Читать книгу Saartjie Omnibus 6 - Bettie Naudé - Страница 6

1

Оглавление

Hier’s ons weer!

Al is Lynnekom ’n voorstad van Johannesburg, heers daar nog ’n tipies plattelandse atmosfeer hier. Die mense wat hier woon, voel hulle bly in ’n klein dorpie.

Lynnekom lê in ’n pragtige vallei tussen twee heuwels. Teen die helling van die een koppie staan dokter Jan Baumann se groot dubbelverdiepinghuis en dit is waar Saartjie woon. Haar kamer is op die boonste verdieping en as dit mooiweer is, kan sy Johannesburg se wolkekrabbers duidelik op die horison sien.

Dit is deesdae besonder stil in Lynnekom. Hier is vir ’n verandering rus en vrede. Die kinders – gewoonlik met Saartjie aan die voorpunt – baljaar nie soos gewoonlik nie. Dit is amper die einde van die kwartaal en eksamentyd. Soggens is die kinders op skool en in die middae sit hulle net agter hulle boeke en leer … en leer …

Die grootmense geniet hierdie ongewone stilte en vrede natuurlik terdeë. Hulle wens eintlik die kinders skryf altyd eksamen!

In Saartjie se kamer is dit ook doodstil. Sy sit en leer, al is die boeke voor haar toe. Sy volg die wenk wat die hoof vanoggend vir hulle gegee het: Hulle moet leer totdat hulle dink hulle ken die werk en die handboek dan toemaak en vir hulleself vrae oor die werk vra.

Dit is wat Saartjie nou doen. Sy is besig om haarself te toets, maar dit werk nie so goed nie. Haar gedagtes dwaal aanhoudend af van die vervelige vak wat sy oormôre moet skryf – natuurwetenskappe.

Sy dink aan die verskillende eksperimente. Wat moet sy nou weer alles in die proefbuis verhit? Sy dink aan verskillende simbole. Sy wonder hoekom vaste stowwe en gasse en sulke goed nou eintlik simbole moet hê. Water is H2O – maar hoekom kan ’n mens nie sommer net van water praat nie?

“Aag,” sê Saartjie hardop vir haarself en sug moedeloos. Haar gedagtes dwaal al verder van die droë leerwerk af weg.

Saartjie Baumann is veertien jaar oud en in graad nege aan die beroemde Hoërskool Saamwerk in die stad. Sy is ’n mooi, lewenslustige meisie met kort, donker krulhare en helderblou oë. As sy glimlag, verskyn daar twee kuiltjies in haar wange en daar is ’n paar oulike sproetjies op haar effense wipneus se brug.

Saartjie se twee boesemvriendinne, wat ook in Lynnekom woon, is Anna Strydom en Lina Rens. Hulle drie is in dieselfde klas en al jare lank maats. Die meisies staan van hul laerskooljare af bekend as die Drie Muskiete. Anna woon net langsaan Saartjie-hulle.

Saartjie en Anna is al maats vandat hulle babas was. Lina het eers by hulle aangesluit toe hulle in graad vier was.

Lynnekom se mense het al ’n spreekwoord wat sê: “Waar Saartjie is, gebeur daar altyd iets,” maar op die oomblik is dit nie die geval nie. Saartjie is te besig om te leer. Of ten minste, sy probeer, maar eintlik sit sy die meeste van die tyd net voor haar en uitstaar.

Saartjie dink aan Anna en Lina. Sy wonder met watter vak hulle besig is. Die graadneges skryf môre sosiale wetenskappe. Saartjie leer dit nie, want sy hoef nie – sosiale wetenskappe is een van haar sterk vakke. Maar natuurwetenskappe!

“Gonna!” sê Saartjie weer hardop vir haarself en sug vir die soveelste keer swaar. “Ek sal moet leer!”

Sy dwing haar dwalende gedagtes terug na natuurwetenskappe toe, maar dit is nie lank nie of sy dink aan alles behalwe proefbuise en simbole.

Dit is so lekker buite in die son en hier moet arme sy nou tussen vier mure sit en leer – amper soos ’n gevangene in die tronk.

Dit is so stil en warm in die tuin dat sy die sonbesies duidelik kan hoor sing. Saartjie wonder wie het skool uitgevind. Maar eintlik is skool nie te erg nie. Sy wonder meer wie eksamens uitgevind het. Skoolgaan sou heel lekker gewees het as dit net nie vir eksamens was nie. Saartjie se gedagtes flits nou van die een onderwerp na die ander – dinge wat hoegenaamd niks met skoolwerk te doen het nie.

Sover was dit ’n baie goeie jaar. Sy het, soos haar boetie Apie sou sê, sommer propperlies naam gemaak. Saartjie het twee goue medaljes vir klavierspeel op die kunswedstryd gewen en sy het in die eerste kwartaal se swemgala vyf eerste plekke losgeswem!

Saartjie glimlag salig by hierdie gedagte. Volgens die skoolhoof het ’n leerder nog nooit in die skool se geskiedenis so ’n prestasie behaal nie. Sy was boonop ook die onder-vyftien-netbalspan se kaptein en het seker gemaak hulle wen die beker in hul afdeling.

Ja-nee, dit was ’n fantastiese jaar, alhoewel Saartjie aan haarself moet erken dat dit miskien nie op die gebied van skoolwerk so fantasties gegaan het nie. Die akademie het vanjaar nie tweede by haar gekom nie, maar omtrent sesde!

En nou het die dag van afrekening aangebreek. Dit is eksamentyd.

“Maar nou sit ek nog steeds aan ander goed en dink in plaas daarvan om te leer,” prewel Saartjie toe sy agterkom hoe haar gedagtes al weer al hoe verder weggedwaal het.

Sy dink nou aan die nuwe mense wat onlangs Lynnekom toe getrek het, en aan die vakansie.

Haar pa is te besig by sy praktyk, so hulle gaan nie vir hierdie tien dae weg nie, behalwe as daar miskien ’n wonderwerk gebeur. Saartjie hoop met haar hele hart dinge verander oornag en hulle kan wel ’n bietjie weggaan.

Dit is darem snaaks dat die Kaapse skole al klaar gesluit het. Sy wonder hoekom al die provinsies nie op dieselfde tyd vakansie kry nie. Sy wonder ook oor die nuwe intrekkers se sestienjarige seun wat in die Kaap skoolgaan. Die De Jagers het sommer met die intrapslag al trots vir almal in Lynnekom van hom vertel. Sy naam is Louis en hy is glo sterk en slim en alles wat wonderlik is.

Saartjie glimlag. Sy sal daardie ou graag self wil sien om seker te maak hy is regtig so wonderlik soos wat sy pa en ma sê hy is. Sy het gehoor hy kom vir die vakansie Lynnekom toe nadat die Kaapse skole gesluit het. Dit beteken Louis de Jager is seker nou al hier. Wanneer sy klaar geleer het, gaan sy ’n draai daar verby die nuwe mense se huis stap en kyk of sy die wonderwerk iewers sien.

Maar Saartjie moet nou eers leer en nie so aan allerhande goed sit en dink nie. Sy probeer konsentreer. Haar voorkop is eintlik geplooi. Sy loer vinnig spieël toe om te sien hoe sy lyk as sy so hard konsentreer.

Saartjie hou van wat sy in die spieël sien. Dit lyk nogal indrukwekkend as sy so sit en konsentreer. Sy lyk vreeslik geleerd as sy so frons. Sy knipoog vir haarself en glimlag. Sy hou daarvan en knipoog weer.

Haar gedagtes begin weer afdwaal. Sê nou maar net sy is eendag ’n beroemde aktrise in Hollywood en die flieks waarin sy die heldin is, kom wys hier in Lynnekom? Dan sal daar groot plakkate van haar wat so knipoog by die fliek opgeplak wees. Die Lynnekommers sal trots daarna kyk en sê: “Ai, dié Saartjie tog! Ons het haar goed geken. Sy het hier tussen ons grootgeword.”

Maar vreemdelinge – mense wat eers jare later hier in Lynnekom kom woon het – sal hulle nie wil glo nie. Dit is mos onmoontlik dat hulle die wonderskone, wêreldberoemde Saartjie Baumann as kind geken het!

Saartjie kyk weer na haarself in die spieël en besluit dit sal dalk beter wees as sy liewer nie knipoog nie. Dit lyk te kinderagtig en sal nie pas by die rolle wat sy gaan speel nie. Sy wil ’n dramatiese aktrise wees, iemand wat so oortuigend toneelspeel dat die mans in die gehoor ’n knop in die keel kry en die vrouens sommer hardop huil. Sy wil ’n tragiese heldin wees – ’n beeldskone “damsel in distress” soos wat haar Engelse voorgeskrewe boek op skool dit noem.

Die natuurwetenskappe is nou heeltemal vergete. Saartjie het ’n geweldige sterk verbeeldingskrag en lewe haar in ’n droomwêreld van haar eie in. Sy glimlag op haar heel mooiste terwyl sy in die spieël sit en kyk en wonder hoe ’n tragiese heldin nou eintlik lyk.

Sy draai effens skuins sodat sy kan sien hoe so ’n heldin se profiel lyk – en stamp met haar elmboog teen die dik handboek vir natuurwetenskappe. Die boek val met ’n harde slag op die vloer en Saartjie wip soos sy skrik. Al haar drome van ’n verruklike mooi aktrise wat ongelooflik dramatiese hoofrolle vertolk, is verpletter.

Saartjie tel die boek met ’n wrang glimlag op. Die wêreldberoemde aktrise sal nou moet leer – baie hard moet leer van gasse, vaste stowwe, molekules, vergelykings, simbole en wie weet wat nog alles.

Saartjie probeer ’n wet in haar kop kry. Dit word Boyle se Wet genoem. Sy lees dit twee keer deur, maak die dik boek dan toe en toets haarself.

“Nou toe, Saartjie,” sê sy streng en loer vinnig om te sien hoe sy lyk as sy die rol van ’n kwaai onderwyseres speel, “verduidelik vir my Boyle se Wet.”

Saartjie se voorkop is een groot frons soos wat sy dink oor wat sy nou net geleer het.

“Boyle het ’n ding uitgevind wat iets met gasse te doen het,” sê sy sag vir haarself. “En toe het hy ’n formule of so iets uitgewerk wat sê die druk wat ’n gas uitoefen, is omgekeerd eweredig aan die volume wat die gas inneem.”

Saartjie dink hieroor na en voeg dan weer saggies by: “Of so iets.”

Nee wag, dit klink verkeerd. Moet die volume nie omgekeerd eweredig aan die gas wees nie? En wat beteken omgekeerd eweredig nou eintlik? Saartjie sug en trek die dik boek weer nader. Sy weet nog net mooi niks nie. Sy sal nou regtig ernstig moet begin leer.

Sy begin Boyle se Wet weer aandagtig deurlees. Skielik kom daar voetstappe by die trap opgestorm en sy weet sommer dit is Apie. Sy hoop nie hy kom hier in om allerhande stories te verkoop nie. Sy moet nou hard leer.

Apie is Saartjie se tienjarige boetie. Hy is ’n ondeunde sproetgesig wie se twee voortande in hul afwesigheid skitter. Hy het een middag by die huis gekom en vir sy ouers, Saartjie en sy oudste broer, Kris, wat al op universiteit is, vertel hy het uit ’n boom geval. Apie kon die feit dat hy boonop ’n blouoog gehad het egter nie mooi verklaar nie. Dit moet seker ook maar van die val uit die boom wees, maar hoe presies dit gebeur het, weet hy nie.

Almal het in die stilligheid gewonder met wie hy baklei het, maar niemand het dit gewaag om ’n woord daaroor te sê nie. Nee, hy het net plein (soos hy sê) uit ’n boom geval en dit is mos nou nie so moeilik om te verstaan nie, is dit?

Saartjie hoor hoe Apie verby haar kamer hardloop en by sy slaapkamer ingaan. Sy slaak ’n sug van verligting en begin weer leer.

Dit is ’n rukkie lank doodstil. Saartjie probeer hard om Boyle se Wet te verstaan. Sy is seker hulle gaan ’n vraag daaroor in die eksamen kry. Sy wens sy het nie die dag toe Ou Grompot hierdie wet so sorgvuldig verduidelik het in die klas gesit en droom nie. As sy toe opgelet het, sou sy nou alles verstaan het.

Skielik draai Saartjie haar kop effens skuins. Sy verbeel haar sy hoor iets wat klink soos iemand wat huil. Sy luister aandagtig en hoor dan duidelik die snikke. Dit is Apie!

Saartjie frons. Dis eienaardig. Apie is mos ’n taai outjie. Hy huil nie maklik nie. Sy wonder wat is verkeerd. Saartjie probeer weer op haar werk konsentreer, maar dit klink nie of die snikke bedaar nie.

Saartjie is nou baie bekommerd. Sy wonder wat makeer Apie. Hoekom huil hy so? Sy en haar boetie baklei nou wel baie, maar soos hy self ook eendag gesê het, hulle staan saam teen die buitewêreld.

Sy staan op en loop vinnig na Apie se kamer toe.

Hy hoor haar aankom, gryp die handdoek wat oor sy stoel hang en vee sy oë haastig daarmee af.

Toe Saartjie aan sy deur klop, is sy gesig skoon. Net sy oë blink nog en is effens rooi.

“Kom in,” sê Apie wat kastig gemaklik op sy bed sitlê.

“Wat makeer jou?” vra Saartjie toe sy in die kamer kom.

“Hoekom?” Apie probeer verbaas lyk en byt op sy onderlip.

“Hoekom sit jy hier en huil?”

“Ek huil nie!” sê hy kwaai, en net om vir haar te wys hy is nie ’n tjankbalie nie, wikkel hy sy sproetneus op en af en maak sommer ook ’n paar sisgeluide deur die opening waar sy twee voortande sou gewees het as hy nie – soos hy sê – uit ’n boom geval het nie. Saartjie moet mos nou weet sy soek vir moeilikheid!

Saartjie kom sit op die stoel langs die bed. Sy ken haar boetie baie goed. Hy probeer dapper wees, maar sy sien die trane wat in sy oë blink.

“Kom nou, uit daarmee,” sê sy simpatiek. “Wat makeer, Apie?”

“Niks,” brom hy en kyk stip na sy skoenpunt wat ingeduik is van al die blikke en klippe wat hy gedurig loop en skop.

“Hoekom vertel jy my nie maar nie?” moedig Saartjie hom aan. “Miskien kan ek help.”

Apie, wat nou regop sit, skop-skop na die balpatroon op die mat, amper asof hy dit wil wegskop.

“Ek het gehoor hoe huil jy,” sê Saartjie sag. Sy glimlag vriendelik.

“Dis oor dit so deksels seer was,” mompel hy.

“Wat was so seer?”

“My kop.” Apie vryf met albei hande oor sy kop.

“Het jy hoofpyn?” vra Saartjie.

Nee, hy het nie hoofpyn nie, verduidelik Apie, maar sy kop is seer – sy hele kop.

“Jy’t nie hoofpyn nie, maar jou kop is seer?” vra Saartjie fronsend. Dit maak nie vir haar sin nie.

“Jou kop sou ook seer gewees het as ’n ou bondels hare daaruit getrek het!” sê Apie vies.

“Maar wie het dit aan jou gedoen?” wil sy weet.

“Jy ken die ou nog nie!”

Apie skuif effens nader aan Saartjie.

“Kom ek vertel jou alles,” sê hy en sy tong se rooi voorpunt speel deur die opening voor in sy mond. Hy weet goed daar is niemand behalwe hulle twee in die kamer nie, maar hy loer nogtans vinnig oor sy skouer net om heeltemal seker te maak. Hy hoop hierdie geheimsinnige houding sal ’n indruk op Saartjie maak.

En dit werk. Saartjie sit met groot oë na hom en kyk. Sy wonder wie het sy hare so uitgepluk.

Apie begin in ’n fluisterstem vertel: “Ek het van Bennie af gekom en heeltemal ordentlik op die sypaadjie geloop sonder om met iemand te sukkel of iets, maar toe kom ’n ou by my verby en omdat ek nie vinnig genoeg vir hom padgee nie, stamp hy my sommer dat ek dáár trek.”

Apie sit met gebalde vuiste. Daar is ’n frons op Saartjie se voorkop. Lynnekom se kinders is vol pret en streke, maar nie een van die groter ouens sal Apie of een van die kleiner outjies sommer net so uit die pad stamp nie. Saartjie wonder wie die ou is wat dit gedoen het, maar weet dit sal nie help om te vra nie. Apie sal op sy eie tyd en op sy eie manier vir haar sê.

“Wel,” gaan Apie verder en sy oë blink weer van die trane, “ek staan toe op, stof my af en gaan staan voor die ou en bekyk hom van kop tot tone. Maar toe dink ek dis miskien beter ek tekkel hom nie, kos hy’s ’n groot ou.”

Saartjie besluit om haar boetie liewer nie nou oor die vingers te tik oor sy taalgebruik nie – hy is al klaar ontsteld genoeg. Apie gebruik die woord “kos” baie. Maar vir hom beteken dit nie “eetgoed” nie, dit beteken “omdat”. Apie vertaal die Engelse woord “because” met “kos why” in Afrikaans – en hy het dit verder tot “kos” verkort. Saartjie weet nie van enigiemand anders in die wêreld wat dit doen nie en kry baie keer nogal lag vir haar boetie wat so sy eie woorde opmaak.

“Soos jy weet,” gaan Apie voort, onbewus van hoe snaaks hy ’n storie vertel, “ek het nie ’n bang haar op my kop nie. Maar hierdie onbeskofte ou is ouer en baie groter en hy lyk so sterk soos ’n leeu. Toe besluit ek om hom nie te tekkel nie, kos dit kan miskien gevaarlik wees. So, toe vra ek hom mooi en baie vriendelik of hy miskien dink hy is snaaks. En toe vra hy hoekom, en toe sê ek omdat hy my sommer so oor niks uit die pad uit stamp. En weet jy wat doen hy toe?”

Saartjie skud haar kop. “Nee, wat?”

“Hy stamp my weer dat ek sommer so trek oor die grond!” Apie maak verontwaardig sisgeluide deur die opening voor in sy mond.

“En voor ek nog kon opstaan,” gaan hy vinnig voort, “om hom te gryp – groot ofte nie – pluk hy my toe aan my hemp op en skud my dat my tande op mekaar klap en my pet skoon van my kop af val. Hy het my so rondgeruk dat ek niks kon doen nie – heeltemal niks nie.”

Saartjie byt effens op haar onderlip en vee die krul op haar voorkop met die rugkant van haar hand weg. Sy is vies en haar oë skiet vonke. Sy wonder wie hierdie vent kan wees.

“En toe?” vra sy kil vir Apie.

“Toe pluk hy my met sy twee groot kloue aan my hare rond dat ek eintlik hik en sê as hy ooit weer by my verbystap, moet ek op aandag gaan staan, my pet hoog in die lug oplig en hom ordentlik groet. My kop was so seer van die rondrukkery aan my hare dat ek sommer net daar belowe het ek sal dit doen. Toe druk hy sy vinger onder my neus in en sê ek moet onthou hy trek my velle van my lyf af as ek nie my pet lig as ek hom sien nie. En toe loop hy en sê oor sy skouer hy’s Louis de Jager van Kaapstad en hy gaan vir Lynnekom se kinders maniere leer.”

Apie se storie is klaar. Hy sug mismoedig en staar hartseer voor hom op die vloer.

“Die lewe gaan moeilik wees met so ’n … so ’n dinges hier in Lynnekom.”

“Jy bedoel so ’n boelie.”

Apie knik sy kop. Dit is wat hy bedoel. Hy haat net die woord “boelie”, want dit laat hom so klein en simpel voel.

Saartjie se vuiste is gebal. Sy is woedend. Hoe durf die kastig wonderlike Louis de Jager haar boetie so afknou? Hy gaan boet hiervoor!

“Toemaar, Apie,” troos sy, “ons sal sien wat ons sal sien.”

Saartjie weet nog nie wat hulle sal sien nie, maar sy sal wel aan ’n plan dink. Die boelie van Kaapstad sal betaal vir wat hy aan Apie gedoen het en ook vir wat hy van Lynnekom se kinders gesê het. Boelies word nie hier toegelaat nie. Hy gaan nog bitter spyt wees – sy wat Saartjie Baumann is, gaan daarvoor sorg!

“Jy sê hy is sterk?” vra Saartjie.

“So sterk soos ’n leeu,” sê Apie weer ernstig.

Saartjie probeer dink. Sy self kan natuurlik niks doen nie. Sy kan darem nie teen ’n ou wat so sterk soos ’n leeu is, gaan staan en baklei nie! Meisies – of jong dames – baklei mos nie. Dit is ’n seun se werk.

Nou dink Saartjie aan die seuns hier in Lynnekom. Sy dink aan ouens wat sterk is en goed kan baklei. Haar gedagtes kom elke keer weer terug na een persoon toe – Galpil.

Galpil – sy regte naam is Lodewyk le Fras de Waal – woon ook al jare lank in Lynnekom. Hy was ’n jaar of wat gelede vir ’n paar dae Saartjie se kêrel. Hul verhouding het tot ’n einde gekom toe Saartjie hom nie sover kon kry om op te hou om ’n ieder en ’n elk as “ou perd” of “pêrre” aan te spreek nie. Albei was eintlik baie verlig toe die skielike romanse net so ’n skielike dood sterf.

Galpil se twee boesemvriende is Gert Bakker en Piet Heyns. Hierdie drie is altyd saam en hulle was al die jare hier in Lynnekom se laerskool. Hulle is nou ook saam met Saartjie, Anna en Lina in Johannesburg se bekende Hoërskool Saamwerk.

Saartjie glimlag terwyl sy aan Galpil dink. Sy weet nie veel van baklei af nie, maar hy is mos veronderstel om goed daarmee te wees – en hy is boonop nog sterk ook.

En wie sê in elk geval daar gaan ooit ’n bakleiery wees, dink sy by haarself. ’n Boelie is mos altyd ’n papbroek. As Galpil dreig om Louis bloedneus te slaan sal die Kapenaar sommer net so ophou met sy geboeliery.

Ja-nee, Galpil moet uitvind wat gebeur het. Die hele Lynnekom se eer is op die spel. Miskien sal dit nie eens nodig wees dat sy Galpil vertel nie, dink Saartjie. Lynnekom is ’n klein plekkie en hy en Louis de Jager sal mekaar mos die een of ander tyd raakloop – en dan sal hulle tien teen een vassit. Galpil hou niks van boelies nie.

“Toemaar, Apie,” troos sy weer, “iets sal gebeur en die boelie sal op sy plek gesit word. Moenie jou verder aan hom steur nie en moenie jou pet lig as jy hom weer sien nie. Wie dink hy miskien is hy?!”

Apie dink hieroor na en besluit dit is nie goeie raad wat Saartjie nou vir hom gee nie.

“Onthou net, die ou is so sterk soos ’n leeu en ek wil nie hê hy moet my velle van my lyf af trek nie!”

Dit is duidelik dat Apie baie groot geskrik het. Sy moed is skoon gebreek.

Saartjie wens sy kan die boelie sien. Sy wil baie graag met hom praat. Sy is nie bang vir hom nie.

“Ek sal hom nog ontmoet,” sê sy. “Hy is glo hier by sy pa en ma vir die vakansie. Vergeet nou van die storie, Apie,” sê sy en staan op. “Ek is baie besig met die eksamen, maar sodra dit verby is, sal die dag van afrekening kom. Dan sal ons vir Louis de Jager ’n les leer.”

Saartjie gaan terug na haar kamer toe en sit met haar handboek vir natuurwetenskappe voor haar. Sy kon al vóór sy van die voorval met Apie gehoor het nie lekker konsentreer nie, maar nou kan sy glad nie meer haar aandag by haar skoolwerk bepaal nie. Sy dink die hele tyd aan Louis de Jager. Dat daar sulke boelies op aarde kan wees – en boonop hier in Lynnekom!

Uiteindelik besluit Saartjie sy sit net en tyd mors. Sy sal gou na Anna toe gaan en vir haar vertel wat gebeur het, dan kan hulle twee na Lina toe gaan. Lina sal Boyle se Wet vir my verduidelik, dink Saartjie om haar gewete te sus. Lina kry mos altyd die hoogste punte in natuurwetenskappe.

Saartjie het ná skool ’n gemaklike toppie en kniebroek aangetrek om lekker te kan leer. Sy sit nou gou ’n bofbalpet skeef op haar kop en is vinnig by die huis uit.

Voor die Baumanns se huis is daar groot betonblokke op die sypaadjie. Toe die plaveisel vier jaar gelede daar gelê is, het Saartjie besluit sy gaan nooit daaroor loop nie, maar altyd van die een na die ander spring sonder om aan die gleuwe tussenin te raak. As sy aan ’n gleuf raak, moet sy van voor af begin. Nugter alleen weet hoekom sy so besluit het, maar sy doen dit sedertdien nog altyd.

Saartjie is deesdae vies as sy moet begin spring. Sy is darem al veertien en sy weet dit is ’n belaglike gewoonte, maar sy kan nie daarmee ophou nie. Sy is doodseker as sy die dag nie oor die blokke spring nie, sal daar iets vreesliks met haar gebeur.

Saartjie is nou by die hekkie. Sy druk die pet stywer op haar kop en begin spring. Ná al die jare van oefening spring sy vinnig en sekuur van die een blok na die ander. Sy hou ver van die gleuwe af.

Sy kom sonder om aan een gleuf te raak aan die ander kant van die plaveisel en hardloop by Anna se huis in.

Saartjie gaan na haar vriendin se kamer toe. Anna sit en leer sosiale wetenskappe.

“Haai,” groet Saartjie.

“Haai jouself,” groet Anna op die tipies Lynnekomse manier terug en stoot die boek voor haar eenkant toe. Sy is al moeg geleer.

Anna het ’n oop, ronde gesig en ’n baie goedige geaardheid. Sy is dieselfde ouderdom as Saartjie en het groot bewondering vir haar.

“Wat’s nuus?” vra sy en rek haar uit.

“Baie,” sê Saartjie en kom sit op die bed.

“So?” Anna se wenkbroue is vraagtekens. Sy kom sit langs haar vriendin op die bed.

Saartjie vertel vir haar alles wat Apie vertel het. Anna se oë is groot en sy bal ook haar vuiste.

Toe Saartjie klaar vertel het, sê Anna kwaad: “Daardie boelie moet ’n les geleer word.”

“Dis wat ek ook sê,” antwoord Saartjie. “Kom ons gaan vertel vir Lina.”

Anna is maar te bly om ’n verskoning te hê om op te hou leer.

Die twee vriendinne loop gesels-gesels na Lina se huis toe.

Lina sit en leer in haar kamer, maar toe sy hulle sien, stoot sy haar boeke met ’n sug van verligting weg.

“Haai,” groet sy.

“Haai jouself,” groet die twee en kom sit op haar bed.

“Hier’s ons weer,” sê Lina laggend.

“Ja, hier’s ons weer,” sê Saartjie en Anna byna tegelyk.

“So wat’s nuus?” vra Lina.

“Groot nuus,” sê Anna en haar oë is so groot soos pierings.

“Groot moleste,” sê Saartjie en haar oë vonkel ondeund.

Die Drie Muskiete is weer saam en die groot moleste gaan nou begin.

Saartjie Omnibus 6

Подняться наверх