Читать книгу Tienerharte 2: Hartbreker - Cecilia Steyn - Страница 8
Stefan
Оглавление“HIER IS ONS,” sê ek toe ons voor die massiewe ysterhekke stilhou. Ek druk die knoppie op die interkom en die hek gly oop. Ek hou stil en almal is in vervoering oor die huis waarin ons gaan bly.
“Wow, ek kan vir altyd hier bly,” sê Megan en gryp Dewald se hand vas. Ek kan haar nou al sien in so ’n huis. Dis nie dat sy niks gewoond is nie, maar daar is ryk en dan is daar stinkryk.
Ek loer na Ciska in my truspieëltjie. Haar mond hang oop, maar sy is tjoepstil. Ek het haar ’n week laas gesien, maar ek sweer sy het nog mooier geword. Ek is net bly sy het besluit om saam te kom.
Ek het deesdae die vreemdste gevoelens. As ek myself kry, wonder ek wat sy doen. Of hoe dit met haar gaan. As ek haar nie sien nie, mis ek haar. Asof daar ’n leemte is. Geen meisie het al hierdie gevoel in my wakker gemaak nie. Miskien is dit omdat sy nie oor haar voete val as sy my sien nie.
Ciska Rossouw fassineer my.
Die drieverdiepinghuis is spierwit en staan trots in die son en glim. Deur ’n groot venster by die ingangsportaal kan ’n mens die majestueuse kroonkandelaar sien wat vanaf die plafon hang.
Die voordeur gaan oop en ’n vrou met blonde hare wat op haar skouers hang nooi ons vriendelik binne. Die hele portaal is vol bagasie. ’n Teken dat hulle op pad is. As ek na die klomp tasse kyk, lyk dit of hulle eerder emigreer as om vir ’n week weg te gaan.
“Ek is bly julle is hier,” kom professor Delport se stem uit die volgende vertrek. Hy kom nader gestap.
“Ronel, dit is Stefan. Stefan, my vrou, dokter Ronel Delport,” sê hy en beduie na die blondine wat vir ons die deur oopgemaak het.
“Aangename kennis, Stefan,” sê dokter Delport vriendelik en hou haar hand na my uit. Ons ruil formaliteite uit en ek stel vir Ciska en Megan aan hulle voor. Professor Delport ken klaar vir Dewald.
“A,” sê hy. “Hier is sy nou. My kosbaarste besitting op aarde.”
Die geluid van hoë hakke klink agter my op. Ek draai my kop. My mond gaan oop en ek is seker almal in die vertrek kan die verbasing, en die teleurstelling, op my gesig sien flits.
“Stefan, jy ken mos vir Surette,” sê professor Delport trots. “Dit was sy wat voorgestel het jy moet ons huis kom oppas.”
“Hallo, liefie,” sê Surette. Sy haak haar arm by myne in en ek voel haar warm asem in my nek.
“O,” sê ek verbaas, “ek … e … het nie geweet julle is familie nie,” stotter ek.
My oë kyk van Surette na haar pa. Sy het beslis sy neus en oë. Noudat ek hulle bymekaar sien, is die ooreenkoms duidelik. Ek kan nie glo ek het dit nog nooit agtergekom nie. Hierdie is een kop-aan-kop-botsing wat ek nie sien kom het nie.
Ek ignoreer Surette al die hele week. Sy het ’n bietjie te klouerig geraak na my sin. Sy bel honderd maal per dag, dan wil sy weet wat maak ek en saam met wie. Ek antwoord nie eens meer my selfoon as ek sien dis sy nie.
“Stefan, kom ek wys jou gou alles wat jy moet weet,” sê professor Delport en stap vooruit. Ek maak Surette los van my arm en gee ’n halfhartige glimlag in haar rigting. Ek hoop net een van daai tasse in die portaal is hare. Ek beplan om die week vir Ciska beter te leer ken.
Professor Delport wys vir my hoe die alarm werk. Die huishoudster sal elke dag van die week hier wees. Die yskas is vol lekker geregte wat ons net kan warm maak.
“Nou ja toe, dit is alles. Ons moet gaan,” sê hy en stap terug portaal toe.
Ek en Dewald help hulle om die tasse na my Jeep toe te dra. Ek het gereël ek sal hulle lughawe toe vat. Surette en haar ma klim agter in. Hopelik is dit ’n goeie teken. Professor Delport sit voor langs my.
Ek ry by die hek uit. Ons is skaars in die straat af toe die bom bars.
“Pappa, ek dink nie ek wil meer gaan nie,” sê Surette. Sy sit haar hand op my skouer. “Ek wil eerder net hier bly. Mamma en Pappa kan doen met ’n bietjie alleentyd. Julle kan ’n tweede wittebrood hou!” Surette klink so entoesiasties. Sy kyk smekend na haar pa.
“Moenie laf wees nie, Surette. Alles is klaar betaal,” sê hy kwaai.
Dankie tog. Klink nie vir my hy sal dit toelaat nie.
“Ag, Pokkel,” sê die dokter. “Laat die kind tog bly. Sy gaan die hele week dikbek rondloop as jy haar teen haar sin saamsleep.”
Surette gee haar ma se hand ’n druk. Dit voel of daar ’n elektriese storm in die kar aan die broei is. Ek kan sien die professor is nie gelukkig nie. Hy beter net nie onder die druk knak nie.
“Jy moet mooi na my dogter kyk die vakansie, Stefan,” sê hy.
Verdomp! Rugraatlose imbesiel! Wie laat ’n vrou so oor jou loop? Die reëling was om na sy huis te kyk, nie sy dogter nie. Wie gee Milaan op om eerder in Kampsbaai te bly?
“Is jy seker jy wil nie saamgaan nie, Surette?” vra ek. “Dink net aan al die shopping wat jy gaan misloop.”
“My ma sal vir my iets saambring. Nè, Mamma?” sê Surette met ’n groot glimlag.
“Natuurlik, hartjie,” antwoord dokter Delport.
“Dit lyk my iemand het my dogter se hart gesteel. Dis hoekom sy wil bly.” Bedoelende ek. Professor Delport lig sy wenkbroue en glimlag. Asof hy tevrede is met haar keuse. Ek maak ongemaklik keel skoon.
“Ek sal jou te veel mis, Stefan,” sê Surette en draai ’n blonde lok om haar wysvinger.
Ek knik net vir haar, want ek het nie woorde nie. Ek is nou so omgekrap. As ek geweet het dit is wat hierdie vakansie inhou, het ek definitief nie ingestem nie.
Ek kan nie glo ek was so stupid nie. Dit sal my leer. Volgende keer moet ek ten minste uitvind wat ’n meisie se naam én van is voordat ek my kenmerkende glimlag flits.
“Stefan sal altyd mooi na my kyk, Pappa,” sê Surette vir professor Delport.
Ek kyk in my truspieëltjie en sien hoe Surette se ma vir haar knipoog.
By die lughawe stap ek en professor Delport na die kattebak om die bagasie uit te laai.
Ek maak die kajuit oop en toe ek aan die eerste tas vat, gryp hy my aan die arm.
“Wanneer ek terugkom van Milaan, beter my dogter nie so bekaf lyk soos die afgelope week nie. Verstaan ons mekaar?” sê hy vir my.
Ek kyk of Surette hom gehoor het, maar sy en haar ma is besig om afskeid te neem.
“Ek sal die lewe by die universiteit vir jou ondraaglik maak.”
Ek knik vir hom en laai die tasse uit. Hel, hy kan dit mos nie doen nie. Of kan hy?
Surette kom nader en groet haar pa. Haar groot pienk tas los ek met spyt in die kattebak. Ek groet die professor en sy vrou met die hand. Hy gluur my aan. Sy kyk bevestig dat hy sy dreigement doodernstig bedoel het.
In die kar terug Kampsbaai toe babbel Surette die hele pad. Sy vertel my hoe lekker dit gaan wees, hoe ons elke dag, heeldag, dinge saam gaan doen. Dit voel of al die suurstof in die kar skielik op is. Ek kry nie asem nie, want al waaraan ek dink, is dat ek nie tyd saam met Ciska sal kan deurbring nie.