
Saartjie is weer by die tuinhekkie. Sy vee die krul op haar voorkop met die rugkant van haar hand weg en begin weer spring. Sy is nou dubbeld versigtig, want sy wil nie weer van voor af moet begin nie. Sy sorg dat sy elke keer in die middel van die blok te lande kom.
Wanneer sy sonder verdere teëspoed by die einde van die plaveisel kom, slaak sy ’n sug van verligting en hardloop na Lina-hulle toe.
Die seuns slaak ook almal ’n sug van verligting. Hulle peul vinnig agter die heining uit en volg haar gebukkend. Daar is nie juis wegkruipplek in die straat nie, en hulle hoop maar sy kyk nie om nie.
Sonder dat sy een keer omkyk, gaan Saartjie by Lina-hulle in. Oorkant die huis gaan hurk die seuns maar weer geduldig agter ’n heining.
Saartjie sit nou eers by Lina en gesels. Dit is nog heeltemal te vroeg om nou al dam toe te gaan om vir Louis te ontmoet.
“Jy weet,” sê Saartjie, “ons twee het eintlik die gevaarlike werk.”
“Ek weet,” sê Lina. “Dink net wat kan gebeur as hy sommer links en regs begin slaan – onthou wat het met Galpil gebeur.”
Saartjie wil liewer nie eens aan so ’n moontlikheid dink nie.
“Hy sal darem seker nie aan meisies slaan nie,” sê sy sonder dat sy dit glo.
“Ons moet net vinnig wees,” sê Lina. “Voor hy kans kry om te slaan, moet hy plat op die grond wees en die ander moet by wees om hom te help vasdruk.”
“Ja,” sê Saartjie. “Onthou nou – ek duik en jy stamp.”
Die twee het afgespreek dat Saartjie met die aanval gaan begin. Sy sal Louis se bene onder hom uitduik en Lina moet hom terselfdertyd omstamp. As Saartjie duik, sal sy ook hard skree: “Kom!” sodat die ander meisies by kan wees sodra Louis grondvat. Hulle hoop nou maar net alles sal wel so uitwerk.
Saartjie en Lina sit nou sommer en gesels oor die vakansie. Nie een van die Drie Muskiete se gesinne gaan weg nie, so hulle bly net hier in Lynnekom.
“Ek wens ons twee en Anna kon saam weggaan na ’n plaas toe, of so iets,” sê Saartjie. “Dit sal so lekker wees.”
Lina dink ook dit sal heerlik wees. Op ’n plaas kan hulle mos baie moleste aanvang. Saartjie dink weer daaraan dat haar ma gesê het daar sal ’n wonderwerk moet gebeur voor hulle kan weggaan. Sy hou nog steeds duim vas vir so ’n wonderwerk.
Terwyl Saartjie en Lina gesels oor hoe lekker ’n vakansie op die plaas sal wees, sit Lynnekom se seuns in die warm son gehurk agter die heining aan die oorkant van die straat. Hulle wens Saartjie wil nou uitkom. Een seun wonder of sy nie dalk aan die agterkant van die huis uitgeglip het nie. Miskien is sy lankal weg en dan hurk hulle nog steeds soos bobbejane hier in die son. Apie en Bennie verseker die seun egter daar is nie ’n hek agter Lina-hulle se huis nie. Saartjie moet weer voor uitkom.
In die huis kyk Saartjie op haar horlosie. Dit is kwart voor vier.
“Ons moet nou gaan,” sê sy. “Anna-hulle kruip seker al weg.”
Toe Saartjie en Lina by die tuinhekkie uitkom, beloer ’n hele ry oë hulle van oorkant die straat af.
Die meisies voel albei skrikkerig vir die taak wat voorlê, maar nie een wil hê die ander een moet iets agterkom nie. Hulle gesels land en sand oor alles onder die son, maar nie ’n woord oor wat vir hulle wag nie. As hulle niks daaroor sê nie, sal Saartjie mos nie uitvind hoe bang Lina is nie en Lina sal ook nie uitvind hoe bang Saartjie is nie.
Met ’n gemaak dapper houding stap die twee meisies in die rigting van die damwal. ’n Entjie agter hulle kom ’n hele swetterjoel Lynnekom-seuns gebukkend aangesluip.
Die meisies stap deur die veld, al met die spruit langs tot by die damwal. Die seuns skuil nou in die lang gras.
Toe hulle teen die kant van die hoë wal waar die ou wilgerboom staan, opklouter, sê Saartjie: “Ek hoop Anna-hulle is al in posisie.”
Die twee het nog nie een van die meisies gewaar nie.
“Ek wonder of hulle ooit hier is,” sê Lina effens benoud.
Die twee staan nou onder die wilgerboom. Hulle kyk stip na al die bosse en struike hier naby die grondwal, maar sien die meisies nêrens nie – nie eens een van hulle nie!
Saartjie en Lina sien die seuns ook nie, want hulle het in die lang gras platgeval. Hul skuilplek is ver van die wal af, maar hulle kan die meisies duidelik sien. Hulle gaan hier lê en kyk wat aangaan en wat Saartjie gaan doen om die boef van Kaapstad so te laat skrik dat hy hulle almal sal uitlos.
Die twee meisies op die damwal se oë is op skrefies soos hulle na die bosse en struike voor hulle kyk, maar hulle sien niks nie.
“Dink jy hulle is ooit hier?” vra Lina weer benoud.
“Natuurlik,” troos Saartjie haarself en Lina. “Hulle kruip net baie goed weg.”
“Ek wens Anna wil nou ’n wit sakdoek waai sodat ons seker kan wees.”
Saartjie wens dit ook. Dit sal vreeslik wees as sy en Lina ’n ou so sterk soos Louis alleen moet gryp en in die water gooi. Sy glo nie hulle sal dit kan regkry nie. Hy is so groot dat hy hulle al twee sommer saam oor sy skoot sal trek en ’n loesing sal gee. Oe, dit sal so vernederend wees! Saartjie wil liewer nie eens aan so iets dink nie.
Skielik sien sy hom aankom.
“Daar’s hy!” sê Saartjie hees.
“Ek stel nie nou in hom belang nie,” mompel Lina. “Ek wil weet waar daardie wit sakdoek is.”
Gelukkig kom Louis uit ’n ander rigting as waarvandaan Saartjie-hulle en die seuns gekom het, anders sou hy hulle gesien het en dit sou Saartjie se hele plan in die wiele gery het.
Lina – en selfs Saartjie – sal egter op die oomblik glad nie omgee as hulle die plan nie meer kan uitvoer nie. Louis kom al nader na die wal toe aangestap en daar is nêrens ’n teken van die ander meisies nie. Dit lyk of daar nie eens een meisie in die omtrek wegkruip nie, wat nog van twintig!
Die twee se koppe swaai vervaard heen en weer soos hulle na Louis kyk en dan weer na die struike en bosse om te sien of hulle nie die sakdoek wat Anna sou waai iewers gewaar nie. Louis word al groter soos hy al nader kom en vir die twee meisies word die atmosfeer al meer onheilspellend.
Saartjie besluit as die ander meisies nie daar is nie, gaan sy maar liewer vriendelik met Louis wees en nie katterig nie. Miskien is hy dan minder gevaarlik.
Louis is nou by die twee.
“Hallo,” groet Saartjie vriendelik.
“Hallo,” sê Lina ook vriendelik.
Albei glimlag, al is dit maar baie floutjies.
Louis groet hulle nie. Hy gluur hulle net woes aan.
“Wat makeer jou om vir my so ’n dreigbrief te skryf?” vra hy bars vir Saartjie en steek sy vinger amper onder haar neus, maar ruk dit dan dadelik weer weg toe hy onthou hoe sy dit laas keer amper afgebyt het.
“Ek het nie gedink dit was so dreigend nie,” sê Saartjie skor – en net toe sy om verskoning wil vra, sien sy uit die hoek van haar oog ’n wit sakdoek agter Louis se skouer waai! Dit is Anna! Sy is hier met die klomp meisies! Saartjie voel sommer soos ’n ander mens.
Lina het die wit sakdoek ook gesien en sy glimlag van oor tot oor.
“Wat lag jy?” vra Louis met sy bulderende stem.
“Wat traak dit jou?” sê Lina astrant. Sy is nou glad nie meer bang nie. Hul maats is daar en hulle is gereed om hierdie boef te pak.
“Oppas vir jou, poplap!” sê Louis gevaarlik. “Ek gee jou sommer saam met jou maatjie ’n pak slae.”
“Hoekom probeer jy nie?” sê Lina uitdagend.
“Ha! Ek wens julle was seuns – dan het ek julle dik getik.”
“Twee klein seuntjies, nè?” sê Saartjie smalend. “Nie ouens wat so groot is soos jy nie!”
“Sjarrap, meisiemens!” brul die boelie en kom dreigend nader.
Saartjie besluit dit is nou die oomblik om tot aksie oor te gaan.
“Kom!” gil sy en duik Louis soos ’n ervare heelagter netjies om sy knieë. Hy is so verbaas en Saartjie het so hard geduik dat hy soos ’n sak patats neerslaan. Lina is te laat om hom te stamp en tuimel bo-oor Louis en Saartjie.
“Gryp sy arm, Lina!” skree Saartjie hees.
Louis spartel om op te kom.
“Is julle mal?” skree hy.
Dan hoor hulle bloedstollende krete. Anna en haar span klouter soos miere teen die wal op om te kom help. Hierdie krete is musiek in Saartjie en Lina se ore.
Net toe Louis vir Saartjie en Lina van hom afstamp en effens regop kom, is die eerste meisies by hom. Hulle duik sonder om te aarsel op hom af en hy is weer plat op die grond. Die meisies pen hom vas en die gewig word al swaarder soos al hoe meer meisies hom toetakel.
Louis se wind is amper uit.
“Los my!” skree hy half histeries. Maar die meisies los nie. Hulle klou net nog vaster.
“Hou sy arms en bene vas!” skree Saartjie skril bo die lawaai van die ander meisiestemme uit.
’n Paar meisies gryp sy regterarm en druk dit styf teen die grond vas. ’n Paar ander gryp sy linkerarm en twee ander groepe druk sy bene vas. Binne ’n paar oomblikke lê die boef van Kaapstad op die grond vasgepen.
Hy is – soos Apie nou opgewonde sê vir die seuns wat alles uit die lang gras lê en dophou – so vas soos vas kan wees!
“Ek wonder wat gaan hulle nou met hom doen?” vra Bennie.
“Hulle gaan hom in die water gooi,” antwoord Apie. “Ek wed jou dis hoekom hulle hom damwal toe laat kom het.”
Die seuns glimlag almal breed. Hulle skuif versigtig nader om beter te kan sien.
Die meisies hou die sterk seun styf vas. Hy spartel, maar dit help niks nie. Hulle is te veel vir hom.
Saartjie staan nou. Sy hoef nie te help vashou nie; daar is vyf meisies by elke arm en been.
Saartjie Baumann troon bo Louis de Jager uit. Sy is nou die bekwame en onverbiddelike leier.
“So ja, meneer die boef, meneer die boelie, meneer die Wes-Kaapse bokskampioen – jou dag van afrekening is hier.”
“Los my!” grom Louis woedend. “Julle maak my arms seer.”
“O so,” sê Saartjie laggend. “En wat van die outjies wat jy die afgelope tyd hier in Lynnekom so geboelie het? Dink jy hulle het nie seergekry nie?”
Louis is maar net soos alle ander boelies wanneer hulle vas is. Hy word nou skrikkerig. Die meisies lyk almal so vasberade.
“Wat … wat gaan julle met my doen?” vra hy. Sy stem klink glad nie meer so bars en buffelagtig nie.
“Jy gaan gou genoeg uitvind!” sê Saartjie.
Louis is nou baie bekommerd.
“Kan jy swem?” vra Saartjie.
“Natuurlik!”
Maar dan is hy dadelik spyt. Dit is nie eintlik waar nie. Louis kan nie juis swem nie. Sê nou net hulle gooi hom in die diep water en hy kan nie weer by die wal uitkom nie?
“Los my!” bulder hy en span al sy krag in om hom los te skud. Maar dit is tevergeefs. Die meisies hang aan hom soos vinke.
“Ons gaan jou in die dam gooi!” sê Saartjie kwaai. “Ons gaan kyk of jy nie ’n bietjie sagter word van die week in die water nie. Dan sal ons weer gesels.”
Die boelie spartel weer, maar hy kan vergeet van loskom.
Louis de Jager is sterk en kan goed baklei, maar eienaardig genoeg is hy baie bang vir water. Al het hy by die see grootgeword, het hy nooit ordentlik leer swem nie. Maar die meisies weet dit natuurlik nie, want toe Saartjie hom nou net gevra het of hy kan swem, het hy mos gesê hy kan.
Die water is so twee meter onder die wal. Saartjie besef dit gaan te gevaarlik wees om Louis op te lig en in te gooi. Hy is so sterk dat hy hom dan maklik sal kan loswikkel.
“Rol hom sommer om,” sê sy en sit ook hand by. Die meisies rol die boef van Kaapstad tot by die wal, gee almal saam ’n stoot – en daar trek hy by die wal af en val pardoems! in die water.
Die meisies gil van die lag en koggel Louis. Sy kop steek net-net uit en hy trap water dat dit ’n naarheid is, terwyl hy die water wat hy gesluk het met ’n boog uitspoeg.
Louis kyk verwilderd rond. Hy hou niks van water nie en dit is gans te ver na die ander kant van die dam toe. Hy swem nie goed genoeg om daar te probeer uitkom nie. Hy sal maar hier by die wal waar die meisies so staan en lag, moet uitklim.
Die boelie het ’n paar treë van die kant af weggedryf en swem nou moedig terug – maar hy swem soos klein kindertjies en honde!
“Ek dog hy kan goed swem,” sê Saartjie. Sy besef hulle sal versigtig moet wees, want hy hou sy kop net-net bo.
Louis is nou by die wal en wil uit die water klim.
Saartjie sê opgewonde: “Wag tot sy hele lyf amper uit is, dan stamp julle hom weer in!”
Louis klouter kreunend uit, maar net toe sy kop en skouers oor die wal verskyn, beveel Saartjie: “Nou!”
Die meisies laat nie op hulle wag nie. Die boef van Kaapstad trek weer deur die lug en val met ’n harde plons in die water.
Hierdie keer neem Louis langer om op te kom en hy spoeg ’n groter straal water uit.
“Asseblief, los my nou,” soebat hy. “Ek kan nie goed swem nie!” Louis trap vir ’n vale water en hoes en proes dat dit ’n aardigheid is.
“Ek is moeg!” kom dit ná ’n rukkie desperaat en dan voeg hy smekend by: “Ek gaan verdrink!”
Die meisies lag nou nie meer so uitbundig nie. Hulle kyk na Saartjie. Sy dink aan hoe die boelie vir Apie en Bennie gekarnuffel het, hoe hy haar beledig het, hoe hy Galpil geslaan het en hoe hy al Lynnekom se seuns gedwing het om vir hom op aandag te staan en hul pette te lig.
Saartjie besluit die boef van Kaapstad is nog nie so moeg dat hy sommer sal verdrink nie. Nee, dit moet ’n les wees hierdie wat hy nooit, ooit sal vergeet nie. Hy moet nog gestraf word.
Saartjie is hard. “Stamp hom weer in,” fluister sy vir die meisies.
Louis dink Saartjie se stilswye beteken hulle gaan hom nie weer ingooi nie en hy sukkel met nuwe moed terug na die kant van die dam toe.
Die seuns skuil nie meer in die gras nie. Hulle kom staan almal nou langs die meisies op die wal.
Die moeë boef van Kaapstad klim kreunend en sopnat uit die water. Saartjie begin hom nou jammer kry, maar hy moet behoorlik boet vir sy geboelie.
Net toe sy kop en skouers weer sukkelend oor die wal verskyn, skree Saartjie: “Nou, ouens!”
En almal stamp weer. Louis trek soos ’n sak mielies deur die lug. Die seuns wat naby genoeg was, het ook gehelp stamp en hy trek nou verder as die vorige twee keer die water in.
Die seuns skater soos hulle lag. Hulle geniet hierdie affêre terdeë.
“Kyk vir die leeu!” skree een outjie opgewonde. “Hy’s nou so mak soos ’n lammetjie!”
Louis se kop kom bo die water uit, maar sak dan feitlik dadelik weer weg. Saartjie hou hom bekommerd dop. Hy kom weer op en trap flou water.
“Dis die laaste keer,” sê Saartjie beslis. “Ons stamp hom nie weer in nie.”
“Asseblief!” sê Louis en sy stem klink nou huilerig. “Help my! Ek gaan verdrink. Laat my asseblief nou uitkom.”
Ja-nee, die sterk leeu is nou so mak soos ’n lammetjie.
“Bly stil!” beveel Saartjie die babbelende kinders om haar.
Almal is stil.
“Wil jy graag uitkom?” vra sy vir die spartelende seun in die water.
“Ja, asseblief!”
“Sal jy ooit weer ’n boelie wees en kleintjies afknou?”
Louis se kop verdwyn weer onder die water en toe hy opkom, spoeg hy ’n hele spuitfontein by sy mond uit. Dan sê hy beteuterd: “Nooit weer nie.”
“Nooit weer wát nie?” vra Saartjie streng.
“Ek sal nooit weer ’n boelie wees nie.”
“Belowe jy dit?”
“Ek belowe. Asseblief, laat ek nou uitkom!”
Maar Saartjie is onverbiddelik. Sy wil seker maak hy het sy les behoorlik geleer.
“Voor ons jou laat uitkom,” sê sy, “moet jy nog een ding doen. Jy moet al die kinders om verskoning vra dat jy hulle so geboelie het.”
Dit lyk of Louis se blus nou behoorlik uit is. Hy probeer nie eens teëstribbel nie.
“Ek vra om verskoning … Laat my asseblief nou uitkom,” pleit hy.
“Nou goed,” sê Saartjie, “ek belowe ons sal jou nie weer instamp nie.”
Louis swem sukkelend na die kant toe. Hy is baie moeg en rus eers ’n rukkie by die wal voor hy uitklim.
“Ek dink hy is nou genoeg gestraf,” sê Saartjie vir die kinders. “As hy uitkom, moet ons hom nie nog uitkoggel nie. Laat hom maar net sy gang gaan.”
Louis klim moeg teen die wal uit. Toe sy kop bokant die rand uitkom, kyk hy bang na die kinders. Hy verwag dat hulle hom weer gaan instamp.
“Toemaar, gee vir ons jou hand,” sê Saartjie gerusstellend. Sy en ’n paar kinders trek hom teen die wal op.
Louis lê en hyg na asem. Hy lyk glad nie meer so sterk in sy nat klere nie. Nie een van die kinders is meer bang vir hom nie. Die klein outjies, wat almal goed kan swem, sou hom weer in die water gegooi het as Saartjie hulle nie belet het nie.
Nadat hy ’n bietjie gerus het, staan die Kapenaar op en skud hom soos ’n nat hoender af.
“Jy het ’n belofte gemaak,” sê Saartjie streng, “en jy gaan dit nou nakom, hoor?”
Louis kyk na die klomp en dan na die water onder hom.
“Ja,” sê hy, “ek sal woord hou.”
En hiermee vat Louis die pad. Nie een van die kinders lag nie. Hy lyk pateties soos hy papnat en druipstert daar wegstap. Sy selfvertroue is heeltemal geknak.
“Hy sal ons nooit weer probleme gee nie,” sê Saartjie sag.
En sy is reg. Louis los hulle heeltemal uit. Hy hou woord en boelie niemand weer nie. Saartjie het natuurlik ook woord gehou. Sy het almal belowe sy gaan die boef van Kaapstad ’n les leer en sy het dit gedoen.
’n Paar dae later gaan Louis terug Kaap toe. Saartjie en die ander kinders is seker hy sal hulle nooit weer lastig val nie.
Dit is uiteindelik die laaste skooldag en die kinders baljaar na hartelus. Saartjie moet na verskillende klasse toe gaan en bekende rolprentsterre naboots. As die onderwysers nie in die klasse is nie, aap sy hulle ook sommer na en die kinders geniet dit vreeslik. Daar word nie op die laaste dag meer aan skoolwerk gedink nie.
Saartjie, Anna en Lina is die ene glimlagte, want hulle het al drie baie goed gevaar in die eksamen. Saartjie staan sowaar eerste in die klas!
Toe hulle die middag met die bus huis toe ry, is die Lynnekommers besonder uitgelate.
“Julle weet,” sê Saartjie vir Anna en Lina, “as ons drie nou net saam kon gaan vakansie hou het, sou alles perfek gewees het.”
“Ja, ’n vakansie op ’n plaas,” voeg Lina met ’n sug by.
“Ons sal soveel pret hê,” sê Anna en sug ook.
“Maar my ma het gesê daar sal eers ’n wonderwerk moet gebeur,” sê Saartjie en sug die hardste van die drie.