Читать книгу Tienerharte 2: Hartbreker - Cecilia Steyn - Страница 7

Ciska

Оглавление

DANKIE TOG vandag is Saterdag, al moet ek leer.

Die tyd op die PlayStation wys dis al tienuur. Ek sit die kontrole op my bedkassie neer en vat my foon.

Vir ’n oomblik vang my oog die geld wat langs my foon lê. Ek staar na die honderdrandnoot op die kassie. Dit was netjies tussen my stuurwiel en my spoedmeter ingedruk toe ek gister in my kar klim. Stefan moes dit daar gesit het.

Die geld vir die milkshakes.

Ek skud net my kop by die gedagte. Hoekom wil mans altyd vir ons deure oopmaak en vir alles betaal? Asof hulle moet bewys hulle kan dit doen. Hulle besef nie ons kan dit self doen nie.

Megan maak die deur saggies oop en loer in.

“Mooi, jy’s wakker,” sê sy en kom sit langs my op die bed. Ek sit regop en strek lekker. My nek pyn so ’n bietjie. Ek rol hom van links na regs. Iets kraak vreeslik. Ek en Megan bars uit van die lag. Dit het beslis nie goed geklink nie. Ek vermoed dit is van die stamp van gistermiddag.

“Raai waarmee is ek besig?” vra sy met ’n ondeunde kyk in haar oë. Teen haar borskas druk sy ’n notaboekie en ’n pen vas.

“Ek weet nie, sê maar,” por ek haar benoud aan. Ek ken daai kyk. Sy het dit nog net twee keer in haar hele lewe gehad. Die eerste keer was toe sy besluit het ek het ’n babakat nodig. Sy het toevallig een in die straat opgetel wat niemand wou hê nie. Sy het klaar ’n kat gehad en die arme ou dingetjie kon nie in die middel van die winter so onder ’n bos slaap nie.

Die tweede keer was toe sy besluit het ons moet vir meneer Groenewald, ons nuwe lewensoriëntering-onderwyser, ’n poets bak. Sy het natuurlik op die laaste minuut uitgechicken en weggehardloop. My alleen daar laat staan. Hy het my op heterdaad betrap terwyl ek sy hele stoep en blombeddings met toiletpapier versier het.

“Belowe eers jy sal nie kwaad wees nie,” sê sy en hou daai boekie van haar nog stywer vas terwyl sy haar lip vasbyt. ’n Definitiewe teken sy’s op haar senuwees. Nou is ek ook op my senuwees. Ek is te bang om te hoor wat sy aangevang het.

“Ek is besig om ’n lysie op te stel van moontlike kandidate vir jou om te date,” sê sy en glimlag breed. Duidelik trots asof sy ’n kuur vir kanker uitgevind het.

“Megan, net omdat jy verlief is, beteken nie ek moet ook ’n lus om die nek kry nie,” sê ek skoon ergerlik.

Sy sluk en maak haar mond oop om iets te sê, maar ek hou my wysvinger in die lug en sy maak haar mond toe. Wie gee haar die reg om sulke besluite namens my te neem? “Kry daai idee uit jou kop. Ek het nie iemand nodig om my bestaan betekenisvol te maak nie, weet jy.” Ek vou geïrriteerd my arms en gluur haar aan.

“Dis nie waaroor dit gaan nie. Ons moet vir jou ’n ou kry om saam met jou matriekafskeid toe te gaan,” sê Megan opgewonde. “Dis oor ’n paar maande. Wie weet dalk hou jy actually van iemand.”

Ek val net moedeloos terug teen my kussings.

“Moenie kwaad wees nie, maar ek het soort van klaar jou eerste blind date gereël vir vanaand,” sê sy vinnig en hou haar hande voor haar kop. Sy weet die moontlikheid dat ’n kussing haar binnekort gaan tref is groot.

Megan se selfoon begin lui en sy spring vinnig op. Dis seker weer Dewald. Ek rol my oë. Mag ek nooit so op aandag spring as ’n ou my bel nie.

“Hallo, Stefan …”

Stefan! Net die feit dat ek Megan sy naam hoor sê laat my hart effens vinniger klop. Hoekom sal ek nie weet nie. Ek hou nie eens van hom nie. Miskien is dit net van die stamp van gister. Ja, dit verduidelik alles.

“Ciska?” hoor ek Megan vra. “Wil jy weet hoe dit met haar gaan? Sy is buite, besig om al haar bra’s te verbrand,” giggel Megan.

Ek kan myself nie help nie. Dis nou genoeg. Ek gooi haar met my verekussing teen die kop.

“Ouch!” gil sy en keer vir nog ’n aanslag. “Nee, glo my, sy’s vanoggend weer haar vuurspuwende self,” sê Megan vir Stefan.

“Ek is besig om ’n lysie op te stel van ouens vir ’n moontlike date vir haar matriekafskeid. Ek het besluit om dit my persoonlike missie te maak en ek sal nie ophou totdat ek die regte een vir haar het nie,” sê sy en ek trek los met die volgende kussing.

Megan koes en die kussing tref my spieëlkas agter haar. Sy knik en luister aandagtig na Stefan. “O, oukei. Dit klink lekker. Ek sal hoor wat Ciska sê, dan bel ek jou terug,” sê sy en druk die foon dood.

Ek lig net my wenkbroue vir haar sodat sy my die volgende brokkie slegte nuus kan gee.

“Stefan wil weet of ons saam met hom ’n huis in Kampsbaai wil gaan oppas vir die Paasvakansie. Hoe lyk dit?” vra Megan.

Ek hoor nie wat sy verder sê nie. Ek wonder net: Hoekom sou Stefan wou weet hoe dit met my gaan?

Tienerharte 2: Hartbreker

Подняться наверх