Читать книгу Boos en Bisar - Chris Karsten - Страница 10
Paasnaweek
ОглавлениеBrett is in ’n opgewekte luim. Hy is altyd opgewek. Ook Richard is vrolik. Hy het Brett in sy donkergrys Polo Playa op pad na ’n partytjie gaan oplaai. Hulle ry na Craig Port se huis in Victoriaweg in Bakoven, net langs Kampsbaai. Dit is Saterdagaand 15 April 2006, Paasnaweek.
Brett en Richard ken mekaar goed, albei het hulle uit Johannesburg in Kaapstad kom vestig. Brett was eers in die hoërskool King David en daarna in Crawford College in Johannesburg. In 2000 het hy sy graad in drama en Engels aan die Universiteit van Kaapstad behaal.
Richard is korter in die Kaap, nog net ’n paar jaar. Hy is ’n ontwerper en produkbestuurder van Craig Port se klerereeks Maze Clothing. Hulle het groot planne in die klerebedryf.
Richard Bloom
Rapport
Craig Port het Richard hierdie Saterdagaand genooi vir ’n partytjie by sy huis, saam met ander gaste. Maar Richard se lewensmaat, Bryan Hellman, het ’n ander afspraak. Nou ry Brett saam en hulle gesels geesdriftig. Brett is veral opgewonde oor sy komende besoek aan Stratford en Londen.
Sy ma, Denise, het reeds uit Johannesburg in Kaapstad aangekom om die laaste paar dae saam met hom deur te bring voordat hy Donderdag Engeland toe vlieg. Sy pa, Peter, en ouer suster, Samantha, is in Johannesburg; hulle kon nie kom nie.
Brett is ook nie van plan om tot te laat partytjie te hou nie. Hy en sy ma het ’n ontbytafspraak môreoggend, Sondag, om elfuur.
Dit is, soos altyd, ’n groot geselligheid in Craig se huis, maar omstreeks kwart voor twaalf die nag groet Brett en Richard om huis toe te gaan. Hulle stap in Victoriaweg uit na Richard se Polo. Dis Paasnaweek en die strate is in hierdie middernagtelike ure stil.
Maar dan is daar skielik ligte en ’n ouerige blou BMW swaai voor hulle in en hou stil. Vier jong mans klim uit.
Denise Goldin word Paassondag wakker en begin gereed maak vir die ontbyt saam met haar seun. Ma en seun is baie geheg aan mekaar. Hy daag nie elfuur op nie, ook nie later nie. Sy begin rondbel. Dit is nie sy aard om sonder rede weg te bly nie, veral nie van ’n afspraak met sy ma nie. Sondagmiddag is sy rasend van kommer, en bel haar man, Peter, by hul huis in Sandhurst in Johannesburg. Sy bel ook die polisie.
Peter bel hul dogter, Samantha (31), in Johannesburg. Oor die onsekerheid daardie Sondag vertel Samantha self só:
“Ek sal nooit die verskriklike nagmerrie vergeet wat my werklikheid geword het ná my pa se oproep daardie Sondagmiddag nie: ‘Brett word vermis. Hy moes Ma vir ontbyt kry en het nooit opgedaag nie,’ het my pa gesê. Die woorde eggo. Die vrees in sy stem is tasbaar. Ons jaag om my pa te gaan oplaai en lughawe toe te vat sodat hy my ma in Kaapstad kan gaan ondersteun. Sy was reeds in Kaapstad om Brett af te sien vir sy vlug Donderdag Londen toe.
“Ek slaap nie daardie Sondagnag nie, maak ure lank frenetiese telefoonoproepe, bel elke kennis, bid dat ons ’n oproep sal kry vir ’n losprys. Ek is bereid om alles prys te gee om my broer lewend te kry. Die nagure gaan verby, my vrese word groter. Ek bly bid, bly oproepe maak.
“Dan ontvang ek ’n oproep, Maandagoggend net ná agtuur. ‘Sam,’ die speurder se stem verklap dit, ‘ons het nie goeie nuus nie …’
“Die gruwel en hel wat ons vol en gelukkige lewe sou oorneem, het begin. My broer en Richard is dood; tereggestel. Brett se magiese lewe, sy liefde, sy talent, sy ontluikende potensiaal, al sy hoop, emosies, drome en wense is in ’n sinlose oomblik uitgedoof, deur vulgêre, walglike en demoniese boewe.”
“Ek slaap nie daardie Sondagnag nie, maak ure lank frenetiese telefoonoproepe, bel elke kennis, bid dat ons ’n oproep sal kry vir ’n losprys. Ek is bereid om alles prys te gee om my broer lewend te kry. Ek bly bid, bly oproepe maak.”
Die tragiese nuus word ook oorgedra aan Richard se ouers, Tony en Sandra Bloom, en aan Richard se tweeling-broer, Derek, en ouer broer, Gary (31), in Australië. En sy lewensmaat, Bryan Hellman.
Dit is inderdaad ’n gruwelike en helse moordtoneel waaroor die son daardie Paasmaandagoggend opkom. Dit het vroeër die naweek gereën in die Kaap, en die lappie grasveld tussen Klipfonteinweg en die afrit van die M5 af in Mowbray is modderig. Daar groei ’n paar hoë dennebome. Onder hierdie bome, op die dennenaalde, lê Brett en Richard langs mekaar. Elkeen lê op sy maag, gesig in die grond. Albei is kaal; hulle het net sokkies aan.
In elkeen se agterkop is twee skote. Die kragtige koeëls het voor uitgekom. Dit is op die toneel duidelik dat hulle aangesê is om langs mekaar te gaan lê en dat hulle dalk nog hoop gehad het dat hul ontvoerders hulle daar sou los en wegry. Maar daar was vir hulle geen genade nie. Met hul hoop en hul gesigte in die grond is hulle in die agterkop tereggestel.
In die veld by die twee liggame is ook motorspore, diep in die modder, soos een wat in die modder vasgeval het, en baie voetspore. Brett en Richard se sokkies en bene is vol modder.
’n Groot groep polisiemanne, speurders en forensiese ondersoekers is op die afgesperde toneel.
Richard se Polo word vermis, die twee vriende se selfone en ander besittings, soos Brett se kredietkaart, Richard se sportsak, en die klere en skoene wat hulle die vorige aand na die partytjie in Bakoven aangehad het.