Читать книгу Tienerharte 2: Hartbreker - Cecilia Steyn - Страница 4
Stefan
ОглавлениеEK STAAN NOG onder die stort toe die deurklokkie lui. “Toemaar, Loverboy, ek sal dit kry,” skree Dewald in die gang af.
Dit beter nie Surette wees nie. Vanmiddag se gesprek tussen my en haar kom weer by my op. Ons was in haar woonstel. Alles in die plek is omtrent pienk. My lyf het skoon begin jeuk.
“Moet ek jou kom oplaai?” het sy my gevra.
Op watter planeet kom haal ’n meisie ’n ou vir ’n date? Nee, ek is seker sy het ’n verskuilde agenda. Sy wil haar voet in die deur kry. My woonsteldeur, om presies te wees. Maar sy is die tipe meisie vir wie ’n mens ’n prentjie moet teken as jy wil hê sy moet iets verstaan.
Ek wil juis nie hê sy moet hier begin uithang nie. Voor ’n ou sy oë uitvee, kom doen sy elke dag kamma iets anders, en kort voor lank het ek ’n leiband om my nek en is ek so pligsgetrou soos ’n gidshond. Nee dankie, dis nie vir my nie.
“Glad nie nodig nie. Ons kry mekaar by die restaurant,” het ek vinnig gekeer. “Ek dink net ons moet ’n bietjie misterie tussen ons behou,” het ek aan haar verduidelik.
Sy het stadig geknik asof sy eers die brokkie inligting moes prosesseer. Nie dat ek sal omgee om in haar nuwe Porsche te ry nie, ek sal hom sommer wil bestuur ook. Maar so lief vir ’n kar is ek nou nie.
Ek vee die stoom van die badkamerspieël af en trek my vingers deur my nat hare. My oë trek op skrefies, om myself van nader te bekyk. Ek oefen my signature sexy glimlag. Die een wat glo die meisies se knieë lam maak. Jip. Ek lyk goed, al moet ek dit nou self sê. Ek vryf my hare vinnig met die handdoek droog en glip ’n T-hemp oor my kop voordat ek my geliefde paar Levi’s aantrek.
Vanuit die gang hoor ek stemme in die kombuis en ek besluit om te gaan groet.
“Hi, Stefan,” sing Megan, my sus. Dankie tog. Dit is darem nie Surette nie. Dit beteken my preek het gewerk!
Megan gee my ’n drukkie. Sy het natuurlik by Dewald kom kuier. Agter haar staan Ciska, haar vriendin. Ciska leun met haar rug teen die kombuiskas.
Megan en Ciska bly saam in Huis Jordaan, of beter bekend as Sop, Hoërskool Jan van Riebeeck se meisieskoshuis in Kaapstad, waar hulle dié jaar in matriek is.
Toe Megan en my pa verlede Desember van Johannesburg af Paternoster toe getrek het, het die twee Ciska se ma oortuig sy moet saamtrek. Hulle kan glo nie sonder mekaar asemhaal nie.
Ciska se rooi hare hang in woeste krulle oor haar skouers. Daai rooi hare is net so rebels soos sy. Sy het nie grimering aan nie en haar sproete is duidelik sigbaar. Sy is nie soos ander meisies wat dit toesmeer met onderlaag of sulke goed nie, nee, sy dra haar sproete met trots en dit pas perfek by haar.
“Hi,” sê Ciska. “Ek het die nuwe The Last Of Us saamgebring. Wil jy saamspeel?” vra sy en hou die TV-speletjie na my toe uit. Ek kan nie help om te wonder of dit is hoe Eva destyds vir Adam in die paradys verlei het nie.
Die beeld wat my in Paternoster verlede Desember begroet het, speel steeds soms in my gedagtes af. Ons was almal gedaan nadat een van Dewald se eks-girlfiends besluit het om vir Megan te ontvoer. Alles te danke aan my.
As ek Dewald toegelaat het om my suster te date, sou dit nie gebeur het nie. Dan sou sy nooit alleen in die middel van ’n storm die pad gevat het nie. Ek verwyt myself nou nog daaroor. Toe die petalje verby was, was ons so verlig. Dis ’n nag wat ek nooit weer oor wil hê nie.
Nodeloos om te sê, ek gee glad nie meer om dat my beste pel my sussie date nie. Ek het hom verseker ek sal sy nek breek as hy haar hart sou breek. So far so good. Hulle is nog baie gelukkig, en dis nou al maande later.
Ek onthou nog hoe ons ontbyt in Ma se kombuis geëet het. Ma en Pa het aangekondig hulle gaan die goue strop om die nek nog ’n kans gee. Nadat Ma en Pa Hartklop toe is, het ek vir Megan en Dewald alleen gelos en met die trappe opgedraf na my woonstel op die boonste verdieping.
Ek het water in my badkamer gehoor. My eerste gedagte was ek het seker ’n kraan oopgelos. Toe ek die badkamer binnestap, het die mooiste engel met rooi hare my begroet. Met ’n helse gil natuurlik. Die stort se glas was toegewasem. Al wat ek kon sien, was haar sexy bene en bloedrooi nat hare wat aan haar kaal skouers vaskleef.
Dit was alles toe net ’n hengse groot misverstand. Ciska het vir Megan kom kuier. Sy moes eintlik by die onderste huis gaan klop het, maar ’n mens sien nie die voordeur van die straatkant af nie.
Ciska het gedink ons is nog by die hospitaal om vir Megan te gaan haal en sy het solank ingegaan en gaan stort. Soos Gouelokkies in Die Drie Bere. In dié geval het Gouelokkies bloedrooi lokke soos ’n kaggelvuur op ’n koue wintersaand. Ek wens ek kan die beeld uitvee. Ek dink ek het daardie dag vir die eerste keer in my lewe gebloos.
Ciska glimlag vir my en daar is dit weer: daai snaakse pyn wat ek deesdae oor my hart kry. Amper soos sooibrand. Maar dis nie sooibrand nie, ek kry dit net as sy naby is. As ’n dokter my sou vra, sou ek moes erken ek het hierdie gevoel al van Desember af. Dit het min of meer begin die dag toe Ciska Rossouw in my lewe gekom het, maar vir die rekord: ek is nie verlief nie en ek sal ook nooit verlief raak nie.
“Hi, Pepper. Wat maak julle hier op ’n Donderdagaand?” vra ek verbaas. Ek noem Ciska Pepper, nie omdat ek haar wil spot oor haar rooi hare nie, maar omdat ek mal is oor die manier hoe sy na my kyk as ek dit sê.
Ciska gee my een van daai kyke wat die belofte van ’n noodlottige besering inhou, en daai warm gevoel kruip weer oor my borskas. Ek wonder of sy weet hoe sexy sy is as sy so deur haar wimpers vir my kyk en haar oë op skrefies trek.
Is hulle nie veronderstel om te leer nie? Ek stap na Ciska toe om die speletjie van nader te bekyk. Ek vat dit uit haar hand. Ons vingers raak liggies aan mekaar en ek kan sweer ek het haar na haar asem hoor snak. Ek staan langs haar terwyl ek die kassie bestudeer. Die geur van haar parfuum laat my dieper asemhaal. Dit laat my dink aan ’n dromerige sonskyndag.
“Megan het te veel verlang en toe moes ons kom kuier,” sê Ciska spottend en hou haar motorsleutels in die palm van haar hand. “Ek het mos nou my lisensie, nou kan ons lekker kerjakker,” sê sy glimlaggend.
“Ek het gedink ek en jy kan dalk speel terwyl Megan en Dewald vir mekaar koer.” Ciska se pragtige olyfgroen oë vang die lig, wat hulle so ’n ekstra sprankel gee.
Daai rooi hare van haar kom saam met ’n humeur. Wat ’n geitjie. Ek het die dag toe ons ontmoet het gedink sy gaan my met haar kyk deurboor, maar Ciska is een van daai meisies wat eerder haar linkernier sal gee voordat sy haar hart sal weggee. Ek skud net my kop by die gedagte.
“Kan ongelukkig nie,” sê ek en kyk op my horlosie. “Ek het ’n date en is klaar laat, maar help jouself. Die PlayStation is by die TV in die sitkamer.”
Hier moet ek wegkom.
Ek verdwyn in die gang af om my baadjie in my kamer te gaan haal.
Dis lekker om weer vir Megan te sien en ek sou eerder die aand hier wou deurbring, maar sy en Dewald is deesdae die meeste van die tyd saam, dus is die kans goed dat ek in elk geval nie vanaand by hulle planne sou inpas nie. Wat beteken ek en Ciska sou mekaar moes geselskap hou.
Daarvoor sien ek nie kans nie. Netnou kan ek myself nie keer nie. Daai sagte rooi lippe van haar roep nou al van Desember af na my. Ciska is nie soos enige meisie wat ek ken nie.
In my kamer gryp ek my beursie, baadjie en karsleutel.
Terug in die sitkamer is Ciska net besig om die speletjie in die PlayStation te sit. Megan en Dewald staan verstrengel in mekaar se arms in die kombuis. As alles goed gaan, staan ek en Surette ook oor ’n uur van nou af so verstrengel. Dit behoort my gedagtes van ’n sekere rooikop af te kry.
“Nou toe, laat ek waai,” sê ek en stap deur toe. “Lekker aand,” maar iets in my is teleurgesteld toe ek die deur agter my toetrek. Ek vryf weer oor my borskas. Verdomde sooibrand.